Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w22 Julie bl. 14-19
  • ’n Eertydse profesie wat jou raak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Eertydse profesie wat jou raak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WIE IS DIE KARAKTERS IN DIE PROFESIE?
  • HOE HET DIE PROFESIE REEDS WAAR GEWORD?
  • HOE HELP HIERDIE PROFESIE ONS NOU?
  • B1 Die Bybel se boodskap
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Die slang se saad—Hoe is dit aan die kaak gestel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Die deurlopende harmonie van die Bybel
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Jehovah openbaar sy voorneme
    God se Koninkryk regeer!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
w22 Julie bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 30

’n Eertydse profesie wat jou raak

“Ek sal vyandskap laat ontstaan tussen jou en die vrou.” – GEN. 3:15.

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Wat het Jehovah gedoen kort nadat Adam en Eva gesondig het? (Genesis 3:15)

KORT nadat Adam en Eva gesondig het, het Jehovah vir hulle nageslag hoop gegee deur middel van ’n baie belangrike profesie. Sy woorde is opgeteken in Genesis 3:15. – Lees.

2. Hoekom is hierdie profesie so belangrik?

2 Die profesie verskyn in die eerste boek van die Bybel. Maar al die ander boeke van die Bybel hou verband daarmee op die een of ander manier. Net soos die ruggraat van ’n gedrukte boek al die bladsye saambind, bind die woorde in Genesis 3:15 die inhoud van elke boek van die Bybel saam in een verenigde boodskap, naamlik dat ’n Verlosser gestuur sou word om die Duiwel en al sy goddelose volgelinge te vernietig.b Dit sal wonderlik wees vir almal wat lief is vir Jehovah.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons die volgende vrae oor die profesie in Genesis 3:15 beantwoord: Wie is die karakters in die profesie? Hoe is die profesie besig om waar te word? En hoe help dit ons?

WIE IS DIE KARAKTERS IN DIE PROFESIE?

Collage: “Die karakters van Genesis 3:14, 15.” 1. Die slang: Satan, uitgebeeld as ’n geesskepsel. 2. Die nageslag van die slang: slegte engele. 3. Die vrou: getroue engele. 4. Die nageslag van die vrou: Jesus Christus en sy gesalfde medeheersers in die hemel. Die tonele word in paragraaf 4, 5, 7 en 8 herhaal.

4. Wie is “die slang”, en hoe weet ons dit?

4 Die karakters in Genesis 3:14, 15 sluit ’n “slang”, die “nageslag” van die slang, ’n “vrou” en die “nageslag” van die vrou in. Die Bybel help ons om elkeen van hulle te identifiseer.c Kom ons begin met “die slang”. ’n Letterlike slang sou nie kon verstaan wat Jehovah in die tuin van Eden gesê het nie. So dit moes ’n intelligente skepsel gewees het wat deur Jehovah geoordeel is. Wie was dit? Openbaring 12:9 sê duidelik wie die slang is. Daar word “die oorspronklike slang” duidelik geïdentifiseer as Satan die Duiwel. Maar wie is die nageslag van die slang?

Satan, uitgebeeld as ’n geesskepsel.

DIE SLANG

Satan die Duiwel, wat in Openbaring 12:9 geïdentifiseer word as “die oorspronklike slang” (Sien paragraaf 4)

5. Wie is die nageslag van die slang?

5 Wanneer die Bybel in ’n figuurlike sin van nageslag praat, verwys dit na dié wat soos hulle simboliese vader dink en optree. So die nageslag van die slang is ongehoorsame engele en mense wat, soos Satan, Jehovah God verwerp en sy volk teëstaan. Dit sluit die engele in wat in Noag se dag hulle toewysings in die hemel verlaat het, sowel as goddelose mense wat soos hulle vader die Duiwel optree. – Gen. 6:1, 2; Joh. 8:44; 1 Joh. 5:19; Jud. 6.

Slegte engele.

DIE NAGESLAG VAN DIE SLANG

Goddelose engele en mense wat Jehovah God verwerp en Sy volk teëstaan (Sien paragraaf 5)

6. Hoekom kon “die vrou” nie Eva wees nie?

6 Kom ons identifiseer nou “die vrou”. Sy kon nie Eva wees nie. Hoekom nie? Kom ons kyk na net een rede. Die profesie sê dat die nageslag van die vrou die slang se kop sou “vergruis”. Soos ons bespreek het, is die slang die slegte engel Satan, en geen onvolmaakte mens sou hom kon vergruis nie. So hoe sou Satan vernietig word?

7. Wie is die vrou in Genesis 3:15, volgens Openbaring 12:1, 2, 5, 10?

7 Die laaste boek van die Bybel sê vir ons wie die vrou in Genesis 3:15 is. (Lees Openbaring 12:1, 2, 5, 10.) Dit is nie ’n gewone vrou nie! Sy het die maan onder haar voete en ’n kroon van 12 sterre op haar kop. Sy gee geboorte aan ’n baie ongewone kind – die Koninkryk van God. Die Koninkryk is in die hemel, so die vrou moet ook in die hemel wees. Sy stel die hemelse deel van Jehovah se organisasie voor wat bestaan uit sy gehoorsame engele. – Gal. 4:26.

Getroue engele.

DIE VROU

Die hemelse deel van Jehovah se organisasie wat bestaan uit sy getroue engele (Sien paragraaf 7)

8. Wie is die belangrikste nageslag van die vrou, en wanneer het hy die belangrikste geword? (Genesis 22:15-18)

8 God se Woord help ons ook om die belangrikste nageslag van die vrou te identifiseer. Hierdie nageslag sou ’n nakomeling van Abraham wees. (Lees Genesis 22:15-18.) Soos die profesie voorspel het, was Jesus ’n direkte nakomeling van daardie getroue man (Luk. 3:23, 34). Maar die nageslag sou magtiger as ’n mens moes wees omdat hy Satan die Duiwel moes vergruis. Toe Jesus omtrent 30 jaar oud was, was hy met die heilige gees gesalf. Jesus het toe die belangrikste deel van die nageslag van die vrou geword (Gal. 3:16). Ná Jesus se dood en opstanding het God “hom met heerlikheid en eer gekroon” en hom “alle gesag in die hemel en op die aarde” gegee, insluitende die gesag “om die werke van die Duiwel te vernietig”. – Heb. 2:7; Matt. 28:18; 1 Joh. 3:8.

Jesus Christus en sy gesalfde medeheersers in die hemel.

DIE NAGESLAG VAN DIE VROU

Jesus Christus en sy 144 000 gesalfde medeheersers (Sien paragraaf 8-9)

9-10. (a) Wie is nog deel van die nageslag van die vrou, en wanneer word hulle ’n deel daarvan? (b) Wat sal ons volgende bespreek?

9 Maar ander sou ook deel word van die nageslag. Die apostel Paulus het hulle geïdentifiseer toe hy vir Joodse en nie-Joodse gesalfde Christene gesê het: “As julle aan Christus behoort, is julle werklik Abraham se nageslag, erfgename volgens ’n belofte” (Gal. 3:28, 29). Wanneer Jehovah ’n Christen met heilige gees salf, word daardie persoon deel van die nageslag van die vrou. So die nageslag bestaan uit Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers (Op. 14:1). Hulle almal probeer om soos hulle Vader, Jehovah God, te dink en op te tree.

10 Noudat ons die karakters in Genesis 3:15 geïdentifiseer het, sal ons leer wat Jehovah reeds gedoen het om hierdie profesie te laat waar word en hoe dit ons vandag help.

HOE HET DIE PROFESIE REEDS WAAR GEWORD?

11. In watter sin was die nageslag van die vrou “in die hakskeen” gewond?

11 Volgens die profesie in Genesis 3:15 sou die slang die vrou se nageslag “in die hakskeen” wond. Dit het waar geword toe Satan die Jode en die Romeine gebruik het om die Seun van God dood te maak (Luk. 23:13, 20-24). Net soos ’n letterlike wond in die hakskeen kan veroorsaak dat iemand tydelik nie kan loop nie, het Jesus se dood veroorsaak dat hy tydelik niks kon doen nie toe hy vir dele van drie dae in die graf was. – Matt. 16:21.

12. Hoe en wanneer sal die slang se kop vergruis word?

12 Vir die profesie in Genesis 3:15 om waar te word, moes Jesus uit die graf uit opstaan. Hoekom? Want volgens die profesie sou die nageslag die slang se kop vergruis. Dit het beteken dat Jesus sou moes herstel nadat hy in die hakskeen gewond is. En hy het beslis! Op die derde dag na sy dood was Jesus tot onsterflike lewe in die hemel opgewek. Op God se bestemde tyd sal Jesus Satan vernietig (Heb. 2:14). Christus en dié wat saam met hom sal regeer, sal God se vyande, die nageslag van die slang, vernietig. – Op. 17:14; 20:4, 10.d

Party belangrike gebeure in die vervulling van Genesis 3:15

’n Tydlyn met belangrike gebeure in die vervulling van Genesis 3:15. A. 1943 VHJ: Abraham kyk op na die sterre in die hemel. B. 29 HJ: Jesus word met die heilige gees gesalf nadat Johannes hom gedoop het. C. Pasga 33 HJ: Jesus hang aan ’n folterpaal. D. Pasga 33 HJ: “Iets wat soos klein vuurvlamme gelyk het” verskyn bo die koppe van Christus se volgelinge. E. Omtrent 1914 HJ: Jesus gooi Satan en sy demone uit die hemel uit. F. Einde van die duisend jaar: Satan en sy demone word in die poel van vuur gegooi.
  1. A. 1943 VHJ

    God se belofte dat die belangrikste deel van die nageslag een van Abraham se nakomelinge sal wees, begin waar word (Gen. 12:1-3; 22:15-18).

  2. B. 29 HJ

    Jesus word gesalf en word die belangrikste deel van die nageslag van die vrou (Matt. 3:16; Gal. 3:16).

  3. C. PASGA 33 HJ

    Jesus word in die hakskeen gewond, maar herstel drie dae later (Matt. 16:21; 26:1, 2).

  4. D. PINKSTER 33 HJ

    Die eerstes van die sekondêre deel van die vrou se nageslag word gesalf met die heilige gees (Hand. 2:1-4; Gal. 3:29).

  5. E. OMTRENT 1914

    Satan word uit die hemel gegooi, en hy vervolg die nageslag van die vrou selfs meer (Op. 12:9, 12, 17).

  6. F. EINDE VAN DIE DUISEND JAAR

    Satan word permanent vernietig (Op. 20:7, 10).

HOE HELP HIERDIE PROFESIE ONS NOU?

13. Hoe help die vervulling van hierdie profesie ons nou?

13 As jy ’n toegewyde kneg van God is, help die vervulling van hierdie profesie jou. Jesus het na die aarde toe gekom as ’n mens. Hy het sy Vader se persoonlikheid volmaak nagevolg (Joh. 14:9). So deur hom het ons Jehovah God leer ken en liefgekry. Jesus se leringe en die manier hoe hy die Christengemeente vandag lei, help ons ook. Hy het ons geleer hoe om op ’n manier te lewe wat ons sal help om Jehovah gelukkig te maak. En die feit dat Jesus in die hakskeen gewond was, of gesterf het, kan ons ook almal help. Hoe? Toe Jesus opgewek was, het hy die waarde van sy bloed as ’n volmaakte offerande aangebied wat “ons van alle sonde [reinig]”. – 1 Joh. 1:7.

14. Moes die mensdom verwag dat die profesie wat Jehovah in Eden gegee het, onmiddellik sou waar word? Verduidelik.

14 Die woorde wat Jehovah in Eden gesê het, het gewys dat tyd sou verbygaan voordat die profesie heeltemal waar word. Dit sou tyd neem vir die vrou om die beloofde nageslag voort te bring, vir die Duiwel om sy volgelinge bymekaar te maak en vir vyandskap (of, haat) om tussen die twee groepe te ontwikkel. As ons hierdie profesie verstaan, help dit ons omdat dit ons waarsku dat die wêreld, wat onder Satan se beheer is, Jehovah se aanbidders sal haat. Jesus het sy dissipels later ’n soortgelyke waarskuwing gegee (Mark. 13:13; Joh. 17:14). Ons het beslis gesien hoe daardie deel van die profesie veral gedurende die laaste 100 jaar waar word. Hoe so?

15. Hoekom haat die wêreld God se volk nou meer as ooit, maar hoekom hoef ons nie vir Satan bang te wees nie?

15 Kort nadat Jesus in 1914 as Messiaanse Koning begin regeer het, is Satan uit die hemel gegooi. Hy is nou tot die aarde beperk, en hy wag vir sy vernietiging (Op. 12:9, 12). Maar hy sit nie net en wag nie. Satan is desperaat en woedend, en hy val God se volk aan (Op. 12:13, 17). Daarom haat Satan se wêreld God se volk nou meer as ooit tevore. Maar ons hoef nie vir Satan en sy volgelinge bang te wees nie. Ons kan eerder dieselfde vertroue hê as die apostel Paulus, wat geskryf het: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?” (Rom. 8:31). Ons kan volle vertroue in Jehovah hê omdat, soos ons gesien het, ’n groot deel van die profesie in Genesis 3:15 alreeds waar geword het.

16-18. Hoe het Curtis, Ursula en Jessica baat gevind by die feit dat hulle Genesis 3:15 verstaan?

16 Jehovah se belofte in Genesis 3:15 kan ons help om enige probleme in ons lewe te hanteer. Curtis, wat as ’n sendeling in Guam dien, sê: “Soms het ek probleme en teleurstellings deurgemaak wat dit vir my moeilik gemaak het om lojaal aan Jehovah te bly. Maar omdat ek nagedink het oor die profesie in Genesis 3:15 het dit my gehelp om op my hemelse Vader te bly vertrou.” Curtis sien uit na die dag wanneer Jehovah ’n einde sal maak aan al ons probleme.

17 ’n Suster in Beiere met die naam Ursula sê dat Genesis 3:15 gehelp het om haar te oortuig dat die Bybel deur God geïnspireer is. Sy het gesien hoe al die ander profesieë verband hou met hierdie profesie, en dit het haar baie beïndruk. Sy het ook gesê: “Ek was diep geraak toe ek geleer het dat Jehovah onmiddellik iets gedoen het sodat die mensdom hoop kon hê.”

18 Jessica van Mikronesië, sê: “Ek kan nog steeds onthou hoe ek gevoel het toe ek die eerste keer besef het dat ek die waarheid gevind het! Die profesie in Genesis 3:15 is besig om waar te word. Dit het my gehelp om te onthou dat die dinge wat ons nou deurmaak, nie die werklike lewe is nie. Die profesie het my ook meer oortuig dat diens aan Jehovah nou tot die beste lewe lei en ’n selfs beter lewe in die toekoms.”

19. Hoekom kan ons seker wees dat die laaste deel van die profesie sal waar word?

19 Soos ons gesien het, is Genesis 3:15 nou besig om waar te word. Die nageslag van die vrou en die nageslag van die slang is duidelik geïdentifiseer. Jesus, die belangrikste deel van die nageslag van die vrou, het herstel nadat hy in die hakskeen gewond is en is nou ’n magtige, onsterflike Koning. Jehovah het nou amper almal wat saam met sy Seun in die hemel sal regeer, gekies. Omdat die eerste deel van die profesie alreeds waar geword het, het ons alle rede om te glo dat die laaste deel, naamlik dat die slang se kop vergruis sal word, ook sal waar word. God se knegte sal baie gelukkig wees wanneer Satan vernietig is! Tot dan moet ons nie opgee nie. Ons kan ons God vertrou. Deur middel van die nageslag van die vrou, sal hy “al die nasies van die aarde” op baie maniere seën. – Gen. 22:18.

KAN JY DIE PROFESIE IN GENESIS 3:15 VERDUIDELIK?

  • Wie is die slang en sy nageslag, en wie is die vrou en haar nageslag?

  • Hoe het die profesie alreeds waar geword?

  • Hoe het die feit dat die profesie waar geword het jou persoonlik gehelp?

LIED 23 Jehovah begin regeer

a Ons kan nie die Bybel se boodskap ten volle verstaan as ons nie die profesie in Genesis 3:15 verstaan nie. As ons hierdie profesie bestudeer, kan dit ons geloof in Jehovah opbou en ons vertroue versterk dat hy al sy beloftes sal nakom.

b Sien aanhangsel B1, “Die Bybel se boodskap”, in die Nuwe Wêreld-vertaling.

c Sien die venster “Die karakters van Genesis 3:14, 15”.

d Sien die venster “Party belangrike gebeure in die vervulling van Genesis 3:15”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel