Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 12/1 bl. 24-28
  • ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vooruitgang saam met medeaanbidders
  • Gileadskool en toe na die Goudkus
  • ’n “Môre” wat ons nie verwag het nie
  • Jehovah voorsien hulp deur sy volk
  • Ek leer om daarmee saam te leef
  • ’n Beter “môre”
  • Jehovah beloon altyd sy lojale knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • ’n Opwindende en bevredigende lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Die uitvoering van God se wil—my lewenslange vreugde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hulle het hulle gewillig aangebied​—⁠In Ghana
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 12/1 bl. 24-28

Lewensverhaal

‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie’

SOOS VERTEL DEUR HERBERT JENNINGS

“Ek was vanaf die hawestad Tema op pad terug na die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Ghana toe ek ’n jong man opgelaai het wat ’n geleentheid stad toe gesoek het. Ek het die kans gebruik om vir hom te getuig. Ek het gedink ek doen baie goed! Maar toe ons by hierdie jong man se bestemming aankom, het hy uit die vragmotor gespring en weggehardloop.”

HIERDIE voorval was vir my ’n aanduiding dat iets nie heeltemal pluis was in my lewe nie. Voordat ek vertel wat gebeur het, laat ek eers vertel hoe ek, ’n Kanadees, my in Ghana bevind het.

Dit was die middel van Desember 1949 in ’n noordelike voorstad van Toronto, Kanada. Ons het pas deur omtrent ’n meter verysde grond gegrawe om ’n nuwe huis van waterpype te voorsien. Ons werkspan was koud en moeg en het dig om ’n vuur gestaan terwyl ons gewag het dat die vragmotor ons oplaai. Ewe skielik het Arnold Lorton, een van die werkers, begin praat oor “oorloë en gerugte van oorloë”, “die einde van hierdie wêreld”, en hy het ander uitdrukkings gebruik wat vir my heeltemal vreemd was. Almal het onmiddellik opgehou met praat, ongemaklik geword en party het selfs vyandigheid teenoor hom getoon. Ek onthou nog dat ek gedink het: ‘Hierdie ou het baie moed! Niemand hier wil luister nie, en tog gaan hy aan.’ Maar wat hy gesê het, het by my die regte snaar geraak. Dit was net ’n paar jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, en ek het nog nooit hiervan gehoor in die Christadelfiese godsdiens waaraan ons familie al geslagte lank behoort het nie. Ek het aandagtig geluister, geboei deur sy verduidelikings.

Ek het Arnold kort voor lank genader om meer inligting te kry. As ek nou daaraan dink, besef ek hoe geduldig en vriendelik hy en sy vrou, Jean, eintlik teenoor my, ’n onervare 19-jarige, was. Ek het dikwels onverwags en ongenooid by hulle huis opgedaag om met hulle te gesels. Hulle het my denke reggestel en my gehelp om die verwarring oor verskillende standaarde en sedes wat deur my jong verstand gemaal het, uit te pluis. Tien maande ná daardie eerste gesprek om die vuur is ek op 22 Oktober 1950 as een van Jehovah se Getuies gedoop en het ek begin assosieer met die Willowdale-gemeente in North York, wat nou ’n deel van Toronto is.

Vooruitgang saam met medeaanbidders

Die lewe by die huis het al hoe meer gespanne geraak toe my pa besef het dat ek vasbeslote is om my nuwe geloof uit te leef. My pa was kort tevore die slagoffer van ’n kop-aan-kop-botsing wat deur ’n dronk bestuurder veroorsaak is, en dit was dus dikwels nie baie maklik om met hom oor die weg te kom nie. Die lewe was moeilik vir my ma, my twee broers en my twee susters. Die spanning oor Bybelwaarheid het al hoe erger geword. Ek het dus besluit dat dit raadsaam sou wees om die huis te verlaat om die vrede tussen my en my ouers te bewaar en om in “die weg van die waarheid” gevestig te raak.—2 Petrus 2:2.

Teen die laat somer van 1951 het ek my in ’n klein gemeentetjie in Coleman, Alberta, gevestig. Twee jong mans, Ross Hunt en Keith Robbins, was daar bedrywig in die voltydse openbare predikingswerk, bekend as gewone pionierdiens. Hulle het my gehelp om ook daardie selfde vrywillige bediening na te streef. Op 1 Maart 1952 het ek ’n gewone pionierbedienaar geword.

Ek onthou nog goed die aanmoediging wat ek ontvang het. Ek moes baie leer, en hierdie gebied was my proefterrein. Later, nadat ek omtrent ’n jaar lank saam met die Lethbridge-gemeente in Alberta aan die pionierdiens deelgeneem het, het ek ’n onverwagte uitnodiging ontvang om as reisende opsiener te dien. Ek moes die gemeentes van Jehovah se Getuies langs die ooskus van Kanada van Moncton, Nieu-Brunswyk, tot by Gaspé, Quebec, bedien.

Omdat ek maar net 24 jaar oud en redelik nuut in die waarheid was, het ek baie onbevoeg gevoel, veral in vergelyking met die ryp Getuies wat ek moes bedien. In die daaropvolgende paar maande het ek my werklik ingespan. Toe het ek nog ’n verrassing gekry.

Gileadskool en toe na die Goudkus

In September 1955 is ek genooi om saam met sowat honderd ander studente die 26ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, by te woon. Vyf maande van intensiewe opleiding en studie was presies wat ek nodig gehad het. My omgang met hierdie hoogs gemotiveerde groep het my geesdrif vergroot. Gedurende hierdie tyd het nog iets gebeur wat my lewe tot vandag toe verryk het.

Daar was ’n sekere jong suster, Aileen Stubbs, onder die studente wat hulle vir sendingwerk voorberei het. Wat ek in Aileen gesien het, was ’n sekere bestendigheid, ’n objektiewe praktiese gees en ’n beskeie, vrolike geaardheid. Ek reken ek het haar laat skrik toe ek ewe lomp my gevoelens aan haar verklaar het. Maar sy het darem nie weggehardloop nie! Ons het ooreengekom dat Aileen na haar sendingtoewysing in Costa Rica sou gaan en ek na myne in die Goudkus (nou Ghana), Wes-Afrika.

Een oggend in Mei 1956 het ek in broer Nathan Knorr se kantoor op die tiende verdieping in Brooklyn, New York, gestaan. Hy was toe die president van die Wagtoringgenootskap. Ek is as die takkneg aangestel om toesig te hou oor die predikingswerk in die Goudkus, Togoland (nou Togo), die Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire), Bo-Volta (nou Burkina Faso) en Gambië.

Ek onthou broer Knorr se woorde asof ek dit gister gehoor het. “Jy hoef nie onmiddellik oor te neem nie”, het hy gesê. “Moenie haastig wees nie; leer by die ervare broers daar. En wanneer jy dan gereed voel, moet jy as die takkneg begin dien. . . . Hier is jou aanstellingsbrief. Sewe dae ná jou aankoms moet jy oorneem.”

‘Net sewe dae’, het ek gedink. ‘Wat het geword van “moenie haastig wees nie”?’ Ek het daardie onderhoud sprakeloos verlaat.

Die volgende paar dae het verbygevlieg. Voor ek my kom kry, het ek langs die reling van ’n vragskip gestaan, wat met die Eastrivier langs en verby die Genootskap se kantore in Brooklyn gevaar het, die begin van ’n 21 dae lange skeepsreis na die Goudkus.

Ek en Aileen het die oorsese posdienste besig gehou. Ons het mekaar weer in 1958 gesien en is op 23 Augustus daardie jaar getroud. Ek kan Jehovah nie genoeg dank vir so ’n wonderlike maat nie.

Ek het 19 jaar lank die voorreg geniet om saam met medesendelinge en my broers en susters van Afrika by die Genootskap se takkantoor te dien. Die Bethelgesin het in daardie tyd van net ’n handjie vol tot omtrent 25 gegroei. Daardie dae was vir ons ’n uitdaging, gebeurtenisvol en produktief. Ek moet egter eerlik wees. Die warm, bedompige klimaat was vir my ’n groot uitdaging. Dit het gevoel asof ek altyd nat gesweet, altyd klewerig en soms geïrriteerd was. Dit was nietemin waarlik ’n vreugde om daar te dien, namate ons getalle in Ghana van net oor die 6 000 Koninkryksverkondigers in 1956 tot 21 000 in 1975 toegeneem het. En dit is selfs meer bemoedigend om te sien dat daar nou meer as 60 000 bedrywige Getuies is.

’n “Môre” wat ons nie verwag het nie

Omstreeks 1970 het ek ’n gesondheidsprobleem ontwikkel wat baie moeilik was om te identifiseer. Ek het volledige mediese ondersoeke gehad, net om te hoor dat ek “blakend gesond” was. Maar waarom het ek dan so siek, so moeg, so rusteloos gevoel? Twee dinge het my die antwoord laat besef, en dit was vir my ’n skok. Trouens, soos Jakobus geskryf het: ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie.’—Jakobus 4:14.

Die eerste leidraad was die ondervinding met die jong man vir wie ek getuig het terwyl ek hom ’n geleentheid stad toe gegee het. Min het ek besef dat ek aanmekaar gebabbel het en dat ek al hoe vinniger en harder gepraat het. Toe ons hierdie jong man se bestemming bereik het, was ek uit die veld geslaan toe hy uit die vragmotor gespring en weggehardloop het. Die meeste Ghanese is van nature rustige, kalm mense, en niks ontstel hulle maklik nie. Sy reaksie was baie vreemd. Ek het daar gesit en dink. Ek het besef dat ek ’n probleem het. Presies wat dit was, het ek nie geweet nie. Maar ek het beslis ’n probleem gehad.

Tweedens het Aileen, ná een van ons werklik openhartige gesprekke, gesê: “Wel, as dit nie ’n fisiese probleem is nie, moet dit ’n verstandelike probleem wees.” Ek het dus al my simptome sorgvuldig neergeskryf en na ’n psigiater gegaan. Toe ek my lys vir hom lees, was sy antwoord: “Dit is ’n tipiese geval. Jy ly aan manies-depressiewe psigose.”

Ek was verstom! Dinge het al hoe slegter gegaan terwyl ek die daaropvolgende paar jaar probeer voortsukkel het. Ek het aanhou soek na ’n oplossing. Maar niemand het werklik geweet wat om te doen nie. Wat ’n frustrerende stryd tog!

Dit was nog altyd ons voorneme om aan die voorreg van voltydse diens as ons loopbaan in die lewe vas te hou, en daar was soveel wat gedoen moes word. Ek het baie hartgrondige en ernstige gebede gedoen en gevra: “Jehovah, as u wil, sal ek ‘lewe en ook dit doen’” (Jakobus 4:15). Maar dit sou nie gebeur nie. Ons het dus die werklikheid onder die oë gesien en gereël om Ghana en al ons intieme vriende te verlaat en in Junie 1975 na Kanada terug te keer.

Jehovah voorsien hulp deur sy volk

Ek het gou agtergekom dat ek nie onmisbaar was nie, en my probleem was ook nie uniek nie. Die woorde van 1 Petrus 5:9 het tot my deurgedring: “[Weet] dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak word.” Nadat ek hierdie woorde ingesien het, het ek begin onderskei hoe Jehovah ons albei werklik onderskraag het ten spyte van hierdie onwelkome verandering. Hoe bemoedigend was dit tog om te sien hoe die ‘gemeenskap van broers’ ons op menige maniere te hulp gekom het!

Hoewel ons nie veel op materiële gebied gehad het nie, het Jehovah ons nie verlaat nie. Hy het ons vriende in Ghana beweeg om ons van materiële dinge te voorsien en ons in ander opsigte te help. Ons het met gemengde gevoelens afskeid geneem van diegene vir wie ons so lief geword het en begin aandag gee aan hierdie onverwagte “môre”.

Ons het by Aileen se suster, Lenora, en haar man, Alvin Friesen, gaan woon wat ons vriendelik in hulle huis ontvang het en ’n hele paar maande lank op milddadige wyse in ons behoeftes voorsien het. ’n Bekende psigiater het vol vertroue hierdie voorspelling gedoen: “Jy sal binne ses maande weer gesond wees.” Dit is moontlik gesê om vertroue by my in te boesem, maar die voorspelling is nie eers ná ses jaar vervul nie. Tot vandag toe nog probeer ek saamleef met wat nou beleef bipolêre gemoedsversteuring genoem word. Dit is beslis ’n mooier naam, maar soos diegene wat daaraan ly maar alte goed weet, verlig die mooier naam glad nie die oorweldigende simptome van die siekte nie.

Teen daardie tyd het broer Knorr reeds aan ’n siekte gely wat uiteindelik tot sy dood in Junie 1977 gelei het. Nogtans het hy tyd en energie afgestaan om lang, bemoedigende briewe met woorde van vertroosting en raad vir my te skryf. Ek bewaar nog steeds daardie briewe. Sy woorde het werklik baie gehelp om die onredelike gevoelens van mislukking wat ek bly ondervind het, te laat bedaar.

Aan die einde van 1975 moes ons ons kosbare voltydse diensvoorregte prysgee en ons daarop toespits om my gesondheid onder beheer te kry. Gewone daglig het my oë seergemaak. Skielike skerp klanke het soos geweerskote weergalm. Die gewoel van skares het my oorweldig. Dit was werklik ’n stryd net om Christelike vergaderinge by te woon. Ek was nietemin vas oortuig van die waarde van geestelike omgang. Om dit makliker te maak, het ek gewoonlik by die Koninkryksaal ingestap nadat almal gaan sit het en uitgeloop net voordat almal aan die einde van die program begin rondbeweeg het.

Deelname aan die openbare bediening was nog ’n groot uitdaging. Soms het ek by ’n huis aangekom, maar kon dit net nie regkry om die deurklokkie te lui nie. Ek het egter nie tou opgegooi nie omdat ek besef het dat ons bediening redding beteken vir onsself en vir enigeen wat gunstig reageer (1 Timoteus 4:16). Ná ’n ruk sou ek dan my gevoelens onder beheer kry, na die volgende deur gaan en weer probeer. Deur met die bediening vol te hou, het ek geestelik redelik gesond gebly, en dit het my gehelp om die mas op te kom.

Weens die chroniese aard van bipolêre gemoedsversteuring het ek tot die besef gekom dat hierdie siekte heel waarskynlik ’n deel van my lewe gaan bly gedurende hierdie huidige stelsel van dinge. In 1981 en 1982 het ’n uitstekende reeks artikels in die Ontwaak! verskyn.a Dit het my gehelp om hierdie siekte beter te verstaan en om doeltreffender tegnieke te vind om daarmee saam te leef.

Ek leer om daarmee saam te leef

Dit alles het natuurlik ook opofferings en aanpassings van my vrou se kant af geverg. As jy iemand in soortgelyke omstandighede versorg, sal jy jou heel waarskynlik met haar opmerkings kan vereenselwig:

“’n Gemoedsversteuring veroorsaak blykbaar ’n skielike verandering in persoonlikheid. Binne ’n paar uur kan iemand verander van ’n lewendige, aanmoedigende persoon met nuwe planne en idees tot ’n moeë, negatiewe, selfs woedende persoon. As dit nie as ’n siekte beskou word nie, kan dit ander ergerlik en verward laat voel. Planne moet natuurlik vinnig verander word, en ’n persoonlike stryd teen gevoelens van teleurstelling of verwerping begin.”

Wat my betref, wanneer ek baie goed voel, raak ek bang. Ek weet instinktief dat ’n buierige “lae punt” op ’n “hoë punt” gaan volg. Ek verkies ’n “lae punt” bo ’n “hoë punt”, omdat die lae punt my gewoonlik ’n paar dae lank sonder energie laat, en dan is dit onwaarskynlik dat ek by enigiets ongebalanseerds betrokke sal raak. Aileen help baie deur my te waarsku om oorprikkeling te vermy en deur my te bemoedig en te ondersteun wanneer ’n sombere stemming my oorweldig.

’n Wesenlike gevaar is dat ’n mens selfbehep kan raak en alle ander dinge kan uitsluit wanneer die siekte op sy ergste is. ’n Mens kan jou heeltemal afsonder wanneer jy neerslagtig raak, of jy kan gedurende ’n maniese periode totaal onbewus wees van die gevoelens en reaksies van ander. In die verlede was dit vir my moeilik om die bewyse van ’n verstandelike en emosionele probleem te aanvaar. Ek het bly dink dat die probleem iets eksterns, soos ’n mislukte projek of iemand anders, moes wees. Keer op keer moes ek my daaraan herinner: ‘Niks om my het verander nie. Die probleem is intern, nie ekstern nie.’ My denke het geleidelik verander.

Deur die jare heen het ons albei geleer om openhartig en eerlik met onsself en ander te wees oor my toestand. Ons probeer ’n optimistiese gesindheid behou en laat nie toe dat die siekte ons lewe oorheers nie.

’n Beter “môre”

Deur ernstige gebede en ’n baie groot stryd heen het ons baat gevind by Jehovah se seën en ondersteuning. Ons is albei nou al gevorderd in jare. Ek is onder doktersbehandeling en moet gereeld ’n beperkte hoeveelheid medikasie neem, en my gesondheid is redelik bestendig. Ons waardeer enige diensvoorregte wat ons kan hê. Ek dien nog steeds as ’n gemeentelike ouer man. Ons probeer altyd ander in die geloof bystaan.

Dit is werklik soos Jakobus 4:14 sê: ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie.’ Dit sal die geval wees solank hierdie stelsel van dinge bly bestaan. Maar die woorde van Jakobus 1:12 is ook waar: “Gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah beloof het aan diegene wat aanhou om hom lief te hê.” Mag ons almal vandag vasstaan en besef watter wonderlike seëninge Jehovah in die vooruitsig stel vir die dag van môre.

[Voetnoot]

a Sien die artikels “Jy kan lewensprobleme die hoof bied”, in die Ontwaak! van 8 Desember 1981; “Hoe jy teen neerslagtigheid kan stry”, in die nommer van 8 Januarie 1982, en “Die bestryding van ernstige depressie”, in die nommer van 22 Februarie 1982.

[Prent op bladsy 26]

Ek geniet dit om soms alleen in my kunsateljee te wees

[Prent op bladsy 26]

Saam met my vrou, Aileen

[Prent op bladsy 28]

By die “Ewige goeie nuus”-byeenkoms in Tema, Ghana, in 1963

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel