Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 10/15 bl. 20-24
  • Vader en ouer man—Vervul albei rolle

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vader en ouer man—Vervul albei rolle
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vader en ouer man
  • “Met gelowige kinders”
  • Met ’n “ongelowige vrou” getroud
  • ‘Iemand wat sy huisgesin op voortreflike wyse beheer’
  • Gebalanseerde toesig
  • Goeie vaders sowel as goeie ouer manne
  • Ons moet ons ouer manne in eer hou
  • Eggenoot en ouer man—Hou die verantwoordelikhede in ewewig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Is jy bekwaam om te dien?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hou gewilliglik as herders toesig oor die kudde van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ouere manne—Bewaar julle pand
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 10/15 bl. 20-24

Vader en ouer man—Vervul albei rolle

“As iemand immers nie weet hoe om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe sal hy vir God se gemeente sorg?”—1 TIMOTEUS 3:5.

1, 2. (a) Hoe kon ongetroude opsieners en getroude opsieners sonder kinders in die eerste eeu hulle broers dien? (b) Hoe is Aquila en Priscilla ’n voorbeeld vir baie egpare van vandag?

OPSIENERS in die vroeë Christengemeente kon ongetroud, getroud maar sonder kinders of gesinsmanne met kinders wees. Party van daardie Christene kon ongetwyfeld die apostel Paulus se raad in sy eerste brief aan die Korintiërs, hoofstuk 7, volg en ongetroud bly. Jesus het gesê: “Daar is eunugs wat hulleself eunugs gemaak het weens die koninkryk van die hemele” (Matteus 19:12). Sulke ongetroude mans, soos Paulus en moontlik van sy reisgenote, sou vry wees om te reis om hulle broers te help.

2 Die Bybel sê nie of Barnabas, Markus, Silas, Lukas, Timoteus en Titus ongetroude manne was nie. As hulle getroud was, was hulle klaarblyklik vry genoeg van gesinsverantwoordelikhede dat hulle lang reise as deel van hulle toewysing kon onderneem (Handelinge 13:2; 15:39-41; 2 Korintiërs 8:16, 17; 2 Timoteus 4:9-11; Titus 1:5). Hulle vrouens het hulle moontlik vergesel, soos Petrus en “die res van die apostels”, wat blykbaar hulle vrouens met hulle saamgeneem het wanneer hulle van plek tot plek gegaan het (1 Korintiërs 9:5). Aquila en Priscilla is ’n voorbeeld van ’n egpaar wat bereid was om te verhuis en het Paulus van Korinte na Efese gevolg, toe na Rome getrek en daarna terug na Efese. Die Bybel sê nie of hulle kinders gehad het nie. “Al die gemeentes van die nasies” was dankbaar teenoor hulle weens hulle getroue diens ten behoewe van hulle broers (Romeine 16:3-5; Handelinge 18:2, 18; 2 Timoteus 4:19). Daar is vandag ongetwyfeld baie egpare wat, soos Aquila en Priscilla, ander gemeentes kan bedien, moontlik deur na gebiede te trek waar hulp nodig is.

Vader en ouer man

3. Wat impliseer dat baie eerste-eeuse ouer manne getroude mans met gesinne was?

3 Dit wil voorkom of die meeste Christen- ouer manne in die eerste eeu G.J. getroude mans met kinders was. Toe Paulus die kwalifikasies uiteengesit het vir iemand ‘wat na ’n opsienersamp streef’, het hy gesê dat so ’n Christen “iemand [moet wees] wat sy eie huisgesin op voortreflike wyse beheer, wat kinders met alle erns in onderworpenheid het”.—1 Timoteus 3:1, 4.

4. Wat is van getroude ouer manne met kinders vereis?

4 Soos ons gesien het, was dit nie ’n vereiste dat ’n ouer man kinders moes hê of selfs getroud moes wees nie. Maar as ’n Christen getroud was, moes hy behoorlike en liefdevolle hoofskap oor sy vrou uitoefen en toon dat hy in staat is om sy kinders in behoorlike onderworpenheid te hou as hy as ouer man of bedieningskneg wou kwalifiseer (1 Korintiërs 11:3; 1 Timoteus 3:12, 13). ’n Ernstige swakheid in die beheer van sy huisgesin sou ’n broer ongeskik maak vir spesiale voorregte in die gemeente. Waarom? Paulus verduidelik: “As iemand immers nie weet hoe om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe sal hy vir God se gemeente sorg?” (1 Timoteus 3:5). Hoe sou ander reageer as dié van sy eie vlees onwillig is om hulle aan sy toesig te onderwerp?

“Met gelowige kinders”

5, 6. (a) Watter vereiste wat kinders betref, het Paulus aan Titus genoem? (b) Wat word verwag van ouer manne wat kinders het?

5 Toe Paulus vir Titus opdrag gegee het om opsieners in die gemeentes in Kreta aan te stel, was sy voorwaardes: “As daar enigiemand is wat vry van beskuldiging is, die man van een vrou, met gelowige kinders wat nie van losbandigheid aangekla was of weerbarstig was nie. Want ’n opsiener moet as God se bestuurder vry van beskuldiging wees.” Presies wat beteken die vereiste “met gelowige kinders”?—Titus 1:6, 7.

6 Die term “gelowige kinders” verwys na jongmense wat reeds hulle lewe aan Jehovah toegewy het en gedoop is of na dié wat tot toewyding en doop vorder. Die lede van ’n gemeente verwag dat ouer manne se kinders hulle oor die algemeen goed sal gedra en gehoorsaam sal wees. Dit moet duidelik wees dat ’n ouer man alles in sy vermoë doen om geloof in sy kinders te bou. Koning Salomo het geskryf: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Maar sê nou ’n jongmens wat sulke opleiding ontvang het, weier om Jehovah te dien of maak hom selfs aan ’n ernstige oortreding skuldig?

7. (a) Waarom is dit duidelik dat Spreuke 22:6 nie ’n vaste reël is nie? (b) Waarom sal ’n ouer man nie outomaties sy voorregte verloor as sy kind Jehovah nie wil dien nie?

7 Dit is duidelik dat die spreuk hierbo nie ’n vaste reël is nie. Dit skakel nie die beginsel van wilsvryheid uit nie (Deuteronomium 30:15, 16, 19). Wanneer ’n seun of ’n dogter ’n verantwoordelike ouderdom bereik, moet hy of sy ’n persoonlike besluit neem met betrekking tot toewyding en doop. As dit duidelik is dat ’n ouer man die nodige geestelike hulp, leiding en dissipline voorsien het en die jeugdige wil Jehovah nogtans nie dien nie, sal dit die vader nie outomaties ongeskik maak om ’n opsiener te wees nie. Aan die ander kant, as ’n ouer man etlike minderjarige kinders het wat by die huis woon en een na die ander geestelik siek word en in die moeilikheid beland, sal hy dalk nie meer beskou word as “iemand wat sy eie huisgesin op voortreflike wyse beheer” nie (1 Timoteus 3:4). Die punt is dat dit duidelik moet wees dat ’n opsiener sy bes doen om ‘gelowige kinders te hê wat nie van losbandigheid aangekla is of weerbarstig is nie’.a

Met ’n “ongelowige vrou” getroud

8. Hoe moet ’n ouer man teenoor sy ongelowige vrou optree?

8 Aangaande Christenmans wat met ongelowiges getroud was, het Paulus geskryf: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie . . . Want . . . die ongelowige vrou is geheilig met betrekking tot die broer; anders sou julle kinders in werklikheid onrein wees, maar nou is hulle heilig. Want hoe weet jy, . . . man, of jy nie dalk jou vrou sal red nie?” (1 Korintiërs 7:12-14, 16). Die woord “ongelowige” verwys hier nie na ’n vrou wat geen godsdiensoortuigings het nie, maar na een wat nie aan Jehovah toegewy is nie. Sy was dalk ’n Jood of het in heidense gode geglo. Vandag is ’n ouer man dalk getroud met ’n vrou wat ’n ander geloof beoefen, wat ’n agnostikus of selfs ’n ateïs is. As sy bereid is om by hom te bly, moet hy haar nie verlaat bloot omdat hulle oortuigings verskil nie. Hy moet nog altyd ‘ooreenkomstig kennis met haar saamwoon en aan haar eer toeken as ’n swakker vat, die vroulike’, met die hoop dat hy haar kan red.—1 Petrus 3:7; Kolossense 3:19.

9. Wat moet ’n ouer man doen in lande waar die wet die man sowel as die vrou die reg gee om hulle kinders aan hulle onderskeie godsdiensoortuigings bloot te stel, en hoe sal dit sy voorregte raak?

9 As ’n opsiener kinders het, sal hy behoorlike hoofskap as eggenoot en vader uitoefen om hulle “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Efesiërs 6:4). In baie lande gee die wet albei huweliksmaats die reg om godsdiensonderrig aan hulle kinders te voorsien. In hierdie geval kan die vrou aandring op haar reg om die kinders aan haar godsdiensoortuigings en -gebruike bloot te stel, wat kan insluit dat sy hulle na haar kerk toe neem.b Die kinders moet natuurlik hulle Bybelopgeleide gewete volg met betrekking tot seremonies van valse godsdiens waaraan hulle nie moet deelneem nie. As gesinshoof sal die vader sy reg uitoefen om met sy kinders te studeer en hulle, wanneer dit moontlik is, na vergaderinge by die Koninkryksaal neem. Wanneer hulle oud genoeg is om hulle eie besluite te neem, sal hulle self besluit watter weg hulle wil volg (Josua 24:15). As sy mede- ouer manne en die lede van die gemeente kan sien dat hy alles doen wat hy volgens die wet toegelaat word om sy kinders behoorlik in die weg van die waarheid te onderrig, sal hy nie gediskwalifiseer word as ’n opsiener nie.

‘Iemand wat sy huisgesin op voortreflike wyse beheer’

10. As ’n gesinsman ’n ouer man is, waar lê sy primêre plig?

10 Dit is selfs vir ’n ouer man wat ’n vader is en wie se vrou ’n mede-Christen is ’n moeilike taak om sy tyd en aandag behoorlik te verdeel tussen sy vrou, kinders en gemeentelike verantwoordelikhede. Die Skrif stel dit baie duidelik dat ’n Christenvader verplig is om na sy vrou en kinders om te sien. Paulus het geskryf: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). In daardie selfde brief het Paulus gesê dat slegs getroude mans wat reeds bewys het dat hulle goeie eggenote en vaders is, aanbeveel kan word om as opsieners te dien.—1 Timoteus 3:1-5.

11. (a) Op watter maniere moet ’n ouer man ‘sorg vir dié wat syne is’? (b) Hoe kan dit ’n ouer man help om sy gemeentelike verantwoordelikhede na te kom?

11 ’n Ouer man moet nie net materieel “sorg” vir dié wat syne is nie, maar ook geestelik en emosioneel. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou” (Spreuke 24:27). Terwyl ’n opsiener vir sy vrou en kinders se materiële, emosionele en ontspanningsbehoeftes sorg, moet hy hulle dus ook geestelik opbou. Dit verg tyd—tyd wat hy nie aan gemeentelike sake sal kan wy nie. Maar dit is tyd wat groot voordele kan inhou in terme van gesinsgeluk en -geestelikheid. As sy gesin geestelik sterk is, sal die ouer man op die lange duur moontlik minder tyd aan gesinsprobleme hoef te bestee. Dit sal hom groter geleentheid gee om na gemeentelike sake om te sien. Sy voorbeeld as ’n goeie eggenoot en ’n goeie vader sal die gemeente geestelik tot voordeel strek.—1 Petrus 5:1-3.

12. In watter gesinsaangeleentheid moet vaders wat ouer manne is ’n voortreflike voorbeeld stel?

12 Om ’n huisgesin op voortreflike wyse te beheer, sluit in dat tyd opsy gesit word om ’n gesinstudie te hou. Dit is veral belangrik dat ouer manne in hierdie opsig ’n goeie voorbeeld stel, want sterk gesinne bou sterk gemeentes. ’n Opsiener se tyd moet nie gereeld tot so ’n mate deur ander diensvoorregte in beslag geneem word dat hy geen tyd het om saam met sy vrou en kinders te studeer nie. As dit gebeur het, moet hy weer na sy rooster kyk. Hy sal dalk die tyd wat hy aan ander sake wy, moet herindeel of verminder, en dalk sal hy selfs sekere voorregte soms van die hand moet wys.

Gebalanseerde toesig

13, 14. Watter raad het “die getroue en verstandige slaaf” aan ouer manne gegee wat ook gesinsmanne is?

13 Die raad om gesins- en gemeentelike verantwoordelikhede in ewewig te hou, is niks nuuts nie. “Die getroue en verstandige slaaf” gee ouer manne al jare lank hierdie raad (Matteus 24:45). Ongeveer 37 jaar gelede het Die Wagtoring van 15 Desember 1959, bladsy 379, gesê: “Kom dit in werklikheid nie daarop neer dat ons ons tyd eweredig tussen hierdie vereistes moet verdeel nie? Laat daar . . . behoorlike gewig gegee word aan die belange van u eie gesin. Jehovah God sal sekerlik nie verwag dat ’n man al sy tyd in gemeentewerk gebruik, om sy broers en naaste te help om redding te verkry, en nogtans nie die redding van sy eie huisgesin behartig nie. ’n Man se vrou en kinders is sy vernaamste verantwoordelikheid.”

14 Die Wagtoring van 1 November 1986, bladsy 22, het gesê: “Hoewel deelname aan die veldbediening as gesin julle hegter sal saamsnoer, vereis die unieke behoeftes van kinders dat ouers van hulle private tyd en emosionele energie aan hulle kinders afstaan. Balans is dus nodig om te bepaal hoeveel tyd jy vir . . . gemeentelike pligte kan gebruik terwyl jy ook geestelik, emosioneel en materieel ‘vir jou eie mense’ sorg. [’n Christen] moet ‘eers leer om in [sy] eie huisgesin godvrugtige toegewydheid te beoefen’ (1 Timotheüs 5:4, 8, NW).”

15. Waarom het ’n ouer man met ’n vrou en kinders wysheid en onderskeidingsvermoë nodig?

15 ’n Spreuk in die Skrif sê: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig wees” (Spreuke 24:3, NW). Ja, ’n opsiener het beslis wysheid en onderskeidingsvermoë nodig om sy teokratiese pligte uit te voer en terselfdertyd sy huisgesin op te bou. Skriftuurlik gesproke het hy meer as een gebied van toesig. Sy gesin en sy gemeentelike verantwoordelikhede is daarby betrokke. Hy het onderskeidingsvermoë nodig om dit in ewewig te hou (Filippense 1:9, 10). Hy het wysheid nodig om sy prioriteite te stel (Spreuke 2:10, 11). Ongeag in watter mate hy verantwoordelik voel om aan sy gemeentelike voorregte aandag te gee, moet hy besef dat sy vernaamste godgegewe verantwoordelikheid as eggenoot en vader die versorging en redding van sy gesin is.

Goeie vaders sowel as goeie ouer manne

16. Watter voordeel het ’n ouer man wat ook ’n vader is?

16 ’n Ouer man met kinders wat hulle goed gedra, kan baie waardevol wees. As hy geleer het hoe om goed vir sy gesin te sorg, kan hy ander gesinne in die gemeente help. Hy verstaan hulle probleme beter en kan op grond van sy eie ondervinding raad gee. Dit is verblydend dat daar in die hele wêreld duisende ouer manne is wat ’n goeie werk doen as eggenote, vaders en opsieners.

17. (a) Wat moet ’n man wat ’n vader sowel as ’n ouer man is nooit vergeet nie? (b) Hoe moet ander lede van die gemeente empatie toon?

17 ’n Gesinsman wat ’n ouer man wil wees, moet ’n ryp Christen wees wat, terwyl hy vir sy vrou en kinders sorg, sy sake so kan reël dat hy tyd en aandag aan ander in die gemeente kan gee. Hy moet nooit vergeet dat sy herderswerk by die huis begin nie. Aangesien lede van die gemeente weet dat ouer manne met ’n vrou en kinders die verantwoordelikheid van hulle gesin sowel as hulle gemeentelike pligte het, sal hulle probeer om nie onredelike eise aan hulle tyd te stel nie. ’n Ouer man wat kinders het wat die volgende dag moet skool toe gaan, sal byvoorbeeld nie altyd lank ná aandvergaderinge kan agterbly nie. Ander lede van die gemeente behoort dit te verstaan en begrip te toon.—Filippense 4:5.

Ons moet ons ouer manne in eer hou

18, 19. (a) Wat het ons bespreking van 1 Korintiërs hoofstuk 7 ons gehelp om te besef? (b) Hoe moet ons sulke Christenmanne beskou?

18 Ons bespreking van hoofstuk 7 van Paulus se eerste brief aan die Korintiërs het ons gehelp om te sien dat daar baie ongetroude mans is wat Paulus se raad volg en hulle vryheid gebruik om Koninkryksbelange na te streef. Daar is ook duisende getroude broers sonder kinders wat, terwyl hulle gepaste aandag aan hulle vrouens gee, as voortreflike opsieners in streke, kringe, gemeentes en Wagtoring-takkantore dien, met die prysenswaardige samewerking van hulle vrouens. Ten slotte is daar in die bykans 80-000 gemeentes van Jehovah se volk talle vaders wat nie net liefdevol vir hulle vrou en kinders sorg nie, maar ook tyd gebruik om hulle broers as liefdevolle herders te bedien.—Handelinge 20:28.

19 Die apostel Paulus het geskryf: “Laat die ouer manne wat op voortreflike wyse leiding gee dubbele eer waardig geag word, veral dié wat hard werk in woord en onderrigting” (1 Timoteus 5:17). Ja, ouer manne wat op voortreflike wyse hulle huisgesinne beheer en oor die gemeente toesig hou, verdien ons liefde en respek. Ons moet beslis ‘aanhou om hierdie soort manne in eer te hou’.—Filippense 2:29.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring, 1 Mei 1978, bladsye 23-4.

b Sien Die Wagtoring, 15 April 1961, bladsye 190-1.

Ter hersiening

◻ Hoe weet ons dat baie ouer manne in die eerste eeu G.J. gesinsmanne was?

◻ Wat word van getroude ouer manne met kinders vereis, en waarom?

◻ Wat word bedoel met “gelowige kinders”, maar sê nou ’n ouer man se kind wil Jehovah nie dien nie?

◻ In watter opsigte moet ’n ouer man ‘sorg vir dié wat syne is’?

[Prent op bladsy 23]

Sterk gesinne bou sterk gemeentes

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel