Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 4/22 bl. 18-21
  • Hoe ’n besering my lewe verander het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ’n besering my lewe verander het
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Negatiewe gevoelens
  • ’n Mediese uitdaging
  • ’n Positiewe gesindheid
  • Ander bronne van hulp
  • Lyding word verlig deur diens aan ander
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Nie towenaars óf gode nie
    Ontwaak!—1994
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe ek by God se sorg baat gevind het
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 4/22 bl. 18-21

Hoe ’n besering my lewe verander het

SOOS VERTEL DEUR STANLEY OMBEVA

In 1982 het ’n motor my raakgery. Ek is behandel en het spoedig my daaglikse bedrywighede hervat, ten spyte van periodieke pyn weens ’n skyfletsel tussen my nek en bors. Maar 15 jaar later het ek voor die grootste beproewing van my geloof te staan gekom.

VOOR die ongeluk, en in sekere mate daarna, was ek vol energie. Ek het ’n goeie oefenprogram gehad, wat ingesluit het dat ek oor die naweek tussen 10 en 13 kilometer gedraf, muurbal gespeel en harde fisiese werk gedoen het. Ek het gehelp met die konstruksie van Koninkryksale van Jehovah se Getuies, sowel as met ’n groot Byeenkomssaal in Nairobi, Kenia, waar ons woon.

Toe, in 1997, het ek gereeld borspyn gekry wat al hoe erger geword het. ’n Mediese ondersoek het getoon dat ’n tussenwerwelskyf geskuif en my rugstring saamgedruk het. Dit is toegeskryf aan die ongeluk wat aan die begin genoem is.

Voordat my gesondheid agteruit begin gaan het, het ek werk as ’n verkoopsman gekry. Dit het ’n mediese versekeringsplan vir my gesin ingesluit. My vooruitsigte in die besigheidswêreld het belowend gelyk. Maar in die middel van 1998 het ek baie van die gevoel van my bors tot in my voete begin verloor. My gesondheid het dag na dag versleg.

Nie lank daarna nie het ek my werk verloor sowel as al die voordele wat dit gebied het. Ons twee dogters, Sylvia en Wilhelmina, was toe onderskeidelik 13 en 10 jaar oud. Noudat ek werkloos was, moes ons staatmaak op wat my vrou, Joyce, aan die einde van die maand huis toe gebring het. Weens hierdie nuwe omstandighede het ons ons lewe vereenvoudig deur net met die noodsaaklikhede klaar te kom. So het ons darem die pot aan die kook gehou.

Negatiewe gevoelens

Ek moet erken dat ek negatief, selfsugtig en geïrriteerd geraak het namate ek die erns van my toestand besef het. By tye was ek kwaad en verbitterd en het ek met niks saamgestem nie. Ek was altyd op die rand van depressie. Die hele gesin het deurgeloop. My vrou en ons dogters het voor ’n unieke situasie te staan gekom waarvan hulle nie veel geweet het nie.

Op daardie stadium het ek gedink dat my gevoelens geregverdig was. Ek het vinnig gewig aangesit. Ek het ernstige probleme met ontlasting gehad en dit moeilike gevind om urinering te beheer. Dit was dikwels vir my ’n verskriklike verleentheid. Dit was nie iets ongewoons om my alleen in ’n hoekie, met trane in my oë, te kry nie. Daar was tye dat ek so kwaad geword het dat dit amper snaaks was. Ek het geweet dat ek my situasie nie goed hanteer nie.

As ’n ouer man in die Christengemeente van Jehovah se Getuies het ek dikwels vir mede-Christene gesê om Jehovah nooit vir enige vorm van lyding te blameer nie. Nogtans het ek my dikwels afgevra: ‘Waarom laat Jehovah toe dat so iets met my gebeur?’ Hoewel ek tekste soos 1 Korintiërs 10:13 gebruik het om ander te versterk en aan te moedig, het ek gevoel dat my situasie te veel was om te verduur!

’n Mediese uitdaging

Dit was ’n uitdaging om goeie mediese behandeling te kry. Ek het soms ’n fisioterapeut, ’n chiropraktisyn en ’n akupunkturis almal in een dag besoek. Maar enige verligting was van korte duur. Ek het verskeie dokters, onder meer ’n ortopediese chirurg en ’n neurochirurg, geraadpleeg. Hulle het almal oor een ding saamgestem: ’n Operasie was nodig om die pyn te verlig en die skyfletsel te verwyder. Weens my Bybelse oortuiging het ek dit aan hierdie mediese deskundiges duidelik gemaak dat hulle my onder geen omstandighede bloed moes gee nie.—Handelinge 15:28, 29.

Die eerste chirurg het gesê dat hy sou opereer deur ’n insnyding in my rug te maak. Hy het aan my verduidelik dat die prosedure nogal gevaarlik kan wees. Maar die chirurg kon my nie die versekering gee dat hy nie bloed sou gebruik nie. Ek het nie weer na hom toe teruggegaan nie.

Die tweede chirurg het gesê dat hy deur my nek aan my rugstring sou werk. Hierdie prosedure het verskriklik geklink. Hoewel dit nie vir hom ’n probleem was dat ek bloed geweier het nie, wou hy die operasie onmiddellik doen en het hy min besonderhede verskaf. Ek het ook nie na hom toe teruggegaan nie.

Maar met die hulp van Jehovah se Getuies wat op ons plaaslike Hospitaalskakelkomitee dien, het ek ’n dokter gevind wat bereid was om sy samewerking te gee. Die derde chirurg het ’n soortgelyke prosedure as die tweede voorgestel, wat behels het dat hulle ’n insnyding in my nek maak. Die risiko’s sou minimaal wees, het hy verduidelik.

Die grafiese uitbeelding van hoe die operasie gedoen sou word, het my geskok. Die wete dat so ’n operasie om delikate organe soos die hart en longe gedoen sou word, het my die bangste gemaak. Sou ek lewendig daaruit kom? Sulke negatiewe gedagtes het natuurlik nie gehelp om my vrese te stil nie.

Op 25 November 1998 het ek ’n suksesvolle vier uur lange operasie in ’n hospitaal in Nairobi ondergaan. Die operasie het ook behels dat ’n deel van my bekkenbeen verwyder moes word. Die stuk been is gevorm en toe met ’n metaalplaat en skroewe aan die aangetaste deel geheg. Dit het gehelp. Maar dit was nie die einde van al my probleme nie. Ek het baie moeilik geloop. Ek het nog steeds geen gevoel in sekere dele van my liggaam nie.

’n Positiewe gesindheid

Soos vroeër genoem is, het ek baie oor my treurige toestand getob. Dit is ironies dat baie van die mediese personeel my geprys het omdat ek so kalm en optimisties was. Waarom het hulle so gevoel? Hulle kon sien dat ek baie pyn gehad het, maar nogtans met hulle oor my geloof in God gepraat het.

Hoewel ek soms kwaad en verbitterd was oor my situasie, het ek nog steeds op Jehovah vertrou. Hy het my altyd deur al my beproewinge heen ondersteun—in so ’n mate dat ek my partykeer geskaam het. Ek het my voorgeneem om tekste wat ek geweet het my in my situasie sou vertroos, te lees en daaroor te peins. Party van hulle is:

Openbaring 21:4: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.” Dit het my regtig vertroos om na te dink oor die Bybel se belofte van ’n nuwe wêreld waar trane en pyn vir altyd iets van die verlede sal wees.

Hebreërs 6:10: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.” Hoewel ek fisies beperk was, het ek geweet dat Jehovah die werk wat ek in sy diens doen, hoog op prys stel.

Jakobus 1:13: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie.” Hoe waar is dit tog! Hoewel Jehovah toegelaat het dat ek ly, het hy dit geensins veroorsaak nie.

Filippense 4:6, 7: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Gebed het my gehelp om die nodige gemoedsrus te kry, wat my in staat gestel het om my situasie verstandiger te hanteer.

Ek het hierdie tekste al gebruik om ander wat in moeilike situasies was, aan te moedig—en dit het regtig gehelp! Ek weet nou dat ek destyds nie die waarde daarvan ten volle besef het nie. Ek moes eers ernstig siek word voordat ek kon verstaan wat dit beteken om nederig te wees en geheel en al op Jehovah te vertrou.

Ander bronne van hulp

Baie sê dat die Christenbroederskap soos ’n pilaar en ’n stut in moeilike tye is. Maar hoe maklik is dit tog om ons Christenbroers en -susters as vanselfsprekend te aanvaar! Hulle is weliswaar beperk in wat hulle kan doen om ons te help, maar hulle is altyd daar vir ons. Dit was waar in my geval. Hulle het my dikwels by die hospitaal kom besoek, selfs vroeg in die oggend. Hulle het selfs aangebied om my met my mediese onkoste te help. Ek is ewig dankbaar teenoor almal wat hulle oor my ontferm het en my gehelp het.

In ons plaaslike gemeente weet die Getuies dat ek nou beperk is in wat ek kan doen. Ek dien tans as die presiderende opsiener en werk saam met ’n liggaam van Christen- ouer manne wat my goed ondersteun. Ek was nog nooit ongereeld in die predikingswerk nie. Gedurende die tyd toe dit die slegste met my gegaan het, het ek twee mense gehelp om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Een van hulle dien tans as ’n bedieningskneg in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Nairobi.

Ek kan nog steeds nie die woorde vind om my vrou te bedank omdat sy my deur hierdie hele beproewing bygestaan het nie. Sy het my woede, my luimveranderinge, my onredelikheid en my frustrasies verdra. Sy het my altyd gerusgestel en vertroos wanneer ek gehuil en in pyn verkeer het. Haar innerlike krag ondanks die teëspoed wat sy moes verduur, verbaas my nog steeds. Sy was ‘te alle tye ’n ware metgesel’.—Spreuke 17:17.

Ons dogters het geleer om met my situasie saam te leef. Hulle doen wat hulle kan om my te help. Hulle verstaan my behoeftes en tree vinnig op om te verseker dat ek gemaklik is wanneer hulle ma nie daar is nie. Sylvia is my “kierie” en help my om in die huis rond te beweeg wanneer ek swak is.

Wat van Mina, die jongste? Wel, ek onthou hoe ek eenkeer in die huis geval het en nie kon opkom nie. Sy was die enigste een wat by die huis was. Sy het my met al haar krag opgehelp en my stadig na my kamer geneem. Sy weet tot vandag toe nie hoe sy dit reggekry het nie. Ek sal nooit haar moed op daardie dag vergeet nie.

Om met hierdie besering saam te leef, is die moeilikste stryd wat ek nog moes voer—en dit duur nog steeds voort. Dit was die ergste beproewing in my lewe en die grootste toets van my geloof. Ek het baie omtrent nederigheid, redelikheid en empatie geleer. Volle vertroue op Jehovah het my gehelp om met hierdie probleem saam te leef.

Ek het besef hoe waar die apostel Paulus se woorde is: “Ons het . . . hierdie skat in erdehouers, sodat die krag wat bo die normale is, God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Ek put groot vertroosting uit God se belofte van die toekomstige “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” (2 Petrus 3:13). Ek bid dat Jehovah sal voortgaan om my te onderskraag terwyl ek op daardie nuwe wêreld wag, want ek is nog steeds swak en kan min in my eie krag verrig.

[Prente op bladsy 20]

Christelike bedrywighede saam met my gesin het my gehelp om te volhard

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel