Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 7/1 bl. 21-25
  • Lyding word verlig deur diens aan ander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lyding word verlig deur diens aan ander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek vind krag in swakheid
  • ’n Nuwe lewe
  • Hospitaalbesoeke—’n bron van bevrediging
  • Die wêreld van regters en mediese etiek
  • Ek moet die werklikheid onder die oë sien
  • Die kloof tussen dokters en Getuiepasiënte word oorbrug
    Ontwaak!—1990
  • Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep
    Ontwaak!—1993
  • Kommunikasie tussen dokter en pasiënt—’n sleutel tot sukses
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 7/1 bl. 21-25

Lewensverhaal

Lyding word verlig deur diens aan ander

SOOS VERTEL DEUR JULIÁN ARIAS

In 1988, toe ek 40 jaar oud was, het my professionele loopbaan redelik seker gelyk. Ek was die streeksdirekteur van ’n multinasionale maatskappy. My werksvoordele het ’n spoggerige motor, ’n goeie salaris en ’n gerieflike kantoor in die middestad van Madrid, Spanje, ingesluit. Daar was selfs sprake dat die maatskappy my hulle nasionale direkteur sou maak. Min het ek besef dat my lewe binnekort drasties sou verander.

IN DAARDIE selfde jaar het my dokter vir my gesê dat ek veelvuldige sklerose, ’n ongeneeslike siekte, het. Ek was verpletter. Toe ek later gelees het wat veelvuldige sklerose aan ’n mens kan doen, was ek benoud.a Dit het gevoel asof die spreekwoordelike swaard van Damokles vir die res van my lewe oor my sou hang. Hoe sou ek vir my vrou, Milagros, en my driejarige seuntjie, Ismael, kon sorg? Hoe sou ons die mas opkom? Terwyl ek na antwoorde op hierdie vrae gesoek het, het nog ’n swaar slag my getref.

Omtrent ’n maand nadat die dokter my van my siekte vertel het, is ek na my onmiddellike hoof se kantoor ontbied, en hy het vir my gesê dat die maatskappy mense met ’n “goeie beeld” nodig het. En iemand met ’n aftakelende siekte—al is dit in ’n vroeë stadium—dra nie so ’n beeld uit nie. My baas het my dus daar en dan afgedank. Skielik was my sekulêre loopbaan iets van die verlede!

Voor my gesin het ek ’n moedige front probeer voorhou, maar ek wou so graag alleen wees, my nuwe omstandighede in oënskou neem en oor my toekoms dink. Ek het probeer veg teen ’n gevoel van neerslagtigheid wat al hoe sterker geword het. Wat my die seerste gemaak het, was die feit dat ek oornag in die maatskappy se oë niks werd geword het.

Ek vind krag in swakheid

Gelukkig kon ek in hierdie donker tyd op verskeie bronne van krag staatmaak. Sowat 20 jaar vroeër het ek een van Jehovah se Getuies geword. Ek het dus opreg tot Jehovah gebid oor my gevoelens en my onsekerheid oor die toekoms. My vrou, wat ook ’n Getuie is, was ’n ware steunpilaar, en ek het die ondersteuning van goeie vriende gehad wie se goedhartigheid en medelye van onskatbare waarde was.—Spreuke 17:17.

Die verantwoordelikheid wat ek teenoor ander gevoel het, het ook gehelp. Ek wou my seun goed grootmaak, hom leer, met hom speel en hom oplei in die predikingswerk. Ek kon eenvoudig nie tou opgooi nie. Verder was ek ’n ouer man in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies, en my Christenbroers en -susters het my ondersteuning nodig gehad. Watter soort voorbeeld sou ek vir ander wees as ek sou toelaat dat my siekte my geloof ondermyn?

My lewe het natuurlik fisies en ekonomies verander—in party opsigte het dit moeiliker geword en in ander opsigte het dit verbeter. Ek het ’n dokter eenkeer hoor sê: “Siekte vernietig nie ’n persoon nie; dit verander hom eerder.” En ek het geleer dat die veranderinge nie almal negatief is nie.

Eerstens het my “doring in die vlees” my gehelp om ander mense se gesondheidsprobleme beter te verstaan en met hulle te simpatiseer (2 Korintiërs 12:7). Ek het die woorde van Spreuke 3:5 beter as ooit tevore verstaan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.” Bowenal het my nuwe omstandighede my geleer wat werklik belangrik is in die lewe en watter dinge ware bevrediging en ’n gevoel van eiewaarde gee. Ek kon nog steeds baie in Jehovah se organisasie doen. Jesus se woorde “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”, het vir my groter betekenis aangeneem.—Handelinge 20:35.

’n Nuwe lewe

Kort nadat ek met my siekte gediagnoseer is, is ek na ’n seminaar in Madrid genooi waar Christenvrywilligers geleer is hoe om samewerking tussen dokters en hulle Getuiepasiënte te bewerkstellig. Later is hierdie vrywilligers in Hospitaalskakelkomitees georganiseer. Vir my het daardie seminaar net op die regte tyd gekom. Ek het ’n beter loopbaan ontdek, een wat my veel meer bevrediging sou gee as enige sekulêre werk.

Ons het by die seminaar geleer dat dit die taak van die pas gevormde Hospitaalskakelkomitees sou wees om hospitale te besoek, onderhoude met dokters te voer en aanbiedings voor gesondheidswerkers te doen, met die doel om samewerking te bevorder en konfrontasies te voorkom. Die komitees help mede-Getuies om dokters te vind wat gewillig is om mediese prosedures sonder bloed te doen. Ek was natuurlik ’n leek op hierdie gebied en sou baie moes leer oor mediese terme, mediese etiek en hospitaaladministrasie. Nogtans was ek ná daardie seminaar ’n nuwe mens, met ’n nuwe, opwindende uitdaging in die vooruitsig.

Hospitaalbesoeke—’n bron van bevrediging

Al het my siekte my stadig maar seker afgetakel, het my verantwoordelikhede as lid van ’n Hospitaalskakelkomitee toegeneem. Omdat ek ’n ongeskiktheidspensioen gekry het, het ek die tyd gehad om hospitaalbesoeke te doen. Al was die besoeke nou en dan teleurstellend, was dit makliker en bevredigender as wat ek verwag het. Hoewel ek nou aan ’n rolstoel gekluister is, was dit tot dusver nie ’n groot probleem nie. ’n Ander komiteelid gaan altyd saam met my. Daarbenewens is dokters gewoond daaraan om met mense in rolstoele te praat, en soms lyk dit of hulle met groter respek luister wanneer hulle sien hoeveel moeite ek doen om hulle te besoek.

Oor die afgelope tien jaar het ek honderde dokters besoek. Party was feitlik uit die staanspoor bereid om ons te help. Dr. Juan Duarte—’n hartchirurg in Madrid wat daarop gesteld is om ’n pasiënt se gewete te respekteer—het sy dienste onmiddellik aangebied. Sedertdien het hy meer as 200 bloedlose operasies op Getuiepasiënte uit baie dele van Spanje gedoen. Deur die jare heen het al hoe meer dokters bloedlose operasies begin doen. Hoewel ons gereelde besoeke baie gehelp het, kan die sukses ook toegeskryf word aan mediese vooruitgang en die goeie resultate wat met bloedlose operasies behaal is. En ons is daarvan oortuig dat Jehovah ons pogings geseën het.

Ek is veral bemoedig deur die reaksie van party hartchirurge wat in die behandeling van kinders spesialiseer. Ons het twee jaar lank besoeke gedoen op ’n span van twee chirurge en hulle narkotiseurs. Ons het hulle van mediese lektuur voorsien wat verduidelik wat ander dokters in hierdie veld doen. In 1999 het ons pogings vrugte afgewerp tydens die Mediese Konferensie oor Kardiovaskulêre Chirurgie op Kinders. Die twee chirurge—onder die bekwame leiding van ’n samewerkende chirurg van Engeland—het ’n besonder moeilike operasie gedoen op ’n Getuiebaba om sy aortaklep te herstel.b Ek was saam met die ouers verheug toe een van die chirurge uit die operasiekamer kom en ons meedeel dat die operasie ’n sukses was en dat die gesin se gewete gerespekteer is. Nou behandel hierdie twee dokters gereeld Getuiepasiënte van regoor Spanje.

Wat ek veral bemoedigend vind in sulke gevalle, is die wete dat ek my Christenbroers kan help. Wanneer hulle ’n Hospitaalskakelkomitee nader, beleef hulle gewoonlik een van die moeilikste tye in hulle lewe. Hulle moet ’n operasie ondergaan, en die dokters in ’n plaaslike hospitaal is onwillig of nie in staat om hulle sonder bloed te behandel nie. Maar wanneer die broers hoor dat daar reg in Madrid chirurge in alle mediese velde is wat hulle samewerking gee, is dit vir hulle ’n groot verligting. Ek het al gesien hoe net ons teenwoordigheid by die hospitaal ’n bekommerde uitdrukking op ’n broer se gesig laat verdwyn.

Die wêreld van regters en mediese etiek

In onlangse jare het lede van Hospitaalskakelkomitees ook regters besoek. Gedurende hierdie besoeke gee ons vir hulle ’n publikasie met die titel Family Care and Medical Management for Jehovah’s Witnesses, wat spesifiek voorberei is om sulke amptenare in te lig oor ons posisie ten opsigte van die gebruik van bloed en die beskikbaarheid van bloedlose plaasvervangers. Hierdie besoeke was baie belangrik, want daar was ’n tyd toe dit algemeen vir regters in Spanje was om dokters die magtiging te gee sodat hulle ’n oortapping teen die pasiënt se wense kon gee.

Regterskamers is indrukwekkende plekke, en met my eerste besoek daar het ek baie klein in die gange gevoel in my rolstoel. Om sake te vererger, het ons ’n ongelukkie gehad, en ek het uit die rolstoel geval en op my knieë te lande gekom. ’n Paar regters en advokate het my penarie gesien en my vriendelik kom help, maar ek het baie verleë gevoel.

Al was die regters onseker oor die redes waarom ons hulle besoek, het die meeste ons vriendelik behandel. Die eerste regter wat ek besoek het, het reeds vrae oor ons standpunt gehad, en hy het gesê dat hy graag uitvoerige besprekings met ons wou hou. Met ons volgende besoek het hy my self in sy kantoor ingestoot en aandagtig geluister. Die goeie resultate wat hierdie eerste besoek opgelewer het, was ’n aansporing vir my en my metgeselle om ons vrese te oorkom, en ons het gou verdere goeie resultate gesien.

Gedurende daardie selfde jaar het ons ’n eksemplaar van Family Care by nog ’n regter gelaat wat ons vriendelik ontvang het en belowe het om die inligting te lees. Ek het hom my telefoonnommer gegee ingeval hy ons in ’n noodgeval moes kontak. Twee weke later het hy gebel en gesê dat ’n plaaslike chirurg hom gevra het vir magtiging om ’n oortapping te gee aan ’n Getuie wat ’n operasie nodig gehad het. Die regter het vir ons gesê dat ons hom moet help om ’n oplossing te vind wat die Getuie se wens om bloed te vermy, sou respekteer. Ons het sonder veel moeite ’n ander hospitaal gevind, waar die chirurge ’n suksesvolle operasie sonder bloed gedoen het. Die regter was baie bly toe hy hoor hoe sake afgeloop het en het ons verseker dat hy in die toekoms na soortgelyke oplossings sou soek.

Gedurende my hospitaalbesoeke het die kwessie van mediese etiek dikwels opgekom, want ons wou hê dat dokters die regte en gewete van die pasiënt in ag moet neem. ’n Hospitaal in Madrid wat ons hulle samewerking gegee het, het my genooi om deel te neem aan ’n kursus wat hulle oor etiek sou gee. Hierdie kursus het dit vir my moontlik gemaak om ons Bybelse beskouing aan baie spesialiste in hierdie veld te verduidelik. Dit het my ook gehelp om die talle moeilike besluite te verstaan wat dokters moet maak.

Een van die aanbieders van die kursus, professor Diego Gracia, reël gereeld ’n hoogaangeskrewe meesterskursus in etiek vir Spaanse dokters, en hy het ’n geesdriftige ondersteuner geword van ons reg tot ingeligte toestemming wat bloedoortappings betref.c Ons gereelde kontak met hom het daartoe gelei dat verteenwoordigers van die Spaanse takkantoor van Jehovah se Getuies genooi is om ons standpunt te verduidelik aan professor Gracia se nagraadse studente, waarvan party as die beste dokters in die land beskou word.

Ek moet die werklikheid onder die oë sien

Hierdie bevredigende werk ten behoewe van medegelowiges het natuurlik nie al my persoonlike probleme opgelos nie. Ek gaan stelselmatig agteruit weens my siekte. Maar gelukkig is my verstand helder. Danksy my vrou en my seun, wat nooit kla nie, kan ek nog steeds na my verantwoordelikhede omsien. Sonder hulle hulp en ondersteuning sou dit nie moontlik wees nie. Ek kan nie eers my broek vasmaak of ’n jas aantrek nie. Wat ek veral geniet, is om elke Saterdag aan die predikingswerk deel te neem saam met my seun, Ismael, wat my rondstoot sodat ek met verskillende huisbewoners kan praat. En ek kan nog steeds omsien na my take as ’n gemeentelike ouer man.

Ek het wel ’n paar traumatiese tye gedurende die afgelope 12 jaar deurgemaak. Wanneer ek sien hoe my siekte my gesin raak, veroorsaak dit soms meer pyn as die siekte self. Ek weet dat hulle ly, al is dit in stilte. Onlangs het my skoonma en my pa binne een jaar gesterf. Gedurende daardie selfde jaar kon ek nie meer sonder ’n rolstoel klaarkom nie. My pa, wat by ons in die huis gebly het, het aan ’n ander aftakelende siekte gesterf. Dit het vir Milagros, wat hom versorg het, gevoel of sy sien wat in die toekoms met my gaan gebeur.

Maar, aan die positiewe kant, ons gesin staan saam terwyl ons die moeilikhede die hoof bied. Ek het ’n direkteurstoel vir ’n rolstoel verruil, maar my lewe is eintlik nou beter, want dit draai meer om diens aan ander. Wanneer ’n mens gee, kan dit lyding verlig, en Jehovah bly by sy belofte om ons te versterk wanneer ons dit nodig het. Soos Paulus kan ek waarlik sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

[Voetnote]

a Veelvuldige sklerose is ’n siekte wat die sentrale senuweestelsel aantas. Dit veroorsaak dikwels ’n geleidelike agteruitgang wat balans, die gebruik van ledemate en soms sig, spraak of begrip betref.

b Hierdie operasie word die Ross-prosedure genoem.

c Sien Die Wagtoring, 15 Februarie 1997, bladsye 19-20.

[Venster op bladsy 24]

Hoe ’n seun voel

My pa se volharding en positiewe gesindheid is ’n baie goeie voorbeeld vir my, en ek voel dat ek van hulp is wanneer ek hom in sy rolstoel rondstoot. Ek weet ek kan nie altyd doen wat ek graag wil doen nie. Ek is nou ’n tiener, maar wanneer ek ouer word, wil ek graag op ’n Hospitaalskakelkomitee dien. Ek weet die Bybel belowe dat lyding tydelik is, en daar is baie broers en susters wat meer as ons ly.

[Venster op bladsy 24]

Hoe ’n vrou voel

Vir ’n vrou is dit moeilik—verstandelik, emosioneel en fisies—as haar man aan veelvuldige sklerose ly. Ek moet redelik wees wanneer ek dinge beplan en moet bereid wees om my nie onnodig oor die toekoms te bekommer nie (Matteus 6:34). Wanneer ’n mens egter met lyding te kampe het, kan dit die beste in jou na vore bring. Ons huwelik is sterker as voorheen en my verhouding met Jehovah is hegter. Die lewensverhale van ander in soortgelyke stresvolle omstandighede het my ook grootliks versterk. Die feit dat Julián kosbare diens ten behoewe van die broers kan verrig, verskaf my ook bevrediging, en ek het gevind dat Jehovah ons nooit in die steek laat nie, al bring elke dag dalk ’n nuwe uitdaging.

[Prent op bladsy 22]

My vrou is vir my ’n ware steunpilaar

[Prent op bladsy 23]

In gesprek met die hartchirurg dr. Juan Duarte

[Prent op bladsy 25]

Ek en my seun geniet dit om saam in die bediening te werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel