Waarom het God goddeloosheid toegelaat?
SATAN die Duiwel, wat die eerste man en vrou, Adam en Eva, in opstand teen God gebring het, is ’n teenstander van God se regverdige standaard en word gepas “die Bose” genoem (Mattheüs 6:13; 13:19, 38; 1 Johannes 2:13, 14; 5:19). Die opstand wat deur Satan begin is, het die regmatigheid en regverdigheid van God se soewereiniteit in twyfel getrek, dit wil sê, of God se heerskappy oor sy skepsele regverdig en in hulle belang uitgeoefen word. Die feit dat Adam en Eva in opstand gekom het, het ook ’n ander geskilpunt geopper: Sou alle ander intelligente skepsele ontrou aan en dislojaal teenoor God wees as gehoorsaamheid oënskynlik geen materiële voordele inhou nie? Satan se bewering aangaande getroue Job het te kenne gegee dat dit die geval sou wees. Satan het gesê: “Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan—waarlik, hy sal U in u aangesig seën [“vervloek’, NW]!”—Job 2:4, 5.
Daar was tyd nodig om die geskilpunte wat geopper is te beslis. Deur goddelose mense toe te laat om te bly lewe, het Jehovah God dit gevolglik vir ander moontlik gemaak om ook Satan se bewering vals te bewys deur God onder ongunstige en moeilike omstandighede getrou te dien. Omdat God goddeloosheid toegelaat het, het dit ook ’n geleentheid gebied vir individue om ’n verkeerde weg te verlaat en hulleself gewillig aan God se regverdige wette te onderwerp (Jesaja 55:7; Esegiël 33:11). Die feit dat God hom dus ’n tyd lank daarvan weerhou om die goddelose te vernietig, spaar die liefhebbers van geregtigheid deur hulle tyd te gee om hulle liefde vir en toegewydheid aan Jehovah te bewys.—Romeine 9:17-26.
Daarbenewens gebruik Jehovah God omstandighede op só ’n manier dat die goddelose onwetend vir hom van nut is. Hoewel hulle God teëstaan, kan hy hulle bedwing in die mate wat nodig is sodat sy knegte hulle onkreukbaarheid kan handhaaf, en hy kan die optrede van sulke mense gebruik om sy regverdigheid na vore te bring (Romeine 3:3-5, 23-26; 8:35-39; Psalm 76:10). Hierdie gedagte word in Spreuke 16:4 uitgedruk: “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.”
’n Goeie voorbeeld is die Farao wat deur Moses en Aäron in kennis gestel is van Jehovah se voorneme om die Israeliete uit slawerny te verlos. God het nie hierdie Egiptiese heerser goddeloos gemaak nie, maar hy het hom laat lewe en hy het ook omstandighede teweeggebring waardeur Farao homself openbaar het as ’n goddelose persoon wat die dood verdien. Jehovah se doel hiermee word in Exodus 9:16 bekendgemaak: “Juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.”
Die Tien Plae wat oor Egipte gekom het en wat deur die vernietiging van Farao en sy leërmag in die Rooi See ’n klimaks bereik het, was ’n indrukwekkende bewys van Jehovah se mag (Exodus 7:14–12:30; Psalm 78:43-51; 136:15). Jare later het die nasies in daardie gebied nog steeds daaroor gepraat, en God se naam is dus dwarsoor die aarde verkondig (Josua 2:10, 11; 1 Samuel 4:8). As Jehovah Farao onmiddellik vernietig het, sou hierdie grootse vertoning van God se mag tot Sy heerlikheid en vir die verlossing van Sy volk nooit moontlik gewees het nie.
Die Skrif bied versekering dat daar ’n tyd sal kom wanneer goddeloosheid nie meer sal bestaan nie, omdat almal wat teen die Skepper is, vernietig sal word wanneer sy toelating van goddeloosheid aan die doel daarvoor beantwoord het.—2 Petrus 3:9-13; Openbaring 18:20-24; 19:11–20:3, 7-10.