Van ons lesers
Keiseraanbidding In julle artikel “Begrafnis vir ’n voormalige god” (22 Desember 1989) het julle die skuld vir die konflik tussen Japan en die Weste op die verkeerde party geplaas. Dit was die gevolg van die Weste se poging om Asië te domineer. Die opkoms van Japan as ’n wêreldmoondheid het dit beëindig. Nee, keisier Hirohito was nie ’n god nie, maar miskien het die Here hom gebruik om die verdrukte mense van Asië na vryheid te lei.
T. M., Verenigde State
Dit is nie redelik om tot die slotsom te kom dat God die verskriklike slagting goedgekeur het wat deur daardie konflik veroorsaak is nie (Habakkuk 1:13). Die tragiese bewind van keiser Hirohito is gebruik om toe te lig dat menseheerskappy tot die mens se nadeel is en dat die mens God se heerskappy ten seerste nodig het (Prediker 8:9).—RED.
Was dié artikels geskik en geoorloof vir ’n Christen om te lees? Word ons ‘gedagtes nie gerig op die werke wat goddeloos is’ wanneer ons die besonderhede oor keiser Sjowa lees nie?—Kolossense 1:21, NW.
Y. F., Japan
Dit is te begrype dat die artikels moontlik pynlike herinneringe opgeroep het, veral onder lesers wat die gebeure beleef het wat daarin beskryf is. Nietemin is die artikels geskryf om die dwaasheid van menseaanbidding bloot te lê en om lesers na “die lewende God” te rig (Handelinge 14:15).—RED.
Die keuse van ’n loopbaan Dankie vir julle raad aan jongmense oor die waarde van universiteitsopleiding (8 Mei 1989). Ek is al die afgelope 22 jaar ’n professor aan ’n groot staatsuniversiteit, en kan julle jong lesers verseker dat, benewens die ernstige geestelike oorwegings, baie van die dinge wat deesdae op universiteite geleer word min praktiese waarde het. Akademiese standaarde het gedaal, en gegradueerdes het dikwels min bemarkbare vaardighede.
In die verlede het party ook tot die slotsom gekom dat ’n jong Christen veroordeel moes word as hy hoegenaamd vir universiteitskursusse ingeskryf het. Ek waardeer dus die gebalanseerde beskouing wat julle artikel weergee.
F. S., Verenigde State
Ouers moet besluit hoeveel skoolopleiding geskik is vir hulle kinders. En hoewel ’n loopbaan in die bediening vir Christenjeugdiges aanbeveel word, is sommige werksopleiding bo en behalwe die opleiding wat in ’n sekondêre skool aangebied word, nie op sigself afkeurenswaardig nie. In party lande sal dit dalk prakties of selfs noodsaaklik wees om sulke opleiding te ontvang. Ouers moet die voordele opweeg teenoor die uitwerking wat dit moontlik op hulle kinders se geestelikheid kan hê. In elk geval moet ’n Christen se prioriteit die bevordering van Koninkryksbelange wees, nie finansiële voordeel nie (Mattheüs 6:33).—RED.
My ouers het dikwels vir my gesê dat ek ’n ambag in die skool moet leer, maar ek het dit net geïgnoreer. Vandat ek julle artikel gelees het, volg ek kursusse wat my sal help om ’n werk te kry waarvan ek hou wanneer ek die skool verlaat. Maar watter ambag ek ook al leer, ek beplan om die bediening my loopbaan te maak.
V. L., Verenigde State
Wat is asma? Baie dankie vir julle artikel (22 Maart 1990). Die dag voordat ons dit ontvang het, het ons dokter gediagnoseer dat ons dogter ’n asmalyer is. Die artikel was dus baie bemoedigend. Ek sal baie van die wenke gebruik.
V. H., Engeland
Blokkiesraaisels Ek is ’n gereelde leser van Ontwaak! en geniet veral die blokkiesraaisels. Hulle help my om Bybeltekste te memoriseer. Sal daar nog gepubliseer word?
J. W., Engeland
Ja, ons sal aanhou om hulle van tyd tot tyd te publiseer.—RED.