Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 6/8 bl. 14-16
  • Hoe om meer te doen in minder tyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om meer te doen in minder tyd
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stel prioriteite
  • Organiseer die take
  • Kies die beste tyd
  • Wees realisties
  • Wees buigsaam
  • Kry hulp
  • Gee noukeurig aandag aan persoonlike organisasie
    Ons Koninkryksbediening—1989
  • Vind vervulling as ’n moeder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Só baie huiswerk—Wat kan ek doen?
    Ontwaak!—1993
  • Waardeer vroue en die werk wat hulle doen
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 6/8 bl. 14-16

Hoe om meer te doen in minder tyd

‘Waar het die tyd heen gevlieg?’Hoe dikwels het jy agtergekom dat jy jou daardie vraag afvra? As jy soos die meeste ander mense is, vra jy dit waarskynlik meer dikwels as wat jy wil onthou.

Die volgende gee wenke uit ’n vrou se oogpunt, maar aangesien vroue sowel as mans elke week dieselfde hoeveelheid beskikbare tyd het, is die vraag: ‘Hoe kan ek my beskikbare tyd beter benut?’ een waarop mans sowel as vroue graag ’n antwoord wil hê.

Stel prioriteite

Aangesien alles in die lewe tyd kos, is daar sommige dinge wat net natuurlik die voorkeur het bo ander. Op ’n koue winteroggend is daar byvoorbeeld niks wat ’n ma eerder sal wil doen as om langer in haar warm bed te bly nie. Maar die horlosie wys dat dit tyd is om ontbyt te maak en haar man werk toe en die kinders skool toe te stuur.

’n Mens moet ook prioriteite stel as jy ’n ordelike huishouding wil hê. Daar is ’n tyd om kos te koop en ’n tyd om dit te kook; ’n tyd om die huis skoon te maak en ’n tyd om die wasgoed te was; ’n tyd om te ontspan en ’n tyd om te studeer; ’n tyd om oor die kinders se huiswerk en takies toesig te hou—die lys hou net nie op nie.

Werk jy uit? Indien wel, is tyd selfs kosbaarder omdat daar bykomende pligte is om na te kom. Jy kan dit nie bekostig om dit te mors nie, en jy kan ook nie altyd dinge uitstel tot ’n ander dag nie. Dit is waarom baie vroue erken dat ’n rooster absoluut noodsaaklik is as hulle hulle werk gedoen wil kry.

“Sonder ’n daaglikse rooster”, sê Josephine, ma van ses kinders tussen 2 en 15 jaar oud, “sal ek net nie my daaglikse doelwitte kan bereik nie.” Sandra, wat drie kinders het, werk 25 uur per week uit, en sy stem saam: “Ek dink ek sal mal word as ek nie ’n rooster het nie.”

Verder word jou prioriteite ongetwyfeld gestel volgens die waarde wat jy aan tyd heg. Dit is die geval met Lola. Sy het nie net ’n man vir wie sy moet sorg nie maar sy bestee ook tussen 90 en 100 uur per maand aan haar Bybelopvoedkundige werk. Sy sê: “Tyd is vir my baie belangrik. Ek dink dat dit net reg is om mense nie te laat wag nie. En wanneer die wat moontlik agterlosig is, sien dat ek baie waarde aan my tyd heg, is hulle geneig om my tyd meer te respekteer.”

Organiseer die take

Waarom kry sommige vroue blykbaar nooit hulle werk gedoen nie? Of waarom kla sommige altyd oor die tekort aan tyd? Kan een rede daarvoor wees dat hulle nie hulle werk organiseer nie? In die verlede het dit vroue ’n hele dag gekos om wasgoed te was en ’n tweede om te stryk, terwyl hulle daagliks inkopies gedoen en gekook het. Maar vandag kan ’n vrou in die meeste lande die huis skoonmaak, die klere was en droogmaak en tegelykertyd kook mits sy georganiseerd is. Moderne geriewe het baie vroue die vryheid gegee om uit te werk en nog na die gesin se behoeftes om te sien.

Maar wat van die tyd wat weg van die huis bestee word? ’n Aansienlike deel daarvan, buiten die tyd wanneer ’n mens werk, word op pad werk toe en terug, in dokters en tandartse se wagkamers en op ander plekke bestee. Kan baie van hierdie tyd benut word? Doen jy byvoorbeeld breiwerk, hekelwerk, naaldkantwerk of borduurwerk? Kan jy party van hierdie talente op sulke tye en plekke inpas? Baie vroue lees, maak inkooplyste of skryf briewe. Trouens, doen gerus ’n bietjie naaldwerk of maak iets vir die gesin wanneer jy weer TV kyk. Hulle sal moontlik hierdie goed meer waardeer as die wat jy in winkels koop, en jy sal tasbare bewys hê dat jy nie tyd mors nie!

Maar die saak het ’n ander kant. ’n Mens moenie te hard probeer om elke minuut te benut nie. Jy kan ’n slaaf van die tyd word, en dit sal jou van jou vreugde beroof. Daar is tye wanneer ’n mens rustig wil sit en dink oor wat jy gedoen het. Sulke oomblikke kan inderdaad waardevol wees!

Dieselfde beginsel is van toepassing wanneer jy geld wil spaar. ’n Balans is nodig. Jy kan die hele dorp platry om ’n paar sent te spaar, en sodoende net meer tyd en petrol verkwis. Dit is natuurlik belangrik om te spaar as jy op ’n streng begroting is. Dus sal dit miskien help om jou inkopies by een sentrale winkel te doen. Jy weet waar die artikels is (wat jou tyd bespaar), en jy weet wanneer daar uitverkopings is (wat jou geld bespaar).

Kies die beste tyd

Elke vrou het haar eie inwendige horlosie. Sommige werk die beste in die oggend; ander funksioneer nie behoorlik tot die middag nie. As jy ’n oggendmens is, moet jy jou moeilike takies vir daardie tyd reël. Gebruik jou kragte wanneer jy op jou beste voel. Gestel jy werk uit. Gesels dan gerus met jou werkgewer. As jy jou werk daarvolgens indeel, sal dit vir jou en vir hom voordelig wees. As jy aan die ander kant traag is in die oggend, moet jy jou belangrikste werk vir later hou wanneer jy beter funksioneer.

Mary is ’n oggendmens. Sy beskou die tyd wat sy aan haar bediening bestee as die belangrikste deel van haar dag. Sy het dus deeltydse werk in die middag gekry. Dit stel haar in staat om haar beste ure aan haar Bybelonderrigtingswerk te wy. Kan jy iets soortgelyks met jou rooster doen?

Wees realisties

As ’n rooster prakties moet wees, moet dit nie te veel aktiwiteite insluit nie. Dit kan tot teleurstelling en frustrasie lei as jy probeer om ’n uithalerma, -vrou of -werker te wees. Dit geld veral as jy gesondheidsprobleme het. Leer jou eie beperkinge ken en werk daarvolgens.

Dolly, wat aan ’n chroniese siekte ly, verduidelik: “My tyd draai om my man se aktiwiteite. Hy is ’n reisende bedienaar. Aangesien ons in ’n klein woonwa woon, doen ek my werk wanneer hy klaar is met syne. My siekte verhinder my om alles te doen wat ek graag wil doen. Maar wanneer ek kan, geniet my bediening die voorkeur. Ander dinge by die huis word daardie dag ongedaan gelaat.”

Wees buigsaam

’n Toets van ’n vrou se stoffasie is hoe sy onder druk regkom. As sy kalm kan bly tydens ’n krisis, sal sy baie meer kan bereik as wanneer sy die kluts kwyt raak.

Sandra het die geheim ontdek om spanning te beheer. Sy sê: “Wanneer noodgevalle opduik en dit voel asof ek van alle kante toegegooi word, ontspan ek net. Ek weet dit klink vreemd, maar dit werk. Wanneer ek weer kalm is, kan ek besluit wat eerste gedoen moet word. As ek nie ontspan nie, kan ek nie die regte prioriteite stel nie. Wanneer hierdie prioriteite gestel is, kan ek vinniger werk om die noodgeval die hoof te bied en dinge kom gedaan. ’n Paar gaste het byvoorbeeld eenkeer ure te vroeg opgedaag vir ete. Pleks van paniekerig te raak, het ek eenvoudig gekook terwyl ek hulle so goed ek kon, onthaal het. Almal het ontspan en die aand geniet.”

Kry hulp

Iemand het eenkeer gesê dat die beste bestuurder die een is wat homself met bekwame helpers omring. Maak jy van ander se hulp gebruik by die werk? Wanneer medewerkers weet dat jy hulle hulp waardeer, bied hulle dit geredeliker aan. Dit geld ook tuis. Ongelukkig is party vroue sulke puntenerige huishoudsters en kokke dat hulle hulp ontmoedig. En juis daardie gesindheid kan die rede wees waarom sommige vrouens en moeders altyd oorlaai is terwyl hulle gesinslede skynbaar ongeërg rondsit.

Nou wat van jou? Moedig jy hulp aan wanneer jy dit nodig het? Vra jy hulp, of eis jy dit? “Sal jy asseblief” klink beter as “Ek wil hê jy moet”—of jy nou met jou kinders of jou man praat.

Een vrou, wat haar man prys vir sy hulp, sê: “Hy is regtig goed daarmee. Wanneer ek nie lekker voel nie, stuur hy my bed toe, en kook hy die ete; hy en die kinders spring almal in en help met die takies. Ek waardeer dit regtig!”

Watter goeie gesindheid vir ’n gesin is dit tog! Maar die moeder is die sleutelfiguur in hierdie situasie. Sy kan haar kinders leer hoe waardevol tyd is en om ’n positiewe gesindheid teenoor werk te ontwikkel. Sulke kinders sal gewoonlik graag help omdat dit hulle vreugde verskaf om tot ’n gemeenskaplike gesinsdoel by te dra.

Sommige mense sal natuurlik tyd mors ongeag wat ander sê of doen. Ons kan hulle nie verander nie; ons kan net onsself verbeter. Ons kan ons voorneem om realisties te wees oor tyd, beter georganiseerd te wees, behoorlike prioriteite te stel en hulp te kry wanneer dit nodig is.

[Prente op bladsy 15]

Jy moet prioriteite stel as jy wil hê dat jou huishouding behoorlik moet funksioneer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel