Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 9/8 bl. 26-27
  • Een van Madagaskar se spesiale kunsvorme

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Een van Madagaskar se spesiale kunsvorme
  • Ontwaak!—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ou Indiaanse tradisie
    Ontwaak!—1996
  • Laat Jehovah jou denke en dade vorm
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2017
  • Erken en waardeer Jehovah as ons Pottebakker
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Moenie die vorming van jou kind se hart aan die toeval oorlaat nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 9/8 bl. 26-27

Een van Madagaskar se spesiale kunsvorme

DIE pragtige uitstalling van kleivase, -potte en -panne het ons nader gelok terwyl ons deur die mark van Antsirabe op ons eilandtuiste, Madagaskar, gewandel het. Hoewel al die potte bruin was, was daar groot swart kolle op hulle wat gelyk het asof dit daarop ingebrand is. Bloot uit nuuskierigheid het ons die jong plattelandse seun wat dit verkoop, gevra of ons reg geraai het.

“Ja”, het hy gesê, “om so te lyk moet hulle in ’n oond gedroog word. Maar ons het nie vandag se ultramoderne oonde soos in die stede nie. Ons gebruik die tradisionele maniere wat ons vaders ons geleer het.”

Hoewel die seun ons ander vrae vriendelik beantwoord het, het sy woorde net ons begeerte aangewakker om te sien hoe sulke kleipotte gemaak word. Ons het dus na die afgeleë plek op die platteland gery waar die dorpenaars bedrewe in kleipottebakkery is. Almal was vriendelik en gasvry. Hulle was so bly dat stadsmense belangstel in hulle aktiwiteite dat hulle alte gewillig was om ons te wys wat hulle geheime is.

Ons het eerstens geleer dat dit nie gewone klei is wat gebruik word nie. Hulle sê dat gewone klei maklik breek wanneer dit verhit word. Hulle gebruik dus ’n klei wat tanimanga (letterlik “aardblou”) genoem word en net op die platteland en op die walle van riviere of spruite gevind word. Een seun het ons na die wal van ’n spruit gelei en in die grond gegrawe. Omtrent 30 sentimeter onder die oppervlak het daar ’n bietjie vogtige grys grond sigbaar geword—die tanimanga! Maar tanimanga is in teenstelling met sy naam in party plekke swart of selfs gelerig. Dit vorm nietemin altyd ’n kontras met die gewone rooi-oranje grond van hierdie sentrale deel van die eiland.

Een man het ons toe vertel dat hy een sak tanimanga met ’n derde van ’n sak sagte sand meng, wat ook op rivierwalle gevind word, om etlike vase of potte te maak. Hy voeg dan ’n bietjie water by om die mengsel sagter te maak. Hoeveel is “’n bietjie”? Hy volg nie presiese afmetings nie. Die pottebakker word deur ondervinding gelei om op te hou om water by te voeg wanneer hy voel dat die mengsel reg is—nie te styf of te sag nie.

Daarna word hierdie mengsel van klei, sand en water op ’n mat van goed skoongemaakte grond gesit waarin daar geen klippe of strooi is nie. Dan brei die pottebakker dit vir ’n lang ruk met sy voete. Dit verseker dat die klei en die sand goed met mekaar gemeng word, wat die sleutel tot duursame vase of potte is. Verskeie woorde in Malgassies beskryf hierdie noodsaaklike stap van pottebakkery: hitsahina, disahina, tehafina, volavolaina, totoina. Nogtans het almal betrekking op dieselfde proses—die brei van die kleimengsel met die voete. Wanneer die pottebakkers seker is dat die mengsel reg is, is hulle gereed om die kleipotte te maak.

Hulle verdeel eers die mengsel in balle so groot soos jou vuis. Vir die boom van die pot neem hulle een bal en druk dit teen die boom van die vorm—gewoonlik ’n ou, stukkende kleipot—om sy fatsoen te vorm. Nadat hulle die vorm afgehaal het, gebruik hulle ’n ander bal om die rand, of opening, van die pot te maak. Gedurende hierdie proses is die pottebakkers versigtig om die mengsel nie te droog te laat word nie, want dan kan dit maklik breek.

Die potte word nou ’n hele dag lank in die son gelaat om droog te word. Dan is hulle eers vir die finale stap gereed: oonddroging. Maar selfs dit word stapsgewys gedoen. Al die potte en vase word vol strooi en gedroogde blare gestop en op hulle sye op die grond geplaas. Hierdie vuurmaakmateriaal word aan die brand gesteek en toegelaat om ongeveer 10 of 15 minute lank te brand. Dit verhard en versterk die klei.

Ná daardie eerste brand word die potte op ’n ander plek gesit wat met strooi en gedroogde blare bedek is. Maar hierdie keer word die potte so gerangskik dat die opening van die een pot teenaan die opening van die ander pot is. Die pottebakkers sit dan strooi en gedroogde blare bo-op en rondom die potte totdat hulle daaronder begrawe is. Hulle omring dan hierdie gebied met klonte grond sodat die vuur binne hierdie gebied bly en die potte nie wegrol nie. Die vuurmaakmateriaal word weer aan die brand gesteek en word toegelaat om ten minste 30 minute lank te brand of totdat die vuur vanself doodgaan. Nadat die potte afgekoel het, word hulle uit die as gehaal en is hulle gereed vir gebruik.

Ons kan nou, ná ons die potte van naderby beskou het, verstaan waarom daar swart kolle op die potte is. Dit is die dele wat in direkte kontak met die vuur was. Die res van die pot was die gewone kleur van gebrande klei—oranjebruin.

Hierdie kuns om potte te maak is van geslag tot geslag oorgedra. Ons het ’n man ontmoet wat by ’n groot tekstielfabriek in die stad werk, maar wat ’n bietjie ekstra geld maak deur ook kleipotte te maak en te verkoop. Hy het die kuns by sy vader geleer, wat dit weer by sý vader geleer het. En ons is seker daarvan dat die jong man nie die geleentheid sal laat verbygaan om dit vir sy kinders te leer nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel