Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 2/22 bl. 4-6
  • Wanneer jy moet begin en hoeveel jy moet sê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer jy moet begin en hoeveel jy moet sê
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om geboorte te verduidelik
  • Hoe gou?
  • Nie skokkend nie
  • Hoe om jou kinders te beskerm
    Ontwaak!—2007
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Hoe babas ’n huwelik verander
    Julle gesin kan gelukkig wees
  • Wat babas nodig het en wil hê
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 2/22 bl. 4-6

Wanneer jy moet begin en hoeveel jy moet sê

TALLE pligsgetroue ouers dink blykbaar dat seksonderrig gegee kan word gedurende ’n wandeling van tien minute in die woud met hulle 13-jarige waar hulle ’n ongemaklike praatjie oor die ‘blommetjies en die bytjies’ het. Maar alte dikwels is dit nie net heeltemal te min nie maar jare te laat. Dit is nie ongewoon vir ’n liefdevolle ouer om op te merk nie: “Dit het gelyk asof hulle amper alles wat ek hulle probeer vertel het reeds geweet het.”

Is daar ’n beter manier om hulle van hierdie belangrike sake te leer? Indien wel, wanneer moet ouers begin en wat kan hulle doen en sê?

Dit sal verstandig wees as jy feitlik van die baba se geboorte af begin om die grondslag te lê vir hierdie noodsaaklike onderrig. As jy begin wanneer die kind jonk is, kan jy inligting kalm en bietjie vir bietjie op ’n verstaanbare manier oordra na gelang van jou kind se vermoë om daarby baat te vind.

Wanneer ouers hulle kleingoed bad, kan hulle hulle leer wat hulle liggaamsdele is: “Dit is jou bors . . . jou maag . . . jou knie.” Waarom van die maag na die knie spring? Is dit wat tussenin is skandelik? Of is dit maar net privaat? Ons sal natuurlik nie oneerbiedige straatwoorde vir hierdie geslagsdele gebruik nie. Waarom sê jy nie eenvoudig “penis” of “vulva” nie? Hierdie dele is ook deel van die skepping wat God “baie goed” genoem het.—Genesis 1:31; 1 Korinthiërs 12:21-24.

Later wanneer die kind miskien sien hoe ’n doek omgeruil word, kan jy eerbiedig sê dat seuntjies ’n penis en dogtertjies ’n vulva het. Jy kan op ’n delikate manier verduidelik dat hierdie dinge persoonlik is. Daar moet net in die gesin daaroor gepraat word, nie met ander kinders of met mense buite die gesin nie.

Jy kan dus baie dinge verduidelik voordat dit ongemaklik raak om daaroor te praat deur vroeg te begin en progressief daarmee voort te gaan namate die kind se vermoë om te verstaan toeneem.

Hoe om geboorte te verduidelik

Wanneer ’n kind tussen drie en vyf jaar oud is,a kan hy oor geboorte begin wonder en miskien vra: “Waar kom babas vandaan?” Jy kan eenvoudig antwoord: “Jy het in ’n warm, veilige plek binne-in mamma gegroei.” Vir eers sal dit hom waarskynlik tevrede stel. Later vra die kind dalk: “Hoe kom die baba uit?” Jy kan antwoord: “God het ’n spesiale opening gemaak vir die baba om uit te kom.” Die konsentrasieperiode van jong kinders is kort, en daarom is eenvoudige en reguit antwoorde die beste. Gee ’n bietjie van die nodige inligting op ’n slag en vertel hulle by ’n ander geleentheid ’n bietjie meer.

As ouers oplettend is, kan hulle baie geleenthede vind om hulle kinders te leer. As ’n naaste familielid ’n baba verwag, kan ’n ma dalk sê: “Tannie Susan sal seker een van die dae haar baba hê—ek was omtrent net so groot ’n paar weke voordat jy gebore is.” Die verwagte geboorte van ’n boetie of ’n sussie kan maande se opwindende en genotvolle onderrig bied.

Later kan die kind wonder: “Hoe het die baba begin?” ’n Eenvoudige antwoord is: “’n Saadjie van die pappa ontmoet ’n eierselletjie in die mamma en ’n baba begin groei, net soos ’n saadjie in die grond groei en ’n blom of ’n boom word.” By ’n ander geleentheid vra die kind dalk: “Hoe kom die pappa se saad in die mamma?” Jy kan eerbiedig sê: “Jy weet hoe ’n seuntjie gemaak is. Hy het ’n penis. ’n Mamma het ’n opening in haar liggaam waarin die penis pas, en die saadjie word geplant. God het ons so gemaak sodat babatjies in ’n lekker warm plekkie kan groei totdat hulle groot genoeg is om op hulle eie te lewe. Dan word ’n pragtige nuwe babatjie gebore!” Jy kan met verwondering praat oor die wonderlike manier waarop God hierdie dinge gereël het.b

Jy moet versigtig wees om vrae nooit te probeer ontwyk met dié ongemaklike antwoord nie: “Ek sal jou later vertel wanneer jy oud genoeg is.” Dit kan kinders se nuuskierigheid verder prikkel en hulle dalk selfs aanspoor om inligting elders by onvanpaste bronne te soek. ’n Kind wat oud genoeg is om die vraag te vra, is oud genoeg om ’n eenvoudige en eerbiedige antwoord te kry. As jy versuim om ’n antwoord te gee, kan dit jou kinders ontmoedig om weer na jou toe te kom vir inligting.

Hoe gou?

Baie ouers voel dat hulle kinders ’n basiese begrip van hierdie dinge moet hê ten minste voordat hulle skool toe gaan, waar hulle inligting wat nie so akkuraat is nie by ander kinders kan hoor.

’n Oupa het verduidelik: “Ek het geen vrae gevra nie, maar toe ek ses was, het my pa besluit dat dit tyd was om aan my te verduidelik waar babas vandaan kom. Hy het gesê dat geslagsomgang tussen ’n man en ’n vrou waardeur ’n baba voortgebring kan word net so natuurlik is soos om te eet, maar dat God gesê het dat dit net vir getroude mense bedoel is. Daar sal dus ’n ma sowel as ’n pa wees om die kind lief te hê en vir hom te sorg.” Hierdie oupa het bygevoeg: “Die verduideliking wat hy gegee het, was net betyds. Ek het toe reeds sesjariges sien lag oor onsedelike prente wat hulle geteken het en wat ek nie verstaan het nie.”

Sulke verduidelikings moet natuurlik nie as iets skandeliks gegee word nie, maar as iets privaats. Jy kan herhaal dat dit die gesin se geheim is en dat dit nie aan ander kinders of aan mense buite die gesin genoem moet word nie. As jou kind iets in hierdie verband laat uitglip, kan jy sagkens sê: “Sjuut! Onthou, dit is ons geheim. Ons praat net in die gesin daaroor.”

Nie skokkend nie

As enige leser geskok is oor die nodigheid van hierdie bespreking, moet hy net daaraan dink hoeveel pligsgetroue jong ouers na ’n eerbiedige manier soek om hierdie dinge met hulle kinders te bespreek. Is eerlike verduidelikings in ’n liefdevolle huis nie baie beter as die manier waarop baie ouers hierdie dinge vir die eerste keer geleer het nie, naamlik deur ongure bronne buite die gesin?

As jy werklik luister en vrae op ’n eenvoudige en eerbiedige manier beantwoord, sal jy dit vir jou kinders soveel makliker maak om met ander vrae na jou toe te kom namate die jare verbygaan en hulle behoefte aan inligting toeneem.

[Voetnote]

a Elke kind is anders. Enige verwysing na ouderdom in hierdie artikels is dus slegs in ’n algemene sin bedoel om die progressiewe aard van hierdie onderrig te toon.

b Die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou bespreek hierdie en baie ander sedelike aspekte wat die grootmaak van kinders en die gesinslewe betref. Jy kan dit bestel by die mense wat hierdie tydskrif vir jou gebring het of by die uitgewers by die adresse op bladsy 5.

[Prent op bladsy 6]

’n Naderende geboorte verskaf ’n geleentheid vir waardevolle onderrig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel