’n Dag by Asië se grootste diereskou
Deur Ontwaak!-medewerker in Indië
MAHARADJAS wat op pragtig versierde olifante ry of ’n eenvoudige boer wat ’n paar osse met groot horings aanjaag—sulke tonele word dikwels hier in Indië afgeneem. Maar waar kry hulle sulke groot en waardevolle diere?
Om uit te vind, kan jy gerus saam met ons na Sonepoer in die staat Bihar, in noordoostelike Indië, kom. Daar kan ons na ’n skou gaan wat waarskynlik anders is as enige skou waarna jy al vantevore gegaan het. Dit is na bewering die grootste diereskou in Asië, en miskien selfs die grootste ter wêreld. Dit duur twee weke en word gedurende Oktober en November gehou.
’n Fassinerende geleentheid
Wat ’n skare! Vroue is uitgevat in helder sari’s en hulle dra baie juwele. Maar dit is veral die getroude vrouens wat ’n mens raaksien omdat hulle rooi poeier in hulle haarpaadjie vryf. Die meeste van hulle het ’n baba in hulle arms, en nog een of twee kinders wat aan hulle sari’s klou terwyl hulle vinnig loop sodat hulle by hulle mans kan byhou.
Met so ’n ontsaglike skare wonder ons hoe die kinders dit regkry om nie weg te raak nie. Om die waarheid te sê, baie raak wel weg. Ons het verneem dat 50 kinders binne net een week weggeraak het, en slegs 17 van hulle is weer gekry. Ons ys om te dink aan wat met die vermiste kinders gebeur, aangesien ons gehoor het dat gewetenlose mense hulle dikwels steel en hulle dwing om te bedel en onsedelike dinge te doen.
Stalletjies langs die pad dra by tot die samedromming, maar hulle is interessant om te besigtig. By een stalletjie kom daar teen betaling ’n voëltjie uit sy hok en tel ’n kaart op. Die eienaar gebruik dan die kaart om ’n mens se toekoms te voorspel. Wil jy jou gou laat skeer? Dan hoef jy net voor die barbier te hurk, en sy lang, skerp skeermes gly egalig oor jou seepbedekte gesig. Binne slegs drie minute sal hy jou heel moontlik ’n gladder skeer gee as wat enige moderne toerusting dit sal kan doen.
By die stalletjies word daar ’n groot verskeidenheid sierarmbande verkoop, wat Indiese vroue graag om albei arms dra in kleure wat by hulle sari’s pas. Die ervare handelaar help die koper om die een armband na die ander aan te pas totdat hy die regte grootte en styl kry. ’n Tipiese Indiese vrou kan ’n stuk of 12 glas-, metaal- of plastiekarmbande om elke arm dra.
Die stalletjies verkoop ook versiersels vir diere. Hierdie is per slot van rekening ’n diereskou. Hier doen hulle goeie besigheid, want die dorpenaars hou daarvan om hulle diere te versier. Die versiersels sluit krale vir die diere se nekke in asook kleurryke klokke van verskillende groottes.
Wie roep so uit? Dit is mos ’n bedelaar! Gerimpeld en vol stof kruip hy op die pad en stoot sy bedelaarsbak saam met hom. As ’n mens die skare in aanmerking neem, is dit ’n wonder dat hy nie vertrap word nie! Tydens die skou is mense vrygewig teenoor bedelaars, dus is hierdie man se bak reeds halfvol muntstukke. Naby die tempel is daar honderde bedelaars wat om aalmoese vra—die lammes, die blindes en die melaatses. Party verwens hulle lot hardop, ander roep die name van gode aan en party spreek ’n stortvloed seënwense oor diegene uit wat hulle iets gee.
Verskillende soorte diere is ook op pad na die skou. Die olifante is geverf en vrolik versier. Op elke olifant ry daar iemand wat hulle met kort bevele vinniger of stadiger laat stap en wat hulle af en toe met die tik van ’n stok agter hulle ore aanpor. Waterbuffels, met hulle koppe omhoog, stap oneindig stadig, heeltemal onbewus van die verkeersopeenhoping agter hulle.
Op pad sien ons ook baie koeie en ’n paar kamele. Daar is baie ape, meestal slankape. Hulle het ruie wenkbroue en ’n polvormige ken. Daar is ook volop voëls, van pronkerige poue en papegaaie tot parkiete en duiwe. Almal het van wyd en syd na die skou gekom.
’n Paar spesiale besienswaardighede
Die besonderse koeie wat van die Pandjab af kom, is een van die spesiale besienswaardighede. Party lewer ongeveer 25 liter melk twee keer per dag. Hulle is waarlik pragtige diere! Baie mense kom net om hulle te sien, terwyl ander juis kom om hulle te koop. Elke keer wanneer een verkoop word, roep die eienaar ’n plaaslike god aan deur “Bolo Hariharnath Ki” uit te roep, en die skare antwoord eenstemmig: “Jai”. ’n Indiese koei kos gemiddeld tussen 3000 en 5000 roepees, maar hierdie besonderse buitelandse rasse verkoop vir tussen 20 000 en 40 000 roepees.a
Hierdie jaar is daar net 15 kamele wat op die mark te koop aangebied word. Hierdie “skepe van die woestyn” kos elk 5000 roepees. Hulle kan lang ure werk ondanks hitte en koue en dors en honger. Kamele kan gebruik word om waens en ploeë te trek en om waterwiele te draai, werk wat gewoonlik deur osse gedoen word.
Die osse is die gewildste diere. Dit is amper onmoontlik om in Indië te reis sonder om hierdie staatmakerosse voor ’n wa ingespan te sien wat die boer se vrag en gesin dorp toe vervoer. Een ondernemende verkoper het ’n bord opgesit waarop “Eersteklas-osse” geskryf staan. En hulle lyk werklik eersteklas! Ingeval iemand dit dalk in die kop kry om die verkoper te kul of te beroof, hou hy twee versierde gewere gereed. ’n Eersteklas-os verkoop vir 35 000 roepees.
Dit is die gerunnik van die perde wat volgende ons aandag trek, en watter pragtige diere is hulle tog! Party is ryperde wat deur die polisie of die leër gebruik word, terwyl ander resiesperde is. Daar is ook ryponies en trekponies. By die een stalletjie speel ’n blaasorkes tot die genot van ’n afgerigte perd, wat op maat van die musiek dans.
Ons stap aan in die rigting van ’n harde getrompetter. Daar, tussen ’n klomp mangobome, staan die olifante, al 250 van hulle. Watter majestueuse diere is hulle tog! Hulle kom van verskillende plekke in Indië en Nepal af. Maar hulle lyk onrustig, moontlik weens die groot skare en ook omdat daar so baie ander olifante is.
Hier ontmoet ons vir Harihar Prasad, ’n 25-jarige olifantbul wat onbeheers trompetter. Sy eienaar, Gangabux Singh, het hom so pas vir 70000 roepees verkoop. As ’n mens in gedagte hou dat die huidige markprys vir ’n gesonde olifant 130 000 roepees is, is die prys nogal laag. Maar dit is nogal moeilik om met Harihar te werk.
Harihar het 22 dae lank geloop om by die kermis te kom, en sy eienaar is nou hartseer om van hom afskeid te neem. Maar besigheid bly besigheid, en emosionele bande moet verbreek word. Ons het gewonder of Harihar ook hartseer is om van sy ou kornak (afrigter) afskeid te neem. Toe sy nuwe kornak met hom probeer werk het, het Harihar sy toue gebreek en is dus nou in kettings.
Ten einde hom te kalmeer en te verseker dat alles glad verloop, sal sy vorige kornak saam met hom na sy nuwe tuiste reis. Daar sal albei afrigters saamwerk totdat die nuwe afrigter aan Harihar en sy buie gewoond raak. Ons verneem dat die nuwe eienaar nie van plan is om Harihar lank te hou nie. Dalk word hy volgende jaar weer na Sonepoer gebring en verkoop.
Harihar word dalk deur mense van Radjasthan gekoop om ’n tempelolifant in die een of ander verafgeleë plek te word. Hy sal dan heeltemal versier word en gebruik word om ’n tempelwa te trek. Of dalk sal hy op die ou end timmerhout vervoer in die afgesonderde woude van die Andaman- en Nikobar-eilande, ver in die Golf van Bengale.
’n Skou met ’n lang geskiedenis
Hoewel niemand blykbaar seker is wanneer of hoe die diereskou in Sonepoer nou eintlik ontstaan het nie, lyk dit asof dit tydens die bewind van die Mongoolse keiser ‘Alamgīr, (1658-1707), bekendheid verwerf het. Rajeshwar Prasad Singh, ’n plaaslike landheer, sê dat sy familie sedert 1887 die skouterrein vir die perdemark verhuur. Sedert die 19de eeu het indigo-landbouers van die Britse Ryk tydens die skou hier byeengekom om polo te speel asook vir perdewedrenne en danspartye.
Die maharadjas wat met ’n groot gevolg na die skou gekom het en in spesiale tente gewoon het, het vroeër glans aan die kermis verleen. Maar solank daar ’n vraag na diere is, sal die Sonepoer-skou steeds gehou word. Ons was bly dat ons ’n tydjie by hierdie skou kon deurbring wat so anders is as ander skoue omdat diere van alle soorte hier die vernaamste besienswaardigheid is.
[Voetnoot]
a Eenduisend roepees is gelyk aan ongeveer R165.
[Prent op bladsy 23]
’n Versierde perd word aan toeskouers vertoon
[Prent op bladsy 24]
Harihar Prasad nadat hy verkoop is