Watter hoop is daar dat oorloë sal ophou?
DIE Eerste Wêreldoorlog, wat van 1914 tot 1918 geduur het, is beskou as die oorlog wat alle oorloë sou beëindig. Maar sedertdien was daar meer as 200 oorloë, wat die grootste tot op hede—die Tweede Wêreldoorlog—insluit.
Die mens se pogings om oorloë te laat ophou, was ongetwyfeld ’n volslae mislukking. Is dit dus enige wonder dat baie sê: “Daar sal altyd oorloë wees”? Is dit wat jý glo?
Die Verenigde Nasies is in 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig om vir oorlogsmoeë mense ’n hoop op ’n wêreld sonder oorlog te gee. Daardie hoop word in ’n inskripsie uitgespreek op die muur van die Verenigde Nasies-plein in die stad New York, wat lui: HULLE SAL VAN HULLE SWAARDE PIKKE SMEE EN VAN HULLE SPIESE SNOEIMESSE: NIE MEER SAL NASIE TEEN NASIE DIE SWAARD OPHEF NIE, EN HULLE SAL NIE MEER LEER OM OORLOG TE VOER NIE.
Ongelukkig het die nasies met hulle oorlogstokery ’n bespotting gemaak van hierdie hoop vir vrede wat so pragtig uitgespreek word. Hierdie woorde sal nietemin vervul word! Dit is omdat hulle hulle oorsprong al meer as 2500 jaar gelede by ’n Bron gehad het wat hoër as onvolmaakte mense is. Hierdie woorde is ’n belofte wat deur die almagtige God afgelê is.—Jesaja 2:4.
’n Valse hoop
Baie vertrou op die kerke om ’n wêreld sonder oorlog tot stand te help bring. Maar die kerke het in werklikheid bewys dat hulle een van die verdelendste militêre magte in die geskiedenis was. Frank P. Crozier, ’n Britse brigade-bevelvoerder tydens die Eerste Wêreldoorlog, het byvoorbeeld gesê: “Die Christelike Kerke is die beste skeppers van bloeddorstigheid wat ons het, en ons het hulle vryelik gebruik.”
Dit is dus uiters noodsaaklik dat ons ’n onderskeid maak tussen die ware Christelike godsdiens en dié wat vals is. Om ons te help om dit te doen, het Jesus vir ons ’n eenvoudige rigsnoer gegee: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Mattheüs 7:16). Woorde, of geloofsbelydenisse, is onvoldoende. Om dit toe te lig, het Steve Whysall, ’n redaksielid van die Sun van Vancouver, gesê: “Nie almal wat ’n blou oliebevlekte oorpak dra, is werktuigkundiges nie, al lyk dit asof hulle werktuigkundiges is, . . . al sê hulle: ‘Ons is werktuigkundiges.’”
Steve Whysall het sy voorbeeld op die Christelike godsdiens toegepas en gesê: “Dikwels hoor jy mense praat oor die een of ander ding wat in die naam van die Christelike godsdiens gedoen is en wat ’n gruweldaad dit was. Wel, ja, dit was gruwelik. . . . Maar wie het ooit gesê diegene wat daardie gruwelike dinge gedoen het, was Christene?
“O, sê jy, maar die staatskerke sê so. Wel, wie het ooit gesê die staatskerke is Christelik?
“Net so het die pous Mussolini geseën, en daar is bewyse van ander pouse wat in die verlede gemene dinge gedoen het. Wie het gesê hulle was Christene?
“Jy dink ’n man moet ’n Christen wees omdat hy die pous is? Net omdat iemand sê: ‘Ek is ’n Christen’, beteken dit nie dat hy een is nie—net soos ’n man wat beweer dat hy ’n werktuigkundige is dalk nie ’n werktuigkundige is nie.
“Die Bybel waarsku Christene selfs teen mense wat hulle as Christene voordoen . . . Geen Christen kan teen ’n ander Christen oorlog voer nie—dit sal soos ’n man wees wat teen homself veg.
“Ware Christene is broers en susters in Jesus Christus. . . . Hulle sal mekaar so nooit as te nimmer moedswillig seermaak nie.”
Ons moet dus Jesus se rigsnoer toepas en na die vrugte kyk wat die kerke voortbring. Maar watter vrugte? Die Bybel vestig die aandag op een in die besonder en sê: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie.”—1 Johannes 3:10-12.
Pleks van liefde vir ’n mens se broer aan te moedig, het die kerke dit ondersteun en selfs aangemoedig dat ’n mens jou broer ten tye van oorlog doodmaak. Hulle het dus Satan die Duiwel se pionne geword, net soos die godsdienste van die antieke Egiptenare, Assiriërs, Babiloniërs en Romeine. Jesus Christus het Satan “die owerste van hierdie wêreld” genoem en het oor Sy ware volgelinge gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 12:31; 17:16; 2 Korinthiërs 4:4). Maar die kerke het hulleself ’n integrerende deel van hierdie wêreld gemaak.
Dit is dus duidelik dat God nie die kerke gebruik om sy belofte te vervul om ’n wêreld sonder oorlog tot stand te bring nie. Ongeag wat kapelane en ander kerkverteenwoordigers sê, God kies nie kant in die nasies se oorloë nie.
Hoe sal God se belofte om oorlog te beëindig vervul word? Ís daar mense wat werklik van hulle swaarde pikke gesmee het? Ja, daar is.
Diegene wat God se belofte vervul
Die prominente kerkgeskiedskrywer C. J. Cadoux het gesê: “Die vroeë Christene het Jesus letterlik opgeneem . . . Vir hulle het hulle godsdiens ten nouste met vrede verband gehou; hulle het oorlog ten sterkste veroordeel weens die bloedvergieting wat daaraan verbonde was; hulle het die Ou-Testamentiese profesie oor die omskepping van oorlogswapens tot landbou-implemente op hulleself toegepas.”—Jesaja 2:4.
Maar wat van vandag? Ís daar mense wat Jesus letterlik opneem en mekaar waarlik liefhet? Het hulle in werklikheid van hulle swaarde pikke gesmee? Wel, die Encyclopedia Canadiana sê: “Die werk van Jehovah se Getuies is die herlewing en herinstelling van die vroeë Christelike godsdiens wat gedurende die eerste en tweede eeu van ons era deur Jesus en sy dissipels beoefen is. . . . Almal is broers.”
In ooreenstemming met Jesus se gebod om mekaar lief te hê, weier Jehovah se Getuies dus om hulle broers te haat of dood te maak, selfs al is hulle van ’n ander ras of nasionaliteit (Johannes 13:34, 35). Martin Niemöller, ’n Protestantse leier in Duitsland, het gesê dat “[die kerke] deur al die eeue heen altyd bereid was om oorlog, soldate en wapens te seën en dat hulle op ’n baie onchristelike manier vir die uitwissing van hulle vyand gebid het”. Maar in teenstelling daarmee, het hy gesê, is die Getuies “by die honderde en duisende na konsentrasiekampe geneem en het hulle gesterf omdat hulle geweier het om oorlog te voer en op mense te skiet”.
Ja, Jehovah se Getuies het, in teenstelling met mense van ander godsdienste, werklik van hulle swaarde pikke gesmee. Deurdat hulle “geen deel van die wêreld” is nie, soos Christus beveel het, is hulle inderdaad anders as ander godsdienste (Johannes 15:19, NW). Die Rooms-Katolieke St. Anthony’s Messenger het gesê: “Jehovah se Getuies staan buite die ‘gesagsorde’ en voel nie verplig om enigiets goed te keur wat die wêreldlike regering besluit om te doen nie.”
Word God se belofte in verband met ontwapening vervul net omdat ’n paar miljoen mense uit alle nasies van hulle swaarde pikke smee? Volstrek nie! God se belofte sal op ’n veel groter skaal en op ’n dramatiese wyse vervul word.
Hoe oorlog beëindig gaan word
Die Skepper, Jehovah God, gaan oorlog beëindig deur alle oorlogstuig en diegene wat daarvoor verantwoordelik is te vernietig. ’n Bybelpsalmis het lesers genooi om hierdie opwindende vooruitsig in gedagte te hou. “Kom,” het hy geskryf, “aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde” (Psalm 46:9, 10). Wat ’n merkwaardige, aangrypende aankondiging is dit tog nie!
Is die vooruitsig op ’n wêreld sonder oorlog te goed om te glo? Skeptici dink dalk so. Selfs die militêre geskiedkundige wie se verhaal op bladsye 9 tot 13 van hierdie tydskrif verskyn, het so gedink. Maar hy het die moeite gedoen om die bewyse noukeurig te ondersoek. Hy het gevolglik aan homself bewys dat die Bybel waarlik betroubaar is. Hy het uitgevind dat Bybelprofesieë oor gebeurtenisse wat vroeër in die geskiedenis plaasgevind het altyd presies op tyd vervul is. Dit het hom rede gegee om te glo dat daardie voorspelde gebeurtenisse wat nog moet plaasvind presies op tyd sal kom.
Dink byvoorbeeld aan hoe die wêreldskokkende gebeurtenisse wat tans plaasvind volkome ooreenstem met die gebeurtenisse wat die Bybel voorspel het ’n teken van die laaste dae van hierdie stelsel van dinge sou wees (Mattheüs 24:3-14; 2 Timotheüs 3:1-5). Dit beteken dat ons nou in die tyd lewe wanneer God se Koninkryk sal kom, ter vervulling van die gebed wat Jesus sy volgelinge geleer het, naamlik: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.
Hoe sal God se Koninkryk kom? ’n Bybelprofesie sê hieroor: “In die dae van dié konings [met ander woorde, daardie regerings wat nou aan die bewind is] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke [of, regerings] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit [God se Koninkryksregering] vir ewig bestaan.”—Daniel 2:44.
Ja, God se Koninkryk sal op ’n dramatiese wyse kom om alle huidige regerings uit die weg te ruim, net soos die voorspelde wêreldwye sondvloed in Noag se dag gekom het (Mattheüs 24:36-39; 1 Johannes 2:17). Met die oog op die naderende vernietiging van alle huidige regerings, asook die godsdienste wat hierdie regerings ondersteun, is dit uiters noodsaaklik dat elkeen van ons ons eie situasie in oënskou neem. Sal ons die moeite doen om Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, te leer ken en dan te doen wat hulle van ons verlang? (Johannes 17:3). Sal ons mekaar liefhê en weier om ons naaste leed aan te doen en sodoende toon dat ons van ons swaarde pikke gesmee het?
As jy saamstem dat oorlog sinloos is en as jy graag op die aarde wil woon wanneer daar wêreldwye vrede gaan wees, moet jy met Jehovah se Getuies in aanraking kom. Hulle sal jou met graagte meer wil leer oor hoe oorlog binnekort, onder die heerskappy van God se Koninkryk, uit die weg geruim sal word.
[Venster op bladsy 7]
Himmler se planne met Jehovah se Getuies
HEINRICH HIMMLER was die hoof van die Nazi-SS, of Keurkorps, en was tydens die Tweede Wêreldoorlog, naas Adolf Hitler, die magtigste man in Duitsland. Hoewel Himmler Jehovah se Getuies gehaat het omdat hulle geweier het om ’n deel te hê aan die Nazi’s se planne vir wêreldverowering, het hy hulle naderhand gerespekteer. In een van sy briewe aan die hoof van die Gestapo, Ernst Kaltenbrunner, het Himmler geskryf:
“Onlangse inligting en waarnemings het daartoe gelei dat ek planne opgestel het waarop ek graag jou aandag wil vestig. Dit het betrekking op Jehovah se Getuies. . . . Hoe gaan ons Rusland regeer en pasifiseer nadat . . . ons groot dele van sy gebied in besit geneem het? . . . Alle vorme van godsdiens en die pasifistiese sektes moet ondersteun word . . . , in die besonder die opvattings van Jehovah se Getuies. Dit is alombekend dat laasgenoemdes oor karaktertrekke beskik wat ons baie goed te pas kan kom: Afgesien van die feit dat hulle weier om ’n aandeel te hê aan krygsdiens en enigiets wat met oorlog verband hou . . . , is hulle baie betroubaar, drink hulle nie, rook hulle nie; hulle is uitstekende werkers en buitengewoon eerlik. Jy kan op hulle woord staatmaak. Hierdie is ideale karaktertrekke . . . , benydenswaardige eienskappe.”
Nee, Himmler sou nooit die Getuies kon oorreed om vir die Nazi’s te werk nie. Hy wou nie die Getuies se vredeliewende eienskappe vir hom of sy volk hê nie, maar hy wou hê hierdie ideale eienskappe moes ’n gunstige uitwerking op die Russe hê. Dit sou van hulle ’n vredeliewende volk maak en daartoe lei dat hulle van hulle swaarde pikke smee.
[Prent op bladsy 8]
God se Koninkryk gaan alle oorlogstuig vernietig en mense tot in ’n vreedsame nuwe wêreld behoue laat bly