Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/22 bl. 3-7
  • Kersfees—Kos dit meer as wat jy dink?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersfees—Kos dit meer as wat jy dink?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Sinterklaas-mite—’n Skending van vertroue?
  • Word daar te veel gegee?
  • ‘Sal dit nie die kinders onderdruk nie?’
  • Help jou kinders om God lief te hê
  • Het die gee van Kersgeskenke sin?
    Ontwaak!—1992
  • Iets beters as Kersgeskenke
    Ontwaak!—1992
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Die waarheid oor Kersfees
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/22 bl. 3-7

Kersfees—Kos dit meer as wat jy dink?

“MAMMA, Pappa—bestaan Sinterklaas werklik?” Dit is die oomblik van waarheid waarteen baie ouers opsien. Die sewejarige Jimmy smeek met teleurstelling en pyn in sy oë om versekering dat die fantasiefiguur wat al daardie wonderlike geskenke gebring het werklik bestaan—en dat sy ouers nie vir hom ’n leuen vertel het nie.

Die bure se seuntjie is blykbaar hiervoor te blameer, want hy het dié skokkende waarheid onthul en hierdie ouers in dié ongemaklike posisie geplaas. Miskien onthou jy ’n soortgelyke voorval uit jou kinderdae.

Hedendaagse feesdagvierings is veel meer as net godsdiensvierings. Kersfees het blykbaar op party onwaarskynlike plekke inslag gevind. Japannese Boeddhiste, animiste in Afrika, Amerikaanse Jode en Singapoerse Moslems het almal die deur geopen vir die plomp man, met sy rooi klere, wat geskenke bring. Een godsdiensleier het gevra: “Het Kersfees nie ’n universele fees geword wat deur almal gevier word nie?”

Vir baie is Kersfees nie meer net ’n Westerse “Christelike” viering nie, maar het dit ’n betowerende tyd van feespret vir almal geword. Kinders is die middelpunt van die viering. Party mense sê selfs dat geen kind se lewe volkome is sonder die betowerende pret van hierdie feesdag nie. Kersfees het blykbaar ’n vaste instelling geword. Die skoolleerplan draai daarom. Die TV verheerlik dit. Winkelsentrums en afdelingswinkels maak ’n groot vertoon daarvan. Ouers bestee baie tyd en geld aan Kersfees. Maar is daar buiten die skuldlas wat gewoonlik daarop volg ’n hoër prys wat jou gesin moontlik sal moet betaal?

Die Sinterklaas-mite—’n Skending van vertroue?

“Ek glo nie daar is ’n God nie”, het die sewejarige John vir sy ma gesê. ’n Artikel in die World Herald verduidelik waarom: “John het blykbaar vroeër daardie dag gehoor dat Sinterklaas nie werklik bestaan nie. Hy het vir sy ma gesê dat God miskien ook nie werklik bestaan nie.” Die 25-jarige John het aangaande sy vroeë ontnugtering gesê: “Ek dink wanneer ouers vir kinders sê dat Sinterklaas werklik bestaan, skend hulle waarskynlik die kind se vertroue.”

Wat moet ’n mens aan hierdie delikate situasie doen? Kinderdeskundiges verskil van mening. Een het ouers aangemoedig om hulle kinders teen ses- of sewejarige ouderdom die waarheid te vertel en gewaarsku dat “dit in werklikheid ’n nadelige uitwerking op hulle verstand kan hê indien ouers volhou met hierdie mite”.

Dr. Paul Ekman sê in die boek Why Kids Lie—How Parents Can Encourage Truthfulness: “Dit ly geen twyfel nie dat julle as ouers ’n groot invloed op julle kinders het ten opsigte van gesindhede, opvattings en sosiale optrede soos om leuens te vertel of oneerlik te wees.” Dr. Ekman sê voorts: “Verhoudings kan verander wanneer ’n leuen vertroue geskend het. Dit is moeilik om dié gebrek aan vertroue te herstel; soms kan dit nooit herstel word nie.” Waarom wil ’n mens ander dan bedrieg wanneer jy tydens die feestyd geskenke gee?

Een kindernavorser het gesê: “Ek dink dit is vir kinders erger as ouers vir hulle leuens vertel en hulle bedrieg as om uit te vind dat Sinterklaas nie bestaan nie.” Dr. Judith A. Boss, ’n professor in die filosofie, sê: “Die ouers se bedoeling . . . is om kinders opsetlik te mislei oor die aard van Sinterklaas. . . . As ons vir kinders sê dat Sinterklaas werklik ’n mens is, stimuleer ons nie hulle verbeelding nie. Ons vertel eenvoudig vir hulle ’n leuen.”

Indien jy ’n ouer is, het jy met ’n uiters moeilike uitdaging te kampe—om liefdevolle, gelukkige kinders groot te maak in ’n wêreld waar hulle van kleins af leer dat mense nie vertrou kan word nie. “Moenie met vreemdelinge praat nie.” “Jy kan nie alles glo wat die TV-advertensie sê nie.” “Sê vir hulle Mamma is nie tuis nie.” Hoe leer ’n kind wie om te vertrou? Die boek How to Help Your Child Grow Up sê: “Kindertjies moet van kleins af leer hoe noodsaaklik en pragtig eerlikheid, moed en eerbare handelinge met ander is; en hierdie dinge begin tuis.”

Daar is natuurlik nie so iets soos die volmaakte gesin nie. Maar die skryfster Dolores Curran wou vasstel waaruit die karakter van ’n sterk gesin bestaan. Sy het 551 spesialiste op verskillende gebiede van die gesinslewe gevra om die belangrikste aspekte te kies. Haar bevindinge in die boek Traits of a Healthy Family bespreek 15 van die vernaamste eienskappe wat die kenners gekies het. Die vierde eienskap was “’n gevoel van vertroue”. Sy sê: “In die hegte gesin word vertroue as ’n kosbare besitting beskou en word dit met sorg ontwikkel en gekoester namate kinders én ouers deur die verskillende stadiums van die gesinslewe gaan.”

Ouers behoort hulle af te vra: ‘Is dit die moeite werd om vol te hou met die Sinterklaas-mite en sodoende my kind se geloof en vertroue in my prys te gee?’ Daar is moontlik geen manier waarop dit weer herstel kan word nie. Het Kersfees ander verborge koste?

Word daar te veel gegee?

“Gee die kind van kleins af alles wat hy wil hê. Op dié manier sal hy grootword met die idee dat die wêreld verplig is om hom te onderhou”, sê die pamflet 12 Rules for Raising Delinquent Children. Dit kan ongetwyfeld nadelig wees indien te veel klem op materiële dinge geplaas word.

Die skryfster en ouer Maureen Orth vra: “Hoe skerp ons waardes en karakter by ons kinders in wanneer ons in ’n materiële wêreld soos ons s’n leef, waarin verbruik en hebsug, soms onbewustelik, só opgehemel word?” In die artikel “Die gawe om nie te gee nie”, sê sy: “Ons kleuter-koning glo dat geskenke iets alledaags is—soos die aflewering van die pos.” Is dit die ware boodskap van Kersfees?

Wat van gesinne wat eenvoudig nie die oorvloedige geskenke kan bekostig wat deur verkopers as absoluut noodsaaklik vir Kersfees beskou word nie? Hoe voel daardie jongmense wanneer hulle hoor dat Sinterklaas net vir soet kinders geskenke bring? En wat van jongmense in gebroke gesinne wat op feesdae pynlik bewus gemaak word van die leemte in hulle gesin?

“Die oopmaak van die geskenke is alte dikwels die hoogtepunt van die samekoms tydens die feesgety”, sê The New York Times. “Die klem wat daarop geplaas word, dra aan kinders die boodskap oor dat die gesin net saamkom om geskenke te ontvang, en dit sal tot teleurstelling lei.”

Liefde is ’n selfs bevredigender beweegrede om goed te doen. Glenn Austin, die skrywer van Love and Power: Parent and Child, sê: “In ’n eensgesinde gesin waar die kind die ouer liefhet asook respekteer, sal die kind moontlik op ’n goedgekeurde wyse optree om die ouer te behaag.” Jehovah se Getuies werk hard daaraan om so ’n hartlike wedersydse liefde in hulle gesin te skep. Die kinders van Jehovah se Getuies word boonop grootgemaak met ’n kennis van en ’n liefde vir Jehovah, die God wat hulle dien. Wat ’n kragtige dryfveer in hulle lewe om goed te doen! Hulle het nie ’n mitiese figuur nodig om hulle tot goeie werke te dwing nie.

Jehovah se Getuies koester hulle kinders as ’n gawe van God (Psalm 127:3). Daarom gee hierdie ouers eerder die hele jaar deur geskenke as om op die kalender se vasgestelde datums te wag. Op sulke tye is dit moeilik om vas te stel wie meer verheug is—die verbaasde kind of sy vreugdevolle ouer. Die kind weet waar die geskenk vandaan kom. Getuie-ouers word ook aangemoedig om dikwels van hulle tyd te gee. Want wanneer ’n dogtertjie hartseer of alleen voel, kan ’n kamer vol poppe nie vergelyk word met ’n paar oomblikke toegevou in Mamma se arms terwyl sy na staaltjies uit haar ma se kinderdae luister nie. ’n Seuntjie sal ook nie deur ’n kas vol bofbaltoerusting leer hoe om ’n man te wees nie, maar wel deur lang, aangename gesprekke met sy pa wanneer hulle saam gaan stap.

Hierdie gekoesterde hegtheid kan lewensreddend wees. Kindernavorsers het gevind dat ’n jongmens al hoe meer deur portuurs beïnvloed word namate die spreekwoordelike generasiegaping begin intree. Wangedrag onder jongmense staan in noue verband met ’n verslegtende gesindheid teenoor volwassenes. “Maar diegene wat ’n gunstige beskouing van hulle pa en volwassenes oor die algemeen behou het, het hulle nie soos ander jongmense aan wangedrag skuldig gemaak nie.”

Jehovah se Getuies word soms gekritiseer omdat hulle nie met hulle gesin aan feespret deelneem nie. Dit lyk moontlik asof die kinders van Jehovah se Getuies hierdie spesiale pret ontsê word. Maar hierdie opregte ouers en kinders het grondige Bybelse redes waarom hulle nie daaraan deelneem nie. (Sien asseblief bladsye 11-14.) En hierdie jongmense ontwikkel groot morele krag sodat hulle portuurdwang wat die wilskrag van ander jongmense ineen laat stort die hoof kan bied. Sedelikheid word deur toenemende goddeloosheid ondermyn. Geslagsonsedelikheid, dwelms, geweld, alkohol, kultusse, kindermolesteerders—daar is soveel gevare wat kwetsbare jongmense bedreig.

Hoe kan ’n ouer ’n kind teen hierdie voortdurende gevare beskerm? Getuiekinders ontvang van kleins af voortdurende opleiding om op die Bybel se sterk sedewete staat te maak. Liefdevolle ouers help hulle om nie net God se beskouing van feesdae nie, maar alle aspekte van die lewe te verstaan. Gehoorsaamheid aan hulle God spruit voort uit liefde en respek vir hom, selfs al beteken dit dat hulle anders moet wees. Stel jou net voor hoe dit hulle voorberei om goed te vaar as jong volwassenes! As ’n jong kind in ’n klaskamer vol portuurs kan sit wat dinge doen wat prettig lyk en hy ’n standpunt kan inneem vir wat hy glo reg is, hoeveel te meer sal hy die latere versoeking van ander skynbaar prettige dinge kan weerstaan—dwelms, voorhuwelikse geslagsomgang en ander nadelige versoekings! Die kinders van Jehovah se Getuies ontwikkel waarskynlik morele krag wat baie ander kinders moontlik ontsê word.

“Baie van die kinders wat ek ondersoek het, het nie geloof nie”, sê dr. Robert Coles, ’n Harvardse navorser. “Hulle het alles verloor, behalwe beheptheid met hulleself, en dit word elke dag vererger deur die manier waarop hulle grootgemaak word.”

’n Kinderarts beskryf ’n ander gesin: “Hulle wil kinders hê wat vir ander omgee en ’n bietjie van hulleself gee. . . . Hulle lewe eenvoudiger . . . , maar hulle het iets anders. By gebrek aan ’n beter uitdrukking sal ek dit vergenoegdheid noem.”

Volgens Dolores Curran is dit ’n grondvereiste vir geluk dat ’n mens dit as belangrik beskou om dinge vir ander te doen. “Vir party gesinne in ons land [die Verenigde State]—trouens, ek sou sê vir die meeste—is sukses en die najaging van die lekker lewe die hoofdoelwit.” Maar “gesinne wat aanneem dat lede vir ander kán en sál omgee, word daardie hegte gesinne wat ’n hoë waarde daaraan heg om dinge vir ander te doen. . . . Namate die kinders van hierdie gesinne grootword, is hulle as gevolg van hulle gesinsondervindinge gewoonlik liefdevol en verantwoordelik.” Dolores Curran sê dat suksesvolle ouers “eerder terugkeer na die waarde waarvolgens hulle vreugde uit mense en mededeelsaamheid put as om te koop, te neem en te verbruik”.

’n Uiters bedrewe persoon op die gebied van mededeelsaamheid het dit só gestel: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Getuiegesinne lewer sprekende bewys van hierdie verklaring deur Christus Jesus. Soos in sy geval, draai hulle lewe om die Christelike bediening. Party meen dalk dat jong Getuies uitgebuit word en gedwing word om hulle ouers van deur tot deur te vergesel. Inteendeel, hulle word deur hulle ouers se voorbeeld geleer hoe om liefde teenoor hulle medemens te betoon deur vryelik die goeie nuus aangaande God se Koninkryk aan hulle bure te gee.—Mattheüs 24:14.

‘Sal dit nie die kinders onderdruk nie?’

Maar onderdruk ’n streng godsdiensopvoeding nie ’n kindjie nie? Is dit nie beter om elkeen self godsdienstige besluite te laat neem wanneer hy of sy ’n volwassene is nie? Dit is moontlik die derde reël van 12 Rules for Raising Delinquent Children: “Moet hom geen geestelike opleiding gee nie. Wag totdat hy 21 is en laat hom dan ‘self besluit’.”

Maar volgens dr. Coles begin ’n kind se basiese sedelikheidsgevoel reeds op driejarige ouderdom ontwikkel. “In die kind ontwikkel daar ’n sedelikheidsgevoel. Ek meen dit is godgegewe en dat daar ’n behoefte aan sedelikheid is.” Dít is die kritieke tyd om vaste sedelike waardes by jou kinders in te skerp. Dit is byvoorbeeld die tyd om hulle deur jou voorbeeld te leer hoe belangrik dit is om die waarheid te praat en nie leuens te vertel nie. Die Bybel beklemtoon hoe belangrik opleiding tydens die kinderjare is: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:6.

Dolores Curran sê: “Daar kan nie verwag word dat hedendaagse kinders sonder hulp sedelik sal wees nie. . . . My meningsopname toon dat hoe hegter die gesin is, hoe groter hulle sin vir wat reg en verkeerd is.”

’n Maatskaplike werker wat op Dolores Curran se meningsopname gereageer het, het gesê: “Godsdiens gee gesinne ’n onmiskenbare bron van krag.” Dolores Curran sê aangaande die gesin wat dieselfde godsdiens beoefen: “Geloof in God dien as ’n grondslag vir die daaglikse gesinslewe. Godsdiens versterk die raamwerk wat die gesin saambind. Die ouers voel sterk daaroor dat hulle ’n verantwoordelikheid het om die geloof aan hulle kinders oor te dra, maar hulle doen dit op ’n positiewe en betekenisvolle manier.”

Help jou kinders om God lief te hê

Wys vir kinders die gawes van God wat hulle soveel vreugde verskaf. Lê op die gras en ondersoek saam met hulle die piepklein blommetjie wat so ’n komplekse ontwerp het. Kyk na die liewenheersbesie wat uit hierdie grasoerwoud te voorskyn kom en tot op die punt van ’n grashalm klim, sy helder rooi dopvlerke met hulle swart kolletjies oplig en wegvlieg. Laat hulle die ademlose verwondering voel wanneer ’n skoenlapper skielik op ’n hand gaan sit om ’n oomblik te rus en sy helder geel vlerke op en af te beweeg en om in die warm sonskyn te bak. Lê dan op jou rug sodat jy die donserige wit wolke kan sien wat bo jou verbybeweeg, en kyk hoe verander hulle in die lug van skepe na perde na paleise. Wys jou kinders gedurig daarop dat dit ons Skepper-God is wat vir ons sulke vreugdevolle geskenke gee.

En baie ander geskenke, soos die katjie wie se baldadige manewales met ’n blaar ons laat skater van die lag of die wollerige jong hondjie wat ons “aanval”, sy kop heen en weer skud, kwaai knor terwyl hy aan ons mou pluk, maar sy stert terselfdertyd vriendelik swaai. Of pret in die branders, ’n staptog in die berge of ’n aand waarop ons na die sterbesaaide hemel staar wat hoog bo ons skitter en skyn. Die wete dat hierdie geskenke en tallose ander van die Een kom wat ons ons lewe gegee het, die feit dat ons hom vir hierdie geskenke kan bedank en dat ons dankbaar is dat ons hom ken—al hierdie dinge verskaf ons vreugde en weerspieël ’n groot en waarderende liefde vir hom.

En ten slotte in die gesin—’n oorvloed van drukkies en soentjies van Pappa en Mamma, wat kinders help om elke dag die hartlike gloei van veiligheid en dankbaarheid te voel. Help hulle om geloof in Jehovah te behou en sodoende ’n selfs groter leuen as dié een oor Sinterklaas met sy rooi klere te verwerp, naamlik dat al hierdie lieflike geskenke van God net gebeur, net geëvolueer het—’n leuen wat sonder wetenskaplike bewys geleer word, wat nie deur die wetenskaplike metode gesteun word nie en net deur ’n dogmatisme gehandhaaf word wat oor en oor herhaal word om dit op die verstand van jongmense in te prent.a

Bid gereeld saam met jou kinders tot die grootste van alle Gewers—by maaltye, wanneer julle sy Woord lees, aan die einde van die dag. Maak ’n dankbare kind groot, en daardie waarderingsbesef sal elke ondervinding wat hy in die lewe het, verbeter. Hy self sal ’n gelukkige gewer word in navolging van die ware God en van die ouers vir wie hy lief is. Dan sal geluk kom, nie met die vasgestelde dae van die kalender nie, maar met die spontane oomblikke van loutere lewensvreugde. “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Psalm 144:15, NW.

[Voetnoot]

a Sien die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.

[Prent op bladsy 7]

Tyd is een van die beste geskenke wat jy jou kinders kan gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel