Addie het die antwoord laat gevind, maar nie te laat nie
Die verhaal van ’n swart vrou wat 87 jaar na maatskaplike geregtigheid gesoek het. Sy sit op ’n stomp aan die rand van ’n vlei en visvang. Haar vel is glad, haar verstand is helder en sy weerspieël ’n sekere waardigheid. Sy is sterk, ervare en goed ingelig, maar in haar oë kan jy ’n skerpsinnigheid en ’n sin vir humor sien, asook ’n innemende nederigheid. Sy is ’n baasverteller. Haar Afrika-erfenis is duidelik en is met herinneringe van die verre Suide vermeng. Luister terwyl sy haar lewe herleef.
“MY OUMA is op ’n slaweskip gebore terwyl dit van Afrika na Georgia onderweg was. Sy was so tingerig dat niemand verwag het dat sy sou lewe nie. Toe haar ma dus verkoop is, het hulle die sieklike kind sommer saam met haar gegee. Dit was omstreeks 1844. Die kind is Rachel genoem.
“Dewitt Clinton het ’n plantasie vir sy oom bestuur. Rachel het met Dewitt se kind swanger geraak—en in Junie 1866 is my pa, Isaiah Clinton, gebore. Hulle het hom Ike genoem. As seun het hy dikwels saam met Dewitt op dieselfde perd gery en is hy alles geleer oor hoe om ’n plantasie te bestuur. ’n Paar jaar later het Dewitt vir Ike gesê: ‘Die tyd het aangebreek dat jy jou eie potjie moet krap.’ Hy het toe ’n geldgordel van sy middel afgehaal en dit vir Ike gegee.
“Hierna het my pa vir ene mnr. Skinner gaan werk, die opsiener van die Skinner-plantasie geword en met Ellen Howard getrou. Ek is op 28 Junie 1892 in die Burke-distrik, naby Waynesboro, Georgia, gebore. Vir my was die lewe wonderlik. Ek kon nie wag om elke dag uit die huis te kom nie. Mams het my altyd teruggehou totdat sy my rok se strik agter vasgebind het, en ek het haar elke dag hoor sê: ‘Maak ’n knoop en laat haar loop.’ Ek het dan voor tussen die stuurhandvatsels van die ploeg geklim om naby my pa te wees.
“Op ’n dag het weerlig mnr. Skinner en sy perd tydens ’n somerstorm in ’n oop veld getref. Albei het gesterf. Mev. Skinner was ’n vrou van die Noorde en is deur al die mense in die Burke-distrik gehaat as gevolg van wat generaal Sherman gedoen het toe hy Atlanta afgebrand het. Hulle het mev. Skinner dus meer as die swart mense gehaat! Mev. Skinner het hulle met gelyke munt betaal. Toe haar man dood is, het sy die plantasie uit nyd aan my pa, ’n swart man, verkoop. Stel jou voor, ’n swart man wat voor die einde van die 19de eeu ’n plantasie in Georgia besit het!”
Mnr. Neely en die plaaslike winkel
“Wanneer Paps enigiets nodig gehad het, het hy na mnr. Neely toe gegaan wat die algemene handelaar was. Hulle het alles gehad. As jy ’n dokter nodig sou hê, het jy na die algemene handelaar gegaan. As jy ’n doodskis nodig sou hê, het jy na die algemene handelaar gegaan. Jy betaal vir niks; jy laat dit net opskryf totdat dit tyd vir die katoenoes is. Mnr. Neely het uitgevind dat Paps geld in die bank gehad het; daarom het hy vir ons allerhande goed gebring, goed wat ons nie nodig gehad het nie—’n yskas, naaimasjien, gewere, fietse, twee muile. ‘Ons het dit nie nodig nie!’ het Paps altyd gesê. Mnr. Neely se antwoord: ‘Dis ’n geskenk. Ek sal dit vir jou opskryf.’
“Eendag het mnr. Neely met ’n groot, swart Studebaker op die plaas aangekom. Paps het gesê: ‘Mnr. Neely, ons het dit nie nodig nie! Niemand weet hoe om dit te bestuur of daarna om te sien nie en almal is bang daarvoor!’ Mnr. Neely het geen notisie daarvan geneem nie. ‘Hou dit, Ike. Ek sal dit vir jou opskryf en ek sal een van my werkers kry om joune te leer om dit te bestuur.’ Dit was vir ons van geen nut gewees nie. Ek het Paps eendag gesoebat om my saam met een van die werkers te laat gaan om petrol in te gooi. Paps het gesê: ‘Moenie enige streke uithaal nie; ek ken jou!’ Die oomblik toe ons buite sig was, het ek gesê: ‘Laat ek probeer. Paps weet ek gaan probeer.’ Die motor het vinnig vorentoe geskiet en eers links en toe regs deur die bosse en bome geswaai. Ek het die motor in die spruitjie laat beland.
“Ek het Paps altyd gevra waarom hy nie al hierdie goed van die hand gewys het nie, en dan het hy geantwoord: ‘Dit sal ’n groot fout wees, ’n belediging. Buitendien, die KKK [Ku Klux Klan] lol nie met een van mnr. Neely se Negers nie.’ Ons het dus vir al hierdie goed betaal wat ons nie nodig gehad het nie. En ek het gedink aan wat Paps altyd gesê het: ‘Moenie koop wat jy nie nodig het nie, of kort voor lank sal jy nodig hê wat jy nie kan koop nie.’ Ek het mnr. Neely gehaat!
“Toe almal op 1 Januarie 1900 die begin van die 20ste eeu gevier het, het my ma gesterf terwyl sy aan haar vierde kind geboorte geskenk het. Ek was toe net agt jaar oud, maar ek het by my ma se graf vir Paps gesê dat ek vir hom sou sorg.
“My ma se ma het na ons kinders omgesien. Haar naam was Mary. Sy was baie godsdienstig en het ’n uitstekende geheue gehad, maar sy kon nie lees of skryf nie. Ek het haar dikwels in die kombuis met vrae bestook. ‘Waarom is dit dat wit mense nie iets met swart mense te doen wil hê nie, maar tog sê hulle almal is in God se oë gelyk? Wanneer ons hemel toe gaan, sal al die wit mense ook daar wees? Sal daardie mnr. Neely daar wees?’ Ouma Mary sou antwoord: ‘Ek weet nie. Ons almal sal dit daar geniet.’ Ek was nie so seker daarvan nie.
“‘Ouma, wat gaan ons in die hemel doen?’ ‘O, ons gaan op strate loop wat met goud uitgelê is! Ons gaan vlerke kry en van boom tot boom vlieg!’ Ek het by myself gedink: ‘Ek sal liewers buite wil speel.’ Ek wou in elk geval nooit hemel toe gaan nie, maar ek wou ook nie hel toe gaan nie. ‘Ouma, wat gaan ons in die hemel eet?’ Sy het geantwoord: ‘O, ons gaan melk en heuning eet!’ Ek het uitgeroep: ‘Maar ek hou nie van melk nie en ek hou nie van heuning nie! Ouma, ek sal doodgaan van die honger! Ek sal doodgaan van die honger in die hemel!’”
Ek begin my opleiding
“Paps wou hê dat ek geleerdheid moes kry. In 1909 het hy my na die Tuskegee-instituut in Alabama gestuur. Mnr. Booker T. Washington was die hoof van die skool en ook die hart en siel daarvan. Die studente het hom Paps genoem. Hy het baie gereis om geld vir die skool in te samel, meestal van wit mense. Wanneer hy by die skool was, het hy die volgende boodskap aan ons oorgedra: ‘Kry geleerdheid. Kry werk en spaar jou geld. Koop dan ’n stuk grond. En moenie dat ek jou ooit besoek en vind dat die gras nie gesny is, die huis nie geverf is of dat die vensters gebreek is met lappe wat daarin gestop is om die koue uit te hou nie. Wees trots op jouself. Help jou mense. Help hulle om hulle reg te ruk. Jy kan ’n voorbeeld wees.’
“Dit was beslis nodig om hulle ‘reg te ruk’. Hulle is goeie mense—met talle goeie eienskappe. Daar is dinge omtrent die verlede wat die wit mens moet onthou as hy aan die Neger dink. Die Neger is nie die geleentheid gegun om te leer nie. Dit was teen die reëls van slawearbeid om ’n Neger te leer. Ons is die enigste mense wat teen ons sin na hierdie land toe gekom het. Ander was gretig om hierheen te kom. Ons was nie. Hulle het ons in kettings geslaan en ons hierheen gebring. Hulle het ons 300 jaar sonder betaling laat werk. Ons het 300 jaar vir die wit man gewerk en hy het ons nie genoeg gegee om te eet of skoene om aan te trek nie. Hy het ons van soggens tot saans laat werk en ons vir die kleinste nietigheid onder die sweep laat deurloop. En toe hy ons vrygelaat het, het hy ons steeds nie ’n kans gegun om te leer nie. Hy wou hê dat ons op die plaas moes werk en dat ons kinders ook moes werk en drie maande per jaar skool toe moes gaan.
“En weet jy watter soort skool dit was? ’n Kerkie, omdat daar nie ’n skool vir die Neger was nie. Sitplekke van planke. Junie, Julie en Augustus, die warmste maande van die jaar. Geen gaas voor die vensters nie. Kinders wat op die vloer sit. Daar was 103 leerlinge vir elke onderwyser en al die goggas wat inkom. Wat kan jy ’n kind in drie maande leer? Toe ek een somer van Tuskegee af met vakansie by die huis was, het ek 108 leerlinge geleer, almal van verskillende ouderdomme.
“Ek het in 1913 as verpleegster gekwalifiseer. In 1914 het ek met Samuel Montgomery getrou. Hy het later in die Eerste Wêreldoorlog gaan veg en ek was swanger met my enigste kind. Kort ná Samuel se terugkeer is hy oorlede. Ek het met my seuntjie per trein na Illinois gereis om by my suster te gaan kuier omdat ek gedink het dat ek daar werk as verpleegster sou kry. Al die Gekleurdes moes in die wa net agter die steenkoolwa reis. Dit was warm, die vensters was oop en ons was die ene roet en sintel. Op die tweede dag was ons toebroodjies op en was daar nie melk vir die baba nie. Ek het by die eetwa probeer ingaan, maar is deur ’n swart portier voorgekeer. ‘Jy kan nie hier inkom nie.’ ‘Sal hulle net ’n bietjie melk vir my baba aan my verkoop?’ Die antwoord was nee. Mnr. Neely was die eerste ongeregtigheid wat my strydersgees aangevuur het. Hierdie was die tweede.
“In 1925 het ek met John Few getrou, ’n portier op ’n trein. Hy het in St. Paul, Minnesota, gewoon en ek het dus soontoe verhuis. Dit bring my by die derde ongeregtigheid wat my strydersgees oor die kwessie van maatskaplike geregtigheid aangevuur het. In St. Paul was ek ver noord, maar die vooroordeel was erger as in die Suide. Die distrikshospitaal wou my nie as verpleegster registreer nie. Hulle het gesê dat hulle nog nooit van ’n swart verpleegster gehoor het nie. In Tuskegee was ons goed opgelei en het die pasiënt altyd voorkeur gekry, maar in St. Paul was velkleur die bepalende faktor. Ek het dus die huisie verkoop wat ek nog in Waynesboro gehad het en die geld as ’n kontantbetaling op ’n stuk grond en ’n gebou gebruik. Ek het ’n motorhawe begin, vier werktuigkundiges gehuur en het weldra ’n florerende sakeonderneming gehad.”
Ek ontdek die NAACP
“Dit was ongeveer 1925 toe ek van die NAACP [nasionale assosiasie vir die bevordering van gekleurdes] te hore gekom het en diep betrokke daarby geraak het. Het mnr. Booker T. Washington dan nie gesê nie: ‘Help jou mense. Help hulle om hulle reg te ruk’? Die eerste ding wat ek gedoen het, was om na die goewerneur van die staat toe te gaan met ’n lang lys van swart kiesers wat huise besit en belasting betaal het. Hy het geluister en het vir ’n jong, swart verpleegster werk gekry by dieselfde distrikshospitaal wat my afgekeur het. Die wit verpleegsters het haar egter so sleg behandel—selfs urine op al haar uniforms uitgegooi—dat sy Kalifornië toe gegaan en ’n dokter geword het.
“Wat my motorhawe betref, het dit baie goed gegaan tot een dag in 1929. Ek het pas $2000 by my bank gedeponeer en terwyl ek uitgestap het, het mense begin skree dat die banke bankrot was. Ek het twee paaiemente op die motorhawe oorgehad. Ek het alles verloor. Ek het die geld wat ek bymekaar kon skraap met my werktuigkundiges gedeel.
“Niemand het geld gehad nie. Ek het my eerste huis gekoop met my lewenspolis wat ek opgesê het en waarvoor ek $300 gekry het. Ek het die huis vir $300 gekry. Ek het blomme verkoop, met hoenders geboer en eiers verkoop; ek het loseerders ingeneem en het ekstra geld gebruik om oop stukke grond vir $10 elk te koop. Ek was nooit honger nie en was nooit van die welsyn afhanklik nie. Ons het eiers geëet. Ons het hoenders geëet. Ons het die hoenders se bene fyngemaak om my varke te voer.
“Ek en Eleanor Roosevelt het later bevriend geraak en ek het ook goed bevriend geraak met Hubert Humphrey. Mnr. Humphrey het my gehelp om ’n groot woonstelgebou in die middestad van St. Paul te koop waar daar meestal wit mense gewoon het. Die eiendomsagent het vir sy lewe gevrees, hy het my dus laat belowe dat ek 12 maande lank niks met die eiendom sou doen nie.”
’n Keerpunt in my lewe
“In 1958 het iets buitengewoons gebeur wat ek nooit vergeet het nie. Twee wit mans en ’n swart man het na my toe gekom omdat hulle na ’n plek gesoek het waar hulle kon oornag. Ek het gedink dit was ’n slim set om my by die regering in die moeilikheid te bring; daarom het ek hulle ’n paar uur lank onder kruisverhoor geneem. Hulle het beweer dat hulle Jehovah se Getuies was wat na die ander kant van die land gereis het om ’n byeenkoms in New York by te woon. Hulle het vir my gewys wat die Bybel sê oor God se voorneme vir ’n paradysaarde waar daar geen vooroordeel sal wees nie. ’n Broederskap tussen mense. Ek het gedink: ‘Kan hulle dít hê waarna ek al hierdie jare soek?’ Dit het gelyk asof hulle was wie hulle beweer het hulle was—broers. Hulle wou nie in afsonderlike plekke oornag nie.
“’n Paar jaar later het ek een van my huurders besoek wat ek geweet het op sterwe lê. Haar naam was Minnie. Toe ek haar vra wat ek vir haar kon doen, het sy gesê: ‘Lees asseblief vir my uit daardie blou boekie wat daar lê.’ Dit was Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, ’n boek wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Met elke besoek het ek dus al hoe meer uit die blou boekie gelees. Op ’n dag het Minnie gesterf, en toe ek na haar woonstel toe gegaan het, was ’n wit vrou met die naam Daisy Gerken daar. Sy was so te sê heeltemal blind. Sy het vir my gesê dat sy met Minnie uit die blou boekie gestudeer het. Daisy het my gevra of daar enigiets in Minnie se woonstel was wat ek wou hê. Ek het gesê: ‘Net haar Bybel en die blou boekie.’
“Ek het geweet dat as ek die dinge in daardie blou boek nastreef ek al my werk vir my mense sou moes staak. Ek kan nie al die dinge beskryf wat ek gedoen het wat na my mening die moeite werd was nie. Ek het ’n unie vir die treinportiers gestig. Ek het vir ’n aantal portiers hofsake vir siviele regte gewen. Soms het ek betogings gelyktydig in verskeie dele van die dorp gereël. Ek moes toesien dat my mense nie die wet oortree nie en wanneer hulle dit wel gedoen het, moes ek hulle uit die tronk kry. Ek het aan meer as tien verenigings behoort, maar net aan dié wat gemeenskapswerk gedoen het.
“Ek het dus gedink dat ek nie nog oor die hiernamaals bekommerd kon wees nie. My mense het nou gely! Ek het ’n groot personeel in die NAACP gehad, waaronder ’n wit sekretaresse. Van 1937 tot 1959 het ek as die vise-voorsitter van die NAACP in St. Paul gedien en van 1959 tot 1962 as die voorsitter daarvan. Ek het gereël dat vier state ’n konferensie hou en ek het die NAACP uiteindelik so ver gekry om hulle nasionale byeenkoms in St. Paul te hou. Daar was maar altyd baie probleme, elkeen ’n verhaal op sigself. Voor ek in 1962 op 70-jarige ouderdom afgetree het, het ek president John F. Kennedy besoek. Ongelukkig was ek op daardie stadium so besig om op my eie manier geregtigheid te soek dat ek nie die geleentheid benut het om van God se manier te leer nie.”
Ek vind uiteindelik die enigste weg na sosiale geregtigheid
“Ek en Daisy Gerken het altyd telefonies met mekaar in aanraking gebly en sy het my elke jaar kom besoek. Nie lank nadat ek na Tucson, Arizona, toe is nie, het my geskenkintekening op Die Wagtoring verval. Probleme met my knie het my in die bed gehou en toe Adele Semonian, een van Jehovah se Getuies, besoek afgelê het, was ek gelukkig tuis. Ons het die Bybel saam begin studeer. Uiteindelik het die volle omvang van die waarheid my getref. Ek het besef dat ek nie al my mense se probleme kon oplos en hulle werklik kon ‘regruk’ nie. Die probleem was groter as Mnr. Neely. Groter as die Suide. Groter as die Verenigde State. Om die waarheid te sê, groter as hierdie wêreld.
“Dis ’n universele kwessie. Wie het die reg om die wêreld te regeer? Is dit die mens? God se vyand Satan? Of is dit die Skepper se reg? Syne, natuurlik! As hierdie geskil eers besleg is, dan sal die simptome van maatskaplike ongeregtigheid waarteen ek my hele lewe lank al stry, verdwyn. En ongeag wat ek ook al gedoen het, vir swart of wit, ons word steeds oud en sterf. God sal die aarde in ’n paradys omskep met maatskaplike geregtigheid vir almal. Ek was in ekstase oor die vooruitsig om vir ewig te lewe, om vir die plante en diere te sorg en om my naaste soos myself lief te hê—en sodoende God se oorspronklike voorneme te vervul waarvoor hy die man en vrou hier op die aarde geskep het (Psalm 37:9-11, 29; Jesaja 45:18). Ek was ook verheug om te leer dat ek nie hemel toe hoef te gaan en van melk en heuning hoef te lewe of hoef dood te gaan van die honger nie!
“Daar is wel ’n paar dinge waaroor ek spyt is, hoofsaaklik dat ek die grootste deel van my lewe gewy het aan my soeke na maatskaplike geregtigheid uit die verkeerde bron. Ek sou graag die energie van my jeug aan God wou gegee het. Om die waarheid te sê, ek het gedink dat ek dit wel gedoen het deur ander mense te help. Ek help nog steeds, maar nou is dit deur mense na die hoop van God se Koninkryk onder Christus Jesus te rig, die enigste naam onder die hemel waardeur ons gered kan word (Mattheüs 12:21; 24:14; Openbaring 21:3-5). My pa het altyd gesê terwyl hy my sy vuis gewys het: ‘As jy jou hand so styf toeknyp, kan niks in- of uitkom nie.’ Ek wil my hand oopmaak om ander te help.
“Op die ouderdom van 87 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Ek kan nie nou gaan stilsit nie, want my tyd is kort. Ek is steeds aan die gang, maar nie soos voorheen nie. Die afgelope twee jaar het ek miskien maar twee gemeentelike vergaderinge gemis. Ek moet soveel as moontlik leer sodat ek my familie soveel as moontlik kan leer wanneer hulle ’n opstanding kry. Ek bring met Adele se hulp elke maand tussen 20 en 30 uur in die velddiens deur.
“Die dinge wat ek nou vertel het, is die hoogtepunte van my lewe. Ek kan jou nie alles vertel nie, anders sal ons weke lank hier op hierdie stomp sit en net gesels.”
Net toe het ’n groot mokassinslang oor die stomp geseil en het Addie uitgeroep: “Waar het daardie slang vandaan gekom?” Sy het haar visstok en die string visse wat sy gevang het, gegryp en haar uit die voete gemaak. Die onderhoud was verby.—Soos vertel deur Addie Clinton Few aan ’n “Ontwaak!”-verslaggewer. Kort na hierdie onderhoud is Addie, op die ouderdom van 97, oorlede.