Jou motor—Veilig of gevaarlik?
“Ná byna elke ramp”, waarsku FEMA (die Amerikaanse Federale Agentskap vir Noodoptrede), “vind reddingspanne slagoffers wat die ramp kon oorleef het as hulle geweet het of hulle in hulle motor moet bly en of hulle hulle motor moet verlaat.” Ja, ’n verkeerde besluit kan jou jou lewe kos. Weet jy wat om in geval van ’n ramp te doen? Beantwoord die onderstaande vrae en vergelyk dan jou antwoorde met die antwoorde wat hieronder gegee word.
1. AARDBEWING
□ Bly in die motor
□ Verlaat die motor
2. TORNADO
□ Bly in die motor
□ Verlaat die motor
3. SNEEUSTORM
□ Bly in die motor
□ Verlaat die motor
4. VLOED
□ Bly in die motor
□ Verlaat die motor
ANTWOORDE:
1. Aardbewing: BLY IN DIE MOTOR.
Hoewel die motor se veringstelsel dit geweldig sal laat skud, is jy waarskynlik veiliger in die motor—mits jy nie naby geboue, oorpaaie of elektriese drade is nie.
2. Tornado: VERLAAT DIE MOTOR.
Tydens ’n tornado is ’n motor waarskynlik die gevaarlikste plek om in te wees. Maar sê nou daar is geen veilige skuilplekke daar naby nie? FEMA sê: “Lê plat in ’n sloot of in ’n ander holte in die grond met jou arms oor jou kop.”
3. Sneeustorm: BLY IN DIE MOTOR.
Mits jy nie ’n veilige skuilplek binne ’n redelike afstand sien nie, is dit raadsaam om vir hulp te wag. Die enjin kan vir kort tye aangeskakel word om hitte te voorsien, maar hou ’n venster effens oop om koolstofmonoksiedvergiftiging te voorkom. Laat ’n lig in die motor brand as ’n sein vir reddingswerkers.
4. Vloed: VERLAAT DIE MOTOR.
“As ’n motor in vloedwater gaan staan”, waarsku FEMA, “moet jy gou uitklim en na ’n hoër plek gaan. Die vloedwater styg moontlik nog, en die motor kan te eniger tyd meegesleur word.” Moenie kanse waag nie. Water kan dieper wees as wat dit voorkom, en die watervlak kan vinnig styg.
FEMA stel voor dat jy hierdie inligting in jou motor se paneelkassie hou. En volgens hulle, in alle situasies, is “die belangrikste reël: Bly kalm”.