Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/22 bl. 8-12
  • Hoe om nie in die skuld te beland nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om nie in die skuld te beland nie
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om verset teen ’n begroting te oorkom
  • Hoe om te begin
  • ’n Lys van maandelikse uitgawes
  • Is dit noodsaaklik?
  • Verminder skuld
  • Sal jy welslae behaal?
  • Hoe om met jou geld te werk
    Ontwaak!—2011
  • 2 | Beskerm jou geld en besittings
    Ontwaak! – 2022
  • Hoe kan ek my uitgawes beheer?
    Ontwaak!—2006
  • Sonder werk—Wat se oplossings is daar?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/22 bl. 8-12

Hoe om nie in die skuld te beland nie

IN HIERDIE veranderende tye kan dit ’n uitdaging wees om die gesin se geld te behartig. Hoe kan jy die uitdaging met welslae die hoof bied?

Die antwoord is nie noodwendig ’n groter inkomste nie. Finansiële deskundiges sê dat die antwoord te doen het met ’n begrip van waar die geld vandaan kom en waarheen dit gaan sowel as met die feit dat jy gewillig is om ingeligte besluite te neem. Om dit te doen, het jy ’n begroting nodig.

Hoe om verset teen ’n begroting te oorkom

Maar begrotings “laat allerhande soorte beelde van somberheid by ’n mens opkom”, sê finansiële adviseur, Grace Weinstein. Baie mense wil dus nie een opstel nie. Party assosieer ook die behoefte aan ’n begroting met ’n lae inkomste of ’n gebrek aan geleerdheid. Maar selfs professionele mense met ’n hoë inkomste het geldelike probleme. ’n Finansiële raadgewer sê: “Een van my eerste kliënte het $187 000 [R813 000] per jaar verdien . . . Hulle kredietkaartskuld alleen was net onder $95 000 [R413 000].”

Michael, wat vroeër gemeld is, was om ’n ander rede onwillig om finansiële advies te vra. Hy erken: “Ek was bang dat ander my as naïef en dwaas sou beskou.” Maar so ’n vrees is ongegrond. Om geld te behartig en om geld te maak, vereis verskillende vaardighede, en die meeste mense is nie opgelei om geld te behartig nie. ’n Maatskaplike werker sê: “Wanneer ons ons hoërskoolopleiding voltooi, weet ons meer van ’n gelykbenige driehoek as hoe om geld te spaar.”

Dit is egter betreklik maklik om te leer begroot. Dit behels dat ’n mens ’n lys van inkomste en ’n lys van uitgawes maak—en dan nie méér uitgawes as inkomste moet hê nie. Dit kan eintlik aangenaam wees om ’n begroting op te stel, en dit kan bevredigend wees om daarvolgens te lewe.

Hoe om te begin

Kom ons begin deur ’n lys van inkomste te maak. Vir die meeste van ons behoort dit maklik te wees omdat dit gewoonlik net ’n paar items insluit—salaris, rente op ’n spaarrekening, ensovoorts.

Maar moenie staatmaak op inkomste wat onseker is nie, soos inkomste uit betaling vir oortyd, bonusse of geskenke. Finansiële konsultante waarsku dat ’n mens in die skuld kan beland as jy beplan met onsekere bronne van inkomste in gedagte. As jy sulke inkomste wel ontvang, kan jy die geld moontlik gebruik om jouself en die gesin te trakteer, om ander wat behoeftig is te help of om tot ’n waardige saak by te dra.

Dit kan egter ’n bietjie moeiliker wees om ’n lys van uitgawes te maak. Robert en Rhonda, wat in die vorige artikels gemeld is, kon nie verstaan waar al hulle swaar verdiende geld heen gegaan het nie. Robert verduidelik hoe hulle die probleem opgelos het: “Ons het ’n maand lank elkeen ’n stukkie papier saamgedra en elke liewe sent neergeskryf wat ons bestee het. Ons het selfs die geld neergeskryf wat op ’n koppie koffie bestee is. En aan die einde van elke dag het ons die bedrae in die begrotingsboekie ingeskryf wat ek gekoop het.”

As jy alles wat jy bestee pligsgetrou neerskryf, sal dit jou help om enige ‘raaiselagtige geld’ op te spoor wat blykbaar net verdwyn. Maar as jy weet wat jou bestedingsgewoontes is, kan jy besluit om eerder voort te gaan om ’n lys van maandelikse uitgawes te maak as om ’n uitvoerige lys te hou van wat jy elke dag bestee.

’n Lys van maandelikse uitgawes

Jy sal moontlik ’n tabel wil opstel wat soortgelyk is aan die een wat hierbo verskyn. Skryf in die kolom “Werklik bestee” die bedrag wat jy tans aan elke item bestee. Beperk die aantal hoofkategorieë deur opskrifte te gebruik soos “voedsel”, “behuising” en “klere”. Maar moenie belangrike subkategorieë uitlaat nie. Robert en Rhonda het ’n groot deel van hulle geld daaraan bestee om uit te eet, en dit was vir hulle dus nuttig om “uiteet” en “kruideniersware” apart te skryf. As jy dit geniet om gasvryheid teenoor ander te betoon, kan dit ook ’n subkategorie onder “voedsel” wees. Die idee is dat die tabel jou individualiteit en voorkeure moet weergee.

Wanneer jy jou tabel uitwerk, moet jy nie kwartaallikse, halfjaarlikse, jaarlikse en ander periodieke uitgawes, soos betalings vir versekering en belasting, vergeet nie. Om dit egter in jou maandelikse tabel in te sluit, sal jy die bedrag deur die gepaste aantal maande moet deel.

’n Belangrike item op ’n lys van uitgawes is “spaargeld”. Hoewel baie nie aan spaargeld dink as ’n uitgawe nie, sal dit verstandig wees om van jou maandelikse inkomste te begroot vir noodgevalle of spesiale doeleindes. Grace Weinstein beklemtoon hoe belangrik dit is om spaargeld op jou lys van uitgawes in te sluit: “As jy nie ten minste 5 persent van jou inkomste ná belasting kan spaar nie (en dit is ’n volstrekte minimum), sal jy strenger maatreëls moet tref. Skakel jou gebruik van krediet uit, verander jou lewenstyl en begin by jou basiese behoeftes.” Ja, sorg dat jy spaargeld in jou maandelikse begroting insluit.

Vir ’n reserwe gedurende ’n tydperk van moontlike werkloosheid word daar nou oor die algemeen aanbeveel dat jy spaargeld probeer bymekaarmaak wat gelyk is aan ten minste ses maande se verdienste en geredelik beskikbaar sal wees. “As jy ’n verhoging kry,” sê ’n finansiële raadgewer, “moet jy die helfte daarvan spaar.” Dink jy dat dit vir jou onmoontlik is om te spaar?

Beskou die voorbeeld van Laxmi Bai, wat soos baie op die platteland in Indië baie arm is. Sy het begin om in ’n erdepot ’n hand vol rys weg te sit uit die daaglikse porsie wat sy vir haar gesin gekook het. Van tyd tot tyd het sy die rys verkoop en die geld in die bank gesit. Dit was ’n stap wat daartoe gelei het dat sy ’n banklening kon kry om haar seun te help om ’n fietsherstelwinkel te begin. Sulke klein bedrae spaargeld het ’n groot verskil in die lewe van baie mense gemaak, berig India Today. Dit het ekonomiese onafhanklikheid vir party ’n werklikheid gemaak.

Maar om ’n begroting te laat klop, behels meer as om ’n lys van inkomste en uitgawes te maak. Dit behels dat ’n mens nie meer uitgawes as inkomste moet hê nie, wat dalk sal beteken dat jy minder moet bestee.

Is dit noodsaaklik?

Let op die opskrif “Noodsaaklik?” op die vorm op bladsy 9. Dit is baie belangrik om hierdie kolom te oorweeg, veral as jy vind dat die totaal in die “Bedrag begroot”-kolom meer is as jou inkomste. Dit kan egter ’n uitdaging wees om te besluit of ’n item noodsaaklik is en hoeveel geld daarvoor toegelaat moet word. Dit is veral die geval in hierdie veranderende tye wanneer ons gebombardeer word met ’n aanhoudende voorraad nuwe produkte wat as noodsaaklikhede geadverteer word. Dit sal help om te dink of elke uitgawe ’n besliste behoefte, ’n twyfelagtige behoefte of ’n luukse is wat jy graag wil hê.

Kyk na elke uitgawe wat jy op jou lys het, en nadat jy dit goed oorweeg het, kan jy “J” in jou “Noodsaaklik?”-kolom skryf as die item ’n besliste noodsaaklikheid is; “?” as dit ’n twyfelagtige behoefte is en “L” as dit ’n luukse is wat jy graag wil hê. Onthou dat die totaal wat in die “Bedrag begroot”-kolom verskyn nie meer kan wees as jou maandelikse inkomste nie!

Dit items wat “?” en “L” gemerk is, sal uiteraard dié wees wat jy begin uitskakel. Hierdie uitgawes hoef nie heeltemal uitgeskakel te word nie. Die idee is om elke item te ondersoek om te sien of die uitgawe die genot werd is wat die uitgawe meebring en om dienooreenkomstig te besnoei. Robert en Rhonda het uit hulle lys gesien dat hulle $500 (R2175) per maand daaraan bestee het om uit te eet. Dit was ’n gewoonte wat hulle aangeleer het omdat nie een van hulle geweet het hoe om te kook nie. Maar Rhonda het begin leer en sê: “Nou is dit aangenaam om te kook, en ons eet meer dikwels by die huis.” Robert voeg by: “Ons eet nou net by spesiale geleenthede uit of wanneer dit nodig is.”

’n Verandering in jou omstandighede kan maak dat jy ’n algehele herevaluering doen van wat noodsaaklik is. Soos daar in die eerste artikel gemeld is, het Anthony se inkomste skielik gedaal. Dit het van $48 000 (R209 000) per jaar tot minder as $20 000 (R87 000) gedaal en het twee jaar lank op daardie vlak gebly. As dit met jou sou gebeur, sal jy dalk ’n oorlewingsbegroting moet opstel en enige onnodige besteding moet uitskakel.

Dit is presies wat Anthony gedoen het. Deur die geld wat aan voedsel, klere, vervoer en ontspanning bestee is drasties te besnoei, het hy met baie moeite daarin geslaag om sy huis te behou.a “As ’n gesin moes ons vasstel wat ons werklik nodig gehad het en wou hê”, sê hy, “en ons het baat gevind by die ondervinding. Ons weet nou hoe om met minder tevrede te wees.”

Verminder skuld

Onbeheerde skuld kan jou pogings om binne jou inkomste te lewe in die wiele ry. Hoewel langtermynskuld voordelig kan wees as dit gebruik word om bates aan te koop, soos ’n huis wat in waarde toeneem, kan kredietkaartskuld wat vir die daaglikse bestaan gebruik word rampspoedig wees. “Moet [dus] nie ’n sent aan kredietkaartkoste betaal nie”, sê Newsweek.

Finansiële deskundiges spoor mense aan om kredietkaartskuld af te betaal, selfs al moet ’n mens van jou spaargeld gebruik. Dit maak eenvoudig nie sin om skuld teen ’n hoë rentekoers te hê terwyl jy teen ’n lae rentekoers spaar nie. Michael en Reena het dit besef en hulle kredietkaartskuld afbetaal deur hulle aandele te laat uitbetaal, en hulle het hulle voorgeneem om nie weer in daardie situasie te beland nie.

Robert en Rhonda, wat nie sulke geldmiddele gehad het nie, het tot ’n oorlewingsbegroting oorgegaan. Robert sê: “Ek het ’n staafgrafiek op ’n witbord geteken wat getoon het hoe ons skuld maand na maand sou verminder en die bord in ons kamer gehang waar ons dit elke oggend kon sien. Dit was ’n daaglikse aansporing.” Hoe verheug was hulle tog aan die einde van die jaar om ontslae te wees van hulle kredietkaartskuld van $6000 (R26 100)!

In party lande is selfs ’n verband nie so ’n goeie belegging soos wat dit voorheen was nie. En om ’n huis te koop, kan jou op die ou end baie kos wanneer dit kom by rente. Wat kan jy doen om die koste van ’n verband te verminder? “Betaal eerder ’n groter deposito as wat die bank vereis of koop ’n goedkoper huis”, beveel Newsweek aan. “As jy reeds ’n huis besit, moet jy die begeerte weerstaan om ’n beter huis te koop.”

Jy kan die koste van ’n motorlening aansienlik verminder deur ’n groot deposito te gee. Maar jy sal voor die tyd hiervoor moet spaar deur dit op jou gesinsbegroting in te skryf. En kan jy dalk ’n goeie tweedehandse motor kies?b Die lae aanvangskoste kan laer rente beteken. Jy sal dalk selfs een kan koop sonder om skuld te maak daarvoor.

Sal jy welslae behaal?

Of jy daarin welslae behaal om jou begroting te laat werk, hang in ’n groot mate af van hoe realisties dit is. “Die stelsel sal nie werk as die bedrag wat vir die huishouding opsy gesit is so klein is dat dit nie vir julle genoeg is vir die maand nie”, sê een egpaar wat met welslae volgens ’n begroting gelewe het.

Nog ’n baie belangrike faktor om ’n begroting te laat werk, is goeie kommunikasie tussen gesinslede. Diegene wat deur die begroting geraak word, moet ’n geleentheid hê om hulle sienings en gevoelens uit te spreek sonder om bespot te word. As die betrokke gesinslede verstaan wat elkeen nodig het en wil hê, asook besef wat die gesin se finansiële situasie werklik is, sal daar waarskynlik beter samewerking wees en ’n beter kans dat die gesinsbegroting sal slaag.

In hierdie kritieke tye, namate die toneel van die wêreld aanhou verander, neem die druk op gesinsfinansies toe (2 Timoteus 3:1; 1 Korintiërs 7:31). Ons moet “praktiese wysheid” uitoefen wanneer ons die uitdagings van die moderne lewe die hoof bied (Spreuke 2:7, NW). ’n Begroting is dalk net wat jy nodig het om jou dit te help doen.

[Voetnote]

a Sien die Awake! van 22 April 1985, bladsye 26-7, en die Ontwaak! van 8 Augustus 1984, bladsy 27, vir idees oor hoe om die koste van daaglikse uitgawes te besnoei.

b Sien die Ontwaak! van 8 April 1996, bladsye 16-19.

[Lokteks op bladsy 11]

Ondersoek elke item om te sien of die uitgawe die genot werd is wat dit meebring

[Lokteks op bladsy 12]

Pas op vir rente op kredietkaarte!

[Tabel op bladsy 9]

MAANDELIKSE UITGAWE- EN EVALUASIETABEL Maand

UITGAWES Werklik bestee Noodsaaklik? Bedrag begroot

Voedsel:

Kruideniersware

Uiteet

Gasvryheid

Behuising:

Verband of huurgeld

Gebruiksware

Klere

Vervoer

Geskenke

●

●

●

Spaargeld

Belasting

Versekering

Allerlei

TOTAAL (vergelyk met inkomste)

MAANDELIKSE INKOMSTE

Salarisse

Huurgeld op eiendom (indien enige)

Rente op spaargeld

TOTAAL (vergelyk met uitgawes)

[Prent op bladsy 10]

Goeie gesinskommunikasie is belangrik om ’n begroting te laat werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel