Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g00 5/8 bl. 22-24
  • Loida se stilswye word verbreek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Loida se stilswye word verbreek
  • Ontwaak!—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë pogings om te kommunikeer
  • Die stilswye word verbreek
  • Geestelike vooruitgang
  • Gehelp om te volhard
  • Lesse uit Loida se ondervinding
    Ontwaak!—2001
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2000
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—2000
g00 5/8 bl. 22-24

Loida se stilswye word verbreek

Soos vertel deur Loida se ma

SOOS enige swanger vrou, was ek bekommerd dat my baba met die een of ander gebrek gebore sou word. Ek was nietemin nie voorbereid op Loida, my derde kind, se hartverskeurende gehuil toe sy in die wêreld gekom het nie. Die dokter het Loida se sleutelbeen per ongeluk met sy verlostang gebreek. ’n Paar weke ná ’n regstellende operasie is Loida huis toe gestuur. Ons vreugde was egter van korte duur.

Gedurende die volgende paar maande het dit duidelik geword dat daar groot fout was. Loida se medikasie het ernstige newe-effekte gehad—waaronder koors, diarree en stuipe—en dit het gelyk of die behandeling van hierdie simptome haar toestand net vererger. Dit was nie lank nie of Loida kon nie meer haar liggaamsbewegings beheer nie. Uiteindelik het die dokters vir ons gesê dat Loida serebrale verlamming het. Hulle het gesê dat sy nooit sal kan loop of praat—of ons selfs sal kan verstaan—nie.

Vroeë pogings om te kommunikeer

Ondanks die negatiewe prognose het ek nog steeds gevoel dat Loida baie dinge kan verstaan. Ek het dus eenvoudige boekies vir haar gelees en vir haar die alfabet probeer leer. Maar Loida kon nie praat of aandui dat sy enigsins verstaan wat ek sê nie. Dit was onmoontlik om te bepaal wat—indien enigiets—sy kon verstaan.

Namate die jare verbygegaan het, het dit nie gelyk of my pogings om Loida te leer enige vrugte afwerp nie. Maar ek het nogtans ure lank vir haar gelees. Ons het haar selfs ingesluit by ons gesinsbybelstudie met Noemí, ons jongste dogter, en die boeke Luister na die Groot Onderwyser en My boek met Bybelverhale gebruik.a Ek het baie van die hoofstukke in hierdie boeke oor en oor vir Loida gelees.

Dit is werklik frustrerend om nie te kan kommunikeer met iemand vir wie jy lief is nie. Wanneer ek Loida na die park toe geneem het, het sy troosteloos gehuil. Waarom? Dit het vir my gelyk of sy gepynig is deur die feit dat sy nie kon hardloop en speel soos die ander kinders nie. By een geleentheid het Loida in trane uitgebars toe haar suster vir my iets uit ’n skoolhandboek gelees het. Dit was duidelik dat iets haar gepla het, maar ek het geen benul gehad wat dit was nie. Loida se spraak was tot ’n paar onduidelike klanke beperk, wat haar basiese behoeftes aan kos, water, die bed of toilet aangedui het.

Op negejarige ouderdom het Loida na ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes begin gaan. Maar gedurende die volgende drie jaar het haar toestand versleg. Sy was bang om selfs ’n paar treë sonder hulp te gee, en sy het amper heeltemal opgehou om enige spraakklanke te maak. Ek en my man het besluit dat dit beter sou wees om Loida by die huis te onderrig.

Gedurende die volgende ses jaar het ek Loida na die beste van my vermoë probeer leer. Ek het letters op ’n skryfbord geskryf in die hoop dat Loida dit sal nadoen. My pogings was vrugteloos. Was die probleem dat sy nie kon verstaan nie, of was dit dat Loida nie kon skryf nie omdat sy geen beheer oor die bewegings van haar hande gehad het nie?

Toe Loida 18 was, het dit so moeilik geword om haar te hanteer dat ek vurig tot Jehovah gebid en hom gesmeek het om my te help om met my dogter te kommunikeer. My gebed is op ’n ongewone manier verhoor.

Die stilswye word verbreek

’n Keerpunt het gekom toe my dogters ons slaapkamer opgeknap het. Voor Noemí die ou muurpapier afgetrek het, het sy ’n paar name op die muur geskryf—name uit die Bybel en name van vriende en familielede. Interessantheidshalwe het my dogter Rut vir Loida gevra of sy weet waar “Jehovah” geskryf staan. Tot haar verbasing het Loida na die muur toe gegaan en haar kop teen die muur gesit waar God se naam gestaan het. Rut het gewonder of Loida ook die ander name kon herken, en sy het haar dus getoets. Rut was verstom om te sien dat Loida elkeen kon identifiseer—selfs die name wat sy nog nooit geskryf gesien het nie! Rut het die hele gesin geroep sodat almal dit kon sien. Loida kon lees!

Met verloop van tyd het ons ’n manier gevind om Loida te help om met ons te “praat”. Ons het letters van die alfabet teen die muur van ons lang gang gesit. Dit sou nie werk om kleiner letters op ’n skryfbord te skryf nie, aangesien Loida nie genoeg beheer oor haar hande het om na elke letter te wys nie. Wanneer Loida wil kommunikeer, spel sy haar boodskap deur na elke letter op die muur te loop. Soos jy kan verstaan, is dit baie uitputtend. Trouens, Loida moet kilometers loop net om een bladsy te kommunikeer, en dit kan haar ure neem om dit te voltooi!

Loida is nietemin verheug om met ons te kan “praat”. Trouens, dit was haar eerste boodskap aan ons: “Ek is so bly ek kan nou, met Jehovah se hulp, kommunikeer.” Ons kon dit nie glo nie en ons het Loida gevra: “Wat het jy gedoen terwyl jy die hele dag so gesit het?” Loida het vir ons gesê dat sy in haar gedagtes uitgewerk het wat sy vir ons wou sê. Trouens, Loida het gesê dat sy 18 jaar lank daarna gesmag het om te kommunikeer. “Toe Rut begin skoolgaan het”, het sy gesê, “het ek die skoolhandboek vir myself gelees. Ek het my mond beweeg en ’n paar klanke gemaak, maar julle kon my nie verstaan nie. Dit is waarom ek dikwels begin huil het.”

Ek het met oë vol trane verskoning gevra dat ek haar nie beter verstaan het nie. Loida se antwoord was: “Ma is ’n goeie ma, en Ma het nooit opgegee nie. Ek was nog altyd gelukkig wanneer ek by Ma is. Ek is baie lief vir Ma. Hou dus op huil. Asseblief.”

Geestelike vooruitgang

Loida het reeds ’n kennis van die Bybel gehad, en sy het party Bybeltekste gememoriseer. Maar kort daarna het sy vir ons gesê dat sy antwoorde wil gee by die gemeentelike Wagtoring-studie, ’n weeklikse vraag-en-antwoord-bespreking van die Bybel. Hoe sou sy dit doen? Een van ons lees die hele artikel vir haar. Dan kies Loida ’n vraag wat sy wil antwoord. Ons skryf haar kommentaar neer soos sy dit vir ons gespel het. By die vergadering lees een van ons dan Loida se kommentaar. “Ek is so bly om te kan deelneem”, het Loida eenkeer vir ons gesê, “omdat dit my ’n deel van die gemeente laat voel.”

Toe sy 20 was, het Loida haar begeerte uitgespreek om gedoop te word. Toe sy gevra is of sy weet wat dit beteken om jou aan Jehovah toe te wy, het Loida geantwoord dat sy dit reeds sewe jaar vroeër gedoen het—toe sy net 13 jaar oud was. “Ek het tot Jehovah gebid”, het sy gesê, “en ek het vir hom gesê dat ek hom vir ewig wil dien.” Op 2 Augustus 1997 het Loida haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. “Met Jehovah se hulp”, het Loida vir ons gesê, “is my grootste wens vervul!”

Loida geniet dit om met familielede en bure oor God se Koninkryk te praat. Partykeer gaan sy saam met ons wanneer ons vir mense op die straat getuig. Sy het ook ’n brief geskryf wat ons by die deur laat wanneer niemand tuis is nie. Loida toon spesiale belangstelling in die bejaardes en dié wat siek is. Ons het byvoorbeeld ’n suster in ons gemeente wie se been afgesit is. “Ek weet hoe dit voel om nie te kan loop nie”, het Loida vir ons gesê, en gevolglik het sy ’n bemoedigende brief vir hierdie suster geskryf. Dan is daar Jairo, ’n jong seun in ’n ander gemeente, wat van sy nek af ondertoe feitlik heeltemal verlam is. Toe Loida van sy toestand gehoor het, het sy vir hom ’n brief geskryf. Dit het ten dele gesê: “Jehovah gaan ons binnekort gesond maak. In die Paradys sal daar geen lyding wees nie. Dan sal ek jou uitdaag om reisies te hardloop. Ek lag as ek daaraan dink, want dit gaan groot pret wees. Om te dink dat ons sal wees soos Jehovah ons geskep het, sonder siekte . . . Is dit nie wonderlik nie?”

Gehelp om te volhard

Ek begryp nou baie dinge omtrent Loida se vroeëre optrede wat ek nooit kon verstaan nie. Loida sê toe sy jonger was, het sy byvoorbeeld nie daarvan gehou om ’n drukkie te kry nie omdat sy so gefrustreerd was. “Dit het vir my so onregverdig gevoel dat my susters kon praat en dinge kon leer terwyl ek nie kon nie”, het sy gesê. “Ek was so kwaad. Daar was tye dat ek eerder dood wou wees.”

Selfs met die gawe van kommunikasie moet Loida baie uitdagings die hoof bied. Sy kry byvoorbeeld elke maand of wat aanvalle wanneer dit lyk of sy verstik en haar arms en bene onbeheerbaar beweeg. Daarbenewens verswak enige infeksie—selfs ’n gewone verkoue—haar baie. Af en toe raak Loida terneergedruk oor haar toestand. Wat help haar om te volhard? Wel, laat sy jou in haar eie woorde vertel:

“Gebed is ’n baie groot hulp. Dit maak my so gelukkig om met Jehovah te praat, om na aan hom te voel. Ek waardeer ook die liefde en aandag van ander by die Koninkryksaal. Ek voel baie geseënd omdat ek, ondanks my fisiese probleme, deur twee wonderlike ouers grootgemaak is wat my baie liefhet. Ek sal nooit vergeet wat my susters vir my gedoen het nie. Daardie pragtige letters teen die muur het my lewe gered. Sonder Jehovah se liefde en die liefde van my gesin sou my lewe betekenisloos gewees het.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. Luister na die Groot Onderwyser is nou uit druk.

[Prent op bladsy 24]

Loida en haar gesin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel