Lesse uit Loida se ondervinding
DIE artikel “Loida se stilswye word verbreek” (8 Mei 2000) het heelwat reaksie van ons lesers uitgelok. Baie harte is diep geraak deur hierdie ware verhaal van ’n jong meisie met serebrale verlamming wat nie kon kommunikeer totdat sy 18 jaar oud was nie. Hier is ’n paar van die kommentare wat ons ontvang het.
“Ek kon nie ophou huil toe ek die boodskappe lees wat Loida aan haar gesin geskryf het toe sy uiteindelik kon kommunikeer nie. Haar moed en krag ondanks haar moeilike omstandighede is dinge wat ek gaan probeer navolg.”—K. G.
“Ek is blakend gesond en tog kla ek soms oor verskillende dinge. Nadat ek oor Loida gelees het, het ek tot Jehovah gebid en verskoning gevra dat ek nie waardeer wat ek het nie.”—R. H.
“In 1980 is my jonger boetie met verskeie gesondheidsprobleme gebore, onder andere serebrale verlamming, en hy kan nie praat nie. Hierdie ondervinding het ons gesin aangespoor om nooit moed op te gee nie, ongeag hoe moeilik dit is.”—L. W.
“Ek is ’n 14-jarige meisie, en ek het altyd gedink dat ek die enigste een met probleme is. In die Paradys sal ek Loida graag gesond wil sien en met haar wil praat. Sy is een van die mense op my lys wat ek wil ontmoet en met wie ek vir ewig vriende wil wees.”—R. K.
“Hierdie artikel het my hart geraak. Ek moes al allerhande geestes- en emosionele siektes verduur. Toe ek lees oor hoe baie Loida na God se nuwe wêreld uitsien, het dit my begeerte om daar te wees selfs sterker gemaak.”—P. B.
“Ek het ook serebrale verlamming, maar ek het geen probleem met my spraak nie. Hierdie artikel het vir my getoon dat Jehovah alles sien wat ons ondervind en elkeen van ons waardeer vir wat ons individueel in sy diens kan doen.”—D. J.
“Wat my die meeste geraak het, was om te lees hoe Loida haar lewe op ’n vroeë ouderdom aan Jehovah toegewy het en ook hoe sy aan die predikingswerk deelneem. Dié van ons met beter gesondheid kan baie by Loida leer.”—A. R.
“Loida se ondervinding het my beweeg om meer aan ander te probeer dink en te sien wat ek vir hulle kan doen. Ek weier om my voorreg om met ander oor Jehovah God te praat as vanselfsprekend aan te neem.”—B. M.
“Wat ’n uitstekende artikel! Ons ken ’n paartjie in ’n naburige gemeente met ’n dogter wat serebrale verlamming het. Ek gaan vandag vir hulle ’n kaartjie stuur om vir hulle te sê dat ek hulle, asook alles wat hulle vir haar doen, werklik waardeer.”—T. G.
“Wanneer ek terneergedruk voel, word ek soms selfsugtig, maar Loida toon spesiale belangstelling in ander. Dit is wat ek hard probeer om te doen. Ek moet ook harder probeer om soos Loida te wees en tot Jehovah bid wanneer ek oorweldig voel.”—N. D.
“Ek is 14 jaar oud, en ek is ’n asmalyer. Ek dink soms dat ek aan die heel ergste siekte ly, maar toe ek hierdie ondervinding lees, het ek besef dat dit nie so is nie. Dankie vir hierdie hartseer, maar terselfdertyd gelukkige ondervinding wat ons hoop gee.”—M. C.