Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 7/22 bl. 6-9
  • Die werk wat vrywilligers doen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die werk wat vrywilligers doen
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van verleentheid tot ’n waardige lewe
  • ’n Program wat ’n toekenning ontvang het
  • Noodleniging wat “prakties eerder as formeel” is
  • Daar is oral helpende hande
    Ontwaak!—2001
  • ’n Gees van vrywilligheid bring seëninge mee
    Ons Koninkryksbediening—2006
  • Liefde in aksie—’n Maraton-noodlenigingspoging
    Ontwaak!—2002
  • Laat ons aan almal goed doen’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 7/22 bl. 6-9

Die werk wat vrywilligers doen

ELKE Vrydagmiddag omskep Sirley, ’n middeljarige onderwyseres in Brasilië, haar sitkamer in ’n klaskamer. Omtrent tweeuur daag Amélia, een van die studente, op. Sy slaan nie ’n enkele les oor nie en lees reeds beter as baie hoërskoolkinders. Amélia is 82 jaar oud.

Amélia volg in die voetspore van die meer as 60 senior burgers wat die gratis lees-en-skryf-klasse voltooi het, wat Sirley in haar tuisdorp aanbied. Onlangs was daar ’n artikel oor Sirley se vrywilligerwerk in die Brasiliaanse koerant Jornal do Sudoeste. Nadat die koerantartikel gemeld het dat sy “’n groot bydrae tot die gemeenskapslewe gelewer het”, het dit gesê dat Sirley se metode om die bejaardes te leer so doeltreffend is dat “hulle ná net 120 uur se klasse briewe kan skryf, koerante kan lees en syfers en ander daaglikse take kan baasraak”. Die handboek wat Sirley gebruik, voeg die artikel by, is die boekie Learn to Read and Write, wat deur Jehovah se Getuies saamgestel is.a

Van verleentheid tot ’n waardige lewe

Nog een van Sirley se studente, die 68-jarige dona Luzia, sê dat sy skaam was om met ander te praat voordat sy leer lees en skryf het. Dit was selfs ’n uitdaging om inkopies te doen. “Nou skryf ek briewe aan my familie in ander dorpe, en ek behartig my eie geldsake. Niemand gee my meer te min kleingeld nie”, sê sy met ’n glimlag. Maria, wat ook 68 jaar oud is, vertel hoe verleë sy gevoel het om haar pensioentjek met ’n duimafdruk te teken. “Ek het soos ’n invalide gevoel”, sê sy. Maar danksy die lees-en-skryf-klasse voel Maria nou gelukkig wanneer sy haar eie naam teken.

Die lof wat Sirley se huidige en vorige studente haar gratis program toegeswaai het, het dit so gewild gemaak dat haar sitkamer nou oorvol raak. Die klas gaan binnekort na ’n groter plek verskuif.

’n Program wat ’n toekenning ontvang het

Sirley is een van Jehovah se Getuies. Jy is ongetwyfeld vertroud met die Bybelonderrigtingswerk wat Jehovah se Getuies as ’n vrywillige diens verrig. Maar Sirley se sukses is nie uniek nie. Lees-en-skryf-klasse wat in honderde Koninkryksale regoor Brasilië gehou word, het reeds meer as 22 000 mense in daardie land gehelp om hierdie vaardighede aan te leer.

Soortgelyke programme van Jehovah se Getuies het in ander wêrelddele sukses behaal. In die Afrikaland, Burundi, was die Nasionale Kantoor vir Volwassenegeletterdheid (’n afdeling van die Departement van Onderwys) byvoorbeeld so gelukkig met die resultate van die Getuies se lees-en-skryf-program dat dit ’n toekenning aan vier van die program se onderrigters gegee het vir “die harde werk wat hulle gedoen het om ander te leer lees”. Staatsamptenare is veral beïndruk deur die feit dat 75 persent van diegene wat leer lees en skryf het, volwasse vroue is—’n groep wat gewoonlik wegskram van sulke programme.

In Mosambiek is 4 000 studente vir die Getuies se lees-en-skryf-klasse ingeskryf, en meer as 5 000 studente het gedurende die laaste vier jaar hierdie vaardighede geleer. Een voormalige student het geskryf: “Ek wil graag my opregte waardering uitspreek. Danksy die skool kan ek lees en skryf.”

Noodleniging wat “prakties eerder as formeel” is

Noodlenigingswerk is nog ’n vorm van vrywilligerdiens wat Jehovah se Getuies verrig. Nie lank gelede nie het ’n pakhuis naby Parys, Frankryk, soos ’n miernes gelyk. Omtrent 400 vrywilligers het hulle naweek gebruik om kos, klere en medisyne in kartonbokse te pak. Teen die einde van die naweek was nege groot houers vol noodlenigingsvoorraad ter waarde van nagenoeg R8 miljoen gereed om verskeep te word. Nie lank daarna nie het die besending in oorloggeteisterde Sentraal-Afrika aangekom, waar plaaslike Getuievrywilligers die voorraad vinnig versprei het. Die grootste deel van die noodlenigingsvoorraad is ook deur Getuies geskenk.

Een koerant in Kongo (Kinshasa) het die humanitêre werk van Jehovah se Getuies as “prakties eerder as formeel” geprys. Amptenare van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) het eweneens hulle ondersteuning uitgespreek. Een UNHCR-amptenaar in die Demokratiese Republiek van die Kongo was so in haar skik met die ordelikheid van die Getuies se noodlenigingspogings dat sy haar voertuig tot die beskikking van die vrywilligers gestel het. Die plaaslike mense is ook beïndruk. Toe waarnemers gesien het hoe vinnig die noodlenigingsvoorraad alle behoeftiges bereik, het party verwonderd gevra: “Hoe is julle georganiseer om almal te kan bereik?”

Die noodlenigingspogings van Jehovah se Getuies en hulle lees-en-skryf-programme is net twee voorbeelde van die dienste wat Getuies al dekades lank regoor die wêreld verrig. Maar die Getuies is ook betrokke by ’n ander vorm van vrywilligerwerk—’n diens wat ’n werklik blywende verskil maak. Die volgende artikel sal dit bespreek.

[Voetnoot]

a Die boekie Learn to Read and Write (beskikbaar in 6 tale) en die onlangser boekie Apply Yourself to Reading and Writing (beskikbaar in 29 tale) word deur Jehovah se Getuies uitgegee. Kom gerus met hulle by ’n plaaslike Koninkryksaal of met die uitgewers van hierdie tydskrif in aanraking vir ’n gratis eksemplaar.

[Venster/Prent op bladsy 6, 7]

Die veranderende wêreld van vrywilligerdiens

Terwyl Julie die wêreld deurkruis op sakereise, vind sy die tyd om ’n bietjie vrywilligerwerk te doen—’n paar uur hier en ’n dag daar. Toe sy onlangs in Suid-Amerika was, het sy ’n middag in ’n weeshuis naby Santiago, Chili, gehelp. Sy sê dat reise “wonderlike opsies” in vrywilligerdiens vir haar moontlik maak.

Soos Julie gee al hoe meer vrywilligers van hulle tyd—maar in al hoe kleiner porsies. “Dit is ’n nuwe neiging”, sê Sara Meléndez, hoof van ’n navorsingsgroep wat statistiek oor vrywilligerwerk saamstel. “Mense bied hulle hulp aan, maar wanneer hulle dit doen, is dit dikwels net op ’n eenmalige grondslag.” Gevolglik is organiseerders besorg oor die tekort aan vrywilligers, en hulle sukkel om genoeg vrywilligers vir hulle programme te kry.

“Buigsame vrywilligerdiens”

Party organiseerders meen dat hierdie nuwe neiging—om minder tyd aan vrywilligerdiens te bestee—veroorsaak word deur ’n verandering in die gesindheid van vrywilligers. “Die ‘Ek kan help so lank as wat jy my nodig het’-soort vrywilligerdiens is dood”, sê Susan Ellis, ’n konsultant vir vrywilligersgroepe. “Mense wil hulle nie verbind nie.” Die joernalis Eileen Daspin stem saam. Nadat sy onderhoude met verskeie direkteure van vrywilligersgroepe gevoer het oor die tekort aan vrywilligers, het sy tot die slotsom gekom dat “vrywilligerdiens ’n ernstige geval van verbintenisfobie ondervind”.

Maar die direktrise van New York Cares, Kathleen Behrens, wat vroeër in hierdie reeks gemeld is, meen dat diegene wat terloopse vrywilligerdiens doen, dit nie doen omdat hulle hulle nie wil verbind nie, maar omdat hulle te min tyd het. Mense wat die versorging van kinders of bejaarde ouers in ’n werkweek van 50 of meer uur moet inpas, kan eenvoudig nie gereeld hulle hulp aanbied nie. “Die blote feit dat hierdie besige mense gemeenskapsdiens nog steeds ’n deel van hulle lewe maak”, sê sy, “toon egter dat hulle eintlik baie verbind voel.”

Vir sulke vrywilligers met ’n tekort aan tyd, sê Behrens, is “buigsame vrywilligerdiens” die antwoord. Baie vrywilligersorganisasies bied nou selfs ‘een dag’-projekte aan. “Dit laat mense toe om ’n betekenisvolle bydrae te lewer, maar om die buigsaamheid te hê wat hulle nodig het om dit op ’n semigereelde grondslag te doen.”

Al hoe meer mense doen ook vrywilligerdiens vanaf hulle rekenaar by die huis, deur data in te voer en navorsing te doen. “Aanlyn-vrywilligerdiens”, sê The Wall Street Journal, “is miskien die ongewoonste, en party sê belowendste, vorm van wat nou ‘buigsame vrywilligerdiens’ genoem word.”

[Venster/Prente op bladsy 8]

Noodleniging in Kobe!

Toe ’n aardbewing die florerende hawestad Kobe, Japan, in Januarie 1995 geskud het, is grootskaalse vernietiging aangerig. Met meer as 5 000 sterfgevalle was dit die dodelikste aardbewing in Japan sedert 1923. Jehovah se Getuies in Japan en regoor die wêreld het onmiddellik aan die werk gespring om slagoffers te help. Toe ’n noodlenigingsfonds gestig is, is meer as agtmiljoen rand binne drie werksdae bygedra. Alle soorte noodlenigingsvoorraad het in Kobe ingestroom.

Een Christen- ouer man wat by die noodlenigingswerk betrokke was, het gevind dat daar gou meer voorraad in hulle Koninkryksaal was as wat gebruik kon word. Wat moes met dit alles gedoen word? Hy het voorgestel dat van die voorraad aan ’n nabygeleë hospitaal geskenk word. Die Getuies het ’n paneelwa vol voorraad gelaai en deur die rommel na die hospitaal gery. Die rit het ure geneem pleks van die gewone paar minute. By die hospitaal het hulle vir die hoofdokter hulle voorraad aangebied—insluitende komberse, matrasse, babadoeke, vars vrugte en voorskrifvrye medisyne. Die dokter was verheug en het gesê dat die hospitaal met graagte enigiets sou aanvaar wat die Getuies kon gee. Hulle was veral bly oor die vrugte, aangesien daar nie genoeg vars kos vir al die pasiënte was nie.

Terwyl die Getuies die voorraad afgelaai het, het die dokter hulle dopgehou sonder om ’n woord te sê—al het hy dringende werk gehad om te doen. Toe het hy nederig gebuig en hulle bedank. Toe hulle wegry, het hy daar bly staan om sy dankbaarheid te toon. Die betrokke ouer man het gesê dat dieselfde hospitaal later baie behulpsaam geword het teenoor pasiënte wat Jehovah se Getuies is.

[Venster/Prente op bladsy 9]

Vrywilligerwerk—’n krag ten goede

Toe ’n groep vrywilligers in Kabezi, ’n klein gemeenskap in Burundi, ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies wou bou, het die plaaslike administrateur ’n ongewone versoek gerig. Hy het gevra of die Getuies die pad voor die voorgenome bouperseel kon herstel. Die Getuies het met graagte ingestem om die beskadigde pad te herstel en het al die werk met die hand gedoen. Die vrywilligers het die werk so goed gedoen dat plaaslike amptenare waardering uitgespreek het vir die gemeente se harde werk en gewillige gees. Daarna het die vrywilligers hulle Koninkryksaal, wat in die foto hierbo is, gebou. Nou het hulle ’n pragtige gebou wat nog baie jare sal help om Bybelonderrig te bevorder. Vrywilligerwerk in sy talle vorme kan inderdaad verreikende voordele meebring.

[Prente op bladsy 6, 7]

Sirley vind bevrediging daarin om ander te leer lees

[Erkenning]

Nelson P. Duarte-Jornal do Sudoeste

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel