Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/22 bl. 7-10
  • Traumatiese stres sal tot ’n einde kom!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Traumatiese stres sal tot ’n einde kom!
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gehelp om ’n traumatiese ondervinding te verwerk
  • Hoe om hulp te ontvang
  • Ongeëwenaarde benoudheid nou
  • Die einde van traumatiese stres
  • Posttraumatiese stres—Wat is dit?
    Ontwaak!—2001
  • Goeie stres, slegte stres
    Ontwaak!—1998
  • “Die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Vertrou op Jehovah, “die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/22 bl. 7-10

Traumatiese stres sal tot ’n einde kom!

MISKIEN is jy ’n oorlogsveteraan en kry jy nagmerries en terugflitse wat dit vir jou laat voel asof die oorlog nog nie vir jou geëindig het nie. Miskien is jy ’n slagoffer van wrede geweld soos verkragting en voel jy dat ’n deel van jou in die verskriklike ondervinding dood is. Of dalk is ’n geliefde in ’n natuurramp of ongeluk dood en is dit uiters pynlik om sonder daardie persoon voort te gaan.

Wonder jy of sulke gevoelens verander kan word? Ons kan met vertroue antwoord: Ja, dit kan! Intussen kan almal wat ’n traumatiese ondervinding gehad het, vertroosting vind in God se Woord, die Bybel.

Gehelp om ’n traumatiese ondervinding te verwerk

Byna tweeduisend jaar gelede het die apostel Paulus vreesaanjaende, lewensgevaarlike ondervindinge gehad. Sy beskrywing van party van hierdie ondervindinge is in die Bybel bewaar. Paulus het geskryf: “Ons wil nie hê . . . dat julle onkundig moet wees omtrent die verdrukking wat in die landstreek Asië oor ons gekom het nie, dat ons onder uiterste druk bo ons krag was, sodat ons selfs ons lewe glad nie seker was nie. Trouens, ons het by onsself gevoel dat ons die doodsvonnis ontvang het.”—2 Korintiërs 1:8, 9.

Hoewel dit onbekend is wat presies by daardie geleentheid gebeur het, was dit beslis traumaties (2 Korintiërs 11:23-27). Hoe het Paulus dit verwerk?

Toe hy oor sy ontbering in Asië nagedink het, het hy geskryf: “Geseënd sy die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos, sodat ons dié wat in enigerlei verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word.”—2 Korintiërs 1:3, 4.

Ja, hulp vir dié wat ’n traumatiese ondervinding oorleef, is beskikbaar by “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting”. Hoe kan jy sulke vertroosting kry?

Hoe om hulp te ontvang

Eerstens—vra hulp. As jy emosioneel kragteloos voel, moet jy onthou dat ander ook al so gevoel het. Mense wat sulke gevoelens te bowe gekom het, help ander gewoonlik met graagte. Soos die apostel Paulus, voel hulle dikwels dat hulle die vertroosting wat hulle gedurende hulle beproewing van God ontvang het, met “dié wat in enigerlei verdrukking is” moet deel. Moenie huiwer om een van Jehovah se Getuies—enigeen by wie jy op jou gemak is—te nader nie, en vra hom of haar om jou by te staan sodat jy hulp van Jehovah, “die God van alle vertroosting”, kan kry.

Volhard in gebed. As gebed moeilik is omdat jy woede ervaar, kan jy iemand wat geestelik bekwaam is, vra om saam met jou te bid (Jakobus 5:14-16). Wanneer jy met Jehovah God praat, moet jy onthou om ‘al jou sorge op hom te werp, want hy is besorg oor jou’ (1 Petrus 5:7). Die Skrif beklemtoon herhaaldelik dat God persoonlik oor elkeen van sy knegte besorg is.

Die skrywer van Psalm 94 het waarskynlik iets baie traumaties ondervind, want hy het geskryf: “As die HERE vir my nie ’n hulp was nie, dan het my siel gou in die stilte gewoon. As ek dink: My voet wankel—dan ondersteun u goedertierenheid my, o HERE! As my [“verontrustende”, NW] gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.”—Psalm 94:17-19.

Party wat aan traumatiese stres ly, word veral geteister deur “verontrustende gedagtes”, wat soms ’n oorweldigende vloed van paniek of woede kan word. Maar hartgrondige gebed kan jou “ondersteun” totdat daardie gevoelens verbygaan. Dink aan Jehovah as ’n liefdevolle ouer en aan jouself as ’n kindjie wat hy liefdevol beskerm. Onthou die Bybel se belofte dat “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, . . . julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus [sal] bewaak”.—Filippense 4:7.

Genesing—hetsy liggaamlik, verstandelik of geestelik—vind geleidelik plaas. Dit sal dus onrealisties wees om te verwag dat gebed diegene wat ernstig getraumatiseer is, onmiddellik vrede sal gee. Maar volharding in gebed is noodsaaklik. Dit sal verhoed dat die lyer deur posttraumatiese emosies oorweldig en tot wanhoop gedryf word.

Lees en bepeins God se Woord. As dit moeilik is om te konsentreer, kan jy iemand vra om bemoedigende Bybelverslae saam met jou te lees. Jy kan dele kies wat die diepte van Jehovah se tere besorgdheid oor sy getroue dienaars openbaar, ongeag hoe terneergedruk of wanhopig hulle moontlik voel.

Jane, wat in die vorige artikels genoem is, het vertroosting geput uit baie Bybelverslae in die Psalms. Dit sluit in Psalm 3:2-9; 6:7-9; 9:10, 11; 11:1-7; 18:6, 7; 23:1-6; 27:7-9; 30:12, 13; 31:13, 20-23; 32:7, 8; 34:19, 20; 36:8-11; 55:6-10, 23; 56:9-12; 63:7-9; 84:9-11; 130:1-6. Moenie te veel Bybelgedeeltes op een slag probeer lees nie. Neem liewer die tyd om dit te bepeins en te bid.

Ongeëwenaarde benoudheid nou

Ongelukkig moet dit ons nie verbaas dat verkragtings, moorde, oorloë en sinnelose geweld vandag volop is nie. Waarom nie? Omdat Jesus Christus ons tyd beskryf het as ’n tyd waarin daar ’n “toename in wetteloosheid” sou wees. Hy het bygevoeg: “Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Matteus 24:7, 12.

In onlangse jare het traumatiese stres baie algemeen geword—dikwels weens die einste gebeure wat Jesus voorspel het. Soos opgeteken is in die Bybel in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 het Jesus gesê dat daar in hierdie wêreld se tyd van die einde internasionale oorloë, natuurrampe en toenemende wetteloosheid en liefdeloosheid sou wees. Jesus het egter ook getoon dat verligting naby is.

Let op wat Jesus gesê het mense moet doen nadat hy ’n wêreldwye epidemie van traumatiese gebeurtenisse en daarna die begin van die “groot verdrukking” beskryf het: “Rig julle . . . op en hef julle hoofde op, want julle verlossing kom nader” (Matteus 24:21-31; Lukas 21:28). Ja, terwyl wêreldtoestande versleg, kan ons seker wees dat die groot verdrukking van die stelsel van dinge wat sulke benoudheid veroorsaak, ’n hoogtepunt sal bereik wanneer alle goddeloosheid tot ’n einde kom en ’n regverdige nuwe stelsel ingelui word.—1 Johannes 2:17; Openbaring 21:3, 4.

Ons moenie verbaas wees dat ons redding eers sal kom nadat goddeloosheid en geweld ’n toppunt bereik het nie. Dit was dieselfde met God se oordele in die verlede oor die wêreld van Noag se dag en die veragtelike inwoners van Sodom en Gomorra. Daardie Goddelike oordele van die verlede toon wat in die toekoms gaan gebeur.—2 Petrus 2:5, 6.

Die einde van traumatiese stres

As jy aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ly, wonder jy dalk of jou pynlike herinneringe ooit sal verdwyn. Die antwoord is beslis: Ja, hulle sal! In Jesaja 65:17 sê Jehovah God: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” (Ons kursiveer.) Hoewel dit voorkom of die sielkundige letsels van traumatiese ondervindinge in die verlede blywend is, verseker hierdie teks ons dat dit ons eendag glad nie meer sal ontstel nie.

Vandag, meer as ’n jaar ná die verkragtingspoging, dien Jane as ’n pionier (voltydse evangeliedienaar) van Jehovah se Getuies. “Eers nadat die hofsaak verby was en my aanvaller skuldig bevind is—meer as agt maande ná die aanval—het ek weer myself begin voel”, het sy onlangs gesê. “Verlede jaar hierdie tyd sou ek my nooit die vrede en geluk kon voorstel wat ek nou geniet nie. Ek dank Jehovah vir die wonderlike hoop van ewige lewe en die geleentheid om ander van daardie hoop te vertel.”—Psalm 27:14, NW.

As jy met die wanhoop en emosionele gevoelloosheid van PTSV worstel, kan hierdie hoop jou ook onderskraag.

[Prent op bladsy 8]

Die bywoning van Christelike vergaderinge kan jou help om voort te gaan

[Prente op bladsy 8, 9]

As jy God se Woord lees en bid, kan dit jou onderskraag

[Prent op bladsy 10]

Binnekort sal alle traumatiese ondervindinge tot die verlede behoort

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel