Myanma—Die “Goue Land”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MYANMA
DIE “Goue Land” lê tussen die bergreekse wat ’n natuurlike grens met sy Asiatiese buurlande vorm. In die suidweste spoel die water van die Baai van Bengale en die Andamanse See teen die kuslyn wat meer as 2 000 kilometer lank is. In die weste lê Bangladesj en Indië; in die noorde, China, en in die ooste, Laos en Thailand. Dit is effens groter as Madagaskar en kleiner as die Noord-Amerikaanse staat Texas. Watter land is dit? Myanma, wat vroeër Birma genoem is.
Myanma, wat deur sy eerste setlaars die Goue Land genoem is, het talle kosbare hulpbronne: olie en gas, koper, tin, silwer, wolfram en ander minerale, sowel as edelstene soos saffiere, smaragde, robyne en jade. Ander skatte sluit tropiese reënwoude in met skaars houtsoorte soos kiaat, rooshout en padoek. Die woude is ook die tuiste van talle wilde diere—ape, tiers, bere, waterbuffels en olifante, om maar net ’n paar te noem. Maar die ware skat van die Goue Land is sy mense.
Die mense van Myanma
Die mense van Myanma is oor die algemeen sagmoedig en vredeliewend, sowel as goedgemanierd en gasvry. Hulle behandel besoekers met respek en waardigheid. Kinders spreek ouer mans gewoonlik as oom en ouer vroue as tannie aan.
Besoekers aan Myanma lewer dikwels kommentaar oor die gladde vel van die bejaardes. Een rede vir hulle jeugdige vel, sê die vroue, is ’n gewilde, dofgoue gesigsroom—thanaka—wat van die thanaka-boom verkry word. Die vroue maal ’n stukkie van ’n tak teen ’n harde, plat steen en voeg ’n bietjie water by om ’n fyn pap te maak, wat hulle dan in kunstige patrone op hulle gesig smeer. Thanaka het nie net ’n sametrekkende en afkoelende uitwerking nie, maar beskerm ook die vel teen die skroeiende tropiese son.
Die standaarddrag vir mans sowel as vroue in Myanma is die longyi, wat maklik gemaak kan word deur ’n stuk materiaal van ongeveer twee meter aan die punte vas te werk om ’n sirkel te vorm. Nadat ’n vrou in die longyi geklim het, draai sy dit om haar middellyf, soos ’n romp, en steek die los punt by haar middel in. ’n Man neem weer albei punte en knoop dit losweg voor, om sy middel, vas. Die beskeie en lospassende longyi is ideaal vir die trope.
As ’n mens die markte besoek, sien jy dat die mense van Myanma baie talentvol en heel bedrewe daarin is om sy te weef, handgemaakte juwele te maak en voorwerpe uit hout te sny. Kiaat, padoek en ander houtsoorte word gebruik om pragtige beeldjies van mense, tiers, perde, waterbuffels en olifante te maak. Selfs alledaagse dinge soos tafelblaaie, kamerafskortings en stoele word met ingewikkelde snywerk versier. Maar as jy werklik iets wil koop, moet jy bereid wees om te onderhandel!
Die mense van Myanma munt ook uit in die vervaardiging van pragtig versierde lakware—bakke, skottels en kissies met deksels. Maar wat hulle ware uniek maak, is die ongewone ontwerpe en ingesnyde patrone. Die basiese vorm word van ’n geweefde maas van dun repe bamboes gemaak. (Artikels van ’n hoër gehalte word van geweefde bamboes en perdehaar gemaak.) Op hierdie basiese vorm wend die vakman tot sewe lae lakvernis aan, wat gemaak word deur olie van die thisei, of lakboom, met fyngemaalde en gebrande dierebeen te meng.
Wanneer die lakvernis droog is, gebruik die vakman ’n staalstilus om ’n ontwerp op die oppervlak van die artikel te graveer. Dan, ná ’n bietjie verf en politoer, is die produk nie net ’n pragtige kunswerk nie, maar ook iets wat nuttig is in die huis.
Grootliks deur godsdiens beïnvloed
Sowat 85 persent van die mense van Myanma is Boeddhiste; die res is hoofsaaklik Moslems en Christene. Soos in baie dele van Suidoos-Asië, speel godsdiens ’n groot rol in die lewe van die meeste mense in Myanma. Maar sekere godsdiensgebruike sal vir baie besoekers vreemd wees.
Boeddhistemonnike lê byvoorbeeld ’n gelofte af om nie aan ’n vrou te raak nie. Vroue sal dus uit respek nie te na aan die monnike kom nie. Godsdiensgebruike het selfs ’n invloed op busvervoer. ’n Westerling vind dit dalk vreemd dat ’n teken in ’n bus sê: “Moet asseblief nie die bestuurder vra wanneer ons ons bestemming gaan bereik nie.” Is die bestuurders moeg vir ongeduldige passasiers? Nee. Die Boeddhiste daar glo dat die geeste deur so ’n vraag ontstel sal word en dalk die bus sal vertraag!
Myanma se geskiedenis
Ons weet nie veel omtrent die vroegste geskiedenis van Myanma nie, maar dit lyk of verskeie stamgroepe van naburige lande soontoe getrek het. Die Mon het blykbaar die land Soewannabhoemi genoem—wat “Goue Land” beteken. Die Tibeto-Birmane het van die oostelike Himalajas af gekom en die Tai van die hedendaagse suidwestelike China af. Myanma se ruwe terrein het stamme afgeskeie van mekaar gehou—vandaar die baie stam- en taalgroepe.
Vroeg in die 19de eeu het die Britte uit die pas gekoloniseerde Indië begin kom. Hulle het hulle eers in die suidelike streek gevestig en uiteindelik die hele land in besit geneem. Teen 1886 is Birma, soos Myanma destyds genoem is, deur Brits-Indië geannekseer.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hierdie land die middelpunt van verwoede gevegte geword, en binne slegs ’n paar maande in 1942 het die Japannese leërs die Britte uitgedryf. Daarna is die berugte “Spoorlyn van die dood” gebou. Hierdie 400 kilometer lange spoorlyn het deur onherbergsame oerwoud- en berggebiede geloop om Thanbjoezajat, in Birma, met Nong Pladoek, in Thailand, te verbind. Vanweë ’n tekort aan metaal, is die grootste deel van die spoorlyn van spoorstawe gebou wat in die sentrale deel van Maleia (nou Maleisië) verwyder is. ’n Klein deel van die projek—om ’n brug oor die Kwairivier te bou—het later die grondslag vir ’n gewilde rolprent geword.
Met die hulp van 400 olifante het meer as 300 000 mans—krygsgevangenes, asook Indiese en Birmaanse burgers—die spoorlyn gebou. Tienduisende het tydens hierdie bouprojek gesterf. Die spoorlyn is herhaaldelik deur Geallieerde bomwerpers aangeval en is dus nie baie gebruik nie en het uiteindelik heeltemal in onbruik geraak. Later is die meeste van die spoorstawe verwyder en êrens anders gebruik.
Die Britte het uiteindelik hulle pad teruggeveg en het in 1945 daarin geslaag om die land van Japan af terug te neem. Maar die Britse bewind was van korte duur omdat Birma op 4 Januarie 1948 sy onafhanklikheid van Brittanje verkry het. Op 22 Junie 1989 het die Verenigde Nasies die land se nuwe naam, Myanma, aangeneem.
’n Land van goue hoofstede
Myanma het deur die eeue heen al baie hoofstede gehad. Byvoorbeeld, in die hartjie van Myanma lê Mandalay, wat dikwels die Goue Stad genoem word. Hierdie stad, met sy 500 000 inwoners en honderde pagodes wat uit elke era kom, was die laaste hoofstad voordat Brittanje dit beset het. Koning Mindon het in 1857 koninklike status aan Mandalay verleen toe hy ’n groot paleis vir hom en sy koninginne daar gebou het. Die ou stad, wat vier vierkante kilometer beslaan, word omring deur mure wat agt meter hoog en by die basis drie meter dik is. Rondom die mure is ’n grag wat 70 meter breed is.
In 1885 het die Britte Mindon se opvolger, koning Thibaw, na Indië verban, maar hulle het die paleis ongeskonde gelaat. Die Tweede Wêreldoorlog het egter nie; en dit is heeltemal afgebrand. Maar die mense van Myanma het nie moed verloor nie en het ’n getroue weergawe van die paleis gebou, sowel as die indrukwekkende rooi-en-goud-houtgeboue wat op die oorspronklike terrein was. Dit is oop vir besoekers om te besigtig.
Honderd-en-sestig kilometer stroomaf van Mandalay lê Pagan. Hierdie stad, wat een van die voormalige hoofstede was, is gedurende die eerste millennium van die Gewone Jaartelling gestig en het in die 11de eeu ’n glorietydperk beleef, maar slegs 200 jaar later was dit verlate. Daar is nietemin honderde vervalle tempels en pagodes in en om ’n paar klein dorpies versprei—herinneringe aan ’n vroeëre glorie.
Vandag se hoofstad, Jangon (wat tot 1989 amptelik as Rangoen bekend gestaan het), is ’n besige stad met meer as driemiljoen inwoners en wemel van toeterende motors, busse en taxi’s met oop kante. Hoewel talle ou geboue wat ’n mens aan die Britse koloniale dae herinner, langs Jangon se breë, boomryke lanings staan, sluit die stadsprofiel nou moderne toringhoë hotelle en kantoorgeboue in.
Hierdie stadsprofiel sluit ook die 98 meter hoë vergulde toring van die 2 500 jaar oue Shwe Dagon-pagode in wat die rykdom en boukundige vernuf van vroeër tye weerspieël. Na bewering bevat die toring sowat 7 000 diamante en ander edelgesteentes. Op sy spits is daar ’n diamant van 76 karaat. Soos met talle antieke geboue in Myanma, het aardbewings en oorloë groot skade aan die Shwe Dagon-pagode aangerig, en groot dele daarvan is al herbou.
Party sê egter dat die goue Sule-pagode eintlik Jangon se pronkstuk is. Die 2 000 jaar oue Sule-pagode, wat 46 meter hoog is, vorm ’n groot, goue verkeerseiland by die kruispunt van vier hoofstrate in die stad. Die pagode word omring deur ’n string winkels.
Geestelike goud
In 1914 het twee Internasionale Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is) van Indië in Rangoen aangekom, op soek na mense wat ’n kosbaarder soort goud—geestelike goud—waardeer. In 1928 en 1930 het daar nog sendelinge gekom, en teen 1939 is drie gemeentes met altesaam 28 Getuies gestig. Die Indiese takkantoor van Jehovah se Getuies in Bombaai het tot 1938 toesig oor die werk daar gehou. Toe het die Australiese takkantoor tot 1940 na die werk omgesien. Ná die Tweede Wêreldoorlog, in 1947, is Myanma se eerste takkantoor in Rangoen geopen.
In Januarie 1978 is die takkantoor na Inyastraat verskuif. Hierdie drieverdiepinggebou word die Myanma-Bethelhuis genoem. Die Bethelgesin van 52 werk hard om na die behoeftes van die sowat 3 000 Getuies in die land om te sien. Weens al die tale wat deur die verskillende stamme in Myanma gepraat word, word heelwat vertaalwerk by die takkantoor gedoen. Die harde werk van Jehovah se Getuies voeg nog ’n juweel by die talle skatte van die Goue Land.
[Kaart op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BANGLADESJ
INDIË
CHINA
LAOS
THAILAND
MYANMA
Mandalay
Pagan
JANGON
BAAI VAN BENGALE
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 17]
Van bo: Mans en vroue dra “longyi’s”; ’n jong Boeddhistemonnik; vroue het “thanaka” aan
[Prent op bladsy 18]
Predikingswerk in ’n grondboontjieplantasie
[Prent op bladsy 18]
Houtsnywerk word op plaaslike markte verkoop
[Erkenning]
chaang.com
[Prent op bladsy 18]
’n Ontwerp word op die oppervlak van ’n lakwerktafelblad ingesny
[Prent op bladsy 18]
’n Pragtig versierde lakwerkbak
[Erkenning]
chaang.com
[Prent op bladsy 20]
Myanma se takkantoor van Jehovah se Getuies
[Foto-erkenning op bladsy 16]
© Jean Leo Dugast/Panos