Ons beskou die wêreld
Verwoestende indringers
“‘Indringers’ kos die wêreldekonomie moontlik honderdmiljarde dollars per jaar, en dit versprei ook siektes en rig ontsaglike ekologiese skade aan”, sê die International Herald Tribune. Baie plante en diere wat in hulle tuisomgewing onskadelik is, word wetend of onwetend na nuwe gebiede geneem. ’n Boomslang wat inheems in Australië en Indonesië is, het byvoorbeeld inheemse woudvoëls op Guam uitgewis en versprei nou selfs oor die Stille Oseaan—soms deur in vliegtuie se wielholtes weg te kruip. Caulerpa-wiere en Suid-Amerikaanse waterhiasinte wat in ander ekosisteme ingebring is, vernietig inheemse lewe in die see en varswater oor ontsaglike gebiede. Gras wat van die Verenigde State na China uitgevoer is vir gholfbane, groei nou te wild, terwyl Chinese langhoringkewers, wat in laaiplankhout vervoer is, skade aan Noord-Amerikaanse woude aanrig. Ander spesies wat verwoestend is, is onder andere die Indiese grysmuishond, die sebramossel, die Miconia-boom, die Nyl-baars, die Noord-Amerikaanse gryseekhoring, die wandelende baber en die rooi roofslak, sowel as malmiere.
Grimering vir kinders
Vervaardigers van skoonheidsmiddels in Japan bied ’n reeks grimering aan wat spesiaal vir kinders ontwerp is, berig The Japan Times. Jong meisies, waarvan party nog nie eers tieners is nie, volg ’n grimeringgier wat deur die land versprei en stroom na afdelingswinkels om in navolging van hulle geliefkoosde sangeresse artikels soos lipstiffie met blinkertjies en kleurlose maskara te koop. In die verlede het kinders lipstiffie aangesit wanneer hulle speel. Nou is dit vir al hoe meer kinders baie belangrik om grimering aan te sit, en hulle wil weet hoe dit gebruik kan word om sekere gelaatstrekke te beklemtoon of te verbloem. ’n Redaktrise van ’n tydskrif vir kinders het opgemerk: “Die ouderdom van mense wat aan ’n minderwaardigheidskompleks ly, het gedaal. Vandag se kinders is op ’n jonger ouderdom as hulle voorouers bewus van hulle swakhede.” Een firma het egter hulle standpunt gestel en gesê: “Die Japannese kultuur ken nie grimering vir laerskoolkinders en junior hoërskoolleerlinge nie. Ons sal ter wille van maatskaplike sedelikheid nie (vir hulle) grimering maak nie.”
‘Mense wat as babas geskud is’
As ’n baba aan die arms, bene of skouers gehou en geskud word, kan dit ernstige gesondheidsprobleme tot gevolg hê, berig die koerant El Universal van Mexikostad. “Sommige dokters meen dat baie mense met leerprobleme as babas geskud is.” Volgens die kinderspesialis Juan José Ramos Suárez “kan hierdie trauma tot bloeding op die brein en breinskade lei, selfs al is daar geen uitwendige tekens van mishandeling nie”. Hy voeg by dat dit ook gehoorverlies, blindheid, ruggraatbeserings, verlamming, stuipe en selfs die dood kan veroorsaak. Dit is omdat ’n baba se kop betreklik swaar is, terwyl die nekspiere nie sterk genoeg is om so ’n geskud te weerstaan nie. ’n Baba se gehuil kan weliswaar irriterend wees. Maar om versorgers te help, meld die koerant “drie eenvoudige stappe wat minder as ’n minuut duur: (1) Wag ’n oomblik, (2) gaan sit en (3) ontspan. Beheers eerder jou gevoelens as om jou woede op die baba uit te haal.” Sien dan om na wat die baba ook al laat huil—miskien deur hom kos te gee of vir hom ’n skoon doek aan te sit—of doen dinge wat hom sal kalmeer en vermaak.
Einde van die gondel?
“[Die] ou kundigheid van gondelbouers verdwyn stadigaan in Venesië”, sê die Londense koerant The Independent. “Toekomstige gondels sal dalk deur beginners gemaak word sonder inagneming van die tradisie, boustof en vakmanskap wat die geskiedenis van een van die wêreld se betowerendste stede weerspieël.” Die kundigheid om die beroemde bote te bou, wat blykbaar sedert die 11de eeu bestaan, loop gevaar om uit te sterf “omdat die ou gebruik om dit van vader na seun of meester na leerling oor te dra, laat vaar is”. Dit word toegeskryf aan hoë arbeidskoste en die feit dat jong Venesiërs nie bereid is om 20 jaar daaraan te bestee om die kundigheid te leer nie. Dit lyk dus of niemand die huidige paar meesterbouers sal vervang wanneer hulle aftree-ouderdom bereik nie. Dit verg 500 uur se werk om ’n gondel te bou, wat van ander bote verskil deurdat die linkerkant wyer as die regterkant is, en die gewig van die gondelier en sy spaan hou dit in ewewig. Hierdie ongelykmatige ontwerp maak dit vir hom moontlik om deur Venesië se smalste kanale te vaar.
Seerowery neem toe
“Seerowery floreer soos nooit tevore nie”, berig die Franse tydskrif Valeurs Actuelles. Die aantal seeroweraanvalle het oor die afgelope twee jaar meer as verdubbel. Die situasie is veral ernstig in Suidoos-Asië, waar die geldkrisis daartoe gelei het dat die armstes hulle tot misdaad wend. Maar seerowery neem ook toe naby die kuste van Afrika en Suid-Amerika. Volgens Edouard Berlhet, verteenwoordiger van die Sentrale Komitee van Skeepseienaars van Frankryk, “het verliese in 1998 op 16 miljard dollar [R145 miljard] te staan gekom. Party skepe verdwyn heeltemal, saam met hulle vrag. Hulle word geskaak en hulle voorkoms word verander, en dan verskyn hulle weer in hawens wat vermoedelik deur seerowers gebruik word, onder vlae van lande waarvan die seevaartbepalings hulle pas.” Die seerowers, wat snelbote en gesofistikeerde kommunikasietoerusting gebruik, is swaar gewapen en word al hoe gewelddadiger.
Jong drinkers
“Jongmense in Europa word op ’n al hoe jonger ouderdom en al hoe gereelder dronk”, berig die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung. Hierdie verontrustende tendens is onlangs onder die aandag van die gesondheidsministers van die Europese Unie gebring. Hoe ernstig is die probleem? ’n Studie in 1998 het byvoorbeeld getoon dat tussen 40 en 50 persent van die 15-jarige seuns in party lande gereeld bier drink, terwyl meisies van daardie ouderdom in Engeland, Skotland en Wallis meer wyn en sterk drank as die seuns drink. Meer as die helfte van die 15-jariges in Denemarke, Finland en Brittanje het al meer as een keer heeltemal dronk geword. Alkohol veroorsaak ook elke jaar die dood van etlike duisende mense tussen die ouderdomme van 15 en 29 oral in die Unie. Die Ministerraad het alkoholonderrig aanbeveel om jongmense van die gevolge van drinkery bewus te maak.
Is rokers se dood nuttig vir die ekonomie?
“Amptenare van Philip Morris-Mpye. in die Tsjeggiese Republiek het ’n ekonomiese ontleding versprei wat die gevolgtrekking gemaak het dat . . . rokers se vroeë dood vir mediese koste help vergoed”, sê The Wall Street Journal. “Die verslag, wat in opdrag van die sigaretvervaardiger saamgestel is . . . , tel rokery se ‘nuttige gevolge’ vir die nasionale finansies bymekaar, met inbegrip van inkomste uit aksyns- en ander belastings op sigarette en ‘besparings op gesondheidsorgkoste weens vroeë sterftes’.” Die artikel voeg by: “Die verslag weeg die koste teen die voordele op en maak die gevolgtrekking dat die regering in 1999 ’n netto wins van 5,82 miljard kroon ($147,1 miljoen [R1,3 miljard]) weens rokery gehad het.” Daar is gou teen die verslag protes aangeteken. “Tabakmaatskappye het gewoonlik ontken dat sigarette die dood van mense veroorsaak. Nou spog hulle daarmee”, het ’n rubriekskrywer geskryf. Die ekonoom Kenneth Warner het gesê: “Is daar enige ander maatskappy wat daarmee sal spog dat dit vir die staatskas geld inbring deur sy klante dood te maak? Ek kan nie aan een dink nie.” Philip Morris het die week daarna ’n verskoning uitgereik. “Ons besef dat dit nie net ’n verskriklike fout was nie, maar dat dit verkeerd was”, het die senior ondervoorsitter Steven C. Parrish gesê. “Om te sê dis heeltemal onvanpas, is sag gestel.”
Help kinders om nie so materialisties te wees nie
Kinders is “’n bemarker se droom”, met selfs jong kinders wat “obsessiewe verbruikers” word, berig Kanada se koerant Globe and Mail, “en niks kon nog die tendens keer nie”. Maar ’n span professors by die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Stanford meen dat hulle ’n oplossing gevind het: ’n ses maande lange leerplan wat daarop gemik is om kinders te help om minder TV te kyk sowel as om meer selektief te wees in waarna hulle kyk. Teen die einde van die skooljaar was kinders in hierdie program baie minder geneig om nuwe speelgoed van hulle ouers te vra. Volgens die Globe “sien ’n tipiese kind 40 000 uitsaai-advertensies per jaar, teenoor 20 000 per jaar in die 1970’s”.