Ons beskou die wêreld
Seldsame orgidee van uitwissing gered
In Brittanje is die enigste vroueskoentjie-orgidee (Cypripedium calceolus) wat nog in die natuur oor is, 50 jaar lank dag en nag bewaak om te keer dat dit uitsterf. Die pragtige wynrooi-en-geel orgidee was so gesog onder die Victoriane en daaropvolgende geslagte dat dit teen die 1950’s “amper uitgesterf het”, en net een plant het oorgebly. Plantkundiges het saailinge van hierdie plant, wat in Noord-Yorkshire voorkom, probeer kweek, maar omdat dit selde blom, was natuurlike bestuiwing onmoontlik. In die vroeë 1990’s het wetenskaplikes egter by die botaniese tuin in Kew, Londen, ’n metode ontwikkel wat mikrovoortplanting genoem word. Dit het hulle in staat gestel om nuwe plante te kweek uit sade wat hulle gekry het deur die blomme met die hand te bestuif. Hierdie plante is toe na hulle natuurlike kalksteenhabitats geneem, en gevolglik groei daar tans tussen 200 en 300 vroueskoentjie-orgideë in die noordelike deel van Engeland. Een van die gebiede kan deur die publiek besoek word, maar die ander is op geheime plekke om te verseker dat die orgideë veilig is, berig The Independent van Londen, terwyl “wetenskaplikes daaraan werk om dit meer gehard te maak sodat dit teen plae en swamme bestand kan wees”.
Allergies vir mense
“Baie diere is allergies vir mense”, sê die Duitse koerant Leipziger Volkszeitung. Volgens die berig het die Duitse Allergie- en Asmavereniging (DAAB) onlangs aangekondig dat “kontak met mense tipiese allergiese reaksies, soos veluitslae of ’n aanhoudende genies, by 1 uit elke 20 troeteldiere veroorsaak”. In die meeste gevalle is die oorsake blykbaar dooie stukkies vel van mense en die uitskeidingstowwe van die stofmyte wat dit eet. As ’n troeteldier hom aanhoudend krap of lek of sy hare uittrek wanneer hy nie vlooie het nie, is dit vir sy eienaar ’n aanduiding dat die troeteldier allergies is vir mense, en as die simptome afneem wanneer die troeteldier in ’n ander omgewing is of wanneer die eienaar nie naby is nie, dien dit as verdere bewys. Kos en stuifmeel veroorsaak blykbaar ook allergiese reaksies by diere. Die DAAB het byvoorbeeld gesê dat daar in onlangse jare baie meer perde is wat hooikoors kry.
Wat maak van iemand ’n “ware man”?
“Seuns . . . glo nog steeds dat ’n mens in sport moet uitblink, klere met die regte handelsname moet dra en hegte vriendskappe moet vermy om ’n ‘ware man’ te wees, terwyl dit ‘onmanlik’ is om hard te werk”, berig die Londense koerant Independent. “Seuns respekteer dominerende klasmaats wat in beheer is en baie vloek. Tieners wat nie aan hierdie stereotipe voldoen nie, loop gevaar om afgeknou of as ’n sissie geklassifiseer te word.” Die opname onder seuns van 11 tot 14 jaar, wat by 12 Londense skole deur die Universiteit van Londen se Birkbeck-kollege gedoen is, het getoon dat die seuns “erken het dat hulle ‘macho gedrag’ hulle dikwels eensaam laat voel en maak dat hulle bang is om hulle gevoelens uit te druk”, sê die koerant. Professor Stephen Frosh, wat aan die hoof van die navorsing was, het gesê: “Seuns moet goed verstaan dat ’n mens nie ongevoelig hoef te wees of jou gevoelens hoef op te krop om ’n man te wees nie.”
Die Rooi Kruis op die vingers getik
Kort ná die aanvalle van 11 September was die Amerikaanse Rooi Kruis op die toneel besig om donasies en bloed te vra. Sowat $850 miljoen is in kontant ingesamel, en 400 000 eenhede bloed is geskenk. Hoewel invorderings vinnig was, was uitbetalings nie. “Die Amerikaanse Rooi Kruis was traag om noodlenigingsfondse beskikbaar te stel aan die gesinne wat deur die aanvalle geraak is”, sê The Washington Times. “Noodlenigingsfondse is vir programme gebruik wat nie met 11 September verband gehou het nie”, en ’n groot deel daarvan is opsy gesit vir “langtermynbehoeftes, soos [’n] bloedvriesprogram, berading en toekomstige aanvalle”. Omdat daar nie ’n groot behoefte aan die geskenkte bloed was nie en die raklewe van 42 dae verby is, is dit “nutteloos en moet dit verbrand word”, sê die artikel. Die nuusmedia het berig dat die Rooikruisraad, wat skerp gekritiseer is, hulle president ontslaan en aan die einde van Januarie 2002 aangekondig het dat 90 persent van die ingesamelde fondse teen 11 September 2002 aan slagoffers van die ramp uitbetaal sal word.
Dodelike natuurrampe
“Natuurrampe het in 2001 wêreldwyd ten minste 25 000 lewens geëis, wat meer as dubbel soveel is as die vorige jaar”, sê ’n Reuters-verslag. Volgens Munich Re, die wêreld se grootse herversekeraar, was die ekonomiese verliese altesaam R403 miljard—veel groter as dié wat weens die aanvalle op 11 September in die Verenigde State gely is. Twee derdes van die 700 grootste rampe was storms en oorstromings. Die uiterstes in weerstoestande word toegeskryf aan die wêreldklimaat wat voortdurend verander. “Bosbrande in Australië, oorstromings in Brasilië en Turkye, hewige sneeuneerslae in die sentrale en suidelike dele van Europa en ’n tifoon in Singapoer, wat weerkundig as onmoontlik beskou is, is alles aanduidings van ’n verband tussen klimaatsveranderinge en ’n toename in weerrampe”, het die maatskappy gesê. Hulle het gesê dat 2001 die tweede warmste jaar was sedert daar 160 jaar gelede begin is om rekord te hou. Aardbewings het die meeste sterftes tot gevolg gehad—meer as 14 000 in Januarie alleen, wat veroorsaak is deur ’n aardbewing in Indië. Daar was altesaam 80 groot aardbewings gedurende die jaar.
Agterste sitplekgordels red lewens
“Die moontlikheid dat die voorste passasiers wat sitplekgordels dra, in ’n ongeluk sal sterf, is vyf keer groter as die agterste passasiers nie sitplekgordels in die motor dra nie”, berig The Guardian van Londen. In ’n studie oor die verslae van meer as 100 000 motorongelukke oor ’n tydperk van vyf jaar in Japan, het navorsers by die Universiteit van Tokio gevind dat byna 80 persent van die voorste passasiers wat sitplekgordels gedra het, se lewens gered kon geword het as passasiers op die agterste sitplek hulle sitplekgordels gedra het. Passasiers wat in ’n botsing nie sitplekgordels dra nie, word met soveel krag vorentoe geskiet dat die voorste passasiers ’n baie groter gevaar loop om ernstig beseer of selfs vergruis te word. Hoewel dit sedert 1991 in Brittanje verpligtend is om agterste sitplekgordels te dra, toon opnames dat nagenoeg 40 persent van volwassenes daar dit steeds nie dra nie.
Lugbesoedelingsgevaar in Asië
“In Indië sterf meer as 40 000 mense elke jaar weens lugbesoedeling”, sê die omgewingstydskrif Down to Earth. Navorsing wat deur die Wêreldbank en die Stockholm-instituut vir Omgewingsake gedoen is, het getoon dat lugbesoedeling in Asië baie erger is as die gesamentlike besoedeling in Europa en Amerika en dat dit verantwoordelik is vir duisende sterftes in Seoel, Beijing, Bangkok, Djakarta en Manila. In Manila sterf meer as 4 000 mense byvoorbeeld elke jaar aan asemhalingsiektes terwyl 90 000 aan ernstige chroniese brongitis ly. Die sterftesyfer is selfs hoër in Beijing en Djakarta. Die probleem word toegeskryf aan “die gebruik van laegehaltebrandstof, ondoeltreffende metodes vir energieproduksie, die gebruik van motors wat nie in ’n goeie toestand is nie en verkeersopeenhopings”, sê die tydskrif.
Hulle slaan munt uit die euro
Met die oorskakeling na die euro het die Italiaanse Katolieke Kerk “munt geslaan uit die einde van die lira om te vergoed vir die tekort aan aalmoese” deur “hulle pryse na ’n hoër bedrag af te rond”, sê Corriere della Sera. Die vikariaat van Rome het ’n omsendbrief aan al sy gemeentes gestuur om “die ‘pryslys’ aan te pas. Die prys om ’n mis op te dra, wat vroeër net 15 000 lira was, styg tot 10 euro (19 363 lira). Die maksimum prys vir ’n huwelik, wat vroeër 450 000 lira was, styg tot 270 euro (523 000 lira).” Die omsendbrief spesifiseer egter dat “hierdie prys na huwelike verwys vir mense wat ‘nie gemeentelede is nie’, terwyl die bedrag vir gemeentelede na goeddunke is, soos dit met doopplegtighede en begrafnisse die geval is”. Nietemin het plaaslike priesters in Rome nog steeds die probleem dat kollektebussies teleurstellend leeg is, miskien weens “’n mate van suinigheid onder die lidmate tesame met ’n afname in bywoning”, sê die koerant.