Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 12/22 bl. 12-14
  • Die Magna Carta en die mens se soeke na vryheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Magna Carta en die mens se soeke na vryheid
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die artikels van die baronne
  • Vryheid onder die wet
  • Die soeke duur voort
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
  • Die geskiedkundige ontwikkeling van vryheid van spraak
    Ontwaak!—1996
  • Die groeiende probleem van eensaamheid – Wat die Bybel sê
    Nog onderwerpe
  • Wat beteken godsdiensvryheid vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 12/22 bl. 12-14

Die Magna Carta en die mens se soeke na vryheid

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

DEUR die skilderagtige landskap van die Engelse graafskap Surrey vloei die Teemsrivier. In een van die weivelde op sy oewer staan ’n gedenkteken met ’n inskripsie daarop wat ’n 13de-eeuse gebeurtenis herdenk. Hier, by Runnymede, was daar ’n ontmoeting tussen die Engelse koning Jan (wat van 1199-1216 geheers het) en vyandiggesinde baronne, invloedryke landhere wat ontevrede was omdat die koning hom aan oordadighede skuldig gemaak het. Die baronne het daarop aangedring dat die koning hulle tegemoetkom deur sekere regte prys te gee. Onder geweldige druk het die koning ’n dokument met sy seël bekragtig wat later as die Magna Carta (die Groot Handves) bekend geword het.

Waarom is hierdie dokument al beskryf as “die betekenisvolste regsdokument in die geskiedenis van die Weste”? Die antwoord op hierdie vraag leer ons baie oor die mens se soeke na vryheid.

Die artikels van die baronne

Koning Jan was in die moeilikheid by die Rooms-Katolieke Kerk. Hy het pous Innocentius III se gesag verontagsaam toe hy geweier het om Stephen Langton as die aartsbiskop van Kantelberg te erken. Gevolglik het die kerk sy steun teruggetrek en die koning in werklikheid geëkskommunikeer. Maar Jan het ’n versoening probeer bewerkstellig. Hy het ingestem om sy koninkryke van Engeland en Ierland aan die pous te oorhandig. Die pous het toe hierdie koninkryke aan Jan teruggegee op voorwaarde dat die koning sy lojaliteit aan die kerk verklaar en ’n jaarlikse skatting betaal. Jan was nou onderhorig aan die pous.

Geldelike probleme het sake vir die koning nog moeiliker gemaak. Gedurende sy 17 jaar lange bewind het Jan 11 keer ekstra belasting van die landhere gehef. Al die getwis oor kerklike en finansiële aangeleenthede het tot die algemene mening gelei dat die koning nie vertrou kon word nie. Jan se karakter het blykbaar net tot hierdie bedenkinge bygedra.

Uiteindelik het die ontevredenheid breekpunt bereik toe baronne van die noorde van die land geweier het om verdere belasting te betaal. Hulle het na Londen opgetrek en verklaar dat hulle hulle lojaliteit aan die koning onttrek. Daar was toe ’n groot getwis tussen die partye, met die koning in sy paleis in Windsor en die baronne wat na die ooste in die nabygeleë dorp Staines kamp opgeslaan het. Onderhandelings agter die skerms het daartoe gelei dat hulle mekaar tussen die twee dorpe, by Runnymede, van aangesig tot aangesig ontmoet het. Hier het Jan, op Maandag, 15 Junie 1215, ’n dokument met 49 artikels bekragtig. Dit begin met die woorde: ‘Dit is die artikels wat die baronne versoek en die koning toestaan.’

Vryheid onder die wet

Agterdog oor Jan se bedoelings het egter gou kop uitgesteek. Te midde van sterk gevoelens teen die koning en die pous het die koning gesante na die pous in Rome gestuur. Die pous het onmiddellik pouslike bulle uitgevaardig wat die ooreenkoms in Runnymede ongeldig verklaar het. In Engeland het burgeroorlog kort daarna uitgebreek. Maar die volgende jaar het Jan skielik gesterf, en sy negejarige seun, Hendrik, het die troon bestyg.

Die jong koning Hendrik se ondersteuners het gereël dat die Runnymede-ooreenkoms weer uitgevaardig word. Volgens die boekie Magna Carta is hierdie hersiene uitgawe “inderhaas verander van ’n instrument om tirannie teë te werk na ’n manifes waarmee mense met gematigde sienings ter ondersteuning van hom [die koning] verenig kon word”. Hierdie ooreenkoms is etlike kere gedurende Hendrik se bewind weer uitgevaardig. Toe sy opvolger, Edward I, die Magna Carta weer op 12 Oktober 1297 bevestig het, is ’n afskrif uiteindelik by die versamelde geskrewe wette gevoeg.

Die handves het die koning se mag ingeperk. Dit het bepaal dat hy, net soos al sy onderdane, aan die regsorde onderhewig is. Volgens Winston Churchill, ’n beroemde 20ste-eeuse geskiedskrywer en eerste minister van Engeland, het die Magna Carta “’n stelsel van wigte en teenwigte [voorsien] wat die monargie die nodige mag sou gee, maar misbruik daarvan deur ’n tiran of ’n dwaas sou voorkom”. Voorwaar edele ideale! Maar wat het hierdie dokument vir die gewone man beteken? Op daardie stadium, baie min. Die Magna Carta het slegs die regte uiteengesit van “vryburgers”—in werklikheid ’n ietwat eksklusiewe groep wat toe in die minderheid was.a

“Redelik vroeg in die geskiedenis daarvan”, sê die Encyclopædia Britannica, het die Magna Carta “’n simbool en ’n strydkreet teen onderdrukking geword, en elke nuwe geslag het dit as ’n beskerming van hulle eie bedreigde vryhede beskou”. Die belangrikheid hiervan kan gesien word uit die feit dat die Magna Carta aan die begin van elke sessie van Engeland se Parlement herbevestig is.

In die 17de eeu het regsgeleerdes in Engeland artikels uit die Magna Carta gebruik as die grondslag van voorregte soos jurieverhoor, habeas corpus,b gelykheid in die oë van die gereg, beskerming teen eiemagtige inhegtenisname en parlementêre beheer van belasting. Gevolglik was die Magna Carta, volgens die Britse staatsman William Pitt, deel van die ‘Bybel van die Engelse Grondwet’.

Die soeke duur voort

“In die verlede het die grondwetlike belangrikheid van die Magna Carta baie minder afgehang van wat die handves sê as van wat mense gedink het dit sê”, het lord Bingham erken, wat van 1996 tot 2000 hoofregter van Engeland en Wallis was. Nogtans het die ideale van vryheid wat met die handves geassosieer word, later regdeur die Engelssprekende wêreld versprei.

Die pelgrims, wat Engeland in 1620 verlaat en na Amerika gegaan het, het ’n afskrif van die Magna Carta saam met hulle geneem. In 1775, toe Britse kolonies in Amerika in opstand gekom het teen belasting sonder verteenwoordiging, het die laerhuis van wat nou die staat Massachusetts is, verklaar dat sulke belasting in stryd is met die Magna Carta. Trouens, die amptelike Massachusetts-seël wat destyds gebruik is, het ’n man afgebeeld met ’n swaard in die een hand en die Magna Carta in die ander.

Toe verteenwoordigers van die nuwe nasie vergader het om ’n grondwet vir die Verenigde State van Amerika op te stel, het hulle die beginsel van vryheid onder die wet gehandhaaf. Die Amerikaanse Verklaring van Regte het hieruit voortgespruit. In 1957 het die Amerikaanse Balievereniging dus ter erkenning van die Magna Carta ’n gedenkteken by Runnymede opgerig met die inskripsie: “Ter herdenking van die Magna Carta—simbool van vryheid onder die wet.”

In 1948 het die Amerikaanse staatsvrou Eleanor Roosevelt gehelp om die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte op te stel, in die hoop dat dit “oral vir alle mense die internasionale Magna Carta” sou word. Ja, die geskiedenis van die Magna Carta toon duidelik hoe diepgewortel die mens se begeerte na vryheid is. Ondanks edele ideale word basiese menseregte nog steeds in baie lande bedreig. Menseregerings het herhaaldelik getoon dat hulle nie vryheid vir almal kan waarborg nie. Dit is een rede waarom miljoene Getuies van Jehovah nou ’n selfs hoër vorm van vryheid onder die wet van ’n ander soort regering, God se Koninkryk, hoog op prys stel.

Die Bybel sê iets merkwaardigs omtrent God: “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid” (2 Korintiërs 3:17). As jy graag meer wil uitvind oor die soort vryheid wat God se Koninkryk die mensdom bied, kan jy gerus Jehovah se Getuies meer daaroor uitvra wanneer hulle jou weer besoek. Jy sal die antwoord heel moontlik fassinerend en bevrydend vind.

[Voetnote]

a “Hoewel die woord ‘vryburger’ in 1215 ’n beperkte betekenis gehad het, het dit teen die sewentiende eeu na byna almal verwys.”—History of Western Civilization.

b Van die Latyn “u moet die liggaam hê”. ’n Lasbrief van habeas corpus is ’n regsdokument wat beveel dat ondersoek ingestel word na die regmatigheid van iemand se aanhouding.

[Venster/Prent op bladsy 13]

DIE GROOT HANDVES

Die Magna Carta (Latyn vir “die groot handves”) was eers “Die artikels van die Baronne”. Koning Jan het hierdie dokument van 49 artikels met sy seël bekragtig. Gedurende die volgende paar dae het die ooreenkoms uitgebrei tot 63 artikels, en die koning het die dokument weer bekragtig. In 1217 is dit weer uitgevaardig, maar saam met ’n kleiner handves waarin woudwette uiteengesit is. Van toe af is die artikels Magna Carta genoem.

Die 63 artikels word in nege dele ingedeel, onder meer dié waarin die baronne se griewe uiteengesit word, die hervorming van die wet en die reg en die vryheid van die kerk. Artikel 39, wat die geskiedkundige grondslag van Engelse burgerlike vryhede is, lui soos volg: “Geen vryburger sal gearresteer of opgesluit word nie, of van sy regte of besittings ontneem word nie, of voëlvry verklaar of verban word nie, of sy posisie op enige ander manier verloor nie, en ons sal ook nie met geweld teen hom optree nie, of ander stuur om dit te doen nie, tensy dit deur die regmatige oordeel van sy gelykes is of deur die landswet vereis word.”

[Prent]

Agtergrond: Third revision of Magna Carta

[Erkenning]

By permission of the British Library, 46144 Exemplification of King Henry III’s reissue of Magna Carta 1225

[Prent op bladsy 12]

Koning Jan

[Erkenning]

Uit die boek Illustrated Notes on English Church History (Deel I en II)

[Prent op bladsy 12]

Koning Jan oorhandig sy kroon aan die pous se gesant

[Erkenning]

Uit die boek The History of Protestantism (Deel I)

[Prent op bladsy 13]

Koning Jan vergader met sy baronne en stem in om die Magna Carta te bekragtig, 1215

[Erkenning]

Uit die boek The Story of Liberty, 1878

[Prent op bladsy 14]

Gedenkteken van die Magna Carta in Runnymede, Engeland

[Erkenning]

ABAJ/Stephen Hyde

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Agtergrond bo: By permission of the British Library, Cotton Augustus II 106 Exemplification of King John’s Magna Carta 1215; Koning Jan se seël: Public Record Office, London

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel