Die Hooggeregshof se beslissing ten gunste van vryheid van spraak
DIE GROOT DAG het op 17 Junie 2002 aangebreek, toe die Hooggeregshof sy geskrewe opinies gepubliseer het. Wat was die beslissing? Koerantopskrifte het die uitslag bekend gemaak. The New York Times het berig: “Hof skrap beperking op besoeke deur Jehovah se Getuies.” The Columbus Dispatch van Ohio het gesê: “Hooggeregshof verklaar permitvereiste ongeldig.” The Plain Dealer van Cleveland, Ohio, het eenvoudig gesê: “Werwers het nie goedkeuring van stadsaal nodig nie.” Die meningsblad van die USA Today het gesê: “Vryheid van spraak seëvier.”
Die beslissings van die laerhof teen Jehovah se Getuies is met 8 stemme teen 1 tersyde gestel! Die amptelike Opinie van die Hof wat 18 bladsye lank was, is deur regter John Paul Stevens geskryf. Die beslissing was ’n verreikende herbevestiging van die beskerming wat die Eerste Wysiging die openbare bediening van Jehovah se Getuies bied. In die hersiening het die Hof verduidelik dat die Getuies nie vir ’n permit aansoek gedoen het nie omdat hulle sê dat “die Skrif hulle die gesag gee om te preek”. Toe het die Hof die getuienis aangehaal wat in hulle pleitstuk verskyn het: “Ons meen dat dit as ’t ware ’n belediging vir God sal wees as ons ’n permit van ’n munisipaliteit moet kry om te preek.”
Die Opinie van die Hof het gesê: “Die Hof het reeds meer as 50 jaar lank beperkings op werwingswerk en die verspreiding van pamflette van deur tot deur ongeldig verklaar. Dit is meer as blote toeval dat die meeste van hierdie sake gehandel het oor regte onder die Eerste Wysiging en deur Jehovah se Getuies aanhangig gemaak is, want deur-tot-deur-werwingswerk word deur hulle godsdiens vereis. Soos ons gesien het in Murdock v. Pennsylvania, . . . (1943), sê Jehovah se Getuies dat ‘hulle die voorbeeld van Paulus volg deur “in die openbaar en van huis tot huis” te leer. Handelinge 20:20. Hulle neem die opdrag van die Skrif letterlik op: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” Markus 16:15. Deur dit te doen, glo hulle dat hulle ’n opdrag van God gehoorsaam.’”
Die Opinie het toe weer uit die saak van 1943 aangehaal: “Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie onder die Eerste Wysiging as aanbidding in die kerke en die hou van preke van die kansels af. Dit het dieselfde reg op beskerming as die ortodokser en konvensioneler beoefening van godsdiens.” Die Opinie het uit ’n saak van 1939 aangehaal en gesê: “Om sensuur in te stel deur ’n lisensie te vereis, wat die vrye en onbelemmerde verspreiding van pamflette onmoontlik maak, bedreig die fondamente van die grondwetlike waarborge.”—Hulle kursiveer.
Die Hof het toe ’n betekenisvolle opmerking gemaak: “Die sake toon dat die pogings van Jehovah se Getuies om die regulering van spraak teë te staan nie net ’n stryd om hulle regte was nie.” Die Opinie het verduidelik dat die Getuies “nie die enigste gewone mense is wat moontlik die swye opgelê kan word deur regulasies soos dié van die Dorp nie”.
Die Opinie het vervolgens gesê dat die ordonnansie “’n belediging is—nie net vir die waardes wat deur die Eerste Wysiging beskerm word nie, maar vir die hele konsep van ’n vry gemeenskap—dat ’n burger in die konteks van gewone openbare gesprekvoering eers die owerheid in kennis moet stel dat sy met haar bure wil praat en dan ’n permit moet kry om dit te doen. . . . ’n Wet wat ’n permit vereis om aan sulke gesprekvoering deel te neem, is ’n drastiese afwyking van ons nasionale erfenis en grondwetlike tradisie.” Die Opinie het toe gepraat van “die skadelike uitwerking van so ’n permitvereiste”.
Gevaar van misdade
Wat van die beskouing dat die permit beskerming bied teen inbrekers en ander misdadigers? Die Hof se argument was: “Hoewel ons erken dat hierdie belange geldig is, is dit volgens ons presedent duidelik dat daar ’n balans moet wees tussen hierdie belange en die impak van die regulasies op regte onder die Eerste Wysiging.”
Die Opinie van die Hof het voortgegaan: “Dit lyk onwaarskynlik dat die afwesigheid van ’n permit misdadigers sal keer om aan deure te klop en gesprekke te voer wat nie deur die ordonnansie gedek word nie. Hulle kan byvoorbeeld vra hoe om by ’n plek uit te kom of om die telefoon te gebruik, . . . of hulle kan onder ’n vals naam registreer sonder om vervolg te word.”
Die Hof het terugverwys na beslissings van die 1940’s en geskryf: “Die soort taal wat in die opinies gedurende die era van die Tweede Wêreldoorlog gebruik is en petisionarisse [Wagtoringgenootskap] se medegelowiges gevrywaar het teen kleinlike vervolgings, het getoon watter waarde die Hof heg aan die vryhede onder die Eerste Wysiging en wat by hierdie saak betrokke is.”
Wat was die Hof se beslissing? “Die beslissing van die Appèlhof is tersyde gestel en die saak is terugverwys vir verdere stappe ooreenkomstig hierdie opinie. Op las van die hof.”
Die uiteinde van die saak was dus soos die Chicago Sun-Times dit gestel het: “Hof steun Jehovah se Getuies”, en dit met ’n meerderheid van 8 teen 1.
Wat van die toekoms?
Hoe het Jehovah se Getuies in die nabygeleë Wellsville-gemeente hierdie oorwinning in die Hooggeregshof beskou? Daar is beslis geen rede om ten koste van die inwoners van Stratton daaroor te spog nie. Die Getuies het geen kwade gevoelens teenoor die goeie mense van die dorp nie. Gregory Kuhar, ’n plaaslike Getuie, het gesê: “Ons wou nie werklik hof toe gaan nie. Maar die ordonnansie was eenvoudig verkeerd. Wat ons gedoen het, was nie net vir ons nie, maar vir almal.”
Die feite toon dat die Getuies uit hulle pad gegaan het om nie die plaaslike mense te ontstel nie. Gene Koontz, ’n ander Getuie, het verduidelik: “Die laaste keer wat ons in Stratton getuig het, was op 7 Maart 1998—meer as vier jaar gelede.” Hy het bygevoeg: “Daar is vir my gesê dat ek in hegtenis geneem sou word. Deur die jare het ons baie verslae ontvang waar die polisie ons met inhegtenisname gedreig het. Wanneer ons dan gevra het om die geskrewe ordonnansie te sien, het ons nooit ’n antwoord gekry nie.”
Koontz het verder gesê: “Ons wil graag in vrede met ons bure lewe. As party nie wil hê dat ons hulle besoek nie, respekteer ons daardie besluit. Maar daar is ander wat vriendelik is en dit verwelkom om oor die Bybel te praat.”
Gregory Kuhar het verduidelik: “Ons het nie hierdie saak verder gevoer om met die mense van Stratton te baklei nie. Ons wou eenvoudig wetlike bevestiging van ons vryheid van spraak onder die Grondwet kry.”
Hy het toe gesê: “Ons hoop om uiteindelik na Stratton terug te gaan. Ek sal graag die eerste een wil wees om aan ’n deur te klop wanneer ons teruggaan. Teruggaan, sal ons moet, want dit is wat Christus ons beveel het.”
Die uitslag van “Watchtower v. Village of Stratton” het verreikende gevolge gehad. Nadat verskeie Amerikaanse munisipale amptenare van die Hooggeregshof se beslissing gehoor het, het hulle besef dat plaaslike ordonnansies nie langer gebruik kan word om die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies te beperk nie. Tot op hede is probleme in verband met die huis-tot-huisbediening in ongeveer 90 gemeenskappe in die Verenigde State uit die weg geruim.
[Venster op bladsy 9]
“JEHOVAH SE GETUIES HET DIT WEER GEDOEN”
Charles C. Haynes, senior geleerde en direkteur van opvoedkundige programme by die “Eerste Wysiging”-sentrum het die woorde hierbo in die Vryheidsforum-webwerf geskryf, onder die titel “Vryheid van geloof”. Haynes het verder gesê: “Verlede week het [die Getuies] hulle 48ste oorwinning in die Hooggeregshof behaal—’n uitsonderlike reeks hofsake wat die beskerming van regte vir alle Amerikaners onder die Eerste Wysiging aansienlik uitgebrei het.” Hy het gewaarsku: “Onthou: As die owerheid die vryheid van een geloof kan beperk, het dit die mag om die vryheid van enige of alle gelowe te beperk. . . . Mense het natuurlik die reg om nie te luister nie—en die deur toe te maak. Maar die owerheid moenie die mag hê om te besluit wie aan die deur klop nie. Twee hoera’s vir die Hooggeregshof.”
Haynes het ten slotte gesê: “Ons is almal dank verskuldig aan Jehovah se Getuies. Dit maak nie saak hoeveel keer hulle beledig, uit die dorp uitgejaag of selfs fisies aangeval word nie, hulle hou aan om vir hulle (en dus ons) godsdiensvryheid te veg. En wanneer hulle wen, wen ons almal.”
[Venster/Prente op bladsy 10, 11]
DIE BESLISSING VAN DIE HOOGGEREGSHOF—WAT DIE PERS GESÊ HET
◼ “Hof steun Jehovah se Getuies; geen permit nodig vir deur-tot-deur- bediening nie
In hulle werk om aan deure te klop, het Jehovah se Getuies nog altyd geglo dat hulle God se steun het. Nou het hulle ook die steun van die Amerikaanse Hooggeregshof.”—Chicago Sun-Times, 18 Junie 2002.
◼ “Vryheid van spraak seëvier
Wanneer Jehovah se Getuies weer aan jou deur klop terwyl jy aandete geniet, sal jy hulle dalk wil bedank. Met onwrikbare toegewydheid aan hulle godsdiensbeginsels het hierdie niehoofstroomkerk van nouliks 1 miljoen lede [in die Verenigde State] waarskynlik ’n groter bydrae gelewer as enige ander organisasie om vryheid van spraak vir individuele Amerikaners te verseker. . . .
“Vir die Getuies is dit niks ongewoons om na die hooggeregshof te gaan nie. In meer as 20 hofsake gedurende 65 jaar het hulle geseëvier oor die tirannie van die meerderheid.”—USA TODAY, 18 Junie 2002.
◼ “Deur-tot-deur-werwing ’n grondwetlike reg. Beslissing ’n oorwinning vir Jehovah se Getuies
Die Amerikaanse Hooggeregshof het Maandag beslis dat politici, godsdiensgroepe, die Padvindsters en ander ’n grondwetlike reg het om van deur tot deur te gaan om hulle saak te bevorder sonder om eers toestemming van plaaslike amptenare te kry.”—San Francisco Chronicle, 18 Junie 2002.
◼ “Hooggeregshof: Julle kan nie Jehovah se Getuies en Padvindsters keer om aan deure te klop nie
WASHINGTON—Die Hooggeregshof het vandag beslis dat die Grondwet die reg van sendelinge, politici en ander beskerm om aan deure te klop sonder dat hulle eers toestemming van plaaslike owerhede moet kry. . . .
“Die hof het met 8 stemme teen 1 beslis dat vryheid van spraak onder die Eerste Wysiging die reg insluit om ’n boodskap direk na iemand se deur te neem.”—Star Tribune, Minneapolis, 18 Junie 2002.
[Prent op bladsy 9]
Regter Stevens
[Erkenning]
Stevens: Collection, The Supreme Court Historical Society/Joseph Bailey