’n Rit op die wêreld se langste trolliebusroete
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE OEKRAÏNE
Kan jy vir ’n paar rand iets onvergeetliks beleef? Ja, as jy ’n kaartjie vir ’n rit op die wêreld se langste trolliebusroete koop. Die trolliebus ry omtrent 95 kilometer ver van Simferopol, in die middel van die Krim-skiereiland in die suide van die Oekraïne, na Jalta, aan die sonnige noordelike kus van die Swart See. Kom gerus saam met ons op ’n fassinerende rit.
BY DIE Simferopol-vervoerdienskantore ontmoet ons Slawnji Giorgi Mihailowitsj—wat ons kortweg mnr. Slawnji noem. Hy werk al sedert 1959 hier en weet beslis wat hy doen. Mnr. Slawnji stap eers saam met ons deur die vervoermuseum waar foto’s uitgestal word van die mans en vroue wat hierdie trollieroete gebou het. “’n Trolliebus het nie net ’n teerpad nodig nie”, verduidelik hy. “Konstruksiewerkers het honderde torings opgerig vir die oorhoofse elektriese kabels wat baie kilometers ver strek. Ingenieurs het kragstasies ontwerp om die elektrisiteit te voorsien.”
“Waarom gebruik julle elektriese trolliebusse op so ’n lang bergagtige roete en nie brandstofaangedrewe busse nie?” wil ons weet.
“Trolliebusse is skoner as brandstofaangedrewe busse”, sê hy. “Ons het ons erfenis van ongerepte berge en onbesoedelde kuslyne beskerm.”
“Maar kan ’n paar busse werklik soveel skade aanrig?” vra ons.
“’n Paar busse!” roep hy uit. “Toe trolliebusse ’n paar jaar gelede baie gewild was, het hulle gedurende die somer elke twee tot drie minute vertrek en altesaam 400 ritte per dag gedoen.”
Met dit in gedagte is ons gretig om met ons rit te begin.
Die reis begin
Ons vertrekpunt is die Simferopol-sentraalstasie. Tientalle elektriese kabels lyk soos ’n silwer web bo ons koppe. Ons gaan na die kaartjieskantoor en koop ons kaartjies. Dan klim ons op trolliebus Nr. 52. En weg is ons!
Ná 29 kilometer begin die steil pad deur die berge. Ons is kort voor lank in die koue skaduwees van die toringhoë wolkekrabbers van die natuur. Steil hange, wat met loof- en immergroenbome bedek is, strek na onder tot by sneeubedekte valleie. Wanneer ons die hoogste punt bereik, laat die asemrowende gesig wat onder ons lê, ons na ons asem snak. Voor ons kronkel die pad afwaarts tot by die horison. Die trolliebus se kragtige remme keer dat ons te vinnig spoed optel. Ons bestuurder bring ons veilig tot onder!
Aan die voet van die berg gaan ons die dorp Aloesjta binne, dan draai ons regs en ry ons suid al met die kuspad langs. Links van ons trolliebus lê die Swart See. Aan die regterkant vorm die majestueuse Krimgebergte ’n beskermende muur.
’n Entjie verder aan met die pad, in die buitewyke van die dorpie Poesjkino, sien ons die Beerberg. Die plaaslike inwoners se weergawe van die legende is dat ’n reusebeer in klip verander het toe hy die Swart See probeer leegdrink het. Hulle sê dat sy kop nog steeds onder die water is en dat hy nog lank sal drink. Ek vra my af: ‘Waarom sê die dorpenaars nie dat die beer in die water geval het omdat hy te veel wyn gedrink het nie? Ons het dan verby so baie wingerde gery.’ Dit is wynland dié, en die Massandra-wingerd, wat al internasionale kompetisies gewen het, word hier gevind.
Daarna klim ons in die dorpie Nikita by die Nikitski- Botaniese Tuin van die trolliebus af. Die tuin is waarlik internasionaal en bevat duisende plante uit alle wêrelddele. Saam met ons goed ingeligte gids, Tamara, geniet ons die geur van die groot immergroen bome naby die ingang. “Dit is seders van Libanon”, verduidelik sy. “Salomo het sy tempel met hierdie statige bome gebou.” Ons gids is reg, want die Bybel sê dat seders op groot skaal gebruik is in daardie yslike bouprojek wat deur Salomo aangepak is.—1 Konings 5:6-18.
Terwyl ons al met die goed gebruikte gruispaadjies langs stap, sien ons ’n bedding doringrige struike. “Dit is rose”, sê Tamara. “Daar is 200 soorte in die tuin, en einde Mei en begin Junie is hulle in volle bloei.” Later staan ons voor ’n onopvallende struik wat omtrent twee en ’n half meter hoog is. “Dit is die parrotia”, sê Tamara, en dit is duidelik dat sy beïndruk is met dié struik. “Die harde hout, ’n plaasvervanger vir metaal, kan soos ’n staalspyker in iets ingeslaan word. Dit sink selfs in water.” Kort voor lank kom daar ’n trolliebus, en ons is bly om weer te kan sit en ons moeë bene te laat rus gedurende die kort rit na Jalta, die trolliebus se laaste stilhouplek. Baie mense onthou Jalta hoofsaaklik weens die geskiedkundige konferensie wat in 1945 tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Liwadia-paleis gehou is. By hierdie konferensie het die hoofde van die drie vernaamste Geallieerde State byeengekom om die laaste aanval op Nazi-Duitsland en die besetting daarvan te beplan.
Die terugreis
Dit word skemer, en dit is tyd om weer op ’n trolliebus te klim om huis toe te gaan. Al langs die pad verkoop kinders verskillende bosse blomme. Ons klim gou af om ’n bos blomme te koop en word dadelik deur ’n groep gretige, jong blommeverkopers omring. “Wat is hierdie pêrelwit blomme?” vra ek Jana, ’n 15-jarige rooikopmeisie. “Sneeuklokkies”, antwoord sy trots. Sy beduie met haar kop na die heuwel oorkant die pad en voeg by: “Ons pluk dit vroeg in die oggend op daardie hang wanneer die sneeu begin smelt.”
Ons is gou weer op die trolliebus en ry skommelend voort na ons eindbestemming. Soos kinders wat vir die eerste keer op ’n tuimeltrein gery het, wil ons teruggaan en dit alles weer beleef!
[Kaarte op bladsy 22, 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DIE OEKRAÏNE
KRIM
Swart See
SIMFEROPOL
↓ Tjsatir-Dag- berg
Aloesjta
↓
Poesjkino
↓ Beer-berg
Nikita
↓ Massandra
Jalta
Liwadia
Ai Petri-berg
Aloepka
[Prent op bladsy 23]
Ai Petri-berg
[Prente op bladsy 23]
Worontsof-paleis, Aloepka
[Prent op bladsy 23]
Marmergrot, Tjsatir-Dag-berg
[Prent op bladsy 23]
Beerberg
[Prent op bladsy 24]
‘Swaelnes’-kasteel, Jalta
[Prent op bladsy 24]
Massandra-wynkelder, Jalta, met bottels sjerrie van 1775
[Prent op bladsy 24]
Oetsjansoe-waterval, Jalta, wat meer as 95 meter hoog is, die hoogste in die Krim
[Prent op bladsy 24]
Geskiedkundige Liwadia-paleis, Jalta