Gaan waardes agteruit?
VAN die grootste geskenke wat ouers hulle kinders kan gee, is onvoorwaardelike liefde en ’n stel waardes, wat die ouers naleef en nie net oor praat nie.
Sonder behoorlike waardes is die lewe weinig meer as ’n moeilike stryd om oorlewing. Waardes maak die lewe betekenisvol. Dit bepaal wat belangrik is. Dit stel sedelike grense vas en omskryf gedragsreëls.
Nietemin is talle tradisionele waardes vinnig aan die verander. Professor Ronald Inglehart sê byvoorbeeld dat die “samelewing neig na die aanvaarding van seksuele norme wat meer vryheid bied vir die individu se seksuele bevrediging en selfuitlewing”. In ’n Gallup-opname wat in 1997 in 16 lande gedoen is, is inwoners gevra of buite-egtelike geboortes na hulle mening sedelik reg of verkeerd is. Die Gallup-verslag sê: “Aanvaarding van hierdie moderne lewenswyse wissel van 90% of meer in dele van Wes-Europa tot minder as 15% in Singapoer en Indië.”
Party het hierdie nuwe seksuele vryheid verwelkom. Maar The Rise of Government and the Decline of Morality, deur James A. Dorn, verwys na “die hoë voorkoms van buite-egtelike geboortes” en “die verbrokkeling van gesinne” as “duidelike tekens van sedelike verval”.
Ander waardes wat agteruitgaan
Ander tradisionele waardes het ook baie agteruitgegaan. Die Wêreldopname oor Waardes, onder leiding van professor Inglehart, toon dat “respek vir gesag aan die afneem is” in nywerheidslande.
Nog ’n tradisionele waarde was ’n goeie werketiek. Daar is egter aanduidings dat dit ook agteruitgaan. In die Verenigde State het die Nasionale Federasie van Onafhanklike Sakeondernemings met meer as ’n halfmiljoen werkgewers onderhoude gevoer. “Een-en-dertig persent van dié wat ondervra is, het gesê dat dit moeilik is om poste te vul, en 21 persent het gesê dat die gehalte van mense se werk oor die algemeen swak is.” Een werkgewer sê: “Dit word al hoe moeiliker om werkers te vind wat meer as een dag werk toe kom, betyds opdaag en nugter is.”
Ekonomiese kragte sit moontlik agter hierdie afwaartse neiging. Werkgewers dank werkers af of kort sekere voordele in wanneer winste daal. Die tydskrif Ethics & Behavior sê: “Wanneer daar so ’n gebrek aan lojaliteit en toegewydheid is, begin werkers ’n ooreenstemmende negatiewe gesindheid teenoor hulle werkgewers openbaar. Die werker is nie daartoe verbind om hard te werk nie, want môre het hy dalk nie meer sy werk nie.”
Nog ’n gebied waarop waardes aansienlik agteruitgegaan het, is maniere en beleefdheid. ’n Opname in Australië het bevind: “Meer as 87,7% van die werknemers het gesê [dat] slegte maniere op kantoor die moraal van die personeel ondermyn.” In ’n Amerikaanse opname onder beroepsmense “het tagtig persent van die respondente gesê dat onbeskoftheid in die sakewêreld toeneem”. Volgens die CNN-nuusagentskap “het swak klantediens so algemeen geword dat byna die helfte van dié wat ondervra is, gesê het dat hulle in die afgelope jaar as gevolg daarvan uit ’n winkel gestap het. Die helfte het gesê dat hulle dikwels mense sien wat op ’n luidrugtige en steurende manier oor hulle selfoon praat. En ses uit 10 motorbestuurders het gesê dat hulle gereeld sien hoe ander mense aggressief of roekeloos bestuur.”
Hoeveel is menselewe werd?
In party gevalle sê mense dat hulle sekere “waardes” aangeneem het, maar hulle woorde stem nie noodwendig met hulle dade ooreen nie. Die Instituut vir Wêreldetiek het byvoorbeeld verteenwoordigers uit 40 lande ondervra. Veertig persent het “respek vir die lewe” as een van die “belangrikste” vyf waardes gekies.a
Maar wat gebeur in die praktyk? Nywerheidslande beskik beslis oor die hulpbronne om ’n einde aan baie van die menselyding te maak. Maar ’n boek wat deur Carol Bellamy, uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies-kinderfonds, geskryf is, het in 1998 gesê dat wanvoeding “’n rol speel in meer as die helfte van die byna 12 miljoen sterftes per jaar onder kinders jonger as vyf in ontwikkelende lande, ’n verhouding wat nog nie geëwenaar is sedert die Swart Dood Europa in die 14de eeu geteister het nie”. Sulke verslae is ontstellend vir enigiemand wat menselewe as kosbaar beskou. “Nogtans”, sê Bellamy, “het die wêreldwye krisis van wanvoeding min openbare besorgdheid gewek, ondanks wesenlike en toenemende wetenskaplike bewyse van die gevaar. Daar word meer aandag geskenk aan die skommelinge op die wêreld se effektebeurse as aan die uiters vernietigende potensiaal van wanvoeding—of aan die ewe groot voordele van gesonde voeding.”
’n Verbasend verwronge beskouing van die lewe kan in die mediese gemeenskap gesien word. Nog in die vroeë 1970’s het ’n baba wat ná net 23 weke in die baarmoeder gebore is, feitlik geen kans op oorlewing gehad nie. Vandag kan tot 40 persent van sulke vroeggebore babas dit oorlewe. Hoe ironies is dit tog in die lig hiervan dat daar elke jaar wêreldwyd sowat 40 tot 60 miljoen aborsies uitgevoer word! Die meeste van hierdie fetusse wat afgedryf word, is net ’n paar weke jonger as die vroeggebore babas wat dokters so hard probeer om aan die lewe te hou! Toon die bogenoemde nie dat daar groot sedelike verwarring heers nie?
’n Sedelike kompas is nodig
Toe die Gallup-organisasie mense gevra het: “Wat is vir jou van die minste belang in die lewe?” het die meeste “getrouheid aan my godsdiens” as een van die twee onbelangrikste dinge gekies. Dit is dus nie verbasend dat kerkbywoning aanhou daal nie. Professor Inglehart meen dat die voorspoed van Westerse lande “gelei het tot ’n ongekende gevoel van veiligheid” en dat “daar dus nou ’n kleiner behoefte is aan die versekering wat godsdiens tradisioneel gebied het”.
Wanneer vertroue in georganiseerde godsdiens afneem, neem vertroue in die Bybel ook af. In een internasionale opname is respondente gevra op wie of wat hulle staatmaak as hulle wil weet wat sedelik reg is. Die oorgrote meerderheid het persoonlike ondervinding genoem. “In die tweede plek, maar ver agter, was God se woord”, sê die opnameverslag.
Dit is geen wonder dat waardes agteruitgaan nie! ’n Gebrek aan ’n sedelike kompas, tesame met ’n al hoe groter klem op materialistiese doelwitte en selfsugtige individualisme, het ’n kultuur van hebsug en onverskilligheid teenoor ander se gevoelens bevorder. Watter belangrike dinge het verlore gegaan as gevolg van hierdie veranderinge?
[Voetnoot]
a Die Verenigde Nasies het meer as 50 jaar gelede die Universele Verklaring van Menseregte aangeneem. Artikel 1 van daardie Verklaring lui: “Alle mense word vry gebore en het gelyke waardigheid en regte.”
[Prente op bladsy 4, 5]
Gesinsverbrokkeling, ’n swak werketiek en ’n gebrek aan dissipline is kenmerkend van die hedendaagse agteruitgang in waardes
[Prent op bladsy 6]
Miljoene babas, wat net ’n paar weke jonger is as hierdie vroeggebore baba, word elke jaar afgedryf