Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 2/22 bl. 18-20
  • Hoe kan ek my emosies beheers?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek my emosies beheers?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Uitdaging vir jongmense
  • Hoe om jou emosies te beheers
  • Vertraag jou toorn
  • Ander praktiese stappe
  • Negatiewe emosies—Kan jy dit te bowe kom?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe kan jy jou emosies beheers?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wat sê die Bybel oor woede?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Laat selfbeheersing in julle bestaan en oorvloedig wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 2/22 bl. 18-20

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek my emosies beheers?

“Ek word kwaad vir my ouers en sê dinge wat ek nie bedoel nie. Dan vermy ek hulle totdat ek beter voel.”—Kate, 13 jaar oud.

“Onsekerheid is my grootste struikelblok. Soms voel dit asof ek innerlik doodgaan.”—Ivan, 19 jaar oud.

EMOSIES is kragtig. Dit beïnvloed die manier waarop jy dink en optree. Dit kan jou motiveer om goed of kwaad te doen. By tye kan jy selfs voel asof dit jou oorweldig. “Ek voel omtrent nooit dat ek goed genoeg is nie”, sê die 20-jarige Jacob. “Ek voldoen dikwels nie aan my eie verwagtinge nie. Soms huil ek net, of ek raak so kwaad dat ek dit op diegene om my uithaal. Dit is moeilik om my gevoelens te beheers.”

Om ’n ryp, verantwoordelike volwassene te word, behels egter dat ’n mens leer om jou emosies te beheers. Party deskundiges meen nou dat die vermoë om dit te doen en met ander mense oor die weg te kom, belangriker is as intelligensie. Hoe dit ook al sy, die Bybel toon dat dit baie belangrik is om jou gevoelens te beheers. Spreuke 25:28 sê byvoorbeeld: “As jy nie jou woede kan beheers nie, is jy so hulpeloos soos ’n stad sonder mure, weerloos” (Today’s English Version). Waarom is dit so moeilik om ’n mens se gevoelens in toom te hou?

’n Uitdaging vir jongmense

Mense van alle ouderdomme en agtergronde voer ’n stryd om hulle emosies te beheers. Maar die stryd kan veral moeilik wees wanneer ’n mens van adolessensie na volwassenheid oorgaan. Die boek Changing Bodies, Changing Lives deur Ruth Bell, sê: “Die meeste tieners ondervind ’n warboel van dol, vreugdevolle, skrikwekkende, deurmekaar emosies. Baie mense het verskillende gevoelens op dieselfde tyd oor dieselfde dinge. . . . Die een oomblik het jy sekere gevoelens oor iets, en die volgende oomblik voel jy dalk net die teenoorgestelde.”

As ’n jongmens is jy ook onervare (Spreuke 1:4). Wanneer jy dus vir die eerste keer voor nuwe situasies en uitdagings te staan kom, is dit net natuurlik om ietwat onseker en miskien oorweldig te voel. Gelukkig verstaan jou Skepper jou gevoelens goed. Hy ken selfs jou “verontrustende gedagtes” (Psalm 139:23). In sy Woord het hy beginsels uiteengesit wat jou kan help.

Hoe om jou emosies te beheers

Iets wat jou sal help om jou emosies te beheers, is om te leer om jou gedagtes te beheers. Negatiewe gedagtes kan jou van die krag beroof wat jy nodig het om op te tree (Spreuke 24:10). Maar hoe kan jy leer om positief te dink en sodoende gehelp word om jou emosies in toom te hou?

Een manier is om te weier om oor negatiewe dinge te tob wat jou depressief of onseker laat voel. As jy ag slaan op die Bybel se raad en fokus op dinge wat “van ernstige belang” en “regverdig” is, kan jy negatiewe gedagtes met positiewe gedagtes vervang (Filippense 4:8). Dit is dalk nie maklik nie, maar met inspanning kan jy dit doen.

Neem die voorbeeld van ’n jong vrou met die naam Jasmine. “Ek voel so oorweldig deur alles”, het sy eenkeer gekla. “’n Nuwe werk, nuwe verantwoordelikhede. Ek is emosioneel gedaan. Ek sukkel om asem te haal.” Dit is nie verbasend dat ’n jongmens soms so voel nie, en dit kan tot gevoelens van onsekerheid lei. Die Bybel vertel ons van die jong man Timoteus wat uiters bekwaam was om die verantwoordelikhede wat hy ontvang het, na te kom. Tog lyk dit of hy moes stry teen gevoelens van onbekwaamheid.—1 Timoteus 4:11-16; 2 Timoteus 1:6, 7.

Jy sal moontlik onseker van jouself voel wanneer jy ’n nuwe of onbekende taak moet verrig. ‘Ek sal dit nooit kan doen nie’, sê jy dalk vir jouself. Maar jy kan hierdie gevoelens van onsekerheid beheers deur te weier om oor negatiewe dinge te tob. Lê jou daarop toe om die taak goed te leer doen. Vra vrae en volg riglyne.—Spreuke 1:5, 7.

Hoe meer bedrewe jy in ’n taak word, hoe sekerder sal jy van jouself voel. Moenie oor jou swakhede tob en toelaat dat dit jou van die krag beroof wat jy nodig het om te verbeter nie. Eenkeer toe die apostel Paulus gekritiseer is, het hy geantwoord: “Selfs al is ek onbedrewe in spraak, is ek beslis nie in kennis nie” (2 Korintiërs 10:10; 11:6). Net so kan jy jou selfvertroue opbou deur jou sterk punte te erken en jou tot God te wend vir hulp om jou swakhede te oorkom. God kan jou werklik help, soos hy mense in die verlede gehelp het.—Eksodus 4:10.

Nog iets wat jou kan help om jou emosies te beheers, is om beskeie, realistiese doelwitte te stel en jou beperkings te aanvaar. Moet jou ook nie ongunstig met ander vergelyk nie. In Galasiërs 6:4 gee die Bybel goeie raad wanneer dit sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”

Vertraag jou toorn

Om jou woede te beteuel, kan nog ’n moeilike uitdaging wees. Soos met Kate, wat aan die begin genoem is, laat woede baie jongmense dinge sê en doen wat venynig of afbrekend is.

Ja, dit is normaal om soms kwaad te word. Maar dink aan die eerste moordenaar, Kain. Toe hy “baie kwaad” geword het, het God hom gewaarsku dat woede tot ernstige sonde kan lei. Hy het Kain gevra: “Sal jý die oorhand [oor sonde] kry?” (Genesis 4:5-7). Kain het nie op hierdie goddelike raad ag geslaan nie, maar met God se hulp kan jy jou woede beheers en sonde vermy!

Dit kom weer eens daarop neer dat jy jou gedagtes moet beheers. In Spreuke 19:11 sê die Bybel: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien.” Wanneer iemand jou ontstel, moet jy probeer verstaan waarom hy of sy so opgetree het. Het daardie persoon jou doelbewus probeer seermaak? Het hy of sy dit dalk impulsief of uit onkunde gedoen? As jy toegewings maak vir ander se foute, weerspieël jy God se barmhartigheid, en dit kan help om jou toorn te vertraag.

Maar gestel jy het rede om kwaad te wees. Die Skrif sê: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie” (Efesiërs 4:26). Praat met die persoon, indien nodig (Matteus 5:23, 24). Of dalk sal dit die beste wees om die saak eenvoudig daar te laat—laat vaar jou woede en gaan voort met jou lewe.

Interessant genoeg, jou vriende kan ’n invloed hê op hoe jy woede hanteer. Daarom sê die Bybel: “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie, sodat jy nie met sy paaie vertroud raak en beslis ’n strik vir jou siel span nie.”—Spreuke 22:24, 25.

As jy met mense omgaan wat hulle inspan om hulle woede te beteuel, kan dit jou ook help om selfbeheersing aan te kweek. In die Christengemeentes van Jehovah se Getuies is daar talle van hierdie ryp mense, waarvan baie ouer en meer ervare as jy is. Leer party van hulle ken. Kyk hoe hulle probleme hanteer. Hulle sal jou dalk ook “bekwame leiding” kan gee wanneer jy voor probleme te staan kom (Spreuke 24:6). Jacob, wat vroeër aangehaal is, sê: “’n Volwasse vriend wat my aan God se Woord kan herinner, is kosbaar. Wanneer ek onthou dat Jehovah my ondanks my onsekerheid liefhet, laat dit my in beheer voel en kan ek kalm bly.”

Ander praktiese stappe

’n Gewilde boek oor liggaamlike oefening sê: “Tallose studies het getoon dat die manier waarop jy jou liggaam beweeg, jou gemoedstemming deur middel van jou biochemie beïnvloed. Hormone en suurstofvlakke verander na gelang van die bewegings wat jy maak.” Daar bestaan geen twyfel dat liggaamlike oefening voordelig is nie. Die Bybel sê vir ons: “Liggaamlike oefening het ’n bietjie waarde” (1 Timoteus 4:8, Today’s English Version). Begin gerus met ’n matige oefenroetine. Dit kan ’n goeie uitwerking hê op hoe jy voel. Dit kan ook voordelig wees om ’n gesonde dieet te volg.

Let ook op na jou keuse van musiek en vermaak. ’n Studie wat in The Harvard Mental Health Letter gepubliseer is, het gesê: “Wanneer ’n mens na geweld kyk, . . . wek dit gewoonlik gevoelens van woede en aggressie. . . . Mense wat na gewelddadige rolprente kyk, het aan aggressiewer dinge gedink en hulle bloeddruk het gestyg.” Neem dus verstandige besluite wanneer dit kom by dit waarna jy luister en kyk.—Psalm 1:1-3; 1 Korintiërs 15:33.

Uiteindelik is ’n hegte vriendskap met jou Skepper die beste manier om te leer om jou emosies te beheers. Hy nooi elkeen van ons om in gebed met hom te praat, om uiting te gee aan ons gevoelens en emosies. “Moet julle oor niks kwel nie”, het die apostel Paulus ons aangespoor. ‘Laat julle danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns bewaak.’ Ja, jy kan die innerlike krag opbou om enige situasie in die lewe te hanteer. Die apostel Paulus het bygevoeg: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:6, 7, 13.

Jong Malika sê: “Ek het geleer om voortdurend te bid. Die wete dat Jehovah omgee, help my om kalm te voel en my emosies beter te beheers.” Met God se hulp kan jy ook leer om jou emosies te beheers.

[Lokteks op bladsy 19]

Iets wat jou sal help om jou emosies te beheers, is om te leer om jou gedagtes te beheers

[Prent op bladsy 20]

Assosiasie met ouer mense kan jou leer om jou gevoelens te beheers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel