Vlerkskulpe—Pure eilandplesier
Deur Ontwaak!-medewerker in die Bahamas
“Vier vlerkskulphappies!” “Een gebraaide vlerkskulp en twee vlerkskulpslaaie!”
Dit is tipiese bestellings van honger klante by plaaslike kitskosrestaurante hier in die Bahamas. Die lekker geur van gebraaide vlerkskulp meng met die souterige lug en wek ’n mens se eetlus. Maar wat is vlerkskulpe nou eintlik?
VLERKSKULPE is eenkleppige seeweekdiere, of seeslakke, en die woord vlerkskulp verwys na die skulp sowel as na die dier. Dit behoort aan die genus Strombus of Cassis. Die soort wat veral as kos geniet word, is die koningvlerkskulp. Sy Latynse naam is Strombus gigas, en hy word hoofsaaklik in die warm see tussen Florida en Brasilië aangetref. Die koningvlerkskulp het ’n groot spiraalvormige skulp met ’n wye, oop lip, en die volwasse dier word tussen 20 en 25 sentimeter lank.
Hoe hulle gevang en gebruik word
Basil onthou hoe hy as ’n kind saam met sy vader op ’n boot uitgegaan het op soek na vlerkskulpe. “My pa het ’n groot tregtervormige emmer gebruik met glas aan die wye kant, sowel as ’n lang paal met twee hake aan sy punt. Hy het die emmer met die glasboom in die water gesit sodat hy daardeur kon kyk om die vlerkskulpe te vind. Terwyl hy die emmer in die een hand gehou het, het hy die ander hand gebruik om die vlerkskulpe met die paal te haak en tot in die boot te trek.”
Vandag is dit algemeen om eenvoudig af te duik en die vlerkskulpe met die hand uit te haal. Wanneer ’n duiker in dieper water duik, sal hy dalk ’n snorkel gebruik of as hy ’n permit het, ’n lugpomp.
Om die vlerkskulp uit te trek, word ’n gat in die voet van die skulp gemaak. ’n Mes word dan in die gat gesteek om die vlerkskulp na die opening van die skulp te stoot sodat dit uitgetrek kan word. Die vlerkskulp het vier hoofdele: die kop, die interne organe, die mantel en die spiervoet. Aan die voet is daar ’n bruin horingagtige plaat, of operkulum. ’n Taai vel bedek die voet, die deel wat geëet word. Die vel en ander oneetbare dele word weggesny, en net die smaaklike, wit vleis bly agter.
Vlerkskulpe is ’n uitstekende bron van proteïen. Daar word nog steeds groot geneeskundige waarde daaraan geheg. Baie mense vertel van ’n verbasende verbetering in hulle gesondheid nadat hulle baie vlerkskulp by hulle dieet ingesluit het.
Vandag is daar ’n florerende vlerkskulpjuweelbedryf. Die skulp met sy pienk lip is pragtig en baie gewild onder skulpversamelaars. Maar dit word meestal gebruik om heerlike kos van te maak. Oor die jare heen het innoverende kokke met verskillende smaaklike resepte vorendag gekom om hierdie lekkerny voor te berei.
Watertandlekker
In die dae voordat yskaste hier algemeen was, is vlerkskulp gepreserveer deur dit te droog. Eerstens is dit sag gemaak deur dit met ’n hamer te slaan. Daarna is die vleis ’n paar dae lank in die son gehang om te droog. Voordat dit gaargemaak is, is die vleis ’n paar uur in water geweek om dit sag te maak. Baie geniet nog steeds die smaak van vlerkskulp wat op hierdie manier gepreserveer is.
Iets waarvan plaaslike inwoners sowel as besoekers baie hou, is vlerkskulpslaai, wat ook vlerkskulpsoesji genoem kan word. Ja, die vlerkskulp word rou geëet. Die vleis word uit die skulp gesny en klein stukkies word saam met seldery, groen soetrissies, brandrissies, uie en tamaties gemeng. Sout, vars suurlemoen en lemoensap word bygevoeg. As jy gril vir die gedagte om rou seekos te eet, is daar baie resepte waarin vlerkskulp gaargemaak word. Maar onthou, wanneer ’n mens vlerkskulp voorberei, moet jy dit eers met ’n hamer sag maak. As jy dit nie doen nie, sal dit taai en rubberig wees.
Vlerkskulp kan gestoom, gestoof, gedroog, gerooster, bros gebraai, as burgers bedien, in rys of sop gekook word—die lys is eindeloos. Vlerkskulpkoekies en -sop word dikwels as voorgeregte bedien. Basiese resepte om hierdie geregte voor te berei, is van een geslag na die volgende oorgedra. Wanneer jy dus die pragtige eilande van die Bahamas besoek, moet jy nie huis toe gaan sonder om vlerkskulp te probeer nie. Dit is werklik pure eilandplesier.
[Venster/Prent op bladsy 23]
Brosgebraaide vlerkskulp (In foto heel onder)
Sandra, ’n plaaslike vrou, beskryf hoe sy heerlike brosgebraaide vlerkskulp vir haar gesin voorberei: “Eerstens moet die vlerkskulp behoorlik saggemaak word. Bedek dit dan met meel waarin sout en peper gemeng is, en doop dit in eierbeslag. Braai die vlerkskulp in warm olie totdat dit goudbruin is. Dreineer dit op papierhanddoeke en voeg suurlemoensap by.”
Vlerkskulp wat op hierdie manier voorberei is, word gewoonlik saam met aartappelskyfies en baie tamatiesous bedien, of saam met ertjies en rys. Dit kan ook met tartaresous geëet word. Gevriesde vlerkskulp word dikwels uitgevoer, en daarom sal jy dit dalk vind waar jy woon. Probeer dit gerus. Wie weet, miskien hou jy daarvan.
[Prente op bladsy 23]
Kloksgewys: Koningvlerkskulp; vlerkskulpvisserman wat ’n emmer met ’n glasboom en paal gebruik; die vlerkskulp word uitgetrek; vlerkskulpsop; vlerkskulpslaai; vlerkskulpkoekies; gebraaide vlerkskulp met meelpiesang en kassawe