Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 1/22 bl. 24-27
  • Juwele op die strand

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Juwele op die strand
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die groot buikpotiges
  • Groeiproses en voedingswyse
  • Skulpe wat glimlag
  • Kleiner maar mooi
  • Gapermossels, kammossels en ander tweekleppiges
  • Die weekdier se unieke kenmerk
  • Die weekdier se skulp
    Ontwaak!—2009
  • Die miniatuurskatte van Nihau
    Ontwaak!—2008
  • Die vorm van die skulp
    Ontwaak!—2017
  • Die wonder van die volstruiseier
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 1/22 bl. 24-27

Juwele op die strand

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NICARAGUA

HET jy al ooit die opwinding ervaar wat ’n mens voel wanneer jy ’n fassinerende skulp op die sand sien blink? Dan is jy nie die enigste een nie. Mense van alle ouderdomme waardeer skulpe weens hulle groot verskeidenheid en besondere prag.

Skulpe kan op feitlik alle strande in die wêreld gevind word. Maar ’n skulp is nie net iets moois om op te tel en te bewonder nie. Elke skulp was voorheen die huis van die skeletlose dier wat dit gebou het—’n weekdier. Volgens konserwatiewe ramings bestaan daar vandag meer as 50 000 spesies weekdiere!

Die skulpe wat in hierdie artikel bespreek word, kan almal op Nicaragua se kus aan die Stille Oseaan gevind word. Ek het baie daarvan op ’n drie kilometer lange strand opgetel wat Poneloya en Las Peñitas genoem word. Ander is deur plaaslike vissermanne aan my gegee. Laat my asseblief toe om vir jou van party van hierdie skulpe te vertel, asook van die seediere wat hulle gemaak het.

Die groot buikpotiges

Die meeste skulpe word gemaak deur weekdiere wat tot twee hoofklasse behoort: Gastropoda (buikpotige weekdiere) en Bivalvia (tweekleppige weekdiere). Buikpotiges, wat alle soorte slakke insluit, het ’n kop wat gewoonlik voelhorings en oë het. Hierdie weekdiere beweeg met behulp van ’n enkele vlesige voet. Daarom word hulle buikpotiges genoem.

Hoe haal buikpotiges asem en hoe eet hulle? Talle seespesies haal asem deur ’n sifon, dit wil sê ’n buisvormige orgaan op hulle kop. Die sifon stel hulle in staat om water deur hulle kieue op te suig. Party buikpotiges het ’n proboskis, ’n bykomende buisvormige orgaan wat vir voedingsdoeleindes gebruik word. Baie buikpotiges het ook ’n raspertong—’n horingagtige struktuur met klein, harde tandjies. Dit werk soos ’n rasper om die weekdier se voedsel stukkend te skeur. Alle buikpotiges het ’n senuweestelsel, ’n bloedvatstelsel, ’n spysverteringstelsel en voortplantingsorgane.

Hoe weet jy of ’n skulp deur ’n buikpotige gemaak is? Hulle skulpe bestaan uit een stuk en is gewoonlik spiraalvormig. Die purperslak-, karba-, kourie-, konus- en toringskulp word almal deur buikpotiges gemaak. Kom ons beskou party van hierdie juwele van nader.

Groeiproses en voedingswyse

Purperslakskulpe uit alle wêrelddele het gewoonlik ingewikkelde vorms. Ek het twee spesies gevind, die pragtige pienk en bruin koninklike purperslak en die wortelpurperslak, wat net so mooi is. Waar kom hulle stekelrige randjies vandaan? Weekdiere vorm randjies, wat varikse genoem word, gedurende die tye dat die skulp stadig groei. Tussen die randjies kan die deel van die skulp gesien word wat gevorm is toe dit vinnig gegroei het. Die boek Shells—Treasures of the Sea verduidelik: “Dit gebruik soveel energie om nuwe skulpmateriaal te vorm dat baie buikpotiges hulle metabolisme vertraag en ’n ruk lank onbedrywig word sodat meer energie gebruik kan word om die skulp vinnig te laat groei. Die dier sal homself gewoonlik begrawe of sal op ’n ander manier wegkruip sodat hy nie deur roofvyande gesteur word nie. . . . Die stadium waarin die weekdier vinnig groei, kan van ’n paar dae tot etlike weke duur, afhangende van watter spesie weekdier dit is.”

Die purperslak is ’n gedugte roofdier. Soms wanneer ek skulpe bymekaargemaak het, het ek gewonder waarom daar ’n koeëlronde gaatjie in party skulpe geboor is. Ek het later uitgevind dat die purperslak een van etlike weekdiere is wat met behulp van sy rasperagtige tande ’n gaatjie in die skulp van sy prooi kan boor. Dan steek die purperslak sy proboskis deur die gat en geniet sy maaltyd!

Dit was vir my fassinerend om uit te vind dat die Bybel indirek na die purperslak verwys. Twee spesies wat algemeen in die Middellandse See voorkom, Murex trunculus en Murex brandaris, was die bron van ’n duur pers kleurstof wat in Bybeltye gebruik is om materiaal te kleur (Ester 8:15; Lukas 16:19). ’n Klier van die purperslak produseer ’n gelerige vloeistof wat donkerpers of rooipers word wanneer dit aan die lug of sonlig blootgestel word. Aangesien elke purperslak net ’n klein bietjie vloeistof produseer, is daar geskat dat dit omtrent 12 000 purperslakke sou neem om een en ’n half gram kleurstof te maak. Geen wonder dat net die rykes Tiriese purper, soos die kleurstof bekend gestaan het, kon bekostig nie!a

Skulpe wat glimlag

Ek het ook ’n spesie karbaskulpe versamel, die glimlaggende karbaskulp. Karbaskulpe kan wêreldwyd gevind word, aangesien hulle larwes weke of selfs maande lank kan ronddryf voordat dit na die seebodem afsak om verder te ontwikkel. Jy merk onmiddellik die mooi, breë riwwe op wat om die skulp loop, sowel as die spesiale kenmerk van die glimlaggende karbaskulp—sy dik lip wat deur tande versterk word. Hierdie lip beskerm vermoedelik die heerlike slak binne-in die skulp sodat hy nie deur honger krappe geëet word nie.

My versameling sluit treffende eksemplare van onvolwasse sowel as volwasse kroonskulpe in, wat so genoem word weens hulle stekelrige “kroon”. Ek het ook ’n onvolwasse tritonskulp, ’n spesie wat tot 15 sentimeter lank kan word, sowel as ’n Pleuroploca princeps, wat veral gesog is weens sy buitengewone oranje kleur. Sulke groot diepwaterskulpe spoel selde op strande uit. Hierdie pragtige eksemplare is van dié wat vissersvriende, wat dit in hulle nette of kreefmandjies gevang het, vir my gegee het. Hulle het die vleis vir voedsel gehou en was gaaf genoeg om die pragtige skulpe vir my te gee.

Kleiner maar mooi

Op dae wanneer die gety ’n lang strook skulpe op die strand agterlaat, kan ’n mens talle interessante kleiner skulpe van buikpotiges op die sand vind. Dit sluit in talle mooi soorte—kourieskulpe, konusskulpe, olyfskulpe, awegaarskulpe, sonwyserskulpe, maanskulpe en toringskulpe. Aangesien daar soveel spesies in die wêreld is, lê party versamelaars hulle daarop toe om skulpe van net een groep te versamel. Daar is byvoorbeeld meer as 500 spesies konusskulpe alleen!

Een van die mooiste kenmerke van buikpotiges se skulpe is hulle spiraalvorm. Sonwyser- en awegaarskulpe is besondere mooi voorbeelde van hierdie ontwerp. Namate hulle groei, volg die skulpe van buikpotiges ’n vaste patroon. Hulle behou dus hulle basiese vorm namate hulle groter word. Die weekdier bring hierdie spiraalvorm voort deur voortdurend skulp by die rand te voeg, al om ’n denkbeeldige as wat regdeur die skulp loop. Die skulp wat so gevorm word, word ’n sterk, kompakte huis vir die weekdier—funksioneel en pragtig!

Gapermossels, kammossels en ander tweekleppiges

Wat van die ander klas weekdiere wat vroeër gemeld is, die tweekleppiges? Daar is ook baie van hulle skulpe op Nicaragua se strande. ’n Tweekleppige skulp bestaan uit twee geskarnierde helftes, wat kleppe genoem word. Hierdie kleppe pas presies op mekaar en omsluit en beskerm die dier daarin. Die gapermossel is ’n welbekende tweekleppige weekdier. Tweekleppiges het geen kop nie, maar hulle het sinsorgane wat chemoreseptore genoem word en hulle in staat stel om dinge in die water te proe of te ruik. Gewoonlik leef tweekleppiges van organiese materiaal wat hulle uit die seewater filtreer. Party het ’n smal, vlesige voet waarmee hulle voortbeweeg. Die kammossel, ook ’n tweekleppige, kan swem deur sy kleppe toe te klap, wat ’n sterk stroom water voortbring en hom vinnig agteruit laat beweeg. Om vorentoe te beweeg, spuit hy die water agter hom uit. Maar hoe weet ’n kammossel wanneer gevaar naby is? Dit het ’n klomp klein maar sensitiewe blou ogies in twee rye rondom sy liggaam. Hulle kan die verbygaande skaduwee van ’n roofvyand waarneem.

Die kosbaarste produk van tweekleppiges is waarskynlik perlemoen. Skulpe bestaan hoofsaaklik uit gekristalliseerde kalsiumkarbonaat—’n komponent van die mineraalsoute in seewater. Maar die glinsterende prag van perlemoen kom van ’n spesifieke soort kalsiumkarbonaat genaamd aragoniet. Sekere weekdiere bedek die binnekant van hulle skulpe met ’n mikroskopiese dun lagie aragonietkristalle in ’n patroon wat soos oorvleuelende dakteëls lyk. Hierdie kristalle breek en weerkaats lig, wat die skulpe hulle pragtige perlemoenvoorkoms gee. Trouens, party spesies tweekleppiges gebruik perlemoen om voorwerpe te bedek wat irritasie veroorsaak, soos ’n sandkorrel in die skulp. Met verloop van tyd word ’n irriterende sandkorrel met verskeie lae perlemoen bedek wat dit in ’n pragtige en kosbare pêrel kan laat verander.

Die weekdier se unieke kenmerk

Ek het die mantel, ’n orgaan wat alle weekdiere in gemeen het en baie mense as die verbasendste kenmerk van die weekdier beskou, tot die laaste gelos. Dit is die hoogs gespesialiseerde deel van die dier se boonste oppervlak wat vir die vorming van nuwe skulp verantwoordelik is. Shells—Treasures of the Sea sê: “Weekdiere dra [kalsiumkarbonaat] in opgeloste vorm in hulle bloed en skei dit deur buisagtige gaatjies in die mantel af, . . . al langs die groeiende deel van die skulp.” Die weekdier skei ook ’n proteïen af wat veroorsaak dat die kalsium in water kristalliseer.

Terselfdertyd bring pigmentselle in die mantel die groot verskeidenheid pragtige kleure en patrone in hierdie juwele voort terwyl hulle groei. Malakoloë—wetenskaplikes wat weekdiere bestudeer—is nie seker wat die doel van die kleure en skulppatrone is nie. Dit lyk nie of kleur en patroon ’n belangrike rol speel in die weekdiere se vermoë om mekaar te herken nie. En sulke kenmerke kamoefleer nie altyd die dier in die natuur nie. Maar die ontsaglike verskeidenheid kleure, patrone en vorms van weekdierskulpe fassineer ons beslis!

Wanneer jy dus weer op ’n strand loop en ’n glinsterende skulp optel, moet jy iets onthou. Of dit ’n gewone tweekleppige of ’n pragtig gedraaide buikpotige is, jy hou ’n juweel in jou hand—die voormalige huis van ’n skeletlose diertjie wat as ’n weekdier bekend staan.

[Voetnoot]

a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 661-2, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir meer besonderhede.

[Lokteks op bladsy 26]

Buikpotiges bestaan uit net een stuk, terwyl tweekleppiges skulpe maak wat uit twee geskarnierde kleppe bestaan

[Prent op bladsy 25]

WORTEL-PURPERSLAK

[Prent op bladsy 25]

KONINKLIKE PURPERSLAK

[Prent op bladsy 25]

GLIMLAGGENDE KARBASKULP

[Prent op bladsy 26]

KOURIESKULP

[Prent op bladsy 26]

KONUSSKULP

[Prent op bladsy 26]

OLYFSKULP

[Prent op bladsy 26]

AWEGAARSKULP

[Prent op bladsy 26]

SONWYSERSKULP

[Prent op bladsy 26]

TORINGSKULP

[Prent op bladsy 26]

MAANSKULP

[Prent op bladsy 26]

PLEUROPLOCA PRINCEPS

[Prent op bladsy 26]

KROONSKULP

[Prent op bladsy 26]

TRITONSKULP

[Prent op bladsy 26]

PÊRELOESTER

[Prent op bladsy 27]

VENUS-MOSSEL

[Prent op bladsy 27]

KAMMOSSEL

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel