Amper goed genoeg om te eet!
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
JY KYK na iets wat lyk soos ’n heerlike maaltyd. Jou eetlus is geprikkel, en jou mond begin water. Maar snaaks genoeg, hierdie “kos” het geen reuk, smaak of voedingswaarde nie. Dit sal nooit bederf nie en hoef nie in ’n yskas gehou te word nie. Wat is dit? In Japan kan dit net een ding wees—plastiekkos. Plastiekkos is ’n replika van iets wat op ’n restaurant se spyskaart is. Dit word gemaak sodat dit presies dieselfde grootte, vorm en kleur as die werklike item het.
Daar is replikas van talle verskillende kossoorte—van tradisionele Japannese geregte, soos soesji, tot Westerse gunstelinge, soos pizza en spaghetti. Daar is ook replikas van drankies, sowel as voor- en nageregte. Die verskeidenheid is ongelooflik. Trouens, een vervaardiger maak meer as 10 000 kositems!
Plastiekkos lyk soos regte kos. Fyn besonderhede—soos die klein knoppies op die vel van ’n gebraaide hoender, die onreëlmatige verspreiding van pitte in ’n waatlemoen en die effense buiging van ’n slaaiblaar—word meesterlik uitgebeeld. Maar hoe het plastiekkos so gewild geword in Japan se restaurante?
Laat in die 19de eeu het party restaurante voorbeelde van hulle geregte uitgestal om buitelandse kosse aan die Japannese publiek bekend te stel. Verbygangers kon dus die kos sien sonder om in te gaan. Natuurlik het die uitstallings nie net mense gelok nie, maar ook diere en vlieë. Hitte en humiditeit het die kos laat bederf, en dit was duur om die geregte elke dag voor te berei.
Mettertyd is regte kos vervang deur replikas wat van geverfde was gemaak is. Maar was het ’n groot nadeel gehad—dit het in warm weer gesmelt. Later is dit vervang deur vinielplastiek. Uiteindelik was daar ’n produk wat duursaam sowel as hittebestand was en terselfdertyd die regte soort klante kon lok—mense! Maar hoe word plastiekreplikas gemaak?
Eerstens word ’n gietvorm van die kositem gemaak. ’n Biefstuk word byvoorbeeld in ’n vierkantige houer geplaas en dan word silikon ingegooi totdat die biefstuk heeltemal bedek is. Nadat dit hard geword het, word dit omgekeer. Die biefstuk word verwyder, en ’n afdruk bly agter. Gekleurde plastiek word in die gietvorm gegooi en teen 80 grade Celsius gebak. Wanneer dit afgekoel het, word die nagemaakte biefstuk uitgehaal. Nou kan dit geverf word.
Om ’n toebroodjie te maak, moet elke deel—brood, vleis, kaas en blaarslaai—afsonderlik gegiet word. Daarna is die proses amper dieselfde as wanneer ’n mens ’n regte toebroodjie maak. Die verskillende items word op mekaar gesit tussen twee snye brood. Maar in die geval van ’n plastiektoebroodjie hou gom die dele bymekaar.
In sekere sin is die vervaardiging van plastiekkos ’n kunsvorm. “Die geheim om plastiekkos soos regte kos te laat lyk, is om regte kos noukeurig te bestudeer”, sê Katsoedji Kanejama, wat al ongeveer 23 jaar lank in hierdie bedryf werk. “Mense beskou kos as iets om te eet. Ons beskou kos as iets om te maak.”
As ’n mens van naderby na ’n bak pas gekookte Japannese rys kyk, lyk dit of individuele ryskorrels los van mekaar is. Die hele bak rys “vorm ’n piramide met ’n spits punt”, verduidelik Kanejama. Om hierdie effek te skep, moet elke korrel afsonderlik gegiet word. Dit is nie genoeg om die korrels eenvoudig bymekaar te gooi nie, want hulle sal plat gaan lê. Die korrels moet eerder versigtig in posisie gegom word sodat hulle ’n spits punt vorm soos regte rys. Die kos is aantrekliker vir die onderskeidende oog wanneer dit realisties is.
Dit verg jare se ondervinding om bedrewe te raak in die vervaardiging van plastiekkos. ’n Leerling sal dalk die eerste paar jaar basiese vaardighede leer en met eenvoudiger items soos sampioene begin. ’n Mens moet ongeveer tien jaar lank leer voordat jy ’n realistiese replika van ’n vars vis met sy komplekse teksture en kleure kan maak. Dit kan tot 15 jaar neem voordat iemand as werklik bedrewe op die gebied beskou word.
As jy miskien verby ’n restaurant in Japan loop en uitgestalde geregte sien wat jou mond laat water, dink gerus aan die harde werk wat daarby betrokke is. Dit sal jou dalk laat wonder wat die meeste vaardigheid verg—om regte kos of plastiekkos te maak!
[Venster op bladsy 27]
Plastiekkos voor die kamera
Die volgende keer wat jy kos in ’n rolprent, televisieprogram of advertensie sien, kyk mooi daarna. Dit is waarskynlik nie regte kos nie. Volgens Chris Oliver, ’n kosstilis van Los Angeles, is kosreplikas ideaal vir die berugte lang ure wat dit neem om ’n toneel te verfilm. “Dit is duurder as om regte kos te koop, maar baie praktieser”, sê hy. Ja, onder die warm kameraligte is plastiekkos ’n uitstekende plaasvervanger vir die ware Jakob.
[Prent op bladsy 26]
Kan jy sien wat die regte een is? (Antwoord op bladsy 27)
Antwoord: Die regte kos is op die skinkbord in die vrou se regterhand.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Foto’s onder: Hachiman Town, Gujyo City, Gifu Prefecture, Japan