Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 12/22 bl. 8-11
  • Hoe om voedsel veiliger te maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om voedsel veiliger te maak
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorsake van voedselgedrae siektes
  • Maak gebalanseerde keuses
  • 3. Let op hoe jy kos voorberei en bêre
    Ontwaak!—2012
  • Is jou voedsel veilig?
    Ontwaak!—2012
  • Beskerm jou teen voedselverspreide siektes
    Ontwaak!—1995
  • Gesonde voedsel vir almal—Binnekort!
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 12/22 bl. 8-11

Hoe om voedsel veiliger te maak

IS DIT gevaarlik om te eet? Sommige syfers sal jou dalk laat dink dat dit is. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kry sowat 130 miljoen mense elke jaar in die Europese Streek van die WGO voedselgedrae siektes. In 1998 in die Verenigde Koninkryk alleen is meer as 100 000 gevalle van voedselvergiftiging—wat ongeveer 200 sterftes veroorsaak het—aangemeld. Volgens skatting is daar elke jaar sowat 76 miljoen gevalle van voedselgedrae siektes in die Verenigde State, waarvan 325 000 gevalle in hospitale opgeneem word en 5 000 uiteindelik sterf.

Dit is moeiliker om noukeurige wêreldwye skattings te kry. Maar die WGO berig dat ongeveer 2,2 miljoen mense in 1998 aan diarreesiektes gesterf het—waarvan 1,8 miljoen kinders was. Die verslag sê: “Baie van hierdie gevalle kan aan besmette voedsel en drinkwater toegeskryf word.”

Hierdie syfers klink dalk enorm. Maar moet syfers jou paniekbevange laat raak oor die veiligheid van jou voedsel? Waarskynlik nie. Kyk na ’n ander voorbeeld. In Australië is daar elke jaar omtrent 4,2 miljoen gevalle van voedselgedrae siektes—of ongeveer 11 500 elke dag! Dit klink dalk na baie. Maar beskou dit vanuit ’n ander hoek. Australiërs eet ongeveer 20 miljard maaltye per jaar; van daardie maaltye veroorsaak minder as ’n vyftiende van een persent siektes. Met ander woorde, die risiko wat elke maaltyd inhou, is werklik baie klein.

En tog is dit ’n ernstige risiko wat wel bestaan. Waarom veroorsaak voedsel siektes, en wat kan gedoen word om die risiko te verminder?

Oorsake van voedselgedrae siektes

’n Verbasende aantal siektes—meer as 200—kan deur middel van voedsel oorgedra word, sê die tydskrif Emerging Infectious Diseases. Maar daar is nie soveel patogene wat al hierdie siektes veroorsaak nie. Volgens dr. Iain Swadling, voedselinligtingsbeampte van die Internasionale Voedselinligtingsdiens, word ongeveer 90 persent van alle gevalle van voedselgedrae siektes “waarskynlik [deur] sowat twintig” soorte mikro-organismes veroorsaak. Hoe dring die verskillende siekteverwekkende agense—die virusse, bakterieë, parasiete, gifstowwe, ensovoorts—voedsel binne?

Dr. Swadling noem vyf van die algemeenste maniere waarop voedsel besmet word: “Wanneer besmette rou voedsel gebruik word; besmette/siek mense maaltye voorberei; daar nie voldoende bergplek is nie en voedsel etlike ure voor verbruik voorberei word; voedsel mekaar gedurende voorbereiding besmet; voedsel nie lank genoeg gekook of goed genoeg opgewarm word nie.” Hoewel hierdie lys dalk kommerwekkend is, is daar tog goeie nuus. Die meeste gevalle van voedselgedrae siektes kan maklik voorkom word. Kyk na die venster op bladsye 8 en 9 om te sien wat jy kan doen om seker te maak dat die voedsel wat jy eet, veilig is.

Maak gebalanseerde keuses

Met die oog op die verskillende risiko’s wat voedsel inhou en al die dinge wat mense daaromtrent kwel, besluit party mense vandag om die tyd te neem om meer vars voedsel te koop, voor te berei en te eet. As dit vir jou na ’n goeie opsie klink, soek dan na winkels of markte in julle omgewing wat vars, onverwerkte produkte verkoop. Een verbruikersgids verduidelik: “Talle verbruikers wil met die produsente in aanraking kom—hetsy by weeklikse markte [waar vars produkte verkoop word] of waar die voedsel vervaardig word—sodat hulle die artikels kan koop wanneer dit nog baie vars is en kan sien hoe die voedsel vervaardig word en waar dit vandaan kom.” Dit is dalk ’n nuttige gewoonte wanneer vleisprodukte gekoop word.

Dit is dalk ook beter om plaaslike voedsel te koop wat in seisoen is, aangesien dit moontlik die varsste is. Maar as jy dit doen, moet jy besef dat jy nie die hele jaar lank van ’n verskeidenheid vrugte en groente sal kan kies wat van regoor die wêreld kom nie.

Moet jy organiese voedsel begin eet? Dit is ’n persoonlike besluit. Baie mense is voorstanders van organiese voedsel, en party het ongetwyfeld oorgeskakel omdat hulle nie die nuwe tegnologieë vertrou wat in die voedselbedryf gebruik word nie. Maar nie almal stem saam dat organiese boerdery veiliger voedsel produseer nie.

Watter voedsel jy ook al verkies, maak baie seker van wat jy koop. “Wanneer dit by voedsel kom”, sê een deskundige wat in die weekblad Die Zeit aangehaal is, “kyk die verbruiker net na die prys.” Dit is goed om van pryse bewus te wees, maar kyk ook na die lys bestanddele. Daar word geskat dat byna die helfte van die mense wat voedsel in Westerse lande koop, nie die tyd neem om die voedingsinligting op die etikette te lees nie. In party lande is etikette weliswaar onvolledig. Maar as jy veilige voedsel wil hê, moet jy doen wat jy kan om die bestanddele na te gaan.

Watter besluite jy ook al neem in verband met die voedsel wat jy eet, jy sal waarskynlik soms buigsaam moet wees en moet aanpas by die werklikhede in die land waar jy woon. Vandag is dit vir baie mense eenvoudig onmoontlik—te duur, te tydrowend, te moeilik—om seker te maak dat hulle net voedsel eet wat hulle weet heeltemal veilig is.

Lyk dit vir jou na ’n taamlik sombere opsomming van vandag se wêreld? Dit is eenvoudig realisties. Die goeie nuus is egter dat dinge binnekort gaan verbeter.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Stappe Wat Jy Kan Neem

◼ Was. Maak seker dat jy jou hande met warm seepwater was voordat jy elke gereg voorberei. Was altyd jou hande nadat jy die badkamer gebruik het, jy na ’n baba of ’n kind se higiëniese behoeftes omgesien het (soos om ’n doek om te ruil of ’n neus af te vee) of aan enige dier, insluitende huisdiere, gevat het. Was enige kombuisgereedskap, snyplanke en werksoppervlakke met warm seepwater ná elke gereg voorberei is—veral nadat daar met rou vleis, pluimvee of seekos gewerk is. “Was vrugte en groente in louwarm water”, stel die tydskrif Test voor, om van insekte en die oorblyfsels van plaagdoders ontslae te raak. Om voedsel te skil en te kook, is in baie gevalle die beste manier om dit skoon te maak. Verwyder en gooi die buitenste blare van blaarslaai of kool weg.

◼ Maak dit goed gaar. As die interne hitte van voedsel, selfs net ’n kort rukkie, bo 70 grade Celsius styg, sal byna alle bakterieë, virusse en parasiete doodgaan. Pluimvee moet teen ’n selfs hoër temperatuur, tot 80 grade Celsius, gaargemaak word. Opgewarmde voedsel moet tot 75 grade Celsius verhit word, of dit moet warm en stomend wees. Moenie pluimvee eet wat nog pienk aan die binnekant is, eiers waarvan die geel of die wit loperig is of vis wat nog deurskynend is en wat jy nie maklik met ’n vurk kan vlok nie.

◼ Hou voedsel apart. Hou rou vleis, pluimvee of seekos te alle tye apart van ander voedsel—wanneer jy dit koop, wegbêre en voorberei. Moenie dat die vleissap op mekaar of op ander voedsel vloei of drup nie. Moet ook nooit gaargemaakte voedsel in ’n bak sit waarin daar rou vleis, vis of pluimvee was nie, tensy daardie bak deeglik met warm seepwater gewas is.

◼ Bêre en verkoel voedsel behoorlik. Die yskas kan die groei van gevaarlike bakterieë vertraag, maar die temperatuur moet 4 grade Celsius wees. Die vrieskas moet -17 grade Celsius wees. Sit bederfbare voedsel binne twee uur weg. As jy voedsel voor die maaltyd uitsit, moet jy alle geregte bedek om vlieë weg te hou.

◼ Wees versigtig wanneer jy uiteet. Volgens een skatting word tussen 60 en 80 persent van die gevalle van voedselgedrae siektes in sommige ontwikkelde lande deur maaltye veroorsaak wat buite die huis voorberei en gekoop word. Maak seker dat enige restaurant wat jy besoek, aan die gesondheidstandaarde van die wet voldoen. Bestel vleis wat goed gaargemaak is. Wat wegneemetes betref, maak seker dat jy dit eet binne twee uur nadat jy dit gekoop het. As meer tyd verloop, maak die voedsel weer tot ’n temperatuur van 75 grade Celsius warm.

◼ Gooi voedsel weg wat verdag lyk. As jy twyfel of voedsel eetbaar is of nie, is dit beter om eerder versigtig te wees en dit weg te gooi. Dit is weliswaar onverstandig om goeie kos te mors. Maar dit sal jou selfs duurder te staan kom as jy van bederfde voedsel siek word.

[Erkenning]

—Hoofsaaklik gebaseer op Food Safety Tips, wat voorsien is deur die Raad vir Voedselveiligheidstegnologie in die Verenigde State.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel