Natuurrampe neem dit toe?
“Daar word gevrees dat rampspoedige gebeure wat aan klimaatverandering toegeskryf kan word, al hoe ernstiger gevolge in die toekoms sal hê. Dit beteken dat ons nuwe risiko’s as gevolg van die weer en ’n groter moontlikheid van verliese moet verwag. . . . In ooreenstemming met die beginsel van voorsorg, sal dit verstandig wees om ons op dramatiese veranderinge voor te berei.”—“Topics Geo—annual Review: Natural Catastrophes 2003.”
DELE van Europa is gedurende die somer van 2003 deur versengende hitte geteister. Die hoë temperature het bygedra tot ongeveer 30 000 sterftes in België, Brittanje, Frankryk, Italië, Nederland, Portugal en Spanje. ’n Hittegolf voor die moesonseisoen in Bangladesj, Indië en Pakistan het tot 1 500 sterftes gelei, terwyl droogte en ongekende hitte bosbrande in Australië veroorsaak het wat meer as driemiljoen hektaar vernietig het.
Volgens die Wêreld- Weerkundige Organisasie “het daar tydens die 2003-orkaanseisoen in die Atlantiese Oseaan 16 storms ontwikkel waaraan daar name gegee is, wat baie meer is as die gemiddelde van 9,8 vir 1944-1996, maar dit strook met die merkbare toename in die aantal tropiese stelsels wat jaarliks sedert die middel-1990’s ontwikkel het”. Dieselfde patroon het in 2004 voortgeduur met verwoestende orkane in die Karibiese See en die Golf van Mexiko wat sowat 2 000 lewens geëis en ’n spoor van verwoesting gelaat het.
In 2003 is Sri Lanka deur ’n sikloon getref wat ernstige oorstromings veroorsaak het en vir ten minste 250 sterftes verantwoordelik was. In 2004 het ’n rekordgetal van ten minste 23 tifone in die westelike deel van die Stille Oseaan ontwikkel. Tien hiervan het Japan getref, waar hulle grootskaalse skade aangerig het en meer as 170 lewens geëis het. Oorstromings as gevolg van swaar moesonreëns het byna 30 miljoen mense in Suid-Asië, veral Bangladesj, geraak. Miljoene is dakloos gelaat, amper driemiljoen moes uit hulle huise vlug, en meer as 1 300 het omgekom.
In 2003 was daar ’n aantal hewige aardbewings. Tydens ’n aardbewing op 21 Mei in Algiers, Algerië, is 10 000 mense beseer en 200 000 dakloos gelaat. Op 26 Desember, om 05:26, is die aarde agt kilometer suid van die stad Bam in Iran geskud. Die aardbewing, wat 6,5 op die Richterskaal geregistreer het, het 70 persent van die stad verwoes, 40 000 lewens geëis en meer as 100 000 mense dakloos gelaat. Dit was die dodelikste natuurramp van die jaar. Dit het ook ’n groot deel van Bam se 2 000 jaar oue sitadel, Arg-e-Bam, in puin gelê, wat die streek van ’n ekonomies belangrike toeristeaantreklikheid beroof het.
Presies ’n jaar later was daar ’n aardbewing wat 9,0 op die Richterskaal geregistreer het, naby die weskus van Noord-Sumatra, Indonesië. Dit het verreweg die dodelikste tsoenami’s in die opgetekende geskiedenis veroorsaak. Die reusegolwe het meer as 200 000 lewens geëis en baie meer mense beseer of dakloos gelaat, of albei. Selfs die ooskus van Afrika, wat 4 500 kilometer of meer wes van die episentrum was, is deur die dodelike tsoenami’s geraak.
Donkerder wolke op die horison?
Is sulke gebeure ’n voorskou van wat in die toekoms op ons wag? Wat weerverwante rampe betref, meen baie wetenskaplikes dat veranderinge in die atmosfeer wat deur mense veroorsaak word, die wêreld se klimaat verander en tot uiterste weerstoestande lei. As dit waar is, hou dit niks goeds vir die toekoms in nie. Wat die risiko vergroot, is die feit dat al hoe meer mense nou in gebiede woon waar rampe meer geneig is om plaas te vind, omdat hulle verkies om daar te woon—of omdat hulle nie ’n ander keuse het nie.
Statistiek toon dat 95 persent van alle rampverwante sterftes in ontwikkelende lande voorkom. Aan die ander kant het ryk lande ’n laer sterftesyfer, maar hulle ondervind 75 persent van die ekonomiese verliese. Sommige versekeraars wonder of hulle bedryf solvent kan bly onder hierdie aanslag van toenemende verliese.
In die volgende artikel sal ons party van die natuurlike prosesse ondersoek wat tot rampe lei, asook maniere waarop mense moontlik tot die erns daarvan bydra. Ons sal ook bespreek of die mensdom die mag en die wilskrag het om die nodige veranderinge te maak sodat die aarde ’n veiliger tuiste vir toekomstige geslagte sal wees.
[Prent op bladsy 3]
FRANKRYK 2003—Somer-hittegolf in Europa veroorsaak 30 000 sterftes; die temperatuur in Spanje styg tot 44,8 °C
[Erkenning]
Alfred/EPA/Sipa Press
[Prente op bladsy 4, 5]
IRAN 2003 Aardbewing in Bam eis 40 000 lewens; vroue rou oor hulle familielede by ’n massagraf
[Erkenning]
Agtergrond en vroue: © Tim Dirven/Panos Pictures