’n Kunstenaar se soeke na geluk in ’n “paradys”
DEUR ONTWAAK!- MEDEWERKER IN TAHITI
SEDERT die eerste mens, Adam, die Paradys verloor het, probeer sy nakomelinge om wat hy verloor het, weer terug te kry. Hierdie naarstige soeke na ’n paradys het baie skilders beweeg om dit in hulle kuns te probeer vind. Een van hierdie skilders was die beroemde 19de-eeuse kunstenaar Paul Gauguin.
Omtrent twee jaar gelede het honderde besoekers, amateurskilders inkluis, in twee skepe na die klein eiland Hiva Oa, een van die Marquesas-eilande, in Frans-Polinesië gegaan. Dit was op hierdie eiland waar Gauguin in 1903 gesterf het. Op die honderdjarige herdenking van sy dood het al hierdie besoekers wat so deur sy werke gefassineer is, hiernatoe gekom vir die inwyding van die kultuursentrum wat na hom vernoem is.
Waar is die paradys?
Maar waarom het Gauguin meer as ’n eeu gelede uit Europa gevlug en die res van sy lewe op hierdie vreedsame eiland in die Stille Suidsee deurgebring? Ná ’n moeilike bestaan as ’n arm kunstenaar in Europa het Gauguin met verloop van tyd sy eie beskawing begin verag. Hy het ’n afsku gehad aan wat hy as die kleingeestige gebruike van die Europese kultuur en die gevestigde orde daarvan beskou het. Gauguin het tot hierdie gevolgtrekking gekom ná sy eerste besoek aan Tahiti wat omtrent twee jaar geduur het. Nadat hy na Europa teruggekeer het, het hy besluit: “Niks sal my keer om hiervandaan weg te gaan en nooit weer terug te kom nie. Wat ’n dwase bestaan voer ons tog hier in Europa!” Hy het gesê dat hy Westerse waardes verwerp en het saam met baie mense in die Europa van daardie tyd gedroom van ’n langvergane paradys waar ’n mens teen die skadelike gevolge van die beskawing beskerm sou word. Gauguin het gehoop om sy begeerte na ’n paradys te bevredig in ’n tuin van genot in die Stille Oseaan waar daar vrede en sonskyn sou wees. Hy het gesmag na hierdie plek van wonderlike, vrywillige ballingskap, sy ideale plek om te skilder.
Gauguin het, soos baie van sy tydgenote, gedink dat dit beter is om ver weg van die gevestigde beskawing en in harmonie met die natuur te lewe weens die eenvoud van so ’n lewe. Omdat die Polinesiërs na aan die natuur en in harmonie daarmee gelewe het, het party mense gedink dat hulle net goed kan doen. Dit het gelyk of hulle onskuldige eenvoud en sagte geaardheid ’n volmaakte wêreld verteenwoordig. Gauguin was op soek na sulke geluk. Hy het egter nog naarstig gesoek na antwoorde op die raaisel van die mens se bestaan en sy lot, en hy wou ook uitvind hoe om ’n lewe sonder wanhoop en vrees vir die dood te lei.
Gauguin het ’n bron van inspirasie in die Stille Suidsee gevind. Hierdie omgewing het die begeerte om te skilder in hom laat herlewe. Een van sy gunstelingonderwerpe was die eenvoudige skoonheid van die mense. Die gesigte wat hy geskilder het, het gemoedsrus, vertroue en tevredenheid weerspieël. Deur sy skilderye wou Gauguin ’n fabelwêreld met ’n droomagtige atmosfeer van vrede onder ’n tropiese hemel weergee.
Ware geluk
Het Gauguin ware geluk in Tahiti of Hiva Oa of op enige ander eiland gevind? Hy moes eenvoudig besef dat, selfs op hierdie klein tropiese eilandjies, alle lewe in die dood eindig. Niks in hierdie wêreld is volmaak nie. Op een stadium in sy vroeë jare in Tahiti het hy geskryf: “Ek voel nou al ’n tyd lank droefgeestig en my werk ly daaronder. . . . Dit is vreugde wat ontbreek.” Die gelukkige lande wat in sy skilderye uitgebeeld word, het nie aan sy verwagtinge voldoen nie. Geld was nog steeds ’n probleem, en hy het boonop gesondheidsprobleme gehad. Selfs in hierdie omgewing kon hy nog steeds nie die belangrike vrae aangaande die lewe beantwoord nie. Met sy gedagtes gerig op hierdie paradoks het hy besluit om ’n groot skildery te maak, wat die meesterstuk van sy Tahitiaanse werk sou word. Dit was ’n enorme allegoriese skildery wat 3,75 meter lank is, met die naam D’où venons-nous? Que sommes-nous? Où allons-nous? (Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Waar gaan ons heen?) Hiermee het hy probeer uiting gee aan sy onbegrip van die wêreld, die ondeurgrondelike raaisel van ons bestaan.
Die Bybel, die boek waarin God sy voorneme vir die mensdom openbaar, beantwoord die vrae omtrent die lewe wat deur Gauguin in sy skilderye gevra is sowel as deur ander wat voor en ná hom gelewe het. Die antwoorde wat daarin voorkom, is waar en bevredigend. Dit bied ’n vaste hoop vir die toekoms. Daarbenewens leer dit ons dat ons, ongeag waar ons woon—in die Stille Oseaan of elders—alleenlik ware geluk kan vind as ons in harmonie met ons Skepper, Jehovah God, lewe. Jehovah se Getuies in Frans-Polinesië sowel as in die res van die wêreld is bly dat hulle hierdie wonderlike hoop op ’n toekomstige paradys aan ander kan bekend maak.
Replikas van sy meesterstukke
Gedurende Gauguin se honderdjarige herdenkingsfees is ’n honderd getroue replikas van sy skilderye uitgestal. Dit was hoofsaaklik die werk van twee kunstenaars, Claude en Viera Farina. Hulle woon nou al ’n hele ruk op Hiva Oa sodat hulle kopieë van Gauguin se skilderye, wat hulle aan die kultuursentrum geskenk het, kon maak.
Sodat hulle die presiese gevoel wat Gauguin in gedagte gehad het, kon oordra, het hulle die kleure en die fatsoene op groot foto’s van die oorspronklikes in die fynste besonderhede bestudeer. Hulle verduidelik dat dit glad nie ’n eenvoudige taak is om kunswerke oor te skilder nie, aangesien dit moeilik is en baie tyd en energie in beslag neem. “Die meester het die vryheid om skeppend te wees en as hy vyf pote aan ’n tafel gesit het, sou niemand gedink het dis vreemd nie—trouens die publiek sou sê dis briljant. Maar as die kopiïs ’n blaar aan ’n bos vergeet, word sy werk erg gekritiseer! Dit verduidelik waarom daar minder kopiïste is as ander kunstenaars”, vertel die paartjie. Wat behels dit om ’n goeie kopiïs te wees? “Hy moet ’n breedvoerige kennis van die meester en sy lewe hê omdat hy buiten die foto’s, niks anders het om van te werk nie, en selfs dan is die kleure nie altyd getrou nie. Hy moet dus akkurate inligting van museums versamel.” Vandag is Gauguin se skilderye baie werd, en gevolglik is die Farinas se werk ’n kosbare toevoeging tot die kultuursentrum.
[Prent op bladsy 23]
Selfportret van Paul Gauguin
[Prent op bladsy 23]
“Femmes de Tahiti” of “Sur la plage” (Tahitiese vroue of Op die strand)
[Prente op bladsy 24]
“Femme à la mangue” (Vrou met ’n mango), oorspronklike bo, saam met ’n kopie wat gemaak is deur Claude en Viera Farina, hieronder in hulle ateljee in Atuona
[Erkennings]
Erich Lessing/Art Resource, NY
Copie dʹoeuvre de Gauguin, avec lʹaimable autorisation de Claude et Viera Farina
[Prent op bladsy 25]
“Les Parau Parau” (Ydel praatjies)
[Erkenning]
Scala/Art Resource, NY
[Prent op bladsy 25]
“Quand te maries-tu?” (Wanneer gaan jy trou?)
[Erkenning]
Erich Lessing/Art Resource, NY
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Kunswerke: Erich Lessing/ Art Resource, NY