Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/22 bl. 18-22
  • My lewe as ’n kunstenaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My lewe as ’n kunstenaar
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ek begin skilder het
  • Drome en die werklikheid
  • Ek verkry erkenning as ’n kunstenaar
  • Ek ontmoet die Getuies
  • My besoek aan Parys
  • Ek neem besluite
  • Hoe dit my skilderwerk beïnvloed het
  • Klem op die Bybel
  • Seëninge as ’n kneg van God
  • Wat is kuns?
    Ontwaak!—1995
  • Ek dien die allergrootste kunstenaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ek het ’n beter loopbaan gekies
    Ontwaak!—2010
  • “Buitengewoon ryk aan betekenis”
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/22 bl. 18-22

My lewe as ’n kunstenaar

SOOS VERTEL DEUR SJIZOEKO KAWABATA

“Jehovah se Getuies, die pragtige mense wat die goeie nuus oor die hele wêreld verkondig”, was die titel van een van my skilderye wat in 1999 by ’n kunstentoonstelling in Versailles, Frankryk, uitgestal is.

MINDER as ’n week voor die tentoonstelling het Jehovah se Getuies in Frankryk dwarsdeur die land 12 miljoen traktate versprei wat die aandag gevestig het op hoe onregverdig die regering hulle behandel. Ek het ’n spesiale toekenning gekry omdat my skildery die Getuies geprys het. Later het die persoon wat dit oorhandig het, gesê: “Jy het moed, maar ek het ook moed. Dit is waarom ek die spesiale prys aan jou toeken.”

Baie kunstenaars probeer sekere gevoelens en emosies in hulle skilderye uitbeeld. Dit is wat ek probeer doen. Ek skilder wat ek voel, en my skilderye is vrolik, wat my vreugde en geluk weerspieël. Tydens my kinderjare het ek uitgevind hoe lekker dit is om skeppingsvermoë en skilderwerk te kombineer.

Waarom ek begin skilder het

Ek is in 1920 vir welgestelde ouers in Morioka, Japan, gebore. Ek en my ouer suster het privaatonderwysers gehad wat ons onderrig het in Japannese dans, blommerangskikking, die teeseremonie, die koto (Japannese siter), klavier, sang, en so meer. Ek het dit alles gehaat. Ek het dikwels weggehardloop en weggekruip wanneer die privaatonderwysers gekom het. Die bediendes moes my dan soek en my met moeite terugdra.

Ek het die onbuigsaamheid van die lesse gehaat. Mense wat ek nog nooit ontmoet het nie, het besluit hoe ek moet dans, hoe ek blomme moet rangskik en hoe ek tee moet bedien. Ek het ingehok gevoel, asof ek geensins dinge vir myself kon uitdink en persoonlike doelwitte kon stel nie. Maar wanneer ek geskilder het, het niemand oor my skouer geloer nie. Niemand het vir my gesê wat om te doen nie. Hier was die vryheid waarna ek gehunker het.

Aangesien ek nie ’n kunsonderwyser gehad het nie, kon ek skeppend wees en my uitleef, en niemand het my gekritiseer nie. Ek het mettertyd nuwe dinge probeer. Toe ek omtrent 12 jaar oud was, het ek my pa se sydasse begin neem en daarop geskilder. Ons het kort daarna rokke by die skool gemaak. Die onderwyseres was geskok toe sy sien dat ek die helfte van die voorkant uitgesny en dit met wit materiaal vervang het. Maar soos my pa, het sy niks gesê nie.

Drome en die werklikheid

Ek het al op laerskool gesê dat ek eendag ’n kunstenaar wil wees. My doelwit het nie verander nie, en ek wou na ’n universiteit toe gaan om kuns te studeer, maar my ouers wou dit nie toelaat nie. Hulle het gesê dat ’n meisie in Japan met ’n graad in kuns nie ’n geskikte bruid sou wees nie. Daarom het ek ’n kursus in huishoudkunde gevolg.

Ek het van ander lande se gedigte en boeke gehou en baie daarvan gelees. Dit is egter destyds as die vyand se lektuur beskou. Dit was selfs gevaarlik om sulke lektuur te besit. Op skool het ’n Franse onderwyseres my vyf jaar lank Frans geleer, maar toestande in Japan het verander sodat selfs belangstelling in ander tale met agterdog bejeën is. Ons het nie eers vryheid van spraak gehad nie.

In 1943, te midde van die Tweede Wêreldoorlog, het ek gevlei gevoel toe ek hoor dat ’n man my as ’n moontlike vrou vir hom gekies het nadat hy na 40 foto’s van hubare jong vroue gekyk het. Ek het later uitgevind dat sy ma en haar vriendin ons buurt besoek het om skelmpies te sien hoe ek lyk. Hulle familie het daarna ’n formele huweliksaanbod aan my familie gestuur, en ek is oorreed om dit te aanvaar. Ek het die man net een keer voor ons troue ontmoet.

Nadat ons getroud is, het hewige lugaanvalle ons lewe daagliks in gevaar gestel, en ons huis het uiteindelik saam met die res van die stad in vlamme opgegaan. Oorlewendes het in die berge skuiling gaan soek, maar selfs daar kon ons die sirenes hoor en die oorlogsvliegtuie sien. Dit was verskriklik. Almal het gely. Die tien jaar ná die oorlog was ook baie moeilik.

Ons het drie kinders gehad, en behalwe hulle het my skoonma en ses van my man se broers en susters by ons gebly. Hoewel ons bediendes gehad het, moes ons almal op die landerye werk om te kon eet. Gedurende daardie tyd was ek baie neerslagtig en het ek vergeet hoe om te lag. Maar ek was bang dat dit tot misverstande sou lei as ek my gevoelens in woorde sou uitdruk. Ek het egter mettertyd gevind dat ek deur middel van my kuns aan my gevoelens uitdrukking kon gee.

Ek verkry erkenning as ’n kunstenaar

Selfs iemand met ’n aanleg vir kuns moet baie hard werk voordat hy bevredigende resultate kry. Ek het boeke oor kuns gekoop, en ek het onder verskeie van Japan se topkunstenaars gestudeer. Nie een van hulle het aanbeveel dat ek die styl moet verander wat ek alreeds as kind ontwikkel het nie.

Kunskritici het in my werk begin belangstel, maar ek het vir my eie genot geskilder, nie om my skilderye vir ander te wys nie. Ek het egter mettertyd begin wonder wat mense van my skilderye sou dink. Gevolglik het ek in 1955 my eerste tentoonstelling in Ginza, Tokio, gehou. Die titel daarvan was “Stille stryd, onuitgesproke woorde, my dagboek”, en dit het tonele uit die daaglikse lewe uitgebeeld. Die tentoonstelling was ’n sukses.

Ek ontmoet die Getuies

Ons gesin het in 1958 na Tokio verhuis omdat ek en my man wou hê dat ons kinders na goeie skole toe moes gaan en die beste opvoeding moontlik moes kry. My lewe het om skilderwerk gedraai. Ek het elke dag omtrent vyf uur lank geskilder. Saans het ek saam met my kunsvriende uitgegaan, en my man het saam met ander vriende uitgegaan. Ons het glad nie geweet hoe ons ons kinders moes grootmaak nie.

Omdat my man weens sy werk selde by die huis was, het die verantwoordelikheid om die kinders groot te maak op my gerus, en ek het nie die selfvertroue daarvoor gehad nie. As kind het ek ’n Katolieke sendingskool bygewoon, en ek het gewonder of die kinders by die een of ander soort Bybelonderrig baat sou vind. Oorkant die straat van ons huis in Omori, Tokio, was daar ’n Lutherse kerk, en ek het vir die kinders gesê dat ons soontoe moet gaan. Maar ons het nooit na daardie kerk toe gegaan nie.

Een van Jehovah se Getuies het ons egter die volgende dag—vroeg in 1959—besoek. Ek het die kinders vinnig bymekaargekry, en ons het almal gaan sit om te luister. Die Getuie het uit die Bybel verduidelik dat ons in ’n betekenisvolle tyd lewe wanneer God binnekort goddeloosheid van die aarde af gaan wegneem. Ek het vier Bybels sowel as Bybellektuur bestel en het haar aanbod gretig aanvaar om elke week terug te kom om ons te leer. Ek het gevra hoeveel die lesse maandeliks sou kos en was verbaas om uit te vind dat Jehovah se Getuies nie geld vir hulle onderrigtingswerk vra nie. Hoe anders was dit tog as al die privaatonderwysers wat ek geken het!

My dogters het Bybelwaarhede geredelik aangeneem, en ons het selfs elke week ’n gereelde groepstudie in ons huis begin hou. Maar ná ’n paar studies het ek ongemaklik begin voel. Dit was vir my ’n moeilike tyd, en daarom het ek soms probeer wegkruip of uitgaan wanneer dit tyd was vir my persoonlike Bybelstudie.

My probleem was dat ek kon sien dat alles wat die Bybel sê, reg is en dat ek volgens die riglyne daarin moet lewe. Maar ek was terselfdertyd vasbeslote om ’n baie goeie kunstenaar te word, en ek het gedink dat my denke onbevooroordeeld moet bly as ek skeppend wou wees. My skilderwerk het as gevolg van al die verwarrende emosies begin agteruitgaan. By tentoonstellings is my skilderye op plekke uitgestal waar min mense dit sou raaksien.

My besoek aan Parys

Ek het gedink dat ’n besoek aan Parys my sal help om my skilderye te verbeter. Ek het dus in 1960 soontoe gegaan, aangesien ’n groot tentoonstelling gehou is om Japannese kuns aan Frankryk bekend te stel. Ek was die enigste vrouekunstenaar van Japan wat die tentoonstelling bygewoon het. In Parys het die verskil in lewensomstandighede, klere, opvattings, kleur—alles—my beïndruk. Die tentoonstelling het vier dae geduur, en tot my verbasing het die land se leiers die tentoonstelling bygewoon. Maar iets anders wat my verbaas het, was die feit dat vroue gefassineer is deur die kimono’s wat ek gedra het. Ek was vasbeslote om langer te bly.

Omdat ek nie geweet het hoe om geld van Japan af te kry nie, het ek my kimono’s begin verkoop. Ek kon dus die volgende drie maande kunswerke bestudeer wat in galerye ten toon gestel is. Ek het dikwels aan die woorde van die kunstenaar gedink wie se skildery langs myne by die tentoonstelling gehang het. Hy het gesê: “Ek skilder die helderheid van die son. Jou skilderye is van nature donker en swart omdat jy deur Oosterse filosowe beïnvloed word.”

’n Egpaar van die Paryse takkantoor van Jehovah se Getuies het my woonstel besoek. Ná verskeie besoeke het ek uiteindelik ingestem om saam met hulle na ’n Christelike vergadering te gaan. Toe ons daar aankom, was ek verstom oor wat ek gesien het. Een vrou het ’n pragtige rooi breërandhoed gedra. Iemand anders het ’n heldergroen rok gedra. Omdat die kleredrag stylvol was en van goeie smaak getuig het, het ek my beskouing van die Getuies heeltemal verander.

Die program het my ook beïndruk. Toe ek sien dat dieselfde prosedure in albei wêrelddele gevolg word, met dieselfde leringe, het ek besef dat hierdie groep mense en hulle bedrywighede iets buitengewoons is. My hart is diep geraak toe ek tot die besef kom dat ek met God se volk assosieer.

Ek neem besluite

Toe ek na Japan teruggekeer het, het ek die Bybel ernstig begin studeer. Ek het agtergekom dat ons Skepper se riglyne meer vryheid toelaat as wat ek gedink het. Hy het liefdevol vir ons elkeen ons eie persoonlikheid en ons eie talente gegee sowel as die vryheid om dit te ontwikkel. Ek het dus besef dat ’n mens nie jou liefde vir die kunste hoef prys te gee as jy een van Jehovah se Getuies word nie.

Ek en my dogters het goed gevorder met ons Bybelstudie. My een dogter het in 1961 haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer, en die ander een in 1962. Albei is vandag nog getroue knegte van God. Maar ek was nog steeds huiwerig. In 1965 het Lloyd Barry, wat destyds oor die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Japan toesig gehou het, my met hierdie woorde aangemoedig: “Dink net watter pragtige prente sal volmaakte mense in die Paradys kan skilder!” Ek is die volgende jaar gedoop.

Hoe dit my skilderwerk beïnvloed het

As ek nou terugkyk, kan ek sien hoe die veranderinge in my lewe en persoonlikheid my skilderwerk beïnvloed het. Vroeër was my skilderye donker en somber en het dit die pyn, lyding en wanhoop weerspieël wat ek ervaar het. Maar toe het ek in die Bybel geleer van ons Skepper, sy wonderlike eienskappe, die geluk wat daaruit voortspruit as ons hom loof, asook die gepaste standaarde waarvolgens ons moet lewe. Namate my gevoelens verander het, het my skilderye ook verander.

Ek bestee nou baie tyd daaraan om die Bybelboodskap gereeld aan ander te verkondig. Dit gee my groot vreugde en tevredenheid om met mense oor die eienskappe van God te praat, sowel as oor sy wonderlike voorneme om hierdie aarde ’n paradys te maak onder die heerskappy van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Bybelwerk motiveer my, en dan moet ek eenvoudig my verfkwas optel en uitdrukking gee aan my gevoelens. En namate my geluk deur die jare heen toegeneem het, het my skilderye ook vroliker geword.

Klem op die Bybel

Ek word van regoor die wêreld gevra om my skilderye uit te stal—van Sydney, Wene, Londen en New York. Maar dit is Europeërs wat my skilderye die meeste bewonder. Deskundiges van die Louvre- Koninklike Akademie vir Kuns in Parys het al gevra: “Hoe is dit dat ’n Japannees se hart só geraak kan word deur die Bybel en die Christelike godsdiens dat haar skilderye ’n vreugde weerspieël wat nog nooit in die eeue van godsdienskunswerke gesien is nie?”

Die Bybelpsalmis Dawid het deur musiek aan sy gevoelens uitdrukking gegee, en hy het sy musikale talente gebruik om ander die wonders van God te leer. Ek wil dieselfde doen. Ek wil Jehovah loof. Dit is my hartsbegeerte dat mense in my skilderye die vreugde sal sien wat ’n mens ondervind wanneer jy Jehovah en sy wonderlike eienskappe ken. ’n Kunskritikus het oor my titels gesê: “Die kunstenaar se eie woorde word op vaardige wyse vermy, en sy laat eerder die Bybel praat.” Dit verheug my dat mense die krag van die Bybel in my skilderye raaksien.

In 1995 het die Wêreldraad van Kunste, ’n internasionale kunsorganisasie waarvan die hoofkwartier in Tokio is, aan my die eerste prys onder die wêreld se topkunstenaars toegeken. Die raad het aangaande my skilderye gesê: “Die kunstenaar haal woorde uit die Bybel aan as titels . . . Al haar skilderye beeld die Bybel uit, maar dit is presies waarom die lewe draai van ’n kunstenaar wat met God wandel.”

Dit verwys na die feit dat ek dikwels ’n oop Bybel in my skilderye uitbeeld. Ek het onlangs ook gedrukte Bybelbladsye saam met my skilderye begin uitstal. Iemand wat na die skilderye kyk, sien derhalwe die gekose titel sowel as die woorde in die Bybel en hoe ek dit dan in my skilderye uitbeeld.

’n Paar van my skilderye is in 1999 in Bangkok, Thailand, uitgestal. Een was getiteld “Hoe wonderlik het Jehovah God die aarde gemaak, hy het dit aan die mens as woonplek gegee” en ’n ander een “’n Gebed van koning Dawid: ‘Jehovah, verenig die hart van hierdie volk tot u’”. Ek is saam met ’n paar ander kunstenaars na die paleis van die koning van Thailand genooi. Die koning wou my skilderye met my bespreek, en hy het my baie vrae gevra. Ek kon lank met hom praat en gedagtes oor my Bybelse oortuiging insluit. Ek het ook ná die tyd vir hom ’n skildery as geskenk gegee.

Ek het ook die afgelope 35 jaar op ’n komitee gedien om die werk van ander kunstenaars te beoordeel. Ek hou van skilderye wat gevoel uitbeeld. Vir my is ’n skildery goed as dit my met ’n goeie indruk laat en my gemoedsrus gee. Ek bewonder werklik die prente wat in die publikasies van Jehovah se Getuies verskyn, wat hulle doel bereik deur die Bybelboodskap getrou weer te gee.

Seëninge as ’n kneg van God

Weens my skilderwerk het ek al unieke geleenthede gehad om oor Jehovah God en sy wonderlike voornemens vir die aarde te getuig. Dit was die geval tydens onderhoude vir tydskrifartikels en onderhoude gedurende televisieprogramme. Trouens, waar ek ook al gaan of met wie ek ook al praat, probeer ek mense laat verstaan dat my geloof sowel as my vreugde en geluk omdat ek Jehovah God dien, my in staat stel om te skilder.

Ek is daarvan oortuig dat ek nie sal kan skilder soos ek nou skilder as ek my geloof sou prysgee nie. Maar omdat ek een van Jehovah se Getuies is en omdat die waarheid van God se Woord my met vreugde en geluk vervul, kan ek skilder.

[Prent op bladsy 21]

Toe ek in Parys was

[Prent op bladsy 22]

Vandag saam met my twee dogters

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel