Jicama—’n Gesonde Mexikaanse peuselhappie
Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko
Die blare en ryp peule van die jicama, ’n rankplant, is onsmaaklik. Dit is egter ’n goeie ding, aangesien ’n mens dit nie kan eet nie. Die eetbare deel is onder die grond; dit is die plant se knolagtige wortel.
Van die vroegste tye af het mense in Mexiko jicama geëet. Die naam daarvan, wat uit die Nahuatl-taal kom, beteken “wat geproe word”. En selfs net ’n prentjie van die gewilde Mexikaanse peuselhappie van rou jicama-snye wat met suurlemoensap, sout en gemaalde Spaanse of cayennepeper gegeur is, laat ’n mens se mond sommer water.
Soos wat proe jicama? Party sê dat dit soos iets tussen ’n appel en ’n Chinese waterkastaiing proe. Die jicama-plant het sy oorsprong in Mexiko en Sentraal-Amerika, maar het na lande so ver as die Filippyne, China en Nigerië versprei. Vandag word dit in baie lande gekweek, waar dit op verskillende maniere voorberei word—gerooster, gepekel, in sop gekook en in slaaie bedien.
In Oosterse kookkuns word jicama as ’n plaasvervanger vir Chinese waterkastaiing gebruik. ’n Unieke eienskap van hierdie groente is dat dit krakerig bly selfs nadat dit gekook is. Dit is veral die geval met die melk-jicama wat, anders as die water-jicama, ’n melkerige sap afskei. Dit is interessant dat albei soorte van dieselfde saad kan groei.
Jicama is ’n ideale peuselhappie. Dit is voedsaam, verfrissend, krakerig, sappig, maklik om te verteer en laag in kilojoules. ’n Ontleding deur ’n voedingsinstituut het getoon dat 100 gram aartappelskyfies 2 260 kilojoules bevat terwyl dieselfde hoeveelheid jicama net 160 kilojoules bevat! Ander kenmerke van die jicama is sy kalsium-, fosfor- en vitamien C-inhoud.
Soos vroeër genoem is, is feitlik net die wortels van die jicama-plant eetbaar, maar dit beteken nie dat die ander dele daarvan nie nuttig is nie. Die sade in die peul bevat ’n aantal verbindings wat as ’n doeltreffende insekdoder gebruik kan word, wanneer die sade fyngestamp is. Die sade word ook in sommige dermatologiese middels gebruik. Die stingels daarenteen lewer sterk vesels wat gebruik kan word om visnette mee te maak.
Jicama-wortels kom in verskillende groottes voor, van dié wat minder as 300 gram weeg tot dié wat meer as ’n kilogram weeg. Dit sal ongeveer drie weke in die yskas hou. As jy jicama wil eet, hoef jy dit net te was, te skil en—tensy dit ’n baie jong wortel is—die buitenste veselagtige laag te verwyder.
As jicama dus in jou omgewing beskikbaar is, kan jy dit gerus as ’n peuselhappie probeer. Dit sal jou gesondheid dalk goed doen!