Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/07 bl. 10-12
  • Die hardwerkende wassers van Abidjan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die hardwerkende wassers van Abidjan
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wassers se werk
  • Palmolie-seep
  • Die einde van die werksdag
  • Van luukse tot noodsaaklikheid—Die geskiedenis van seep
    Ontwaak!—2005
  • “Dit is hoe ons ons klere was . . .”
    Ontwaak!—1991
  • Seep—’n “Doen-dit-self-entstof”
    Ontwaak!—2003
  • Dit was vir my goed om nader aan God te kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Ontwaak!—2007
g 6/07 bl. 10-12

Die hardwerkende wassers van Abidjan

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE IVOORKUS

ONS het in ’n westelike rigting uit Abidjan, Ivoorkus, gery en die tonele en klanke van hierdie bedrywige Wes-Afrikaanse stad geniet toe ’n skouspelagtige gesig skielik ons aandag trek. Duisende helderkleurige kledingstukke het op ’n groot grasveld uitgesprei gelê. Wat was die rede vir hierdie kleurryke uitstalling? Ons Ivoriaanse vriende was gretig om ons te vertel. Dit was die handewerk van die fanico’s.

Die fanico’s is ’n groep hardwerkende wassers. Van sonop tot sononder verdien honderde mans en ’n paar sterk vroue hulle brood deur wasgoed met die hand te was in die Banco-rivier. Hulle naam is ’n kombinasie van die Dyula-, of Jula-woorde, fani, wat “materiaal” of “klere” beteken, en ko, wat “om te was” beteken. Die Dyula-woord fanico beteken dus “iemand wat klere was”.

Die wassers se werk

Ons het vroeg een oggend die fanico’s by hulle werksplek besoek om meer uit te vind omtrent hulle interessante werk. Wat ’n miernes van bedrywigheid! Die werk was reeds goed op dreef. Die ietwat troebel Banco-rivier was vol yslike buitebande waarin klippe gepak is. By elke buiteband het ’n wasser in die water gestaan wat tot by sy bobene of middellyf kom, besig om die wasgoed met seep te smeer, dit te slaan en te skrop.

Lank voor sonop gaan die fanico van deur tot deur om sy wasgoed vir die dag op te tel. Van sy klante woon tot drie kilometer van die “wassery” af. Hy vervoer al die klere in ’n handkarretjie van hout, of hy dra dit in ’n yslike bondel op sy kop. Die fanico gaan dan na die Banco-rivier. Wanneer hy daar aankom, word hy deur ’n koor van stemme in baie tale gegroet, want die fanico’s wat hier werk, kom uit verskillende dele van Afrika. Party werk al dekades lank in hierdie omgewing, soos meneer Brama, ’n gespierde wasser wat nou in sy sestigerjare is. Hulle werk sonder ophou, behalwe drie dae van die jaar.

Dit is ’n enorme taak om die klere te was. Ons het gesien hoe een man sy bondel wasgoed neersit, ’n vrag wat groot genoeg was om die gemiddelde huisvrou se mond te laat oophang. Hy het die bondel losgemaak en begin deur elke kledingstuk in die water te week. Daarna het hy dit met ’n groot blok palmolie-seep gesmeer en die kledingstukke een vir een teen ’n klip geslaan. Soms het hy ’n skropborsel gebruik om ’n hardnekkige vlek te verwyder. Hoeveel kos dit om wasgoed te laat was? Vyftig sent vir ’n hemp en dalk ’n rand vir ’n laken. Dit verklaar waarom die fanico’s so baie wasgoed moet was om ’n bestaan te maak.

Wanneer ’n mens sien hoeveel klere hulle was, wonder jy dalk: ‘Hoe kan hulle ooit onthou watter kledingstuk aan watter persoon behoort?’ Ons het gewonder of hulle dalk ’n soortgelyke stelsel gebruik as ’n groep wassers in Indië wat ’n geheime manier het waarop hulle die klere merk. Die stelsel wat die fanico’s gebruik, is heeltemal anders as dié van die wassers in Indië, maar is net so doeltreffend.

Ons goed ingeligte gids het die fanico’s se tegniek aan ons probeer verduidelik. Eerstens, wanneer die wasser die wasgoed by die huise optel, neem hy kennis van die fisiese grootte van elke lid van die gesin sodat hy kan onthou watter kledingstuk aan watter persoon behoort. Die klere word glad nie gemerk of van ’n etiket voorsien nie. Daarna maak hy ’n knoop op dieselfde plek in elke kledingstuk van dieselfde gesin—byvoorbeeld die linkermou, die regtermou, die kraag of die lyfband. Wanneer hy dit was, maak hy altyd seker dat die klere van dieselfde gesin bymekaar bly. Dit het nog steeds vir ons gelyk asof dit ’n baie groot uitdaging is om alles te onthou. Ons het dus een fanico gevra of hy al ooit enigiemand se klere verloor het of verkeerd afgelewer het. Sy geskokte gesigsuitdrukking het duidelik vir ons gesê wat hy dink: ‘Nee. ’n Fanico verloor nooit ’n kledingstuk nie!’

Kan sommer enigiemand na die Banco-rivier toe gaan en klere begin was? Beslis nie! Daar is streng reëls wat gevolg moet word. Iemand wat ’n fanico wil word, moet ’n proeftyd van drie maande deurgaan, waartydens hy deur ’n ervare wasser opgelei word. Gedurende hierdie tydperk leer hy die gespesialiseerde tegniek om sy geheue op te lei. As hy hierin misluk, sal hy elders moet gaan werk soek. Maar as die nuwe fanico bedrewe is, betaal hy dan ’n klein bedrag en kry hy sy eie buiteband, wat deur niemand anders gebruik mag word nie.

Palmolie-seep

Seep speel ’n noodsaaklike rol in die werk van die wasser. Die nuweling word dus ook opgelei in die behoorlike gebruik van palmolie-seep. Daar is drie verskillende soorte seep, wat uitgeken word aan hulle kleur. Die wit en die geel seep word gebruik vir klere wat nie so vuil is nie, en die swart seep word gebruik vir dié wat baie vuil is. Dit is donker weens die palmolie, wat die hoofbestanddeel is. Aangesien elke fanico ten minste tien blokke seep elke dag gebruik, sorg die seepmakers wat daar naby werk, dat daar altyd vir hulle seep is.

Ons het die beskeie seepmaakfasiliteite op die heuwel naby die “wassery” besoek. Die belangrike werk om seep te maak, begin om sesuur die oggend. Die werkers het reeds die nodige bestanddele op die plaaslike mark gekoop—verdikte palmolie, kalium, sout, suursak-sap, klapperolie en kakaobotter, wat alles bioafbreekbaar is. Hulle kook hierdie bestanddele saam in ’n yslike staaldrom oor ’n houtvuur. Nadat die seepmengsel ongeveer ses uur lank gekook het, gooi hulle dit in metaalpanne en -bakke en wag hulle totdat dit hard word. Etlike ure later sny hulle die seep in groot blokke.

Daarna dra die seepmaker ’n houer vol seepblokke op haar kop teen die bult af na die fanico’s. Hoe lewer sy die seep af by die wassers terwyl hulle druk besig is om in die rivier te werk? Sy loop eenvoudig in die water in en laat die plastiekhouer met die seep op die water dryf terwyl sy die seep aflewer by wie dit ook al nodig het.

Die einde van die werksdag

Wanneer die fanico al die wasgoed gewas het, gaan hy na die nabygeleë heuwel en sit die pas gewaste klere in rye op die gras, of hy hang dit aan geïmproviseerde wasgoedlyne. Die resultaat is die kleurryke toneel wat aanvanklik ons aandag getrek het. Nou kry die vlytige wasser ook ’n bietjie van ’n blaaskans. In die laatmiddag, wanneer al die klere droog is, vou hy elke kledingstuk versigtig op, en dalk sal hy party kledingstukke met ’n kolestrykyster stryk. Aan die einde van die dag maak hy al die skoon, gestrykte wasgoed bymekaar en lewer hy dit by die eienaars af.

Toe ons eers die rye en rye klere gesien het wat uitgesprei is om droog te word, het ons nie besef hoeveel werk dit eintlik verg nie. Ons is dus baie bly dat ons die fanico’s van Abidjan besoek het, want nou verstaan ons die werk van al die wassers oor die hele wêreld beter en waardeer ons dit des te meer.

[Kaart op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

IVOORKUS

[Prent op bladsy 12]

’n Seepmaker verkoop blokke seep

[Foto-erkenning op bladsy 10]

PhotriMicroStock™/C. Cecil

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel