Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/07 bl. 13-14
  • Het enigiemand ’n potlood?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het enigiemand ’n potlood?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Swartlood
  • Die ontwikkeling van die potlood
  • Die moderne potlood
  • Die wonder-element
    Ontwaak!—2016
  • Loodvergiftiging—die verwoestende uitwerking
    Ontwaak!—1992
  • ’n Loodbelaaide wêreld?
    Ontwaak!—1990
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 7/07 bl. 13-14

Het enigiemand ’n potlood?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

DIT IS goedkoop, kan onmiddellik gebruik word en is so lig soos ’n veer. Dit pas maklik in ’n mens se sak. Dit het nie ’n kragbron nodig nie, lek nooit nie en die merke wat dit maak, kan uitgevee word. Kinders gebruik dit wanneer hulle leer skryf, bedrewe kunstenaars skep meesterstukke daarmee en die meeste van ons hou een byderhand om aantekeninge te maak. Ja, die nederige potlood is een van die bekostigbaarste en algemeenste skryfinstrumente in die wêreld. Die merkwaardige verhaal van hoe dit uitgevind en ontwikkel is, begin met ’n toevallige ontdekking op die platteland van Engeland.

Swartlood

In die 16de eeu is klonte van ’n vreemde swart stof gevind in die grond teen die heuwelhang van Borrowdale, ’n vallei in die Merestreek van Noord-Engeland. Hoewel die mineraal soos steenkool gelyk het, wou dit nie brand nie; en dit het ’n blink, swart merk wat maklik uitgevee kon word, op ’n skryfoppervlak gelaat. Aanvanklik het die stof verskeie name gehad—swartlood, wad en plumbago, wat beteken “dit wat soos lood is”. Omdat dit vetterig voel, het mense stukke swartlood in skaapvel of kort stawe daarvan met toutjies toegedraai. Niemand weet wie eerste daaraan gedink het om swartlood in houthouers te sit nie, maar teen die 1560’s het primitiewe potlode die Europese vasteland bereik.

Kort voor lank is swartlood ontgin en uitgevoer om in kunstenaars se aanvraag te voorsien; en in die 17de eeu is dit feitlik oral gebruik. Terselfdertyd het potloodvervaardigers met swartlood geëksperimenteer om ’n beter skryfinstrument te maak. Omdat die swartlood van Borrowdale suiwer en maklik ontginbaar was, het dit ’n teiken van diewe en swartmarkhandelaars geword. In reaksie hierop het die Britse Parlement in 1752 ’n wet aangeneem waarvolgens iemand wat swartlood steel, tronkstraf opgelê kon word of na ’n strafkolonie verban kon word.

In 1779 het die Sweedse chemikus Carl W. Scheele die verbasende ontdekking gemaak dat swartlood eintlik nie lood is nie, maar ’n sagte vorm van suiwer koolstof. Tien jaar later het die Duitse geoloog Abraham G. Werner dit grafiet genoem, na aanleiding van die Griekse woord graphein, “om te skryf”. Ja, in teenstelling met wat die naam aandui, is daar in werklikheid geen lood in potlode nie!

Die ontwikkeling van die potlood

Engelse grafiet het baie jare lank die potloodvervaardigingsbedryf oorheers omdat dit suiwer genoeg was om sonder enige verdere verwerking gebruik te word. Aangesien Europese grafiet van minderwaardige gehalte was, het potloodvervaardigers geëksperimenteer met maniere om die grafiet in potlode te verbeter. Die Franse ingenieur Nicolas-Jacques Conté het verpoeierde grafiet en klei gemeng, stafies van die mengsel gemaak en dit in ’n droogoond gebak. Deur die verhouding van grafiet tot klei af te wissel, kon hy lode maak wat verskillende skakerings van swart voortgebring het—’n proses wat vandag nog gebruik word. Conté het sy ontdekking in 1795 gepatenteer.

In die 19de eeu het potloodvervaardiging ’n reusebedryf geword. Grafiet is op ’n paar plekke ontdek, insluitende Siberië, Duitsland en wat vandag die Tsjeggiese Republiek is. In Duitsland en later in die Verenigde State is ’n aantal fabrieke geopen. Meganisasie en massaproduksie het pryse afgedryf, en teen die begin van die 20ste eeu het selfs skoolkinders potlode gebruik—ongeverfde “penniepotlode”, soos dit in die Verenigde State genoem is.

Die moderne potlood

Die potlood het ’n gesofistikeerde, veelsydige skryf- en tekeninstrument geword, en miljarde word elke jaar wêreldwyd vervaardig. ’n Tipiese houtpotlood kan ’n streep van 56 kilometer trek en 45 000 woorde skryf. Vulpotlode (of, drukpotlode) wat van metaal of plastiek gemaak word, gebruik dun loodjies wat nooit skerpgemaak hoef te word nie. Vir kleurpotlode word daar, in plaas van grafiet, kleurstowwe en pigmente gebruik, wat in tientalle kleure beskikbaar is.

Die nederige potlood is so veelsydig, sterk, eenvoudig en doeltreffend dat daar geen aanduiding is dat dit in onbruik sal raak nie. Daarom sal jy nog baie jare lank, hetsy jy tuis of by die werk is, iemand dalk hoor vra: “Het enigiemand ’n potlood?”

[Venster/Prent op bladsy 13]

HOE KOM DIE LOOD IN DIE POTLOOD?

’n Mengsel van fyngemaalde grafiet, klei en water word deur ’n dun metaalbuis gedruk, en wanneer dit aan die ander kant uitkom, lyk dit soos ’n lang string spaghetti. Nadat die lood gedroog, gesny en in ’n droogoond gebak is, word dit in warm olie en was gedoop. Die hout, gewoonlik sederhout, wat maklik skerpgemaak kan word, word in plankies opgesaag—stukkies geskaafde hout waarin gleufies gesny is—wat ’n halwe potlood dik is. Die lood word in die gleufies op een plankie gesit, en ’n tweede plankie word gegom en bo-op die eerste een vasgedruk. Wanneer die gom droog is, word die plankie opgesaag om die individuele potlode van mekaar te skei. Nadat dit in ’n vorm gesny, geskuur, geverf en met die vervaardiger se handelsmerk en ander besonderhede gestempel is, is die potlood, wat nou naatloos is, gereed om gebruik te word. Soms word ’n uitveër aan een punt aangebring.

[Erkenning]

Faber-Castell AG

[Venster/Prent op bladsy 14]

WATTER POTLOOD MOET EK GEBRUIK?

Om die regte potlood vir jou behoeftes te kies, moet jy kyk na die letters of syfers aan die kant van die potlood. Dit dui die hardheid of sagtheid daarvan aan. Sagter lood maak ’n donkerder merk.

HB is ’n veelsydige, mediumgraadlood.

B is ’n sagter lood. ’n Syfer soos 2B of 6B dui aan hoe sag die lood is—hoe hoër die syfer, hoe sagter die lood.

H is ’n harder lood. Hoe hoër die syfer—2H, 4H, 6H, ensovoorts—hoe harder die lood.

F beteken dat die potlood fyn is.

Sommige lande gebruik ander stelsels. Byvoorbeeld, in die Verenigde State is die nommer 2-potlood gelykstaande aan ’n HB-potlood. Volgens hierdie stelsel dui ’n hoër syfer ’n harder lood aan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel