Loodvergiftiging—die verwoestende uitwerking
‘DIE algemeenste ernstige kindersiekte.’ “Die vernaamste omgewingsbedreiging vir kinders.” Soos jy seker kan raai, is die bedreigings wat hier beskryf word een en dieselfde: loodvergiftiging.
Volgens die CDC (die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer) “is kinders besonder gevoelig vir lood se giftige uitwerking. Die meeste kinders wat aan loodvergiftiging ly, is simptoomvry. Gevolglik word die oorgrote meerderheid van gevalle nie gediagnoseer of behandel nie. . . . Dit is nie uitsluitlik ’n probleem van kinders wat in die binnestad woon of wat tot minderheidsgroepe behoort nie. Geen sosiaal-ekonomiese groep, geografiese gebied of ras of etniese bevolking word gespaar nie.” Die verslag sê verder: “Loodvergiftiging gedurende die kinderjare is ’n wêreldwye probleem.”
Hoe lood kinders aantas
Daar word geskat dat daar in die Verenigde State alleen drie- tot viermiljoen kinders jonger as ses is wat ’n loodvlak in hulle bloed het wat hoog genoeg is om normale ontwikkeling te belemmer. Dít kan enigiets beteken van ’n effens verminderde leesvermoë tot algehele verstandelike vertraging. En as dit in een land die geval is, moet die wêreldwye syfers skrikwekkend wees.
In Afrika, Asië, Mexiko en die Midde-Ooste word lood nog steeds soms as ’n medisyne gebruik deur diegene wat nie bewus is van die gevare nie. Dit word gebruik om hardlywigheid te verlig, om infeksies van die naelstring te voorkom en selfs as ’n tandekrymiddel vir babas.
Die gevaar is nie soseer dat kinders van loodvergiftiging inmekaarsak en doodgaan nie. Soos ’n nommer van FDA Consumer in 1991 aangedui het, het kindersterftes as gevolg van loodvergiftiging baie seldsaam geword. Maar die uitwerking is steeds verwoestend. Lood word gepas “’n verwoester van intelligensie” genoem. Die tydskrif Newsweek haal een gesondheidsbeampte aan wat sê: “Daar is baie kinders wat dit moeilik vind om werk te doen wat ontledingsvermoë vereis of selfs om in die kafeteria in ’n ry te staan omdat hulle brein vol lood is.”
Ander simptome wat by loodvergiftigde kinders voorkom, sluit prikkelbaarheid, slaaploosheid, koliek, bloedarmoede en belemmerde groei in. So ’n kind kan ook gekenmerk word deur ’n beskadigde senustelsel sowel as chroniese rusteloosheid—soos dié van ’n ingehokte dier, volgens een dokter se beskrywing. Party kinders kan in ernstiger gevalle in ’n koma raak of stuipe kry, en hulle kan emosionele probleme ondervind selfs nadat hulle volwassenheid bereik het. Party van hierdie gevolge kan permanent wees, sê die hoof van die CDC se afdeling vir die voorkoming van loodvergiftiging. Voordat ’n deeglike diagnose gemaak kan word, is ouers gewoonlik doodbekommerd oor die oorsaak van hierdie sluipende siekte.
Waarom is kinders so vatbaar daarvoor?
Daar is twee redes waarom lood besonder gevaarlik vir kinders is. Eerstens word kinders deur baie laer loodvlakke aangetas as dié waardeur volwassenes aangetas word. Omdat hulle brein en senustelsel nog besig is om te ontwikkel, is hulle uiters sensitief vir die uitwerking van lood. Tweedens kom kinders, as gevolg van hulle gedrag en aktiwiteite, makliker in aanraking met lood in hulle omgewing.
Beskou byvoorbeeld verf met ’n loodbasis, wat nog steeds ’n belangrike bron van besoedeling is. In lande waar die gebruik van sulke verf in huise wettig is, sal die gevalle van loodvergiftiging ongetwyfeld net al hoe meer word. En hoewel baie lande in onlangse jare sekere gebruike van verf met ’n loodbasis verbied het, kom die verf steeds in ouer huise voor. Mure, vensterbanke, speelgoed, kinderbedjies en meubels kan steeds lae daarvan ophê. Daar word byvoorbeeld geskat dat daar in die Verenigde State nog driemiljoen ton lood in 57 miljoen huise voorkom. In die middel-tagtigerjare het sowat 13,6 miljoen Amerikaanse kinders van jonger as sewe in huise gewoon waar verf met ’n loodbasis gebruik is. Meer as ’n miljoen van hierdie kinders het moontlik ’n gevaarlik hoë loodvlak in hulle bloed gehad.
’n Gladde verfoppervlak hou moontlik geen gevaar in nie. Maar namate verf oud word, begin dit kraak en afskilfer. Omdat lood soet is, sal kinders heel waarskynlik die verfskilfers eet. Babas het al lood ingekry wat van vensterbanke afgeskilfer het. En wanneer die verf eindelik stof word, kry kinders dit op hulle vingers van speelgoed, vloere en matte en beland dit noodwendig in hulle mond, spysverteringskanaal en bloedstroom. Kinders tussen die ouderdom van ses maande en ses jaar is in besondere gevaar.
“Verbasend min lood is nodig om loodvergiftiging te veroorsaak”, skryf die tydskrif Newsweek. “’n Kind kan ernstige loodvergiftiging opdoen (60-80 mikrogram/dl) deur in sy kinderjare elke dag een milligram loodverfstof—gelyk aan omtrent drie korreltjies suiker—te eet.” As die kind verfstof inkry wat gelykstaan aan net een korreltjie suiker per dag sal hy in gevaar verkeer. “Dit is waarom ’n kind kan siek word deur net gereeld aan ’n vensterbank te vat en dan sy duim te suig”, sê Newsweek, en voeg by dat ouers “eenvoudig nie besef—of kan glo—dat die stof op hulle vensterbank moontlik stilletjies ’n deel van hulle kind se potensiaal steel nie.”
Lood en die fetus
Die probleem strek selfs tot in die baarmoeder van swanger vroue, waar die ontwikkelende brein en senustelsel van ongebore kinders ook beskadig kan word. Wanneer ’n swanger vrou lood in haar liggaam kry, of dit nou is deur dit te eet of in te asem, beland dit uiteindelik in haar bloedstroom. Dan kom dit deur middel van die naelstring by die fetus uit. Die kind sal moontlik neurologiese skade of ’n verminderde IK hê. “As ’n swanger vrou selfs ’n klein hoeveelheid lood inneem”, sê een gesondheidskryfster, “kan dit deur haar plasenta aan die fetus oorgedra word”. En Science News het gesê: “Studies het bewys dat onvrugbaarheid, miskrame, vroeggeboortes en geboortedefekte meer voorkom by vroue wat in fabrieke met lood werk.”
Die pa kan ook bydra tot sulke gevare. Lood in die bloedstroom van mans kan veroorsaak dat sperma misvormd en traag is, wat bevrugting kan verhoed en kan veroorsaak dat die fetus misvorm is. Nagenoeg 400 000 fetusse in Amerikaanse vroue is so erg met lood besmet dat hulle ontwikkeling belemmer sal word. Aangesien loodvergiftiging ’n wêreldwye epidemie is, moet die aantal ongebore kinders wat daardeur aangetas is inderdaad enorm wees.
Nie net kinders nie
Dit is duidelik dat volwassenes ook in gevaar verkeer. Om hulle kinders te beskerm, moet hulle hulleself beskerm. Hoe word hulle aan lood blootgestel? Deskundiges is dit eens dat die belangrikste bron van blootstelling vandag, afgesien van huisverf, die lood in die water is as gevolg van loodgietery (omdat selfs koperpype moontlik met loodsoldeersel gelas word) en loodhoudende petrol. In skole en kantore het die waterfonteine se watertenks loodsoldeerde nate. Een amptenaar van die EPA (die Amerikaanse omgewingsbewaringsagentskap) het gesê: “Ongeveer 20 persent van alle blootstelling aan lood kom van drinkwater.” Die Federale Agentskap vir die Registrasie van Gifstowwe en Siektes het gesê dat die loodvlak “van elektriese waterverkoelers baie hoog kan wees, en dit kan ’n redelik ernstige gevaar vir almal inhou, nie net vir kinders nie”.
Wat verder tot hierdie dilemma bydra, is die feit dat ouers lood aan hulle werksklere huis toe bring en hulle kinders so verder blootstel. Daar word geskat dat naastenby agtmiljoen werkers in die Verenigde State alleen in hulle werksomgewing aan lood blootgestel word. ’n Groot persentasie van hulle is vroue.
Diegene wat alkoholiese drank of ander vloeistowwe in loodkristalkraffies hou, stel hulle ook aan gevaar bloot, omdat lood uit die kristal in die drank kan intrek. Net so kan erdewerk wat by te lae temperature gebak is looddeeltjies uit die glasuur in die kos laat versprei. Een paartjie het byvoorbeeld, terwyl hulle in die buiteland getoer het, ’n stel koffiebekers gekoop. Daar is vasgestel dat die bekers 300 keer meer lood vrystel as wat hulle eie land se gesondheidstandaarde toelaat. Die paartjie het, nadat hulle die bekers net ’n kort tydjie gebruik het, ernstig siek geword. Die soldeersel in blikkies vir ingelegde kos, wat steeds in sekere lande gebruik word, is ook verantwoordelik vir ’n persentasie van die gevalle van laevlak-loodvergiftiging.
Loodvergiftiging is ook vir vuurwapenentoesiaste ’n gevaar. Waarom? Wel, onlangse studies het aan die lig gebring dat diegene wat gereeld binnenshuise skietbane besoek ’n hoë loodvlak het omdat hulle loodbelaaide stof inasem. Die ontploffing en die mikroskopiese skuifwerking wanneer loodkoeëls deur die geweerlope beweeg, stuur looddeeltjies die lug in en die skut asem dit in, sê die tydskrif Science News. Ander simptome wat genoem is, is ’n chroniese metaalsmaak en neurologiese handrukking. Ander studies het getoon dat gesinslede moontlik ook gevaar loop om aan lood blootgestel te word wanneer vuurwapengebruikers loodstof aan hulle klere huis toe bring.
Aangesien loodvergiftiging so algemeen en so gevaarlik vir kinders sowel as volwassenes is, is die volgende vraag vanselfsprekend: Wat kan gedoen word om dit te voorkom?
[Venster op bladsy 7]
Wat is ’n veilige loodvlak?
HOEVEEL lood is te veel? Hoeveel kan die liggaam met veiligheid absorbeer? Terwyl wetenskaplikes steeds sulke vrae bespreek, het baie lande wette uitgevaardig om loodvergiftiging te voorkom, ten minste as gevolg van verf met ’n loodbasis. Australië het reeds in die vroeë twintigerjare so ’n wet in hulle wetboeke opgeneem. Groot-Brittanje, Griekeland, Pole en Swede het later in daardie dekade soortgelyke wette uitgevaardig. Die Verenigde State het eers in 1971 sy wet op die voorkoming van loodverfvergiftiging bepaal.
Sedertdien het die Verenigde State egter op hierdie gebied wette neergelê wat al hoe strenger geword het. In 1985 het die CDC (die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer) die aanvaarbare loodvlak in bloed verlaag tot 25 mikrogram (25 miljoenstes van ’n gram) lood per desiliter bloed. Dit was die helfte van die hoeveelheid lood wat die geneesheer-generaal in 1970 gevaarlik genoem het, wat 60 mikrogram per desiliter was. Maar met verloop van jare was daar meer studies wat getoon het dat kinders moontlik deur selfs ’n laer loodvlak benadeel word. Gevolglik het die CDC in 1991 weer eens die aanvaarbare vlak tot minder as die helfte verlaag, tot 10 mikrogram per desiliter.
Hoewel daar skerp kritiek teen een van die belangrikste studies is wat hierdie verandering teweeggebring het, het ander studies met soortgelyke resultate vorendag gekom. In Skotland het twee studies byvoorbeeld ’n loodvlak van maar 11 mikrogram per desiliter met verminderde intelligensie en gedragsafwykings by kinders gekoppel. En soos die Bangkok Post vroeër in 1992 gesê het, kan wette soos die een in Thailand wat volwassenes teen lood beskerm nie noodwendig kinders—veral die ongebore kinders—beskerm nie.
[Venster/Prent op bladsy 8]
Loodvergiftiging—’n eeue oue probleem
LOOD is moontlik reeds in 3000 v.G.J. gebruik. Die Egiptenare van die ou tyd het dit vir beeldhou- en pottebakkerskuns gebruik, die Fenisiërs en Chaldeërs het daarmee handel gedryf, en die Grieke en Atheners het dit sewe eeue lank gemyn. Maar dit was die Romeine, gedurende die bewind van die Caesars, wat die industriële potensiaal van lood eerste ontdek het—en hulle het duur vir daardie ontdekking betaal.
Die Romeine het dit plumbum genoem. Bekwame werkers het groot loodplate in 15 standaardlengtes pyp gerol om in hulle uitgebreide watervervoerstelsels te gebruik. Die Romeine sowel as die Grieke het die voorbeeld gestel vir vandag se loodgieters deur loodpype in mekaar te laat pas. Hulle kon gevolglik kilometers pyp verbind om water oor lang afstande te vervoer. Die Romeine het ook drinkkommetjies, wynhouers en kookgerei van lood gemaak. Weerbestande membrane is van loodplate gemaak en in dakwerk gebruik.
Maar net soos die gebruik van lood nie iets nuuts is nie, is die feit dat dit mense siek maak ook nie ’n onlangse ontdekking nie. “Minstens 2000 jaar al”, skryf die tydskrif Science News, “besef gemeenskappe dat lood ’n baie giftige stof is, hoewel die manier waarop dit mense vergiftig steeds vir hulle ’n raaisel gebly het”. Hoe dit ook al sy, die Romeine van die ou tyd het die werklike gevare van lood nie juis ernstig opgeneem nie. Volgens Jerome Nriagu van die Kanadese Nasionale Waternavorsingsinstituut was dit ’n algemene gebruik om druiwestroop, wat in loodpotte gekook is, by hulle wyn te gooi. Die tydskrif Newsweek haal Nriagu se woorde aan: “Een teelepel van hierdie stroop sou oorgenoeg gewees het om chroniese loodvergiftiging te veroorsaak.” En die Romeinse leiers was groot wyndrinkers. Nriagu skat dat die Romeinse elite elke dag enigiets tussen een en vyf liter gedrink het!
“Daar word veronderstel dat een van die redes vir die Romeine se ondergang”, sê The Medical Post van Kanada, “hulle neiging was om hulle wyn met lood te versoet.” Een verslag sê: “Vergiftiging as gevolg van die algemene gebruik van die metaal in gereedskap, wapens, skoonheidsmiddels, wynhouers en waterpype was moontlik verantwoordelik vir die kranksinnigheid [van Rome] se keisers en vir die hoë voorkoms van onvrugbaarheid en miskrame wat dit vir die heersersklas moeilik gemaak het om hulleself van opvolgers te voorsien.”
[Venster/Prente op bladsy 10]
Lood in die natuur
AS JY ’n natuurliefhebber is, sal dit jou moontlik ontstel as jy hoor dat daar elke jaar tot driemiljoen watervoëls as gevolg van loodvergiftiging doodgaan. Ook hier word loodvergiftiging ’n “onsigbare siekte” genoem omdat dit dikwels nie opgemerk word nie. Die Amerikaanse Departement van Binnelandse Sake sê dat daar uiteindelik vir elke voël wat deur ’n jagter geskiet word ’n kwart kilogram haelgeweerkorrels in die omgewing beland. Bioloë wat monsters uit die boonste paar sentimeter van moerasgebiede, damme en mere se bodems geneem het, het in sekere gebiede meer as 250 000 loodkorrels per hektaar gevind! Die bodem is ook met verlore loodsinkers besaai.
As die jagseisoen verby is, sluk eende en ander watervoëls wat op soek is na kos hierdie haelkorrels in. Drie tot tien dae later bereik die gif die bloedstroom en versprei dit na die hooforgane—die hart, die lewer en die niere. Tussen die 17de en 21ste dag raak die voëls in ’n koma en gaan hulle dood. Witkoparende kan loodvergiftiging kry wanneer hulle die loodhaelkorrels inkry wat in die watervoëls is wat hulle eet. Sedert 1966 is meer as 120 van hierdie seldsame roofvoëls as gevolg van loodbesmetting dood aangetref—meer as die helfte van hulle sedert 1980. Hierdie syfer verteenwoordig natuurlik slegs daardie arende wat ondersoek is en waarvan die doodsoorsaak vasgestel is; dit is waarskynlik maar ’n breukdeel van die werklike totaal.