’n Loodbelaaide wêreld?
’NOFFISIER in die Amerikaanse lugmag het skielike en onverklaarbare persoonlikheidsveranderinge ondervind. Hy het 14 kilogram verloor en kon nie slaap nie. Sy vrou het bloedarmoedig en gedehidreerd geraak. Wat was aan die gang? Opskepbakke wat die twee in ’n ander land gekoop het, was nie reg verglans nie. Hulle het lood in die egpaar se voedsel afgegee.
In ’n ander geval het ’n babadogtertjie amper heeltemal opgehou groei, en sy kon nie haar kos behoorlik verteer nie. Waarom? Die kraanwater in haar huis was met lood besoedel. ’n Tweejarige seuntjie het loodvergiftiging opgedoen van die grond in sy eie agterplaas. Petroldampe van ’n nabygeleë snelweg het die grond met lood besmet.
Hoe ernstig is die probleem?
Die mens weet al eeue lank dat lood giftig is. Party geskiedkundiges meen selfs dat loodvergiftiging bygedra het tot die ondergang van die Romeinse Ryk. Die Romeine se grootskaalse gebruik van lood in hulle wynvate, kombuisgereedskap, skoonheidsmiddels en veral hulle wyn, kon moontlik algemene fisiese en geestesprobleme veroorsaak het.
Wat van vandag? “In ’n sekere sin het ons almal loodvergiftiging”, antwoord dr. Donald Louria in die Cecil Textbook of Medicine. Die mense van hedendaagse nywerheidsnasies het omtrent honderd keer meer lood in hulle liggame as wat die mense voor industrialisasie gehad het. Dokters het Ontwaak! egter verseker dat daar tot nog toe nie bewys is dat dít gewoonlik die oorsaak van algemene siektes onder die bevolking is nie.
Lood is veral vir kinders gevaarlik. Hulle absorbeer dit makliker as volwassenes, en dit kan hulle verstandelike ontwikkeling en vermoëns permanent aantas. Loodvergiftiging kan byvoorbeeld elke jaar die intelligensie van sowat 140 000 Amerikaanse kinders met tot vyf IK-punte verlaag.
Lae loodvlakke het deur die drinkwater miljoene huishoudings binnegedring omdat loodpype tot die veertigerjare algemeen gebruik is. Selfs koperpype wat sedertdien gebruik word, is met soldeersel gekoppel wat lood bevat, hoewel daar ’n paar jaar gelede op party plekke wette uitgevaardig is wat loodvrye soldeersel vereis. Drinkfonteine by skole en kantore is al as bronne van lood geïdentifiseer. As die plaaslike water korrosie veroorsaak, kan dit lood in die pypwerk oplos en dit deur die kraan tot in jou glas voer.
Grond en stof is ook draers van lood. Verfstukkies wat verkrummel en industriële loodsmelters het ook ’n rol gespeel. Petrol is ’n groot bron van loodbesoedeling. In die twintigerjare is lood by petrol gevoeg om enjinklop te voorkom. Motors en fabrieke het sodoende reeds miljoene ton lood in die lug geblaas, en dit het met die stofdeeltjies en grond van ons planeet verbind. Looddraende stof beland selfs op van ons voedsel.
Is daar enige hoop?
In die sestiger- en sewentigerjare is daar duidelik gewaarsku teen die gevare van lood, en baie belangrike hervormings is sedertdien wetlik bepaal. Verf se loodinhoud is baie verminder. ’n Aantal lande het gevorder met hulle poging om loodbevattende petrol uit te skakel—met opmerklike gevolge. In die Verenigde State het die loodvlak in mensebloed byvoorbeeld gemiddeld met oor ’n derde gedaal. In Europa word voorspel dat amper alle petrol daar teen die jaar 2000 loodvry sal wees.
As gevolg van sulke hervorminge het gevalle van ernstige loodvergiftiging afgeneem. Waarom is daar dan nog steeds rede tot kommer? Omdat wetenskaplikes die loodvlakke wat hulle eens gedink het veilig is, nou as gevaarlik beskou. En die mens het geensins opgehou om die omgewing met lood te besoedel nie. Die FDA Consumer haal ’n onlangse verslag aan wat skat dat die mens nog steeds jaarliks 400 000 ton lood in die atmosfeer stort.
Wat van die toekoms? Sal die mens aanhou om die wêreld met lood te bedek? Gelukkig hoef ons nie in wanhoop op die mens te wag om die ontsaglike skade te herstel wat hy die aarde aangedoen het nie. Die mens se immer betroubare Skepper beloof om “die verderwers van die aarde te verderf”.—Openbaring 11:18.
Maar wat van die hede? Wat is enkele praktiese stappe wat jy kan doen om jou en jou gesin te beveilig?
Maniere om jouself te beskerm
Water: As jy gegronde redes het om bekommerd te wees oor jou kraanwater, kan jy dit gerus laat toets. As jou huis se pype lood in die water afgee, kan net ’n baie duur filter wat osmose omkeer dit doeltreffend verwyder. Standaardsteenkoolfilters verwyder nie lood nie. Nogtans kan jy die loodinhoud verminder deur die water eers vir etlike minute lank te laat loop, veral nadat dit ’n tyd lank in die pype was. Moenie warm kraanwater gebruik vir drinkdoeleindes of vir voedselvoorbereiding nie, aangesien dit meer lood bevat.
Voedsel: Erdebakke wat afgewerk is met ’n glasuur wat ’n loodbasis het, hou ’n gevaar in as hulle teen ’n te lae temperatuur gebak is. Aangesien baie lande nie wette het wat hulle keramiekvervaardiging beheer nie, moet jy versigtig wees wanneer jy erdegoed in sulke lande koop. Dit is gevaarliker om kos in erdewerk te bêre as wat dit is om kos daarin te bedien, aangesien meer lood met tyd afgegee word. As jy vermoed dat ’n keramiekvoorwerp met lood besoedel is, wil jy dit moontlik net as ’n versiering gebruik en nie voedsel daarin bêre nie.
Wanneer jy vrugte en groente was, verwyder jy omtrent die helfte van die loodstof daarop. En goeie voeding is ’n ander voorsorgmaatreël. ’n Goed gebalanseerde dieet voorsien gewoonlik die regte hoeveelhede sink, yster en kalsium, en hulle kan help om jou liggaam se loodvlakke laag te hou. Jy moet versigtig wees dat jou kinders nie enige loodprodukte, soos loodspeelgoed en verfstof, in hulle monde sit nie. Hulle moenie speel waar hulle loodstof kan inkry nie.
Terwyl ons uitsien na ’n permanente oplossing vir die loodprobleem in God se nuwe wêreld, is daar dus onmiddellike stappe wat ons kan doen om onsself te beskerm.