Ons het gevind waarna ons gesoek het
Soos vertel deur Bert Tallman
Ek het aangename herinneringe van my lewe as jong seun op die Blood-reservaat, ’n Indianegemeenskap wat deel is van die Swartvoet-nasie in Alberta, Kanada. Ons het nie ver van die Kanadese Rotsgebergte en die pragtige Louise-meer gewoon nie.
EK KOM uit ’n gesin met sewe seuns en twee dogters. Ek en my broers en susters was dikwels by my ouma se huis. Sy het hard gewerk en ons die tradisionele lewenswyse geleer wat deur baie geslagte van die Swartvoet-volk voor ons gevolg is. Ons het geleer hoe om wilde bessies in te samel, tradisionele kos voor te berei en tuin te maak. My oupa en my pa het my geneem om te gaan jag en visvang. Ons het elke, takbokke en Amerikaanse elande vir kos en vir hulle vel gejag. Ons ouers was harde werkers en het hulle bes gedoen om ’n goeie tuiste vir ons te voorsien. Ek het my lewe op die reservaat baie geniet.
Maar in 1963 het alles verander toe my ouma gesterf het. Hierdie gebeurtenis het my, as ’n vyfjarige seuntjie, verwar. Niks wat ek gehoor het, het my werklik vertroos nie. Selfs op daardie vroeë ouderdom het ek my afgevra: ‘As daar ’n Skepper is, waar is hy? Waarom gaan mense dood?’ Soms het ek van frustrasie begin kreun. Wanneer my ouers my gevra het wat fout is, het ek eenvoudig vir hulle gesê dat iets seer is.
Kontak met wit mense
Voordat my ouma gesterf het, het ons min kontak met wit mense gehad. Wanneer ons hulle wel gesien het, het ek aanmerkings gehoor soos: “Hy is net nog ’n bose, gierige wit man, sonder enige gevoelens. Hulle is nie regte mense nie.” Ek is gewaarsku dat baie min wit mense opreg is en dat hulle nie vertrou kan word nie. Hoewel ek nuuskierig was om hulle te ontmoet, was ek versigtig omdat wit mense in ons gebied ons dikwels gespot en verkleinerende opmerkings oor ons gemaak het.
Kort nadat my ouma oorlede is, het my ouers alkohol begin misbruik, wat daardie jare van die hartseerste tye van my lewe gemaak het. Toe ek agt jaar oud was, het twee Mormone ons huis begin besoek. Dit het gelyk of hulle goeie mense is. My ouers het ingestem met hulle voorstel dat ek aan ’n uitplasingsprogram deelneem. Soos ek dit verstaan het, sou die program Indiaanse kinders hervorm deur hulle by wit mense te laat woon. Weens my ouers se omstandighede het hulle klaarblyklik gedink dat dit vir my beswil sou wees om by ’n ander gesin te gaan woon. Ek was geskok en teleurgesteld, aangesien ek my ouers al hoor sê het dat wit mense nie vertrou kan word nie. Ek wou nie gaan nie en het uit die situasie probeer kom. Ek het uiteindelik ingestem toe my ouers my verseker dat my ouer broer sou saamgaan.
Maar toe ons in Vancouver, Brits-Columbië, aankom, is ek en my broer van mekaar geskei en is ek na ’n plek geneem sowat 100 kilometer van waar hy was! Ek was baie hartseer. Hoewel die gesin by wie ek gewoon het, goeie mense was, was dit ’n traumatiese ondervinding, en ek was verskriklik bang. Ek het ongeveer tien maande later teruggekeer huis toe.
Weer tuis by my ouers
Hoewel die situasie by die huis nie eintlik verander het nie, was ek bly om terug te wees. Toe ek omtrent 12 jaar oud was, het my ouers opgehou drink. Dit was ’n verligting, maar ek het self reeds ’n slegte lewe gelei, aangesien ek met dwelms en alkohol begin eksperimenteer het. My ouers het my aangemoedig om by ander dinge betrokke te raak, insluitende rodeo, iets wat ek werklik geniet het. Die rodeo was nie vir lafaards nie. Ek het geleer om wilde bulle wat bokspring, ten minste agt sekondes lank te ry sonder om afgegooi te word terwyl ek met net een hand aan ’n tou vashou wat om die bul se middellyf vasgebind is.
Toe ek ’n tiener was, het die stam se oudstes vir die eerste keer met my oor die Indiaanse godsdiens kom praat. Ek het opreg daarin belanggestel, aangesien ek min respek vir die sogenaamde witmansgodsdienste gehad het. Dit het vir my gelyk asof Swartvoet-gebruike die goedhartigheid en regverdigheid bevorder het wat by baie “Christelike” godsdienste ontbreek het. Ek het tuis gevoel onder Indiane en die humor en hegtheid geniet wat onder families en vriende bestaan het.
Omstreeks hierdie tyd het ek ook geleer omtrent die onregte wat Indiane eeue lank verduur het. Daar is vir my gesê dat wit mense siekte onder ons versprei het en ons vernaamste lewensmiddel, die buffels, uitgeroei het. Trouens, kolonel R. I. Dodge, van die Amerikaanse leër, het volgens berig gesê: “Maak elke buffel dood wat julle kan. Elke dooie buffel beteken een Indiaan minder.” Ek het besef dat hierdie gesindheid die Swartvoet-volk ontmoedig het en tot ’n gevoel van hulpeloosheid gelei het.
Daarbenewens het party regeringsleiers, tesame met hulle godsdiensbondgenote, doelgerigte pogings aangewend om die Indiane, wat hulle as barbare beskou het, te assimileer en te verander. Hulle het geglo dat Indiane in alle opsigte moes verander—insluitende hulle kultuur, oortuigings, gedrag en taal—sodat hulle soos wit mense sou lewe. In Kanada is ’n paar Indiaanse kinders in godsdienskoshuise mishandel. Ander het hulle gewend tot dwelm- en alkoholmisbruik sowel as geweld en selfmoord—probleme wat vandag nog op reservate voortduur.
Om van hierdie probleme af weg te kom, het sommige Indiane besluit om die Swartvoet-kultuur te verwerp. Hulle het besluit om Engels met hulle kinders te praat eerder as die Swartvoet-taal en het probeer om in sekere opsigte soos wit mense te lewe. Baie is egter nie aanvaar nie, maar gespot, nie net deur party van die wit bevolking nie, maar ook deur ander Indiane, wat hulle “appel-Indiane” genoem het—rooi buite maar wit binne.
Dit was hartseer om te sien hoe Indiane op soveel verskillende maniere ly. Ek het gesmag na beter toestande vir die mense in ons reservaat sowel as ander regoor Kanada en die Verenigde State.
Ek wou graag antwoorde hê
As tiener het ek gedink dat ek nooit aanvaar sou word nie. My gevoelens van minderwaardigheid het dikwels in gegriefdheid verander. Ek het wit mense selfs begin haat. Maar my ouers en tante het my gewaarsku om nie negatiewe gevoelens van haat en wraak te koester nie; hulle het my eerder aangemoedig om vergewensgesind te wees en liefde te toon en om die vooroordeel van ander oor die hoof te sien. Ek het later geleer dat hierdie raad met Bybelbeginsels ooreenstem. Ek wou nog steeds bitter graag die antwoorde vind op die vrae wat my as kind gekwel het. Ek het ook begin wonder waarom ons op die aarde is en waarom ongeregtigheid voortduur. Dit het nie vir my sin gemaak dat ons net ’n kort tydjie lewe en dan sterf nie. Ek was verward.
Elke keer wanneer Jehovah se Getuies na ons huis toe gekom het, is ek na die deur gestuur. Ek het hulle altyd gerespekteer omdat dit nie vir my gelyk het asof hulle bevooroordeeld is nie. Hoewel ek dit moeilik gevind het om my vrae reg te bewoord, het ons altyd interessante gesprekke gehad. Ek onthou ’n keer toe John Brewster en Harry Callihoo, ’n Getuie wat ’n Swartvoet-Indiaan is, ons besoek het. Ons het ’n lang gesprek gehad terwyl ons deur die gras van die prêrie geloop het. Ek het ’n boek by hulle gekry en dit omtrent halfpad deurgelees voordat dit op die een of ander manier verlore geraak het.
Ek het rodeo begin ry
Ek het raad gevra by ouer mense in my reservaat. Hoewel ek hulle weldeurdagte raad waardeer het, het ek nooit bevredigende antwoorde op my vrae oor die lewe gekry nie. Toe ek omtrent 16 jaar oud was, het ek die huis verlaat, en my lewe het om rodeokompetisies begin draai. By die partytjies wat ek ná rodeo’s bygewoon het, het mense gewoonlik oormatig gedrink en dwelms gebruik. My gewete het my gepla omdat ek geweet het dat sulke gedrag verkeerd is en omdat ek aangevoel het dat God nie met my lewenswyse tevrede is nie. Ek het dikwels tot die Skepper gebid vir hulp om te doen wat reg is en om antwoorde te vind op die vrae wat my nog steeds gekwel het.
In 1978, terwyl ek in Calgary was, het ek ’n jong Indiaanse vrou met die naam Rose ontmoet. Sy was deels Swartvoet en deels Cree. Ons het in dieselfde dinge belanggestel, en ek kon openhartig en vryelik met haar kommunikeer. Ons het verlief geraak en is in 1979 getroud. Ons gesin het gegroei, aangesien ons later ’n dogter, Carma, en ’n seun, Jared, gehad het. Rose was ’n lojale, ondersteunende vrou en ’n goeie ma. Eendag toe ek en my gesin my ouer broer besoek het, het ek ’n boek gevind met die titel Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe.a Wat ek gelees het, het my belangstelling geprikkel en het baie redelik geklink. Maar net toe ek voel dat ek die Bybel se boodskap begin verstaan, het ek by ’n deel van die boek gekom waar die bladsye uitgeskeur was. Ek en Rose het hard probeer om die ontbrekende bladsye te vind, maar tevergeefs. Ek het nietemin aangehou om vir hulp te bid.
’n Besoek aan die priester
In die lente van 1984 het Rose geboorte gegee aan ons derde kind, ons pragtige dogtertjie, Kayla. Maar net twee maande later het Kayla aan ’n aangebore hartkwaal gesterf. Ons was verpletter, en ek het nie geweet hoe om Rose te vertroos nie. Sy het my oorreed om saam met haar na die Katolieke priester in ons reservaat te gaan om vertroosting en antwoorde op ons vrae te vind.
Ons het hom gevra waarom ons dogtertjie moes sterf en waarheen sy gegaan het. Hy het vir ons gesê dat God Kayla geneem het omdat hy nog ’n engel nodig gehad het. Ek het gedink: ‘Waarom sou God ons dogtertjie moes neem om ’n engel te wees as hy die almagtige Skepper is? Van watter nut sou ’n hulpelose baba wees?’ Die priester het nie een keer die Bybel oopgemaak nie. Toe ons wegstap, het ons leeg gevoel.
Gebed was ons grootste onderskraging
Een Maandagoggend laat in November 1984 het ek lank tot God gebid en hom desperaat gesmeek om my te help om ’n beter persoon te wees, om sin te maak van wat aangaan en die doel van die lewe te verstaan. Daardie selfde oggend het Diana Bellemy en Karen Scott, twee van Jehovah se Getuies, aan die deur geklop. Hulle was baie opreg en vriendelik en was gretig om hulle boodskap oor te dra. Ek het geluister, ’n Bybel en ’n boek met die titel Oorlewing tot in ’n nuwe aardeb aanvaar en gesê dat Diana later daardie week saam met haar man, Darryl, kan terugkom.
Eers nadat hulle weg is, het ek besef dat dit die antwoord op my gebed moes gewees het. Ek was so opgewonde dat ek heeltyd in die huis op en af geloop het terwyl ek gewag het dat Rose van die werk af kom sodat ek haar kon vertel wat gebeur het. Tot my verbasing het Rose gesê dat sy die vorige nag ook gebid het en dat sy God gevra het om haar die ware godsdiens te help vind. Daardie Vrydag het ons ons eerste Bybelstudie gehad. Ons het later uitgevind dat Karen en Diana, op die dag toe hulle ons besoek het, nie die huise kon vind waar hulle van plan was om te preek nie. Toe hulle ons huis sien, het hulle gevoel dat hulle nietemin met ons wou kom praat.
Antwoorde op my vrae—Uiteindelik!
Ons familie en vriende was verward en het ons aanvanklik kil behandel toe ons die Bybel begin studeer het. Toe het hulle ons onder druk geplaas deur te sê dat ons ons lewens weggooi en nie ons talente en vermoëns ten volle gebruik nie. Maar ons was vasbeslote om nie ons rug te keer op ons nuwe Vriend, ons Skepper, Jehovah, nie. Ons het immers iets kosbaars gevind—die wonderlike waarhede en die heilige geheime in God se Woord, die Bybel (Matteus 13:52). Ek en Rose is albei in Desember 1985 as Jehovah se Getuies gedoop. Ons familielede het nou groot respek vir Jehovah se Getuies omdat hulle sedert ons doop positiewe veranderinge in ons lewe gesien het.
Ja, ek het gevind waarna ek gesoek het! Die Bybel beantwoord belangrike vrae op ’n eenvoudige en logiese manier. Dit was vir my gerusstellend om te leer wat die doel van die lewe is, waarom ons sterf en van God se belofte dat ons weer met ons dogter Kayla verenig kan word en sal kan sien hoe sy in ’n volmaakte omgewing grootword (Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:4). Ek het mettertyd ook geleer dat ons nie ons liggaam moet misbruik, ’n gebrek aan respek vir die lewe moet toon of wedywering met mekaar moet aanwakker nie (Galasiërs 5:26). Dit was ’n moeilike besluit, maar ek het gekies om die rodeo op te gee sodat ek God kon behaag.
Juiste kennis van die Bybel het ons bevry van bygelowe wat baie Indiane kwel, soos om te dink dat ’n besoekende uil of ’n huilende hond tot die dood van ’n familielid kan lei. Ons is nie meer bang dat onsigbare geeste in lewende skepsele of lewelose voorwerpe ons leed sal aandoen nie (Psalm 56:4; Johannes 8:32). Ons waardeer nou Jehovah se pragtige skeppingswerke. Ek het vriende van baie nasionaliteite wat ek my broers en susters noem, en hulle aanvaar ons as gelykes en medeknegte van God (Handelinge 10:34, 35). Baie span hulle in om oor ons Indiaanse kultuur en opvattings te leer en om die Swartvoet-taal te praat sodat hulle die Bybel se boodskap op ’n doeltreffende en mooi manier kan oordra.
Ons gesin woon op die Blood-reservaat, in Suid-Alberta, waar ons ’n plasie het. Ons geniet nog steeds die Indiaanse kultuur—insluitende ons tradisionele kos, musiek en dans. Ons neem nie self deel aan tradisionele danse, wat soms powwows genoem word nie, maar ons geniet dit om daarna te kyk wanneer dit gepas is. Ek het ook ons kinders oor hulle erfenis sowel as ’n bietjie van die Swartvoet-taal probeer leer. Baie Indiane is daarvoor bekend dat hulle wonderlike eienskappe het soos goedhartigheid, nederigheid en liefdevolle besorgdheid vir familie en vriende. Hulle is ook bekend vir hulle gasvryheid en hulle respek vir ander mense, insluitende diegene uit ander agtergronde. Ek waardeer en bewonder steeds hierdie dinge.
Dit verskaf ons die grootste vreugde om ons tyd en middele te gebruik om ander te help om Jehovah te leer ken en lief te kry. Ons seun, Jared, dien as ’n vrywilliger by die takkantoor van Jehovah se Getuies naby Toronto. Ek het die voorreg om as ’n ouer man in ons plaaslike gemeente, die Macleod-gemeente, te dien, en ek, Rose en Carma is almal gewone pioniers, of voltydse evangeliedienaars. Ons geniet dit om die predikingswerk in ons moedertaal, die Swartvoet-taal, te doen. Dit is hartverblydend om te sien hoe ander op die waarheid oor die Skepper en sy voornemens reageer.
Die Bybel sê van Jehovah: “As jy hom soek, sal hy hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). Ek is dankbaar dat hy sy belofte nagekom het deur my en my gesin te help om te vind waarna ons gesoek het.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Nou uit druk.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Nou uit druk.
[Lokteks op bladsy 13]
‘As daar ’n Skepper is, waar is hy? Waarom sterf mense?’
[Lokteks op bladsy 16]
‘Baie Indiane is daarvoor bekend dat hulle eienskappe het soos goedhartigheid en nederigheid’
[Prent op bladsy 12]
My ouma het my die tradisionele Swartvoet-kultuur geleer
[Prent op bladsy 15]
My lewe het om rodeo begin draai
[Prent op bladsy 15]
Die spesiale traktaat “You Can Trust the Creator” is in die Swartvoet-taal en ander tale beskikbaar
[Prent op bladsy 15]
Ek put nou vreugde daaruit om Bybel- kennis aan ander mee te deel
[Prent op bladsy 15]
Vandag, saam met my gesin