Behandel asof ek niks werd is nie
“Gedurende my eerste jaar op laerskool in Spanje het die ander kinders in my klas my heeltyd gespot omdat ek baie korter was as hulle. Ek het byna elke dag in trane huis toe gegaan.” —Jennifer, ’n dogter van Filippynse immigrante.
“Toe ek na ’n nuwe skool toe gegaan het, het die wit kinders my beledigende name genoem. Ek het geweet dat hulle my wou uitlok om te baklei. Nogtans het ek op die een of ander manier kalm gebly—maar innerlik het ek seergemaak en verwerp gevoel.” —Timothy, ’n Afro-Amerikaner.
“Toe ek sewe jaar oud was, het die Ibo- en Hausa-volk in Nigerië met mekaar gebots. Ek is deur die haat beïnvloed en het ’n Hausa-seun in my klas begin spot, al was hy voorheen my vriend.” —John, ’n lid van die Ibo- etniese groep.
“Ek en my sendelingmaat was besig om die Bybel se boodskap aan ons bure te verkondig, toe kinders, wat deur die plaaslike geestelikes aangehits is, begin het om agter ons aan te loop en ons met klippe te gooi. Die geestelikes wou hê dat ons die dorp moet verlaat.”—Olga.
HET jy al die vernedering van onregverdige diskriminasie ervaar, wat gewoonlik die gevolg is van vooroordeel? Dalk was dit weens jou velkleur, jou godsdiens, jou finansiële situasie, jou geslag of selfs jou ouderdom. Diegene wat gereeld vooroordeel moet verduur, lewe dikwels in vrees vir verdere slegte behandeling. Wanneer hulle verby ’n groep mense loop, by ’n winkel instap, na ’n nuwe skool toe gaan of ’n geselligheid bywoon, kan dit hulle siek van benoudheid laat voel.
Verder sukkel slagoffers van vooroordeel dalk om ’n werk te kry, of hulle ontvang moontlik minderwaardige mediese sorg en skoolopleiding en geniet minder sosiale voorregte en wetlike regte. Wanneer diskriminasie amptelik goedgekeur word, kan dit tot euwels soos etniese suiwering en volksmoord lei. ’n Eertydse voorbeeld van ’n poging tot volksmoord word in die Bybelboek Ester gevind. Let op die rol wat haat en vooroordeel gespeel het.—Ester 3:5, 6.
Onverdraagsaamheid kan selfs voortduur op plekke waar daar wette teen diskriminasie is. ’n Voormalige Hoë Kommissaris vir Menseregte van die Verenigde Nasies sê: “Ses dekades nadat die Universele Verklaring van Menseregte aangeneem is . . . , is die beginsels van gelykheid en niediskriminasie nog steeds allesbehalwe ’n universele werklikheid.” Dit is sorgwekkend omdat immigrasie en die instroming van vlugtelinge die demografie van baie lande aansienlik verander het.
Is ’n onpartydige samelewing dus net ’n droom? Of kan vooroordeel en diskriminasie oorkom word? Die volgende artikels bespreek hierdie vrae.