Outomatiese navigasie
JY WEET waarskynlik hoe moeilik dit kan wees om jou weg in ’n onbekende dorp te vind. Hoe kan ’n navigator dan sy weg oor bakenlose oseane vind? Om net ’n kompas te hê, help nie tensy ’n navigator weet wat sy posisie in verhouding tot sy bestemming is. Eers met die uitvinding van die sekstant en die mariene chronometer in die 1730’s kon navigators hulle presiese ligging vasstel en hulle roete op ’n kaart aanbring—elke posisiebepaling het egter ure se berekening geverg.
Vandag vind motoriste in baie lande hulle pad met behulp van betreklik goedkoop toestelle wat met die globale posisioneringstelsel (GPS) verbind is. Jy sleutel net die adres van jou bestemming in. Die toestel kan jou presiese posisie op die skerm aandui. Dan rig dit jou na waar jy wil gaan. Hoe werk dit?
Navigasietoestelle wat van satelliete gebruik maak, is afhanklik van omtrent 30 satelliete wat elk seine uitstuur wat die satelliet se posisie en die tyd aandui met ’n akkuraatheid van ’n paar miljardstes van ’n sekonde. Sodra jou toestel met ’n paar satelliete kontak gemaak het, meet dit akkuraat hoe lank ’n sein neem om van die satelliet na jou ontvanger te beweeg. Met hierdie inligting kan dit jou posisie bepaal. Kan jy jou die kompleksiteit van die wiskundige berekeninge voorstel? Binne ’n paar sekondes bereken dit die afstande na drie satelliete, wat elk duisende kilometers ver is en in verskillende rigtings beweeg teen snelhede van baie kilometers per sekonde.
Professors Bradford Parkinson en Ivan Getting het die GPS in die vroeë 1960’s uitgevind. Hoewel dit oorspronklik vir militêre gebruik ontwikkel is, is dit later aan die publiek beskikbaar gestel en het dit in 1996 ten volle in gebruik gekom. ’n GPS-ontvanger is ’n wonder van rekenaartegnologie, maar was dit die eerste outomatiese navigasietoestel?
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Aardbol: Based on NASA photo