Die natuur was eerste
“Selfs die ooievaar in die hemel—hy ken sy vasgestelde tye goed.”—Jeremia 8:7.
JEREMIA het meer as 2 500 jaar gelede oor die migrerende ooievaar geskryf. Vandag verwonder mense hulle nog steeds oor diere wat migreer, soos salm wat duisende kilometer in die oseaan kan swem en kan terugkeer na die stroom waar hulle uitgebroei het en leerskilpaaie wat ook ongelooflike afstande aflê. Die migrasie van een wat in Indonesië nesgemaak het, is 20 000 kilometer ver gevolg tot by die kus van Oregon in die Verenigde State. Dikwels keer leerskilpaaie terug na dieselfde gebied in Indonesië om weer nes te maak.
Party diere kan hulle pad huis toe vind, ’n vermoë wat selfs merkwaardiger is as die navigasie van diere wat migreer. Byvoorbeeld, navorsers het 18 albatrosse per vliegtuig van ’n eilandjie in die middel van die Stille Oseaan geneem na verskeie plekke duisende kilometers daarvandaan en hulle vrygelaat—party naby die westelike kant van die oseaan en ander naby die oostelike kant. Binne ’n paar weke het die meeste van die voëls teruggekeer huis toe.
Duiwe is al meer as 150 kilometer ver na vreemde plekke vervoer terwyl hulle onder diep verdowing of in draaitrommels was, maar nadat hulle ’n paar keer in die lug gesirkel het, het hulle hulle posisie vasgestel en reguit huis toe begin vlieg. Aangesien duiwe hulle weg huis toe kan vind selfs met dowwe lense oor hulle oë, meen navorsers dat hulle hulle posisie in verhouding tot hulle huis bereken deur te let op die rigtings waaruit hulle belangrike navigasie-inligting ontvang.
Koningvlinders uit groot dele van Noord-Amerika migreer meer as duisend kilometer na ’n klein gebied in Mexiko. Al was hulle nog nooit tevore in Mexiko nie, vind hulle hulle weg, dikwels na dieselfde bome waar hulle grootjies die vorige jaar was. Presies hoe hulle dit doen, is nog steeds vir navorsers ’n raaisel.
Terwyl ons outomatiese navigasietoestelle dalk heeltemal van satelliete afhanklik is, lyk dit of baie diere die vermoë het om verskeie navigasiemetodes te gebruik—van die waarneming van landmerke en die son tot die bespeuring van magnetiese velde, kenmerkende reuke en selfs geluide. Die biologieprofessor James L. Gould skryf: “Diere waarvoor akkurate navigasie lewensnoodsaaklik is, is deur die bank oortoegerus. . . . Hulle beskik gewoonlik oor alternatiewe strategieë—’n reeks opsies wat hulle afwissel afhangende van watter een die betroubaarste inligting voorsien.” Navorsers staan steeds verstom oor diere se gesofistikeerde navigasievermoëns.