Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/10 bl. 12-15
  • Hepatitis B—’n Stille doder

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hepatitis B—’n Stille doder
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hoe het ek HBV gekry?”
  • Die belangrikheid van begrip
  • Die belangrikheid van rus
  • Die lewe met hepatitis B
  • Bloedoortappings—Hoe veilig?
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Vigs—Hoe om dit te bestry
    Ontwaak!—1998
  • Studievrae vir die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • ’n Dodelike virus tref Zaïre
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 8/10 bl. 12-15

Hepatitis B—’n Stille doder

“Ek was 27 jaar oud, nog nie lank getroud nie en het gesond gelyk en gevoel. Ek het ’n veeleisende werk gehad en terselfdertyd na baie verantwoordelikhede in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies omgesien. Ek het nie geweet dat hepatitis B my lewer begin vernietig het nie.”—Dukk Yun.

DIE lewer filtreer gifstowwe uit die bloed en verrig ten minste 500 ander belangrike funksies. Daarom kan hepatitis—lewerontsteking—’n persoon se gesondheid verwoes. Hepatitis kan die gevolg wees van oormatige alkoholgebruik of blootstelling aan gifstowwe. Maar virusse is meer dikwels die oorsaak. Wetenskaplikes het vyf van hierdie virusse geïdentifiseer en meen dat daar ten minste nog drie is.—Sien die venster hieronder.

Net een van die vyf—die hepatitis B-virus (HBV)—veroorsaak ten minste 600 000 sterftes elke jaar, wat so te sê dieselfde is as die tol wat malaria eis. Meer as tweemiljard mense—byna ’n derde van die wêreldbevolking—is al met HBV besmet, en die meeste het binne ’n paar maande herstel. Maar by ongeveer 350 miljoen mense het die siekte chronies geword. Vir die res van hulle lewe, hetsy hulle simptome het of nie, kan hulle ander besmet.a

As daar vroeg met die regte mediese behandeling begin word, kan dit help om te voorkom dat sommige met chroniese HBV ernstige lewerskade opdoen. Maar die meeste weet nie dat hulle besmet is nie, aangesien HBV net met ’n spesifieke bloedtoets opgespoor kan word. Selfs gewone lewerfunksietoetse kan normaal voorkom. HBV kan dus ’n stille doder wees, wat sonder waarskuwing toeslaan. Duidelike simptome verskyn moontlik eers dekades nadat ’n persoon besmet is. Teen dié tyd het lewersirrose of -kanker dalk reeds ontwikkel. Hierdie siektes is verantwoordelik vir die dood van 1 uit 4 HBV-draers.

“Hoe het ek HBV gekry?”

“My simptome het die eerste keer verskyn toe ek 30 was”, sê Dukk Yun. “Ek het diarree gehad, en daarom het ek na ’n dokter in Westerse geneeskunde gegaan, maar hy het net die simptome behandel. Daarna is ek na ’n tradisionele Asiatiese dokter toe, wat my medisyne gegee het vir my ingewande en maag. Nie een van die dokters het my vir hepatitis getoets nie. Omdat die diarree voortgeduur het, het ek na die Westerse dokter toe teruggegaan.b Hy het liggies teen die regterkant van my buik geklop, wat my seergemaak het. ’n Bloedtoets het sy vermoede bevestig—ek was ’n draer van die hepatitis B-virus. Ek was geskok! Ek het nog nooit ’n bloedoortapping gehad nie, en ek het ook nie ’n onsedelike lewe gelei nie.”

Nadat Dukk Yun uitgevind het dat hy HBV het, het sy vrou, ouers, broer en susters ook hulle bloed laat toets, en hulle het almal teenliggaampies teen HBV gehad. Maar in hulle geval het hulle immuunstelsel die virus uit hulle liggaam verwyder. Het Dukk Yun HBV by een van hulle gekry? Was hulle almal aan dieselfde bron blootgestel? Niemand kan vir seker sê nie. Trouens, in omtrent 35 persent van die gevalle, bly die oorsaak ’n raaisel. Wat egter wel bekend is, is dat hepatitis B nie oorerflik is nie en feitlik nooit opgedoen word deur terloopse kontak of deur kos wat gedeel word nie. HBV word eerder versprei wanneer ’n besmette persoon se bloed of ander liggaamsvloeistowwe, soos sperma, vaginale afskeidings of speeksel, ’n ander persoon se bloedstroom deur stukkende vel of slymvliese binnedring.

Baie mense word besmet deur oortappings van besmette bloed, veral in lande waar toetse om HBV op te spoor, beperk is of glad nie bestaan nie. HBV is 100 keer besmetliker as MIV, die virus wat vigs veroorsaak. Selfs ’n baie klein hoeveelheid besmette bloed, soos wat op ’n skeermes gevind kan word, kan HBV oordra, en ’n droë bloedvlek kan ’n week of langer besmetlik bly.c

Die belangrikheid van begrip

“Toe my maatskappy hoor dat ek HBV het, het hulle my in ’n klein kantoor ver van die meeste van my kollegas gesit”, vertel Dukk Yun. Hierdie soort behandeling is nie ongewoon nie en kan voortspruit uit ’n verkeerde opvatting van hoe die virus versprei. Selfs mense wat andersins goed ingelig is, kan hepatitis B verwar met hepatitis A, wat hoogs aansteeklik maar nie so lewensgevaarlik is nie. Wat meer is, omdat HBV seksueel oordraagbaar is, word selfs draers wat goeie sedes het, soms met agterdog bejeën.

Verkeerde opvattings en agterdog kan ernstige probleme skep. Byvoorbeeld, in baie plekke word HBV-draers, jonk sowel as oud, onnodig verstoot. Bure laat hulle kinders nie toe om met hulle te speel nie, skole gee hulle nie toelating nie en werkgewers wil hulle nie aanstel nie. Omdat mense bang is dat daar teen hulle gediskrimineer sal word, laat baie hulle nie toets vir HBV nie of sê hulle nie vir ander as hulle die siekte het nie. Party plaas selfs hulle eie toekomstige gesondheid en dié van hulle gesinslede op die spel eerder as om die waarheid bekend te maak. Die dodelike kringloop van die siekte kan dus geslagte lank voortduur.

Die belangrikheid van rus

“Hoewel my dokter algehele rus voorgeskryf het, is ek twee maande later terug werk toe”, vertel Dukk Yun. “Bloedtoetse en CT-skanderings het geen teken van sirrose getoon nie, en daarom het ek gedink dat ek nie veel makeer nie.” Drie jaar later het Dukk Yun se maatskappy hom na ’n groot stad verplaas, waar sy lewe stresvoller geword het. Omdat hy rekeninge moes betaal en sy gesin moes onderhou, het hy bly werk.

Binne ’n paar maande het die virustelling in Dukk Yun se bloed die hoogte ingeskiet en het hy uitgeput begin voel. “Ek moes uit my werk bedank”, het hy gesê, “en nou is ek spyt dat ek so hard gewerk het. As ek vroeër rustiger geraak het, sou ek dalk nie so siek geword het en my lewer verder beskadig het nie.” Dukk Yun het ’n uiters belangrike les geleer. Van toe af het hy minder begin werk en sy uitgawes besnoei. Ook het sy hele gesin hulle samewerking gegee; sy vrou het selfs ’n werkie gekry om hulle uitgawes te help dek.

Die lewe met hepatitis B

Dukk Yun se gesondheid het gestabiliseer, maar sy lewer het al hoe meer weerstand gebied teen die bloed wat daardeur vloei, wat sy bloeddruk verhoog het. Elf jaar later het ’n aar in sy slukderm gebars, en bloed het by sy keel uitgestroom, wat hom ’n week in die hospitaal laat beland het. Vier jaar later het hy geestesverwarring ondervind. Ammoniak het in sy brein opgebou omdat sy lewer dit alles nie meer kon uitfiltreer nie. Mediese behandeling het die probleem egter binne ’n paar dae reggestel.

Dukk Yun is nou 54. As sy toestand versleg, is sy opsies beperk. Viruswerende behandeling kan nie die virus heeltemal uitroei nie en kan ernstige newe-effekte hê. Die laaste opsie is ’n leweroorplanting, maar die waglys is langer as die skenkerlys. “My lewe hang aan ’n draadjie”, sê Dukk Yun. “Maar dit help niks om daaroor te tob nie. Ek lewe nog, het ’n dak oor my kop en het ’n goeie gesin. Trouens, in sekere opsigte was my toestand ’n bedekte seën. Ek het meer tyd om saam met my gesin deur te bring en meer tyd om die Bybel te bestudeer. Dit stil my vrese van ’n ontydige dood en help my om uit te sien na ’n lewe sonder siekte.”d

Dukk Yun se gesin is gelukkig, en hy, sy vrou en hulle drie kinders neem almal aan die voltydse Christelike bediening deel, en dit is deels te danke aan sy positiewe beskouing.

[Voetnote]

a Die siekte word as chronies beskou as die immuunstelsel die virus nie binne ses maande vernietig het nie.

b Ontwaak! beveel geen spesifieke vorm van mediese behandeling aan nie.

c Bloed van ’n besmette persoon moet dadelik en deeglik skoongemaak word deur beskermende handskoene te gebruik asook ’n vars mengsel van 1 deel huishoudelike bleikmiddel en 10 dele water.

d Vir inligting oor die Bybelse hoop op ’n tyd wanneer siekte sal eindig, sien Openbaring 21:3, 4 en die boek Wat leer die Bybel werklik?

[Lokteks op bladsy 13]

Vroeë mediese behandeling kan skade voorkom

[Lokteks op bladsy 14]

Omdat mense bang is dat daar teen hulle gediskrimineer sal word, laat baie hulle nie toets vir HBV nie of sê hulle nie vir ander as hulle die siekte het nie

[Venster op bladsy 12, 13]

WATTER SOORT HEPATITIS IS DIT?

Daar is vyf virusse wat hepatitis veroorsaak; die drie algemeenstes word die A-, B- en C-virus genoem. Daar is vermoedelik ook ander virusse. Die simptome van alle vorme van hepatitis kan griepagtig wees en kan soms geelsug insluit. Baie mense, veral kinders, vertoon geen simptome nie. In die geval van hepatitis B en hepatitis C kan die lewer reeds erg beskadig wees teen die tyd dat die simptome verskyn.

HEPATITIS A-VIRUS (HAV)

HAV kom in die ontlasting van ’n besmette persoon voor. Die virus kan in sout- of varswater en in ysblokkies oorleef. ’n Mens kan met HAV besmet word deur

● Rou seekos te eet wat uit water kom wat met menslike afval besoedel is of deur besoedelde water te drink

● Nabye fisiese kontak met ’n besmette persoon te hê of deur kos, drinkgoed of eetgerei met hom te deel

● Jou hande nie deeglik te was nadat jy die toilet gebruik het of ’n besmette baba se doek omgeruil het of voordat jy kos maak nie

HAV laat ’n mens baie siek word, maar dit is gewoonlik nie chronies nie. In byna al die gevalle raak die liggaam binne ’n paar weke of maande self van die virus ontslae. Daar is geen spesifieke standaardbehandeling buiten rus en genoeg voedsame kos nie. Alkohol sowel as medikasie wat ’n las op die lewer plaas, soos asetaminofeen, moet vermy word totdat ’n dokter bepaal dat die lewer heeltemal genees het. Iemand wat HAV gehad het, sal dit waarskynlik nie weer kry nie, maar kan ander soorte hepatitis kry. Inenting kan hepatitis A voorkom.

HEPATITIS B-VIRUS (HBV)

HBV kom in die bloed, sperma en vaginale vloeistowwe van besmette persone voor. Die virus versprei wanneer hierdie vloeistowwe in die liggaam kom van iemand wat nie daarteen immuun is nie. Die virus kan oorgedra word deur

● Geboorte (van ’n besmette ma na haar baba)

● Mediese, tandheelkundige of tatoeëerinstrumente, asook instrumente waarmee gaatjies deur die vel gesteek word, wat nie behoorlik gesteriliseer is nie

● Spuitnaalde, skeermesse, naelvyltjies of -knippers, tandeborsels of enigiets anders te deel wat selfs net ’n klein hoeveelheid bloed deur enige stukkende plek in die vel kan laat ingaan

● Seksuele bedrywighede

Gesondheidsowerhede meen dat HBV nie oorgedra word deur insekte of deur hoesery, borsvoeding, omhelsing of deur hande vas te hou, op die wang te soen of voedsel, drinkgoed, eetstokkies of ander eetgerei te deel nie. Die meeste volwassenes herstel van hewige HBV en sal dan immuun daarteen wees. Klein kindertjies loop ’n groot risiko om chroniese ontsteking te ontwikkel. As chroniese hepatitis B nie behandel word nie, kan dit lewerversaking en die dood tot gevolg hê. Inenting kan hepatitis B voorkom.

HEPATITIS C-VIRUS (HCV)

HCV word op feitlik dieselfde manier as HBV oorgedra, maar meestal wanneer medisyne of dwelms met besmette naalde ingespuit word. Daar is geen entstof teen hepatitis C nie.e

[Voetnoot]

e Die Wêreldgesondheidsorganisasie voorsien meer inligting oor hepatitis in verskeie tale by www.who.int.

[Venster op bladsy 14]

DIE HBV-KRINGLOOP WORD VERBREEK

Hoewel HBV mense regoor die wêreld aantas, woon omtrent 78 persent van diegene met chroniese hepatitis B in Asië en op eilande in die Stille Oseaan. In ’n groot gedeelte van dié gebied is 1 uit 10 persone ’n draer. Die meeste lyers daar kry die virus by geboorte van hulle ma of vroeg in hulle kinderjare weens kontak met die besmette bloed van ander kinders. ’n Doeltreffende entstof vir pasgebore babas en ander wat die risiko loop om dit te kry, help om hierdie kringloop te verbreek.f Op plekke waar inentings gedoen is, kom die siekte al hoe minder voor.

[Voetnoot]

f Entstof teen hepatitis kan van bloedfraksies gemaak word. Lesers wat hieroor besorg is, word genooi om die “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Junie 2000 en 1 Oktober 1994 te ondersoek. Inligting kan ook gevind word op bladsy 215 van die boek ‘Hou julle in God se liefde’, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 15]

Dukk Yun met sy vrou en drie kinders

[Foto-erkenning op bladsy 12]

© Sebastian Kaulitzki/Alamy

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel