Hoe ek my gewelddadige weë verander het
Soos vertel deur Jose Antonio Nebrera
WAT veroorsaak dat ’n man gewelddadig word? Ek het baie oor geweld geleer omdat ek as ’n kind daaraan blootgestel is. My pa was ’n lid van die Spaanse burgerwag, ’n regiment wat streng dissipline uitgeoefen het. Sy pa het hom dikwels erg geslaan, en my pa het hierdie familietradisie voortgesit. Hy het sy dik belt gereeld gebruik om my te slaan. Om sake te vererger, het hy herhaaldelik gesê dat ek onnosel is, terwyl hy my jonger suster voorgetrek het. My ma, wat my pa se woede gevrees het, het min gedoen om my frustrasie oor hierdie onregverdige behandeling te verlig of om my die nodige liefde te gee.
Wanneer ek saam met ander kinders by die skool was, het ek my eie fantasiewêreld geskep, waar dit gevoel het of ek gelukkiger is. En vir ander mense het dit waarskynlik gelyk of ek ’n vrolike, optimistiese kind is. Maar dit was net oppervlakkig. Ek het my gevoelens van vrees en woede eenvoudig weggesteek. Aan die einde van elke dag, wanneer ek stadig huis toe geloop het, het die werklikheid teruggekeer, en ek het nog beledigings—of nog ’n pak slae—gevrees.
Toe ek 13 was, het ek uit hierdie liefdelose omgewing ontsnap deur na ’n Jesuïetekosskool te gaan. Ek het dit ’n tyd lank oorweeg om ’n priester te word. Maar die lewe in hierdie skool het my lewe nie juis betekenis gegee nie. Ons moes vyfuur in die oggend opstaan en ’n koue stortbad neem. Daarna is ons hele dag gewy aan ’n streng program van studie, gebede en kerkdienste, met net kort rustye tussenin.
Hoewel ons as studente die verhale van die “heiliges” moes lees, het ons nie die Bybel bestudeer nie. Die enigste beskikbare Bybel is in ’n glaskas gehou, en ons moes spesiale toestemming kry om dit te lees.
Gedurende my derde jaar by die kosskool het selfkastydingsessies—“geestelike oefeninge”—deel van die streng roetine geword. Ek het groot hoeveelhede kos probeer afsluk om my siek te maak sodat ek hierdie pynlike ervaring kon vryspring. Maar dit het nie gewerk nie. Ná byna drie jaar kon ek dit nie meer uithou nie. Ek het van die Jesuïeteskool weggehardloop en huis toe gegaan. Ek was 16 jaar oud.
Op soek na avontuur
Toe ek weer by die huis was, het ek boks- en stoeilesse begin neem. Omdat ek goed was in hierdie gewelddadige sportsoorte, het ek belangrik gevoel, maar my fisiese vermoëns het my beweeg om brute krag te gebruik om my sin te kry, net soos my pa gedoen het.
Maar toe ek 19 was, het iets gebeur wat ’n bietjie teerheid in my lewe gebring het. Ek het Encarnita ontmoet, wat nege maande later my vrou geword het. Sy het net my beleefde, vriendelike en gelukkige uiterlike gesien. Sy het glad nie geweet van die bitterheid wat binne my gesmeul het nie. Hierdie bitterheid het weldra na vore gekom toe ek vir militêre diens opgeroep is, nie lank nadat ons eerste kind gebore is nie.
Deels omdat ek ’n militêre haarstyl wou vermy en deels omdat ek op soek was na avontuur, het ek impulsief aangebied om by die Spaanse Vreemdelegioen aan te sluit. Ek het my voorgestel hoe ek vryheid in die Marokkaanse woestyn vind en aan gewaagde spesiale sendings deelneem. Dit het ook gelyk na ’n manier om my gesinsverantwoordelikhede te ontduik. Maar op die ou end het dit net die slegste in my te voorskyn gebring.
Ek het kort voor lank in die moeilikheid beland by ’n groot, hardvogtige sersant wat dit geniet het om nuwelinge te mishandel. Ek het onregverdigheid gehaat en was bereid om te baklei vir wat ek gemeen het reg is. Een oggend gedurende die rollesing het ek ’n grap gemaak wat die sersant verkeerd opgeneem het. Toe hy sy arm lig om my te slaan, het ek dit gegryp en gedraai, waarna ek hom grond toe gedwing het. Ek het sy hand op die grond vasgepen gehou, want ek was bang dat hy my met sy pistool sou skiet as ek dit laat gaan.
Hierdie voorval het my vir drie maande in ’n strafpeloton laat beland. Ek het my in ’n klein, leë kamer saam met omtrent 30 mans bevind. Daardie hele tyd kon ek nie eens ander klere aantrek nie. Ons peloton het ’n sadistiese sersant gehad wat dit geniet het om lyfstraf toe te dien. Maar toe ek eenkeer gedreig het om hom dood te maak as hy aan my raak, het hy my straf van 30 na 3 houe verminder. Ek het geleer om net so taai soos my folteraars te word.
Geheime sendings
Gedurende my opleiding in die vreemdelegioen het ek my, sonder om twee keer te dink, vir nog “avontuur” beskikbaar gestel. Ek het weer eens nie geweet waarheen hierdie stap my sou lei nie. Ek het opleiding soortgelyk aan dié van kommandosoldate ontvang, wat die hantering van allerhande wapens en plofstowwe ingesluit het. Om die kursus te voltooi, is ek na Langley, Virginië, in die Verenigde State gestuur, waar ek saam met CIA-agente opgelei is.
Ek was kort voor lank ’n lid van ’n geheime kommandogroep. Gedurende die 1960’s het ek aan tientalle geheime sendings deelgeneem. Ek het operasies teen dwelmsmouse en wapensmokkelaars in Sentraal- en Suid-Amerika help uitvoer. Ons is beveel om van hierdie mense “ontslae te raak” wanneer ons hulle kry. Tot my skaamte moet ek erken dat ek persoonlik aan sulke operasies deelgeneem het. Ons het almal doodgemaak, buiten dié wat vir inligting ondervra kon word.
Ek is later gevra om op Spaanse militêre leiers te spioeneer om uit te vind wie bedenkinge oor die diktatorskap van generaal Franco gehad het. Ons het ook gespioeneer op teenstanders van die Franco-regime wat in Frankryk gewoon het. Die doel was om sleutelfigure onder andersdenkendes te ontvoer en hulle na Spanje te neem, vermoedelik om hulle dood te maak.
My laaste sending het vereis dat ek ’n span huursoldate organiseer om ’n staatsgreep in ’n klein Afrikaland uit te voer. Ons is beveel om die militêre barakke in die hoofstad te bestorm en dan die president se paleis oor te neem. Soos beplan is, het ons die land in die middel van die nag binnegeval en ons taak binne net vier uur afgehandel. Drie van my makkers het in die geveg gesterf, tesame met tientalle “vyandelike” soldate. Ek het self aan die slagting deelgeneem.
Hierdie traumatiese ondervinding het my gewete gekwel. Ek kon nie slaap nie omdat ek nagmerries gekry het waarin ek man teen man teen die vyand geveg en hulle doodgemaak het. In my nagmerries het ek die vrees in my slagoffers se oë gesien net voordat ek hulle doodgemaak het.
Ek het my voorgeneem om nooit weer aan ’n sending deel te neem nie. Daarom het ek al my dokumente aan die weermag terugbesorg en ’n ontslagbrief verkry. Maar drie maande later het my bevelvoerders my weer opgeroep vir verdere spioenasiediens. Ek het na Switserland gevlug, en ’n paar maande later het my vrou, Encarnita—wat glad nie geweet het dat ek ’n geheime agent was nie—by my in Basel aangesluit.
My stryd om slegte gewoontes af te leer
Gedurende die drie jaar dat ek in die leër was, het Encarnita die Bybel in Spanje saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Sy het vir my gesê dat sy die waarheid oor God gevind het, en haar entoesiasme was aansteeklik. Ons het sonder versuim met die Getuies in Switserland in aanraking gekom en die Bybel saam begin studeer.
Ek was verheug om van God se voornemens te leer. Hoewel ek Bybelbeginsels in my lewe wou toepas, was dit moeilik om veranderinge te maak—veral wat my aggressiewe persoonlikheid betref het. Nogtans was ek lief vir my nuutgevonde geloof. Nadat ek ’n paar maande gestudeer het, was ek oortuig dat ek gereed is om aan die huis-tot-huis-bediening van Jehovah se Getuies deel te neem.
Met Jehovah se hulp het ek uiteindelik geleer om selfbeheersing aan die dag te lê, en ek en Encarnita is later gedoop. Toe ek 29 was, is ek aangestel om as ’n opsiener in die gemeente te dien.
In 1975 het ons besluit om na Spanje terug te keer. Maar die militêre owerheid het nie van my vergeet nie, en ek is opgeroep om aan nog ’n spesiale sending deel te neem. Om probleme te vermy, het ek kort daarna weer na Switserland gevlug. Ons gesin het tot 1996 daar gewoon, waarna ons uiteindelik na Spanje teruggekeer het.
Ek het nou ’n getroude seun en dogter en twee kleinkinders, wat almal Jehovah dien. Daarbenewens het ek oor die jare sowat 16 mense gehelp om Jehovah te leer ken, insluitende ’n jong man wat voorheen by gewelddadige betogings in die noorde van Spanje betrokke was. Dit het my groot bevrediging verskaf.
Ek het herhaaldelik tot God gebid om my te help om my gewelddadige verlede agter te laat en om verligting van my terugkerende nagmerries te kry. In my stryd om te doen wat reg is, het ek die raad van Psalm 37:5 gevolg: “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree.” Jehovah het hierdie belofte nagekom. Hy het my gehelp om my gewelddadige weë te oorkom. Dit was ’n groot seën vir my en my gesin.
[Prent op bladsy 21]
Op 13-jarige ouderdom, toe ek na ’n Jesuïetekosskool gegaan het
[Prent op bladsy 23]
Ek verlaat die kantoor van die vreemdelegioen nadat ek in 1968 ontslaan is
[Prent op bladsy 23]
Vandag saam met my vrou, Encarnita