Hoe jy geregtigheid kan beoefen
ONS Skepper wil hê dat ons gelukkig moet wees, innerlike vrede moet hê en tot die geluk van ander moet bydra. Daarom vra hy ons “om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê” (Miga 6:8). Hoe kan ons dit doen? Ons moet die slegte eienskappe wat ongeregtigheid bevorder, oorkom deur goeie eienskappe aan te kweek. Kyk hoe die Bybel ons kan help om dit te doen.
HOE OM GIERIGHEID TE OORKOM. Die kragtigste wapen teen gierigheid is liefde—nie blote sentimentaliteit of romantiese aangetrokkenheid nie—maar selfopofferende liefde vir ander. Hierdie “liefde is . . . goedhartig” en “soek nie sy eie belang nie”, sê 1 Korintiërs 13:4, 5. Wat meer is, hierdie liefde is nie beperk tot familie en vriende nie. “As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter beloning het julle?” het Jesus gevra, en hy het bygevoeg dat selfs goddelose mense diegene liefhet wat hulle liefhet.—Matteus 5:46.
HOE OM VOOROORDEEL TE OORKOM. Handelinge 10:34, 35 sê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.” God voorsien nie redding op grond van ras, sosiale status of geslag nie. In sy oë is ‘daar nie Jood of Griek nie, nie slaaf of vrygeborene nie, nie man of vrou nie’ (Galasiërs 3:28). Wanneer ons God navolg, oorkom ons vooroordeel. Kyk na die voorbeeld van Dorothy, in die Verenigde State.
Rassevooroordeel het Dorothy so ontstel dat sy aan ’n gewapende opstand wou deelneem om die lyding van onderdrukte swart mense te verlig. Maar toe het sy ’n Christelike vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon, en sy is baie beïndruk deur die hartlike manier waarop swart sowel as wit mense haar verwelkom het. Kort voor lank het sy tot die besef gekom dat slegs God mense se harte kan verander. Toe sy die opregte liefde ondervind het van wit Getuies—mense wat sy gesê het sy “sonder huiwering sou doodgemaak het om ’n revolusie te probeer bevorder”—het dit haar hart “so geraak” dat sy onbeheersd gehuil het.
HOE OM ANTISOSIALE GESINDHEDE TE OORKOM. Party van Jesus se vroeë volgelinge was dronkaards, afpersers en kwaadsprekers voordat hulle Christene geword het. Maar met God se hulp het hulle hierdie negatiewe kenmerke vervang met liefde, goedhartigheid en goedheid (1 Korintiërs 5:11; 6:9-11; Galasiërs 5:22). Vandag is daar eweneens miljoene mense wat hulle lewe ten goede verander het deur hulle tot God te wend. Neem byvoorbeeld Firoeddin, wat in Azerbeidjan woon.
Firoeddin het in ’n weeshuis grootgeword, waar hy dikwels met ander seuns baklei het. As ’n volwassene het hy ’n instrukteur in man-teen-man-gevegsmetodes geword. “Ek was onbeskof, wreed en gewelddadig”, sê hy. “As my vrou, Zahra, gedurende etenstyd enigiets vergeet het—al was dit net ’n tandestokkie—het ek haar geslaan. En as enigiemand na haar gekyk het terwyl ons saam geloop het, het ek hom ook geslaan!”
Op ’n dag het Firoeddin geleer dat Jesus God gevra het om die soldate te vergewe wat hom aan die paal gehang het, en dit het sy hart geraak (Lukas 23:34). ‘Net die Seun van God sou so kon optree’, het hy gedink. Daarna het hy na God begin soek. Toe Jehovah se Getuies aangebied het om hom te help, het hy sonder aarseling ’n gratis Bybelstudie aanvaar. Kort voor lank het sy persoonlikheid begin verbeter. Trouens, hy het Zahra so liefdevol begin behandel dat sy ook die Bybel begin studeer het. Vandag is hulle vreedsaam in ware aanbidding verenig.
Die veranderinge wat ons as individue maak, sal natuurlik nie die hele wêreld verander nie! Maar sê nou dat dit God se voorneme is om ’n nuwe wêreld tot stand te bring waarin geregtigheid werklik heers? Hy het immers die mag om dit te doen! En dink hieraan: In 2 Timoteus 3:1-4, wat aan die begin van die vorige artikel aangehaal is, het ons gesien dat die Bybel duidelik voorspel het hoe mense oor die algemeen in ons tyd sou wees. Hierdie voorspelling is tot in die fynste besonderhede vervul—soos baie ander Bybelprofesieë. Ons is dus nie goedgelowig as ons God se belofte om alle ongeregtigheid uit die weg te ruim, ernstig opneem nie. Ja, God sal hierdie voorneme vervul. Hoe?
[Venster/Prent op bladsy 7]
HEIDE SE SOEKE NA GEREGTIGHEID
“Rassisme, oorloë, armoede en ander onregte het my ontstel, en ek het na ’n oplossing gesoek”, vertel Heide, wat in die Verenigde State woon. “Ek het die burgerregtebeweging probeer bevorder en het uiteindelik by ’n politieke party aangesluit, maar dit het nie gelyk asof een van hierdie organisasies ’n betekenisvolle verandering kon bewerkstellig nie.
“Ek het gevoel dat ’n drastieser verandering nodig is, en die hippiebeweging het belowend gelyk. Maar dit was ook ’n teleurstelling. Ek het gesien dat baie hippies eerder belanggestel het in seks, dwelms en ruk-en-rol-musiek en nie soseer die stelsel wou verander nie. Dit het my baie depressief gemaak. Toe het ek een van Jehovah se Getuies ontmoet. Sy het my uit die Bybel gewys watter veranderinge God teweeg sal bring. Sy het byvoorbeeld tekste gelees soos Openbaring 21:3, 4, wat sê dat God die trane van alle oë sal afvee en ’n einde sal maak aan verdriet, angsgeroep en pyn—wat dikwels deur ongeregtigheid veroorsaak word. ‘Kan hierdie beloftes werklik waar wees?’ het ek gewonder.
“Alle twyfel het verdwyn toe ek gelees het wat die Bybel oor God se krag en liefde sê en toe ek die liefde onder Jehovah se Getuies ondervind het. Ek sien nou gretig uit na die vervulling van God se beloftes.”
[Prent op bladsy 6]
Vooroordeel word oorkom wanneer ons God se liefde navolg
[Prent op bladsy 6]
Firoeddin saam met sy vrou, Zahra