Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/12 bl. 24-25
  • Jig—Oorsake en risikofaktore

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jig—Oorsake en risikofaktore
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Risikofaktore
  • Vyf sleutels om die risiko van verdere aanvalle te verminder
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2012
  • Leer om gewrigsontsteking te aanvaar
    Ontwaak!—1992
  • Verstaan wat artritis is
    Ontwaak!—2001
  • Hoe kan die risiko verlaag word?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 8/12 bl. 24-25

Jig—Oorsake en risikofaktore

JIG is een van die algemeenste vorme van artritis en kan verskriklik pynlik wees. Die boek Arthritis sê: “Jig is ’n versteuring van die uriensuurmetabolisme”, oftewel die afbreking van uriensuur. Wat meer is, dit “is ’n versteuring waarvan die oorsaak duidelik geïdentifiseer is—die aanwesigheid van uriensuurkristalle in die sinoviale vog [gewrigsvog] van ’n gewrig . . . , veral in die groottoon”.

Uriensuur is ’n afvalstof wat in die bloed sirkuleer en wat vorm wanneer die liggaam stowwe wat puriene genoem word, afbreek. Wanneer uriensuur opbou, gewoonlik omdat dit nie doeltreffend in die urine uitgeskei word nie, kan naaldagtige kristalle in die gewrig aan die onderkant van die toon vorm, maar dit kan ook ander gewrigte aantas. Die gewrig kan ontsteek raak en swel, warm voel wanneer jy daaraan raak en verskriklik pynlik wees.a “Selfs as jy net liggies daaraan raak, sal dit ’n ondraaglike steekpyn veroorsaak”, sê ’n lyer met die naam Alfred.

“Sonder behandeling duur ’n jigaanval gewoonlik omtrent ’n week”, sê ’n inligtingsblad wat deur Arthritis Australia gepubliseer is. “Maande of selfs jare kan verbygaan voordat nog ’n aanval ondervind word. As jig nie behoorlik bestuur word nie, kan die aanvalle gouer op mekaar volg, [kan dit] erger word en kan die gewrigte permanent beskadig word. Soms kan jig in ’n chroniese toestand (langtermyntoestand) ontwikkel.”

Jig is een van die mees behandelbare vorme van artritis. Die behandeling behels gewoonlik niesteroïede, anti-inflammatoriese middels of, in die geval van herhaalde of baie hewige aanvalle, allopurinol wat help voorkom dat uriensuur vorm. Kan verdere jigaanvalle verhoed word? Dit is moontlik, indien die lyer bewus is van die risikofaktore.

Risikofaktore

Die vernaamste risikofaktore is ouderdom, geslag en genetika. Volgens sommige kenners het meer as 50 persent van lyers ’n familiegeskiedenis van die siekte. “My pa sowel as my oupa het jig gehad”, sê Alfred, wat vroeër aangehaal is. Dit is hoofsaaklik mans wat jig kry, veral dié tussen die ouderdom van 40 en 50. Trouens, dit is drie of vier keer waarskynliker dat mans die siekte sal kry as vroue, wat dit selde voor menopouse ontwikkel.

Vetsug en dieet: Die Encyclopedia of Human Nutrition sê: “Die dieetkundige bestuur van jig is blykbaar nie meer op die beperking van voedselsoorte met ’n hoë purieninhoud gerig nie, maar eerder op die behandeling van metaboliese versteurings wat oor die algemeen met jig verbind word: vetsug, insulienweerstandigheid en dislipidemie”, of abnormale vlakke van lipiede, soos cholesterol, in die bloed.

Nietemin beveel sommige kenners ook aan dat lyers minder kossoorte eet wat baie puriene bevat, soos gis, sekere vissoorte en verskeie soorte rooivleis.b

Drank: Oormatige alkoholinname kan die uitskeiding van uriensuur belemmer, wat dit laat opbou.

Mediese toestande: Volgens die Mayo-kliniek, in die Verenigde State, kan sekere mediese toestande, insluitende “onbehandelde hoë bloeddruk (hipertensie) en chroniese toestande soos diabetes, hoë vet- en cholesterolvlakke in die bloed (hiperlipidemie) en vernouing van die slagare (arteriosklerose)”, tot jig aanleiding gee. Jig word ook verbind met “skielike of ernstige siekte of besering en onbeweeglikheid weens bedrus”, sowel as niersiekte. Klaarblyklik word veral die groottoon deur jig aangetas omdat dit ’n swakker bloedsomloop en laer temperatuur het—twee toestande wat die neerslag van uriensuur kan bevorder.

Medikasie: Geneesmiddels wat die risiko van ’n jigaanval vergroot, sluit in tiasied-diuretikums (geneesmiddels wat waterafskeiding bevorder en gewoonlik gebruik word om hoë bloeddruk te behandel), laedosis-aspirien, teenverwerpingsmiddels wat aan oorplantingspasiënte gegee word en chemoterapiemiddels.

Vyf sleutels om die risiko van verdere aanvalle te verminder

Omdat jigaanvalle met lewenstylfaktore verbind word, kan die volgende wenke lyers help om die risiko van nog aanvalle te verminder.c

1. Omdat jig ’n metaboliese versteuring is, moet lyers ’n gesonde gewig probeer handhaaf deur hulle kalorie-inname te beperk. Wat meer is, as ’n mens oorgewig is, plaas dit ’n ekstra las op gewigdraende gewrigte.

2. Pasop vir kitsdiëte en vinnige gewigsverlies, wat uriensuurvlakke in die bloed tydelik kan verhoog.

3. Vermy te veel diereproteïen. Sommige beveel ’n maksimum van 170 gram maer vleis, insluitende hoender en vis, per dag aan.

4. As jy alkohol gebruik, moet jy matigheid voor oë hou. As jy ’n jigaanval kry, sal dit dalk beter wees om alkohol heeltemal te vermy.

5. Drink baie niealkoholiese vloeistowwe. Dit help om uriensuur te verdun en uit die liggaam te spoel.d

Die voorkomingsmaatreëls hierbo herinner ons moontlik aan die Bybelse opdrag dat ons “matig in gewoontes” moet wees en ons “nie aan baie wyn [moet] oorgee nie” (1 Timoteus 3:2, 8, 11). Ons liefdevolle Skepper weet beslis wat die beste vir ons is.

[Voetnote]

a Soortgelyke simptome kan voorkom wanneer kalsiumpirofosfaatkristalle in die gewrigte vorm, veral op die gladde kraakbeen wat die ente van bene bedek. Maar hierdie “pseudojig” is ’n ander siekte en sal moontlik ander behandeling vereis.

b Volgens ’n artikel wat in Australian Doctor gepubliseer is, “is daar geen bewyse” dat die inname van purienryke sampioene en groentesoorte, soos bone, lensies, ertjies, spinasie en blomkool, “met ’n ooreenstemmende verhoogde risiko van akute jig verbind kan word nie”.

c Hierdie artikel is nie bedoel om as ’n mediese gids te dien nie. Elke lyer sal dalk persoonlike mediese bestuur nodig hê. Ook moet hy nie ophou om voorgeskrewe medikasie te neem of groot dieetveranderinge aanbring sonder om eers sy dokter te raadpleeg nie.

d Hierdie inligting is gebaseer op aanbevelings van die Mayo-stigting vir Mediese Opleiding en Navorsing.

[Diagram/Prent op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ontsteekte gewrig

Sinoviale membraan

[Prent]

Neerslag van uriensuurkristalle

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel