Leer om gewrigsontsteking te aanvaar
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
David, wat 72 jaar oud is, vind dit moeilik om rond te beweeg. Misvormde elmboë en polse toon die verlammende gevolg van ’n siekte wat baie algemeen by bejaardes voorkom.
Peggie, wat in haar laat sestigerjare is, loop moeilik. Haar misvormde hande toon dat ook sy swaar kry. Maar sy kry dit reg om ’n bietjie huiswerk te doen en geniet dit om te hekel.
Isa, wat vir 37 jaar aan haar rolstoel gekluister was, kon min vir haarself doen. Haar aansteeklike glimlag het nietemin verbasende lewenskrag uitgestraal.
DAVID, Peggie en Isa—drie onder nagenoeg sesmiljoen Britte wat aan gewrigsontsteking ly. Volgens The Times van Londen is hierdie siekte jaarliks “vir die verlies van 88 miljoen werksdae verantwoordelik . . . , veel meer as die dae wat deur stakings verloor is”. Gewrigsontsteking is Brittanje se “grootste enkele oorsaak van ongeskiktheid”.
Gewrigsontsteking kan jou aantas waar jy ook al woon. Geen gebied in die wêreld is immuun daarteen nie. Dokter Vernon Coleman skryf oor hierdie kwaal: “Min siektes tas soveel mense aan . . . Min veroorsaak soveel pyn en verminking, en min is die onderwerp van soveel mites en so baie misvattings.”—Sien venster op bladsy 14.
Dit is nie verbasend dat baie gewrigsontstekinglyers, soos David, die lewe neerdrukkend vind nie. Daarenteen het Peggie, Isa en ander hulle gebrek met ywer aangepak, en is selfs optimisties daaroor. Hoe is dit moontlik? Wat van jou? As jy aan gewrigsontsteking ly, of dink dat jy daaraan ly, watter stappe kan jy doen wat jou kan help om die siekte met welslae die hoof te bied?
As jy ’n slagoffer is
Kry eerstens ’n vroegtydige diagnose. “Dit kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie”, sê The Arthritis Book, “dat vroegtydige diagnose pyn en verminking later kan help verminder.” Ja, die behandeling van gewrigsontsteking is inderdaad “’n stryd teen tyd”. Dr. Coleman stem saam: “As . . . behandeling vroegtydig en entoesiasties begin word, word die kanse grootliks verbeter.”
Moet dus nie sloer nie. Stel die besonderhede van jou gesondheidsprobleem vas. As dit wel gewrigsontsteking is, moet jy reëlings tref om onmiddellik met behandeling te begin.
Hoe om pyn die hoof te bied
Dit is vir gewrigsontstekinglyers baie belangrik om die pyn te verminder. Maar in sommige gevalle van been-en-gewrigsontsteking gee sekere dokters hierdie raad: ‘Verduur eerder die pyn.’ Waarom? Want pynverdowers onderdruk die liggaam se natuurlike waarskuwingstekens. Veronagsaming van hierdie tekens kan tot onherstelbare gewrigskade lei.
Die moontlike newe-effekte van sulke pynverdowende medikasie moet ook in aanmerking geneem word. The Lancet het gewaarsku dat die “risiko om met ’n bloeiende maagseer [in die hospitaal] opgeneem te word . . . aansienlik toegeneem het onder gebruikers van NANSAID [nieaspirien niesteroïde anti-inflammatoriese middels]”. Derhalwe verkies baie om so min verdowingsmiddels moontlik te gebruik. Party vind dat die pyn verlig word wanneer hulle op dinge konsentreer waarin hulle belangstel. Nursing Mirror sê: “Afleiding kan as ’n gevoelskild dien deur die aandag af te lei en op iets te vestig wat nie met pyn verband hou nie.”
Dit beteken nie dat dit verstandig is om alle pynstillers te vermy nie. As pyn in sommige gevalle nie verdoof word nie, kan dit tot gevolg hê dat seer gewrigte nie gebruik word nie wat tot styfheid, atrofie en uiteindelik tot die verlies van gewrigsfunksies kan lei. NANSAID en aspirien word oor die algemeen vir verligting van pyn gebruik. Hulle word ook voorgeskryf om swelling en ontsteking te verminder. Baie gewrigsontstekinglyers en hul dokters reken dat albei middels effektief is.
Met die oog op die moontlike gevare moet jy egter soveel moontlik omtrent ’n behandeling te wete kom voordat jy dit begin gebruik. Vind uit wat die risiko’s is. Praat met jou dokter daaroor.
Hoewel uitermatige koue en klammigheid nie gewrigsontsteking veroorsaak nie, lyk dit tog asof klimaatstoestande ’n invloed het op die mate van pyn wat lyers ondervind. Sommige het dus verligting gekry deur na ’n warm, droë klimaat te verhuis. Maar as so ’n verandering onprakties is, is daar ’n paar alternatiewe.
Dr. Frederic McDuffie, ’n leier op die gebied van navorsing oor gewrigsrumatiek, wys daarop dat direkte “aanwending van koue en hitte ook nuttig kan wees”. Tydens een studie het pasiënte ’n yssak 20 minute lank op kniegewrigte gesit wat deur gewrigsrumatiek aangetas is. Hulle het dit vier weke lank drie keer per dag gedoen en het gesê dat hulle pynloser kon beweeg en meer spierkrag gehad het. Hulle kon vinniger beweeg en het beter geslaap. Waarom? Dr. McDuffie verduidelik dat “koue die deurlating van senuwees wat pynprikkels veroorsaak, verminder”.
Wat ongelukkig vir een persoon goed werk, is dalk nie so goed vir ’n ander nie. Baie gewrigsontstekinglyers vind dat sagte massering help. Isa het vertel: “Wanneer die pyn my pla, vra ek my man om baie hard op die plek te vryf. Dit is seer, maar soms verlig dit die pyn.”
Hittebehandeling is glo ook voordelig. Party dokters beveel aan dat ’n warmwatersak of ’n warmkussing vir die verligting van pyn gebruik word. Dr. F. Dudley Hart, ’n reumatoloog, verduidelik: “Hitte verslap die spiere, verminder styfheid en verlig pyn.”
‘Gebruik of verloor!’
“Een van die belangrikste dinge . . . wat jou gewrigsontsteking kan help, is . . . oefening”, sê The Arthritis Helpbook. ‘Ja’, sê jy, ‘maar dit is so seer.’ Dit is waar, maar probeer om gebalanseerd te wees.
Stap, swem en fietsry is gewilde vorms van daaglikse oefening. Maar as jy wil hê jou oefening moet doeltreffend wees, het jy ’n rooster nodig wat by jou soort gewrigsontsteking pas. Bespreek dit met jou dokter of fisioterapeut om uit te vind watter bewegings jou die meeste sal help.
As jy pyn ondervind terwyl jy oefen, moet jy ’n rukkie rus. As jou aangetaste gewrigte warm is en brand, moet jy dadelik ophou oefen—dit is dalk te veeleisend. Onthou, jou doel moet beweeglikheid wees en nie krag nie. Deur die gewrigte minstens twee keer per dag soveel verskillende bewegings moontlik te laat doen, kan ’n hulp wees sodat hulle aanhou om te beweeg.
Is genesing in sig?
“Genesing van gewrigsontsteking is ‘baie naby’”, het die Daily Post van Liverpool op 28 Mei 1980 aangekondig. Die verslag wat daarop gevolg het, het egter gesê dat “geen bepaalde tydgrens vasgestel is nie”.
Na meer as 12 jaar word daar steeds navorsing gedoen. Die aandag word nou gevestig op die uitvinding van medisyne om die “onvolmaakte” gene te behandel wat blykbaar die oorsaak van gewrigsrumatiek is. Professor Ravinder Maini van die Gewrigsontsteking- en Rumatiekraad hoop dat dit “binne vyf tot tien jaar” beskikbaar sal wees.
Intussen het party gewrigsontstekingslagoffers chirurgiese gewrigsvervanging verkies om hul beweeglikheid terug te kry en lyding te verlig. Ander vind dat sekere diëte help. Akupunktuur, homopatie en osteopatie het ook spesialiste op hierdie gebied.
Daar bestaan baie meningsverskille oor die regte soort behandeling. Party soorte is deur mediese deskundiges as “kwaksalwery” bestempel bloot omdat sulke behandelingsmetodes as onortodoks beskou word en nie omdat hulle ondoeltreffend is nie. Baie sogenaamde geneesmiddels van twyfelagtige waarde word nietemin aan gewrigsontstekinglyers gebied.
Die mediese professie het tot dusver nog nie ’n genesing vir hierdie verlammende siekte gevind nie. Daarom is dit verstandig om alle faktore noukeurig in ag te neem wanneer daar op ’n bepaalde soort behandeling besluit word. Sodra dit gedoen is, moet jy hou by wat vir jou die beste werk.
Hoe ander kan help
Daar is baie wat jy kan doen om ’n artristiese familielid of vriend te help om met die beperkings wat hy teëkom, saam te leef. Hoe?
Al bly Peggie op haar eie kry sy baie ondersteuning van haar kinders. Hulle bly in noue aanraking met haar deur te skryf en te bel. Elke keer as haar dogters, wat in die buiteland woon, kom kuier, help hulle graag met versiering en ander huiswerkies wat sy nou te moeilik vind om te doen. Haar tienderjarige kleindogter kom elke week om die swaar skoonmaakwerk in die huis te doen.
David se vrou toon nou ’n lewendiger belangstelling in sy versorging. Die onderrigting van ’n gemeenskapsverpleegster het haar geleer hoe om hom met sy persoonsversorging te help. David is nou gelukkiger, en hulle twee kan meer dinge saamdoen.
“Die meeste dinge wat ander mense doen”, het Isa voor haar dood gesê, “kan ek nie self doen nie.” Hoe het sy tog die liefdevolle sorg van haar man verwelkom, wat haar gewas, aangetrek en selfs haar hare gedoen het!
Gewrigsontstekinglyers koester gewoonlik enige onafhanklikheid wat hulle siekte hul nog toelaat. Familielede en vriende moet hulle dit nooit ontneem nie. Volgens dr. Hart het hulle “praktiese meegevoel en gerusstelling” die nodigste. Doen dus vir die slagoffer iets wat hy nie self kan doen nie. Kort besoekies, bemoedigende woorde en hulp met takies en inkopies word geweldig waardeer.
Kweek ’n positiewe beskouing aan
Jy sê dalk: ‘Met ’n siekte soos gewrigsontsteking is dit makliker gesê as gedaan.’ Dit is waar, maar baie hang af van wat jy, jou familielede en jou vriende in die toekoms verwag.
Beskou die geval van Peggie en Isa. Isa het gesê: “Ek het opgehou om my oor my gebrek te kwel.” Sy en Peggie het eerder na geleenthede gesoek om ander te help. Peggie bestee tyd daaraan om bemoedigende besoeke by haar bure af te lê. Isa kon met die hulp van haar kinders en kleinkinders voltyds vir ander vertel van die beloftes wat in die Bybel voorspel is. Peggie is een van Jehovah se Getuies, net soos Isa ook een was.
Ja, Peggie en Isa het baie vertroosting geput uit die belofte dat “niemand wat in ons land bly ooit weer sal kla dat hy siek is nie”, ’n belofte wat binnekort vervul sal word (Jesaja 33:24, Today’s English Version). Wat ’n blye dag sal dit tog nie vir gewrigsontstekinglyers wees nie!
[Venster op bladsy 14]
Rumatiek of gewrigsontsteking?
Ons almal ondervind van tyd tot tyd pyne. Ons ignoreer dit dalk as “’n ligte aanval van rumatiek”. Op mediese gebied is rumatiek ’n algemene beskrywing van meer as 200 toestande wat met pyn verband hou, hoewel slegs omtrent die helfte onder gewrigsontsteking geklassifiseer kan word. Vier algemene soorte gewrigsontsteking is:
Osteoartritis (degeneratiewe gewrigsontsteking of been-en-gewrigsontsteking) kom hoofsaaklik by ouer persone voor en word gekenmerk deur degenerasie van die gewrigskraakbeen, vergroting van die been by die gewrigsrande en veranderings in die sinoviale, of vloeistofproduserende, gewrigsvlies. “Teen die tyd dat ons 65 jaar oud is, kan 80 persent van ons verwag om osteoartritiese veranderings in een of meer gewrigte te hê; ’n kwart van ons sal meer of minder pyn en misvorming as gevolg daarvan hê.”—New Scientist.
Rumatoïede artritis word gewoonlik aangedui deur die ontsteking van ’n aantal gewrigte en hulle vloeistofproduserende vliese en deur atrofie, of uittering, van die spiere en been om ’n gewrig. Dit kan soms as gevolg van ’n besering ontstaan. “Dit kan op enige ouderdom begin, maar kom oor die algemeen meer by vroue as by mans voor in ’n verhouding van ongeveer 3:1.”—Nursing Mirror.
Ankilose spondilitis (of gewrigsontsteking van die ruggraat) “tas die ruggraat aan en veroorsaak veral ’n stram of ‘stokstywe’ rug. . . . wat algemener by mans voorkom”.—101 Questions and Answers About Arthritis.
Jig is ’n oorerflike vorm van gewrigsontsteking en word gekenmerk deur te veel urinesuur (hiperurisemie) in die bloed wat tot hewige aanvalle van gewrigsontsteking lei, gewoonlik in net een gewrig, wat gevolg word deur ’n totale afname van pyn. “By mans kom dit ongeveer 20 keer meer voor as by vroue.”—Nursing Mirror.
[Venster op bladsy 15]
’N DIEET VIR GEWRIGSONTSTEKING?
Die volgende uittreksels uit boeke en nuusberigte bring aan die lig hoeveel meningsverskille daar onder deskundiges bestaan. Persoonlike waardebepaling en besluite is dus nodig.
“Dis wat jy nie eet nie wat tel. . . . Vermy: Enige vorm van vleis, waaronder ook sop; enige soort vrugte; suiwelprodukte . . . ; eiergele; asyn of enige ander suur; enige soort . . . peper; sterk kruie; sjokolade; drooggeroosterde neute; sterk drank, veral wyn; koeldranke . . . ; alle bymiddels, preserveermiddels, chemikalieë, veral mononatriumglutamaat.”—New Hope for the Arthritic, 1976.
“Die heel beste dieet vir ’n artritiese toestand is gesonde kos wat noodsaaklike voedingstowwe bevat—proteïene, koolhidrate, vette, vitamiene en minerale—wat met gereelde tussenposes geëet word. Dit moet onverwerkte vrugte, blaargroente en volgraankosse insluit, mits jy nie daarvoor allergies is nie.”—Arthritis—Relief Beyond Drugs, 1981.
“Ware allergiese gewrigsontsteking kom selde voor, maar dit kan soms voorkom as ’n persoon allergies is vir koringmeelblom (gluten) of melkprodukte (kaas) of ander hoofbestanddele. As daar enige twyfel bestaan, sal dit miskien goed wees om ’n dagboek te hou om aan te teken watter kos op dae geëet word wanneer gewrigsontsteking opvlam of vererger.”—101 Questions and Answers About Arthritis, 1983.
“Die spesiale dieet vir gewrigsontsteking. Vergeet daarvan. Dit bestaan nie. Daar is geen wetenskaplike bewys dat gewrigsontsteking verbeter of vererger kan word deur enige vitamien, mineraal, proteïen, vet of koolhidraat nie. As pasiënte besluit om op ’n dieet van joghurt, organiese kosse, groentesap, alkaliese of vrank kosse te gaan, sal dit hulle waarskynlik nie benadeel nie.”—The Arthritis Book, 1984.
“Navorsers het uitgevind dat ’n dieet van vis en maer vleis, wat met visolies aangevul is, styfheid en pyn verminder wat deur gewrigsrumatiek in die gewrigte veroorsaak word.”—The Sunday Times, Londen, 1985.
Oor een ding stem kenners wel saam: Moenie oorgewig wees nie, want dit vererger net gewrigsprobleme, veral in die heupe, knieë en enkels.