HOE OM STYGENDE PRYSE TE HANTEER
Aanvaar die realiteit
Wanneer pryse geleidelik styg, kom ons dit dalk nie eens agter nie, veral as ons salaris ook toeneem. Maar wanneer pryse skielik styg en ons salaris dieselfde bly, kan dit ons angstig maak en stres veroorsaak, veral as ons ’n gesin het om voor te sorg.
Ons kan nie keer dat pryse styg nie. Maar as ons aanvaar dat dit die realiteit is, kan dit ons eintlik help.
HOEKOM DIT SAAK MAAK
Mense wat ’n realistiese beskouing van stygende pryse het, vind dit dalk makliker om . . .
kalm te bly. Wanneer ons kalm is, help dit ons om helderder te dink en maak ons beter besluite.
onwyse gewoontes te vermy. Byvoorbeeld, dit sal onwys wees as ons rekeninge ignoreer of geld spandeer op dinge wat ons nie nodig het nie.
nie met familielede oor geld te stry nie.
maniere te kry om dit te hanteer. Dit beteken dalk dat ons minder moet spandeer en moet besluit wat ons regtig nodig het.
WAT JY KAN DOEN
Wees bereid om aan te pas. Gedurende tye wanneer inflasie hoog is, is dit wys om minder te spandeer, as dit moontlik is. Party mense probeer ’n lewenstyl geniet wat hulle glad nie kan bekostig nie. Dit is soos om teen die stroom te swem van ’n rivier wat vinnig vloei! Op die ou end put hulle hulleself net uit. Jy wil natuurlik vir jou gesin sorg en vir hulle die dinge gee wat hulle nodig het. Maar hou die volgende in gedagte: Jou gesinslede het jou liefde, tyd en aandag meer as enige iets anders nodig.
Om ’n onrealistiese, uitspattige lewenstyl te probeer onderhou, is soos om teen die stroom te swem van ’n rivier wat vinnig vloei